Tuesday, February 26, 2013

Bettina Weiss (Red.) - The End of Unheard Narratives: Contemporary Perspectives on Southern African Literatures (2004)



Bettina Weiss (Red.). The End of Unheard Narratives: Contemporary Perspectives on Southern African LiteraturesKalliope Paperbacks, 2004. ISBN: 3 00 01 4514 1.

Resensent: Joan Hambidge

Ons leef in die tyd war die ongehoorde, ongesêde, die verborge hoorbaar gemaak word. Trouens, van Oprah Winfrey tot die WVK werk met dieselfde verskynsel van om die ontoelaatbare of ongehoorde te uiter. Dikwels met pynlike gevolge vir sowel die belyer as die teikenpersoon. Die Aangesprokene word ter take geneem en die belyer ontdek dat dit wat bely word, nie meer deur sigself beheer kan word nie. Ander tekste of interpretasies kan aan die pynlike ervaring gegee word of die motiewe van die belyer word verdag gemaak.

Nou onlangs het Zakes Mda in ‘n koerantonderhoud sy eertydse kinderoppasster van molestering beskuldig. Hy hoop ook om haar te vind sodat die onberekenbare skade wat aan hom gedoen is, reggestel kan word. Mda moes van beter geweet het, want waarskynlik is hierdie konflik juis dit wat aan sy boeke hul energie gee. En wat nou?

The end of unheard narratives – essays onder die redaksie van Bettina Weiss – bevat akadademiese essays wat die donker sy van die menslike psige openbaar. Dit is ‘n boek wat verskeie letterkundige kenners aan die woord stel oor hoofsaaklik Suider-Afrikaanse letterkunde, met min verwysing na Afrikaanse skrywers. (Terloops, Antjie, nie Antje Krog nie!)

Op ‘n elegante wyse word o.a. die lot van die prostituut, die kind, die Ander (in al haar vorms) onder die loep geneem. “Unheard” aktiveer dan hier die ongehoorde sowel transgressief as openbaarmakend.

Deeglike navorsing is veral kenmerkend van hierdie projek wat Weiss lanseer as Kalliope uitgewers.

Dit sou sinneloos wees om binne die bestek van ‘n koerantbespreking by elke bydrae stil te staan; hierom volstaan ek net met enkele noemers wat vir die leser ‘n rigtingwyser sal wees.

Tom Odhiambo se lesing van. K. Sello Duiker – wat opnuut sy ontydige dood beklemtoon – wys op die opofferinge wat seksuele vryhede of transgressie van die orde tot gevolg het. Seksuele vryheid impliseer dat jy die seksuele repressie en ‘n gemeenskap se verdrukkende kodes moet kan oorkom. Dit het uiteindelik ‘n herdefinisie van die self tot gevolg en Annemarié van Niekerk se loflike essay sluit by hierdie teks aan. In haar lesing van Rachael.Woman of the night, ‘n outobiografie van Rachael Lindsay, wys sy daarop hoe kategorieë as’t ware skuif. Haar slotsom, naamlik dat vroue weer die reg (en mag) moet hê om “mistresses of their own sexuality” te word, is weliswaar radikaal, maar binne die goed-beredeneerde essay ‘n hoopvolle uitkoms.

Van Niekerk beklemtoon dan ook die “leaking of categories” en in welke mate die kategorieë van sekerhede deur die sogenaamde transgressor bevraagteken word, omdat sy oorbeweeg van een domein na die ander.

Daar is reeds baie geskryf oor die onregte van apartheid en Antjie Krog se studie Country of my skull is dan ook baanbrekerswerk in hierdie verband.

In hul essay maak Dorothy Driver & Meg Samuelson (“History’s intimate invasions”) die volgende sinvolle opmerking: “As in other recent Southern African fiction, history has become an ambiguous source of memory, giving rise to a world characterised by both trauma and healing, mutually informing one another” (p. 200). Dis juis hierdie soort komplekse argumentasie wat die studie so ‘n intellektuele plesier maak om te lees.

Die boek bevat vier afdelings: oor sogenaamde “‘abject’-bodies”; die sogenaamde feitelike wat verwoord word (“voicing”); die herdefiniëring van identiteite en ten slotte, die verlede as ‘n mediator vir die hier-en-nou.

Nie al die skrywers is aan my bekend nie, maar is woonagtig in Engeland, Duitsland, Suid-Afrika, Nederland, Skotland, Namibië, Zimbabwe, ensomeer wat ‘n buite en binne perspektief gee op Suider-Afrikaanse letterkunde. Daar is diegene wat gewoon net teoretiseer, terwyl ander as ‘n soort oorlogskorrespondent optree.

Hierdie versameling is aan te bevele vir die dosent in literatuurteorie wat o.a. postkoloniale letterkunde aanbied of belangstel in gender-studies.  Die webtuiste is www.kalliope-paperbacks@t-online.de

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]