Charl-Pierre Naudé.
In die geheim van die dag. Protea Boekehuis, 2005. ISBN 9781869190866.
Die tweede bundel in ‘n digter
se oeuvre, volgens die konvensie binne die Afrikaanse letterkunde, word bykans
as belangriker as die debuut beskou. Die digter word dus nog jeugfoute in sy of
haar eerste bundel verskoon, maar die tweede bundel is dan waar die slag gewys
moet word. Charl-Pierre Naudé is vir sy debuut, Die nomadiese oomblik, bekroon met die Ingrid Jonker-prys. Hierna
was daar optredes, enigsins vroegtydig by Poetry International in Nederland en
ook ‘n digtersbesoek saam met Gerrit Komrij. Dus word hy buitelands dalk hoër
geag, want myns insiens is sy gedigte nog nie werklik so representatief as ‘n
Breytenbach of Krog se bydrae nie.
Sy tweede bundel wyk drasties
af van die debuut waarin sy eiesinnige beoefening van die sonnet bepaald
lonende leeservarings tot gevolg het en ook interessante vergelykings oproep
met die sonnette van Petrarca of Shakespeare. Die tweede bundel, besonder mooi
uitgegee deur Protea Boekehuis, heet In
die geheim van die dag.
Die bundel wyk dramaties af van
die debuut en is prosaverse. Daar is ook ‘n speelse dialoogvers of ‘n soort
dramatiese gedig opgeneem in hierdie bundel. Die prosagedig is ‘n besonder
moeilike en verwikkelde sub-genre in die digkuns en word hoofsaaklik in die
Franse digkuns met groot sukses beoefen. In Afrikaans het veral Breyten
Breytenbach – ek dink hier onder andere aan Skryt – hierdie gedigvorm ontgin. Dus: die leser lees teen die
agtergrond van ‘n uiters bedrewe digter se unieke stempel op die digvorm.
Ook skep hierdie soort gedig sy
eiesoortige probleme: enersyds wil dit die losser vorm van die prosasoort
‘naboots’, maar andersyds moet dit juis kompenseer vir hierdie losser
struktuurvorm deur ander ingeboude strukture, soos binneryme, halfryme,
refreine of herhalende beelde, in te bou. Die groot korpus van Naudé se gedigte
sou waarskynlik baat gevind het by ‘n verdere herskrywing, maar wanneer die
digter wel aandag gee aan die eiesoortige eis van hierdie digvorm, lewer hy
verstommende verse, soos “Twee diewe”.
Ook sy hantering van die
oksimoron of paradoks – die nomadiese bestaan dus – word goed volgehou in
hierdie bundel. Daar is vele verse wat besin oor die mens se lotgevalle en sy
plek binne die kosmos. Daar word baie gedink oor die lewe en dood, die siel,
astrale reise ensomeer.
Vir ‘n tweede bundel is die
bundel nog nie heeltemal ‘af’ nie. Die gedig is soms te praterig en skep die
indruk van gekapte prosa, ‘n doodsonde vir die digkuns! Dit skep die indruk van
‘n boom wat gesnoei moes wees.
Ook dink ek dat van die temas
waaroor die digter besin ook nie oral diep genoeg nagedink het. Maar wanneer hy
wel die gedig sekuur vir homself laat praat, lewer hy ‘n handvol verse wat die
Afrikaanse letterkunde bepaal verryk. Die nogals oorskatte reaksie van Alfred
Schaffer wat meen hierdie digter moet met die Hertzogprys bekroon word (Die
Burger, 16 Mei) en Danie Marais wat dit as ‘n literêre gebeurtenis afmaak
(Rapport, 22 Mei) is waarskynlik ‘n oorreaksie en bewieroking van letterkundige
vriende.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Fine Music Radio geplaas.]