Wednesday, April 8, 2020

Reisrubriek | Supermaan (2020)


Maandag 6 April 2020 | Dag 11

Om die stilte te verplaas. So het 'n Nederlandse digter die proses beskryf wanneer jy 'n brief of e-pos skryf. T.T. Cloete het dit gereeld aangehaal.

Ek tob oor die Koningin van Engeland se toespraak van Sondagaand en hoe ons moet moed hou. Ons sal weer by ons families en geliefdes wees.

Sy was 'n werktuigkundige tydens die Tweede Wêreldoorlog en het dus die ellende eerstehands ervaar.

En hierdie uitsonderlike toespraak is een van 'n handvol. Die uitbreek van die Golfoorlog in 1991; op die vooraand van Diana se begrafnis in 1997; en by die dood van haar moeder in 2001.

'n Vierde buitengewone toespraak dus van hierdie 93 jarige in 'n krisistyd. 'n Vrou wat net bewondering afdwing - met elke krisis bly sy in beheer.

Selfdissipline, stille vasberadenheid én erbarming: dit is volgens haar kenmerke van die Britte.

Vir my is hierdie toespraak 'n keerpunt. Die oneindige negatiewe bespiegelinge kan ek gewoon nie meer verteer of verduur nie. Laatnag gesels ek met 'n spirituele vriendin en ons besluit: voortaan net positiewe gesprekke met mekaar. Alle negatiewe spekulasies moet waai.

Franco Corelli en Leontyne Price verwarm my hart met húl vertolkings van Carmen.

Oor laasgenoemde soos volg gedig:

Leontyne Price (1927 - )

‘n Opdrag skryf oor Leontyne Price
bring my voor ‘n onsingbare uitdaging te staan.
Hoe skryf ‘n mens ‘n vers oor haar wat klanke
soos duiwe uit ‘n hok laat vlug?
Kyk hoe draai die wintervoëls in gelid,
swenkend in formasie;
één slaan sy eie koers in,
dis daardie hoë noot,
daardie een wat jy nooit weer op hok sal sit.
Leontyne Price se lyf is ‘n duiwehok
waaruit sy sierduiwe laat ontglip,
asemsnakkend, beeldskoon,
elke noot opreg geteel,
vrygelaat in volledige beheer.

(uit: Lot se vrou, 2012).

Lukas bevat 'n ryke skat van gelykenisse: die Verlore Seun, die Barmhartige Samaritaan, Saggéüs, die tollenaar, wat in die vyeboom sit om Jesus te kan sien.

Die arm weduwee wat haar laaste geld gee; die reiniging van die tempel.

Die blinde man van Jérigo.

Die beroemde gebed van Jesus staan hier opgeteken.

Ja, gee ons vandag ons daaglikse brood.

Hendrik J. Botha het hierdie lieflike gedig geskryf, opgeneem in sy bundel Voorspraak (Naledi).

Vyeboom

In die herfs van ’64 het ons verhuis – 
laat alles agter, 
so finaal.

In drome klim ek snags die vyeboom  
waarin ek destyds 
ure lank alleen kon speel.

Tevergeefs geneul by Pa
om één maal vlugtig terug te keer.

Ná vyftig jaar bring die GPS
my voor ’n vreemde muur
met lemmetjiesdraad,
’n motorhek op slot.

’n Vrou met kamerjas, pantoffels
en ’n sigaret laat my in
om toentertyd 
se spore te loop soek.

Saam draal ons om die huis:
Die tuin lê kaal,
die tuinpaadjie se knak 
nog in plek.

Nêrens meer ’n vrugteboord.
’n Maer hond slaap eenkant in die son.
Ek vloek, draai om.

Onderweg probeer ek uitpluis, Pa,
hoe my pad sou loop
as jy my destyds sou toelaat

om één maal terug te keer,
vir oulaas soos ’n Saggeus
in die vyeboom se takke te kon speel.

Lukas sit vol paradokse en intertekste. Heen-en-weer word daar vertel van gebeurde wat in die Ou-Testament reeds afgespeel het.

Twee vir 'n stuiwer bring 'n jeugherinnering terug: die roman van W.A. Hickey wat ek as kind in standerd ses moes lees en verpes het. Die voëls se lewens was buite my ervaringswêreld. Toe nog nie 'n gelykenis verstaan nie.

Triplets of Belleville is 'n animasierolprent van Sylvain Chomet (2003). Geleen by die buurman, 'n kenner van die genre omdat hy self 'n ontwerper en illustreerder is.

Bittermin dialoog; net liedere en pantomime.

Die storie vertel die verhaal van ene Madame Souza, 'n ou tante wat haar kleinseun red. Hy is 'n Tour de France fietsryer wat deur die Franse mafia ontvoer is weens dobbelary. Hy word na die stad Belleville geneem ('n samestelling van NYC, Montréal en Quebec). Die vetsak hond, Bruno is die metgesel en ons ontmoet die Triplets of Bellville, music hall-sangers. Dit alles speel in die dertigerjare af.

Weer eens 'n bewys dat animasie- of tekenrolprente nie noodwendig vir kinders is nie. Hiervoor is die politieke toespelings en sosiale analises te ingewikkeld.

Rembrandt se beroemde skildery Die geslagte os (1655) vind ek boeiend - met Van Gogh se antwoord hierop.

"In een Binnenhuis hangt een geslagte Os aan den Balk ...". Waarom boei hierdie skildery juis nou?

Rembrandt het die Bybel goed geken en hier is duidelik 'n simboliese betekenis opgesluit, aldus Niels Bergervoet (Rembrandt and the Slaughtered Ox | Conspícere - to behold, Besoek 6 April 2020).

Dalk 'n toespeling op die verlore seun vir wie daar 'n gemeste kalf geslag is? Of ook 'n verwysing na die kruisiging van Jesus?

Hieroor moet daar 'n gedig geskryf word.


Dinsdag 7 April 2020 | Dag 12

Tyd-en-ruimte

Is dit Dinsdag of Dingaansdag? Daardie politiek-inkorrekte idioom som die tydvak goed op. Tyd. Die ervaring van tyd. Die relatiwiteit van tyd. Tyd wat aan ruimte gekoppel is. En hoe ons skynbaar nou (amper) in die middel van die inperking is.

Soos 'n vlugvertraging. En daardie gevoel dat tyd s-t-a-d-i-g beweeg, terwyl jy die soveelste keer na die aankondigingsbord kyk.

En wag. So het ek indertyd hieroor gedig:

Vlugvertraging

Die wagkamer klinies
die passasiers verveeld
'n tussenplek vir siele
tussen lewe en dood
ook daar verveling? Onrus?

Digters wag voortdurend
op 'n inval. Iets soos inspirasie.
Of 'n beeld. Ha! Die leuen
om te sê dig is soos reis.
Of die eindpunt so belangrik as die aanvang.

Die gedig is 'n wagkamer
vol versreëls onrustig
wagtend op die digter:
"Sal alle versreëls
nou aan boord gaan."

Dus: geen vlugvertraging, geen vers.

(uit: Lykdigte, 2000).

Gisteraand is my komputer se horlosie 'n uur te vroeg en dit verklaar waarom die universiteit se webruimte nie wil oopgaan nie.

Dus: reggestel. Een keer vantevore gebeur op 'n oorsese reis toe die komputer deurmekaar geraak tussen verskillende tydsones.

Ons kyk almal agtertoe nou. Ons onthou ervarings op hierdie binnereis waarvoor jy geen visum behoef nie. 

Tydsones

Hoé word die digter van die gedig geskei,
die danser van die laaste dans bevry
as dié danser oor sóveel tydsones wals:
tyd gewen en tyd verloor; tempus verleng
in 'n dwingelandy (as time goes by ...)
tereg 'n verslawing en boetedoening vir my.
Zeigarnik had gelyk met die gebreekte opnames
van ons vreemde non-affair, soos jy dit roep,
vertolk ons vir oulaas die rolle in Brief Encounter
met spyt vir jou, in vele ongeposte briewe aan my.  

Waarom onthou 'n mens die kraters in Chili? Of Berg Fuji buite Tokio?

So volgens die Zeigarnik-effek onthou ons dit wat onverwags onderbreek is, beter ...

'n Mens weet byvoorbaat dat ons hierdie tyd sal onthou.

Nou weer die Groot Boek. Markus wat die Gelykenis van die Saaier voortreflik vertel, die lot van Johannes die Doper, die vermeerdering van die brode   ...

En die dissipels wat niks by hulle mog hê nie, behalwe 'n kleed en skoene.

Jesus word gevolg deur 'n naakte man met 'n linnedoek en volgens Markus 14: 52 het hy die linnedoek gelaat en naak weggevlug.

Wie is hierdie man?

Is dit dalk Markus wat homself hierin die verhaal inskryf as 'n ouktoriale verteller? Dit is die mening van 'n vriendin en Bybelkenner.

Nou is dit die Heilige Evangelie van Matthéüs.

Soveel uitdrukkings wat idiomatiese taal geword het, staan hier: sout van die aarde; 'n oog vir 'n oog;  mot en roes wat verweer; jy kan nie twee here dien nie ...

En in 5:22 staan daar: as jy vir jou broer Raka sê, sal jy tot verantwoording geroep word. Sou dit 'n implisiete aansporing vir Van Wyk Louw gewees het toe hy Raka geskryf het?

En elke dag het genoeg aan sy eie kwaad ...

Daar is hier ook heenverwysings na die verhaal van Jona.

*

'n Brommer in die kombuis word hardhandig verwyder. Die huis word georden en vensters word skoon gemaak.

Ons is bykans halfpad deur hierdie tyd van ingehok wees en die media berig vanaand dat die inperking nie noodwendig langer sal duur nie.

Wie weet?

Sover 'n tyd van 'n binnewaartse reis. 'n Herbesoek aan die Groot Boek

Vanaand is dit supermaan en die maan - met 'n pienk skynsel - sal nooit weer so helder wees nie.

© Joan Hambidge

Tuesday, April 7, 2020

Resensie | fanie olivier – ou laaie (2020)

fanie olivier – ou laaie. Naledi, 2020. ISBN 978 192 951 8341

Resensent: Joan Hambidge

Daar is sekere digter wat hártdigters is. Hulle is digters wie se werk jy van buite ken en jy dra hulle saam as 'n visum op jou digterlike paspoort. So 'n digter is Fanie Olivier vir hierdie leser. gom uit die sipres (1971), om alleen te reis (1973), paradysrigting van die wind (1976), skimmellig (1978), verklarings 1967 - 1978 (1988) en apostroof (2010) heet sy vorige bundels. As bloemleser het hy vier antologieë op sy kerfstok en Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte staan op alle digkunsliefhebbers se rakke. Hy het Disgrace van J.M. Coetzee vertaal en 'n tesis oor mistieke en religieuse digkuns voltooi.

ou laaie is 'n bundel veral met liefdesverse, meer nog, dit is 'n besinning oor die impak van die liefde as 'n soort woordtestament. Terselfdertyd ondersoek die digter die aard van die liefdesgedig: hoe skryf jy 'n gedig oor die liefde, daardie "gedragene extase"? In die Engelse digkuns is Carol Ann Duffy se Rapture 'n baken en wat ou laaie so 'n wonderbaarlike leeservaring maak, is hoe die digter vernuftig sy leggers oopmaak. Hierom heet 'n gedig "redding - variasies".

Ons sien op die agterblad 'n tikmasjien en rekenaar. Daar is verwysings na hoe hy skype; met die hand skryf ( hy bedank selfs die Egiptenare vir papier) en groet.

Die digter het lank in die buiteland vertoef waar in hy Pole klasgegee het. Verskillende landskappe of ruimtes kom aan bod: Natal, die Karoo,  Venda, die noorde van ons land, die buiteland.

Hy skryf landskapverse, stemmingsverse, politieke verse en die apostrofiese vers (die sametrekking van klanke of woorde), maar apostroof ook as retoriese strategie waar daar 'n afwesige aangesprokene is. In ou laaie is dit die geliefde, of dalk geliefdes, wat vertrek het en die gedig staan in die plek van afwesigheid / vertrek / teleurstelling. Die vorige bundel handel dan oor die dood van sy vrou, Rike Vaughn, 'n literator.

In ou laaie word 'n liefdesgeskiedenis weergegee en die gedig is altyd méér as 'n getuigskrif of 'n representasie van die werklike ervarings. Rapture (2005) van Duffy gee die ontwikkeling van een liefdesverhouding weer met kritiese lesers wat sommer besluit het wie die geliefde is. Die fokus moet dus altyd eerder op die gedigte wees en die prosesse wat dit weergee, herhaal of verander. Met apostroof beperk 'n mens dalk ook die leeservaring as jy net Rike en haar geheueprobleme inlees.

Olivier is bewus van lesers se nuuskierigheid:

die digter hét geen verbeelding nie dis die troos: elke lies
elke wang elke jy elke dy is outobiografies ( "ingebed", 69)

Duffy praat o.a. met Shakespeare se liefdessonnette en 'n hele skare van Engelse digters. Olivier gesels met Jan Hendrik Leopold en sy beroemde gedig "O nachten van gedragene extase":

O nachten van gedragene extase
en diep gedronkene verzadiging,
als elk met zijn geluk te rade ging
en van alleenzijn langzaam wij genazen.
(...)
En innerlijker naar de drift te horen
van de verborgen donkre hartenklop ...

Daar is ook verwysings na Van Wyk Louw en Cussons soos in "ingebed" (69),

Hierdie digter het 'n eie liefdes-idiolek geskep. In sy debuut is daar die klein villanelle "eerste aand" waar die die geliefde op 'n fiets ry met 'n karba wyn, 'n blaar en 'n duifie; dus beelde gelaai met seksuele innuendo.

In hierdie bundel is daar 'n wegsteekproses aan die gang asof die digter nie die gedigte wou deel met die geliefde of leser nie. Dis gebêre in laaie. 'n Laai is immers 'n private bergplek. In die kamer was 'n kas, in die kas was 'n laai, in hierdie laai is daar gedigte. 'n Gepubliseerde gedig kry ander betekenisse. Die leser neem die plek in van die geliefde of aangesprokene, soos Olivier dan waarsku in "aanhef 3":

geagte leser: hier is geen ander ordening geen dieper sin
nie as bloot die letter - net dit - waarmee die eerste reël begin (3)

En dis hierdie ambivalensie oor die liefdesgedig - wegsteek, dog ook oopmaak - wat die bundel so opwindend maak. Die vers (as objek) kry ook agentskap en hoef haar nie aan die digter te steur nie! (55). Poësie is niks meer as virtuele werklikheid nie en moderne tegnologie (fone, skype, facebook) word metafories ingespan met 'n voetnoot wat 'n stelling dekonstrueer (43). Die digter is immers met die papier toe gewapen (27). Daar is nugterheid in die distigon wat heet "objective correlative" (13) waar die digter telkens die liefde buite hom plaas. 

In "aankoms 2" (97) skryf hy oor 'n kapingsproses, maar die vers word meer as 'n letterlike kaping; dis ook 'n gedig oor hoe die koördinate eens gerym het in 'n liefdesverhouding. Die portretvers oor en vir Andrew Verster ("uit: die kunstenaar kyk na sy model", 101) is volgens die onderskrif geskryf tussen 1980 - 2010 en is nou na die afsterwe van hierdie digter ook 'n lykdig.

En dis juis die punt van hierdie bundel: die dubbel-praat, die dubbel-segging ...

Die lewe seisoenaal met kommas en met 
kommapunte aan mekaar geslaan

lees ons in "by 'n foto" (72).

In die gevlegte fuike van die digkuns het hy pragtige gedigte gevang, om een van sy beelde aan te haal.

Sunday, April 5, 2020

Reisrubriek | Die laaste maal (2020)


Vrydag 3 April - Saterdag 4 April 2020 | Dag 9

Die aarde is nie eenvoudig nie, het 'n digter gewaarsku.

En om te rinkink met stilte ...

'n Vriendin uit my jeug stuur 'n foto van my moeder en oudste suster, langs haar moeder. Wie het die foto geneem? Toe besef ek: my vader. Beide hy en my moeder is gelukkig hierdie tyd van inperking gespaar.

Laatnag is ek onrustig. Die reeks Mr. Robot raak al hoe boeiender. Een van die korporatiewe manne raak afgryslik grensoorskrydend op die dak met sy baas se vrou.

En ek wil verder kyk, maar die vervolg is by my buurman. 

Ek sal eers more die DVD kan optel.

In hierdie diskussie-sonder-einde oor die koronavirus, is Onsekerheid die een groot noemer wat ons almal saamsnoer.

Daar was erger tye in die geskiedenis. In die WOII had mense nie kos nie; moes oorleef met aartappels en kool. En Vrees. 

Enige oomblik moet jy na 'n bunker hardloop en wegkruip. Leë trooswoorde.

Die grappe (en veral die absurdes) word al hoe meer. Versend, verpak, lag. 

Die welvarendes het ten minste sosiale netwerke en kos. 

Drie dae se koerante lê voor my deur en grom. Al nuus is Covid-19. Dit het bykans alle ander nuus van die tafel afgevee. Central Park in New York staan vol tente vir siekes.

'n Vreemde Pase sal ons beleef en RRV, daardie teoloog wat sy naam in kleinletters skryf, verwys in Die Burger verwys na die Duitse kunstenaar Ben Willikens (gebore 1939) se Die Laaste Avondmaal wat in gesprek tree met die groot kunswerk van Da Vinci. Soos ons Heilige Week nader, voel mense al hoe meer afgesluit (Leë Nagmaaltafel kan resoneer | Netwerk24. 4 April 2020).


Die teater van afwesigheid. Is daar 'n skildery op aarde wat dít wat ons tans beleef, beter opvang?

Vanoggend word die boek Johannes gelees. Die ongelooflike wonderwerke word so goed beskryf en die verraad van Judas tref 'n mens tussen die oë.

Die hele dag voel ek effens off-Broadway.

Laatmiddag klop my buurman aan die deur om te tjekkereer of alles wel is. Hy vertel my van die jongste drakoniese wet, naamlik dat sigarette nie meer te kope sal wees nie. Goddank hier is 18 pakkies in die huis. En 'n twaksakkie met tabak (vir die wis en onwis).

Hulle nooi my oor vir ete. Ons luister na U eie keuse en nog nooit was die Maanlig-sonate so hartstogtelik mooi nie en die Paaslied uit die Cavalleria Rusticana pynlik. Dit herinner my aan die slot van Godfather 3 waar Al Pacino, as Michael Corleone na sy seun gaan luister in die Teatro Massimo in Palermo, Sisilië. Die geweld van die opera van Mascagni resoneer met die geweld van die mafia. Corleone se vrou (vertolk deur Diane Keaton) se waarskuwing oor sy oortredings word dan waar.

Daardie slot van die film waar Pacino geluidloos gil wanneer hy besef dat sy geliefde dogter in weerwraak doodgemaak is, kan nooit deur enige akteur oortref word nie.

Toe is daar country-musiek op RSG. En Blue Bayou bring flardes herinneringe terug.

Saterdagoggend gly oor in Sondag. Soomloos. My keel trek toe by die lees van 'n langer inperking op netwerk24. 

Hoe mis ek nie beweging nie.

Kuber-riller word in die DVD-speler geplaas. Mr. Robot aktiveer by uitstek Jacques Lacan se "signifier of the impossible".

Wie is hy, hierdie Elliott? Is hy sy pa of is sy pa net 'n opgeefsel van sy verbeelding? Onsekerheid is egter die konstante in al die moontlikhede wat ons daagliks beleef, waarsku sy pa (Christian Slater) wat hom toespreek.

Die wêreld is gebou op fantasie en ons verorber sintetiese kos te midde van die psigologiese oorlogvoering van die advertensie-wese. Dan is daar "mind-altering chemicals" wat ons gebruik te midde van die media wat ons breinspoel. En verder word ons gekontroleer en beheer in ons geïsoleerde borrels van sosiale netwerke.

Daar is 4 seisoene van Mr Robot (wat in 2015 begin is) en die eerste reeks is pakkend. Jy moet jou "suspension of disbelief"-koppie aanskakel, want daar word geweldig baie spronge gemaak. Is ons altyd binne-in Elliot se opgeefsels en hallusinasies? Of bestaan sy pa tog?

Om die einde aan korrupsie te maak en die hele wêreld tot 'n val te bring, is die onderliggende fantasie van fsociety. Daar is skokkende tonele soos in die nuusonderhoud waar een van die grootbase voor die kamera homself doodskiet.

Sy lewe is verby. Die kuberkrakers het alles weggeneem.

Daar is vele sub-plots soos Angela wat gedrewe is om die maatskappy se ongerymdhede oor "toxic waste" van E Corp aan die kaak te stel en drug lords wat vanuit die tronk afpers en regeer.

Die reeks resoneer met wat ons nou beleef. Fiksie wat alweer die werklikheid vooruitloop.

Sondag 5 April 2020 Dag 10

12 April begin Pase hierdie jaar. En volgens die NG-Kerk Vishoek se kalender, val dit op die eerste Sondag wat volg op die eerste kerklike volmaan. Die dag-en-nagewening is vasgestel op 21 Maart en hierom sal Paasfees nooit vóór 22 Maart of later as 25 April kan wees nie. 

Ek lees verder oor die verskille tussen die kerklike en astronomiese stelsel. Die kerklike tabelle maak glo nie voorsiening vir die komplekse beweging van die maan nie. Paasfees is 'n herdenking van die kruisiging en opstanding van Jesus Christus.

In sowel Johannes as Lukas word daar in besonderhede gekyk na die kruisiging.

Dit is reënerig in Kaapstad. Die winter is hier.

3 nm ry ek om proviand aan te vul. Die strate is vol haweloses en benewens die bekende gesigte, is daar nuwe mense wat rondstap en bedel. Party lyk na gevaarlike kalante.

Terug by die huis, begin ek lees en werk. Ek merk op dat twee vensters van die hotelletjie oorkant my oopstaan. Is daar mense? Die Cape Milner is gesluit. Geen sekuriteitswag, net ligte aan.  

Sunday bloody Sunday, daardie wonderbaarlike film van John Schlesinger uit 1971 kom staan voor my: Glenda Jackson, Peter Finch, Murray Head.

'n Liefdesdriehoek en 'n oop verhouding tussen die kunstenaar met die geskeide HR-vrou (Jackson) en die Joodse gay-dokter (Finch). Uiteraard geen permanensie gewaarborg nie.

Skokkend in sy tyd.

Vanessa Redgrave en Paul Schofield was die regisseur se eerste keuse, maar vandag onthou ons Glenda Jackson se spel. En weet ons hoe sy 'n politikus geword het in die Arbeiders Party tot so om en by 2011.

'n Ongelooflike film wat tans resoneer met ons ervarings van oop, onseker, uitstel.

In die slot van Johannes word daar o.a. geskryf dat daar vele aspekte van Jesus se lewe nie in die geskrewe boeke staan nie. Dit staan wel in die apokriewe tekste en hiervan is Robert Pinsky se gedig oor die Jesus-kind altyd onthoubaar en roerend.

From the Childhood of Jesus

One Saturday morning he went to the river to play.
He molded twelve sparrows out of the river clay

And scooped a clear pond, with a dam of twigs and mud.
Around the pond he set the birds he had made,

Evenly as the hours. Jesus was five. He smiled,
As a child would who had made a little world

Of clear still water and clay beside a river.
But a certain Jew came by, a friend of his father,

And he scolded the child and ran at once to Joseph,
Saying, “Come see how your child has profaned the Sabbath,

Making images at the river on the Day of Rest.”
So Joseph came to the place and took his wrist

And told him, “Child, you have offended the Word.”
Then Jesus freed the hand that Joseph held

And clapped his hands and shouted to the birds
To go away. They raised their beaks at his words

And breathed and stirred their feathers and flew away.
The people were frightened. Meanwhile, another boy,

The son of Annas the scribe, had idly taken
A branch of driftwood and leaning against it had broken

The dam and muddied the little pond and scattered
The twigs and stones. Then Jesus was angry and shouted,

“Unrighteous, impious, ignorant, what did the water
Do to harm you? Now you are going to wither

The way a tree does, you shall bear no fruit
And no leaves, you shall wither down to the root.”

At once, the boy was all withered. His parents moaned,
The Jews gasped, Jesus began to leave, then turned

And prophesied, his child’s face wet with tears:
“Twelve times twelve times twelve thousands of years

Before these heavens and this earth were made,
The Creator set a jewel in the throne of God

With Hell on the left and Heaven to the right,
The Sanctuary in front, and behind, an endless night

Endlessly fleeing a Torah written in flame.
And on that jewel in the throne, God wrote my name.”

Then Jesus left and went into Joseph’s house.
The family of the withered one also left the place,

Carrying him home. The Sabbath was nearly over.
By dusk, the Jews were all gone from the river.

Small creatures came from the undergrowth to drink
And foraged in the shadows along the bank.

Alone in his cot in Joseph’s house, the Son
Of Man was crying himself to sleep. The moon

Rose higher, the Jews put out their lights and slept,
And all was calm and as it had been, except

In the agitated household of the scribe Annas,
And high in the dark, where unknown even to Jesus

The twelve new sparrows flew aimlessly through the night,
Not blinking or resting, as if never to alight.


Waarom lees jy weer die Groot Boek?, vra 'n vriend. Die insinuasie is dat 'n mens dit tog ken.

Nie heeltemal waar nie. By die herbesoek, kom 'n mens op oneindige mooi beelde af in Lukas:

Van dorings pluk 'n mens tog nie vye nie, en 'n mens sny ook nie druiwe van 'n doringbos nie.

En die een van die balk en splinter in die oog staan ook hier opgeteken.

Die ennui van 'n Sondag, 'n bloedige Sondag, is 'n merker.  Net dat more nog 'n soort Sondag gaan wees.

© Joan Hambidge

Friday, April 3, 2020

Reisrubriek | Hou jou by (jou) lees (2020)

Donderdag 2 April 2020 | Dag 7

Die dag begin later as gewoonlik. Daar word 'n bietjie ingeslaap, soos die ou mense altoos geseg het en Handelinge (soos deur Lukas beskryf) is waarmee daar begin word. Die diep primordiale patrone van die Groot Boek is oorweldigend. Nou ja, die Israeliete was vir 40 jaar dolend in die woestyn. Hoe lank gaan ons ronddwaal?
        
Ons sal ons rieme moet sny. Maar waar kom die uitdrukking vandaan?, vra ek 'n vriendin.

In Handelinge 22:25 staan daar:

En onderwyl hulle hom met die rieme uitrek, sê Paulus vir die hoofman oor honderd wat daar staan: Is dit u geoorloof om 'n Romeinse burger, en dit onveroordeeld, te gésel? 

Volgens die internet is riem 'n strook leer, 'n roeispaan of 'n pak papiere met 500 velle. Die herkoms is Nederlands, maar die Nederlanders het die papier-betekenis van Arabies oorgeneem. Ek lees verder:
Riemaandrywing, riemtelegram en riemspring. Riemaandrywing is die aandrywing van masjiene deur middel van 'n band. Riemtelegram is skindernuus. Riemspring is touspring.  
Riem het baie idiome onder andere, 'n riem onder die hart, wat beteken om aanmoedigend te wees. Riem is ook ‘n ou naam vir ‘n roeispaan en ‘n “hart” is onder-andere die “mikkie” waarin die roeispaan op die boot pas.   
As jy sê my rieme is dertien, beteken dit dat jy nog iets gaan aanpak.  
Met 'n slap riem vang; jou rieme styfloop; 'n riem onder die hart ...  
Rieme uit iemand anders se vel sny, beteken jy gaan nie vertrou word nie. 
(Bespreking/Riem - Wikipedia. Besoek 2 April 2020)
 Dis 'n tyd van boetedoening en binne-doening.

Op Crito se blog vind ek hierdie inskrywing, 'n soort riemtelegram:
Sandra Pretorius het gesê op Maart 25, 2020: 
Spyker op die koo geslaan oor Hambidge. Ek kan nie glo dat sy hoegenaamd ernstig opgeneem word as ‘n resensent nie en dat boekeredakteurs haar nog vra om boeke te resenseer nie. Al haar resensies is inkoherent, mens kry die indruk sy doen dit baie haastig. Hoekom haar mening enigsins iets werd is slaan my dronk. 

Joan Hambidge het gesê op April 2, 2020: 
Geagte u Edele dr. Mevrou Madame Pretorius 
U bedoel sekerlik: spyker op die kop? Of is koo ‘n neologisme? 
So van haastig gepraat … 
Al my resensies inkoherent? U ravot met die woord. 
(Litnet | Crito - Twee kante. Besoek 2 April 2020).
'n Bietjie ligte vermaak hierdie in hierdie tye soos die vele grappe via die internet en die selfoon. En dan ook 'n polemiek oor Nagblind op die Versindaba.

Dalk 'n noodsaaklike stryd om die verskille tussen 'n Facebook-digter en hoofstroomdigter uit te wys. Maar wanneer 'n digter publiseer by 'n hoofstroom-uitgewer, kom die eise van die digkuns aan bod. Dan val al die steierwerk weg en kyk 'n mens net na die gedigte as gedigte.

Dan is dit riemspring!

*
Handelinge is nou afgehandel. Hierdie tog (riemaandrywing) deur die Groot Boek neem my na Rembrandt se skildery wat ek in hierdie dae weer sou besoek het in die Hermitage en in Amsterdam. Nou moet ek staat maak op kunsboeke soos die Granada-reeks.

Die verrukking van sinne, waarvan ons lees in die Groot Boek is iets wat Rembrandt uniek kon opvang.


Rembrandt: Twee intellektuele in dispuut, 1628

Waaroor sou hierdie grysaards praat?
Die een druk ‘n vinger op ‘n passasie
en as dit Petrus was, in gesprek met Paulus,
soos kunshistorici meen, het ons hier 
Paulus na regs, wat die draaipunt sal verdedig,
teenoor die twyfelende, weifelende Petrus.
Daar word groot gewag gemaak van die chiaroscuro,
die ritmiese visuele harmonie, die dramatiese intensiteit
van die meester se uitsonderlike periode in Leiden.
Die besonderhede van boeke, doek en kerslig.
Of is dit skilder self in tweegesprek, ego en alterego?
Kunstenaar én mens? Twyfelaar én gelowig?
En, en; eerder as of, of? Wie sou hierop lig
kon werp? Die ewige spel tussen skilder en dig?

(Uit: Lot se vrou, 2012).

Laatnag roep 'n hawelose na my buurman. Die nood is hoog. Die weerloses tref dit erger as ons in ons vestings met kos en proviand.

Vrydag 4 April 2020 | Dag 8

Vrydag is met ons. Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde. Drie vriende van my is al vir jarelank semi-kluisenaars en kan hierdie inperking hanteer.

Die rand duisel. Rommelstatus kry 'n nuwe betekenis. Afgradering.

Ek volg 'n tuisoefening-program en laatmiddag orden ek my boeke.

Maak weer om die blok skoon.

"Kyk na die berg agter jou vir jou natuur-fix," gee my buurman raad. As hierdie dae verby is, gaan ek die natuur anders besigtig en bepaald meer waardeer.

Verrukking van sintuie soos die Groot Boek sê; en ek sal my waardering nie onbetuig laat nie. Landskapverse sal gepleeg word.

Die ander buurman kla dat hulle drank amper op is. "Ons het ons misreken met hoeveel meer 'n mens drink in hierdie tye."

Ek maak my blindings oop in my studeerkamer en kyk na Tafelberg. Ek luister na kundiges se raad oor die finansiële toekoms van ons land en hoe groot maatskappye genoop sal word om hul beleggings te onttrek.

Dis 8nm. Applous. Fluite.

Vandag sou ek na Rusland vertrek het om weer die Hermitage te besoek wat ek laas in 1991 – voor die putsch – kon besoek.

Nou kan 'n mens 'n virtuele reis onderneem na die wonderbaarlike museum. Ek besluit op 'n herbelewing van Russian Ark, die film van Alexander Sukorov van 2002.

Dit vertel die verhaal van die anonieme verteller (die fokalisator is Sukorov self) wat deur die Winterpaleis stap. Hy word vergesel deur die Markies de Custine, 'n ambassadeur, en driehonderd jaar se geskiedenis word vertel.

Die gesprekke oor Rubens en Van Dijk interesseer my tans, net soos die besetting van Rusland en die Rembrandt-skilderye.

Ongeveer 33 kamers word besoek en meer as 2 000 akteurs het deelgeneem aan hierdie produksie. Die danstoneel aan die slot van die film is asembenemend. 

Ons sien voorstellings van Peter die Grote, Katarina die Grote, Tsaar Nikolaas die Tweede  se kinders, verwysings na die besetting van Rusland tydens WOII.

http://joanhambidge.blogspot.com/search?q=hermitage  Besoek 3 April 20202

Die film is in 96 minute gemaak: met een kamera ...

Die musiek is van Mikhail Glinka.

Die film is gebaseer op die roman La Russie en 1839 wat uiters negatief is oor die Russiese leefwêreld.

In One Breath gee 'n blik op die maak van die film, iets wat 'n film kan bederf vir die kyker. Hier gebeur dit nie.

Knut Elstermann is die vervaardiger van hierdie dokumentêr. Op 'n reis deur Rusland het ek 'n matrioska gekoop met al die presidente binne-in.  Gorbajof was die laaste een met die vlek op sy voorkop en dus lank voor Putin.

My Russiese skaakstel lê langs 'n Sjinese een in hierdie tyd waar die skaakspel van die wêreld – met die virus as 'n oorrompelende opponent.

Poem through binoculars

Die swaan 
bly dankbaar oor haar dubbelbeeld 
gebuig. Die Russiese landskap 
onnoembaar groot uitgestrek: 
vreemd-melancholies op hierdie aand.

Die swaan 
word kleiner deur my lens 
soos die trein tussen Moskou en Kiev
voortsnel. (‘n Toneel uit Dr. Zhivago?)

Cirillies die taal:
vreemd dog net-net ontsyferbaar
soos Rook Verbode
wyl jy onvermoeid jou foto’s
in Agfa-kleur direk verpak.

Die swaan word net betyds in dié strofe opgevang
voordat die kondukteur op Russies jou verbied 
om enige verdere foto’s 
deur die venster weg te steel.

Tussen Moskou en Kiev
is ek nie langer jaloers op die toeganklikheid 
van jou klikkende medium – skryf 
(al bly dit ‘n dubbel(s)lagtige bedryf) 
immers nie hier verbode. (Of hoe dan Pasternak?)

Die swaan
bly immers só bewaar.

(uit: Interne verhuising, 1995).

Enige voorspellings en raad van hoe 'n mens hierdie onseker tye moet benader, pypkan die uwe. 

Wil dit outentiek en aan eie lyf ervaar.

© Joan Hambidge