Wednesday, November 2, 2016

Tom Dreyer – Dorado (2016)


Tom Dreyer – Dorado. Penguin, 2016. ISBN 9781415208984

Resensent: Joan Hambidge

Water, son en sigarette

I
Tom Dreyer is die skrywer van Erdvarkfontein, Stinkafrikaners, Equatoria en het in Nuwe Stemme 1 gedebuteer as ‘n digter om dop te hou. Daar het ook kortverhale uit sy pen verskyn en hy het kreatiewe skryfwerk onder Etienne van Heerden aan die UK gevolg en aan die Universiteit van Iowa die skrywersprogram gevolg. Hy is bekroon met die Eugène Maraisprys.

Deur die jare het ek gereeld op sy tekste gereageer – met entoesiasme. (WoordeWat Weeg | Tom Dreyer. Besoek 30 Oktober 2016).

Die roman Dorado, uitgegee deur Penguin, word as ‘n magiese roman bemark: “so tergend en onpeilbaar soos die sterrehemel van die Karoo”. Op die buiteblad word dit deur Willem Anker bemark as ‘n ontmoeting tussen David Lynch en Wim Wenders sou hierdie twee filmmakers ooit ‘n road movie hier kom skiet. Hy skryf: “Tom Dreyer ken die taal wat teerpad praat.”

Die verwysing na hierdie twee filmmakers is in die kol. Lynch se verwringing van die werklikheid wat dikwels ‘n nuwe realiteit open en Wenders se keiharde analise van verbrokkelde drome (Kings of the road in 1976) en verlooptheid soos in Paris, Texas (1984) word dus geaktiveer deur die omslagwoorde as ‘n soort subliminale aanwysing.

Die mahi-mahi

Dorado (dolfynvis / mahi-mahi) is ‘n vis wat van kleur verander buite die water. Dit is ‘n pragtige vis en ook bekend daarvoor dat dit ontsettend vinnig groei. Die vis word ook geassosieer met Hemingway se The old man and the sea. (Wikipedia | Mahi-mahi. Besoek 2 November 2016).


II
Gilbert du Toit verwerk die dood van sy pa. Hy probeer tot rus kom in Kuilsriver, PE en in die Karoo. Sy waarneming word aangetas deur sy medikasie: “Snellerien is vir Gilbert net ‘n woord; hy weet nie dat dokter Menkowitz se pille deurspek is daarvan nie, ook nie na dat dit, na gelang van die dosis, óf euforie óf stuiptrekkings kan veroorsaak nie. Hy weet net dat hy verrassend goed voel toe hy ‘n paar ure later by die Springbok bar insweef …”(20).

Die roman speel ‘n besondere spel met die leser rondom waarneming. Wat is waar? Wat is verbeel(d)? Waarskynlik is die kode van die Dorado hier van belang wat van kleur verander.

Gilbert is in outydse romanterme, ‘n onbetroubare verteller. Oor die sogenaamde storyteller-as-liar is daar al baie geteoretiseer, en die Lynch- en Wenders-kodes aktiveer eweneens ‘n spel hiermee. By Lynch is selfs die kamera nie te vertrou nie, soos ons weet uit Žiżek se analises in The pervert’s guide to the cinema. ‘n Meisie sing op die verhoog; maar dis nie sy nie; dis ‘n geblikte stem.

Woonstelblokke is met opset verkeerd genommer.

Gilbert dink aan die kartonknipsels uit sy jeug waardeur ‘n mens jou kop steek om in iets anders te verander (34). Die helioskoop word betrek (35) en telkens moet die leser uit die inligting oor visse en fossiele en parke kophou om die verhaal te navigeer. Hierom word daar verwys na ‘n teodoliet. (En ‘n semantiese studie van H. J. Snyman gebruik die teodoliet as metafoor.)

Die verbintenisse tussen dinge (J. H. H. van den Berg se metabletika) en Blunt se Fossil Reptiles of the Karoo, die Boereoorlog en die spel tussen klein menslike geskiedenisse en die groter historiese werklikhede, maak van hierdie roman iets besonders.

Wie kyk? En bestaan dít wat ons sien? Of is Gilbert se obsessie met visse en reptiele tersaaklik?

Die leser ervaar ‘n oorrompelende spanning tussen werklikheid en fantasie by die Groot-Karoo Musiekfees. En daar is die Howlers.

Gilbert is getraumatiseer (What is eating Gilbert Grape?) na die dood van sy vader en sy houvas op die realiteit is ietwat prekêr. Die roman het ‘n sterk filmiese kwaliteit. (Die roman spruit voort uit die teks Polaroid lees ons in die nawoord, en Dreyer se gebruik van die kamera en foto is dus bekend.)

Ook die ervaring van musiek op die hoofkarakter se psige word puik beskryf (88). Dit gaan dus telkens om ‘n primordiale geroer en die soek na patrone in hierdie roman.

III
Die eerste afdeling “El Dorado lê ver” word opgevolg met “Fortuna”. Dan is daar “Op besoek vanaf ‘n verre rif” (wat die visbeelde aktiveer).

Fortuna op Latyn is die godin van geluk: goeie of slegte geluk.

Natuurlik stuur hierdie roman op laasgenoemde af. Ek wil nou nie hier spoilers gee nie, maar ‘n ongeluk – briljant beskryf – aktiveer ‘n jeugtrauma (107 – 111).

Dit lewer uitstekende kommentaar op die binnespraak van die apofeniese persoon wat in sy hallusinasies boodskappe raaksien.

En die impak van medikasie op waarneming.

Filmies, helder, aangrypend. En so slim gekonstrueer: visse en verwysings; hallusinasies en die Ichtus-beeld. Dis ‘n boek oor ‘n verslingerde reis in die herinnering; een van verglyding en verwoesting. As die roman ooit verfilm word, moet Johnny Depp beslis Gilbert vertolk!

‘n Aangrypende, uitstekende roman geskryf in poëtiese prosa. 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)