Showing posts with label Jaco Fouché. Show all posts
Showing posts with label Jaco Fouché. Show all posts

Thursday, August 5, 2021

Resensie | Jaco Fouché – Simoelégri | Human & Rousseau, 2021

Jaco Fouché – Simoelégri. Human & Rousseau, 2021. Isbn 978 0 7981 82 02 7

 

Resensent: Joan Hambidge

 

Hierdie roman, wat 126 bladsye beslaan, het die groot romanwedstryd gewen teen bekende skrywers soos Ingrid Winterbach, Francois Smith en Kirby van der Merwe. Die roman word tereg as enigmaties beskryf met marginale karakters wat mekaar in ‘n “postapokaliptiese verstrooiing” probeer vind. 

 

Uiteraard plaas hierdie tipering die roman onmiddelik teen die werk van Willem Anker se voortreflike Skepsel (2020) en Alettie van den Heever se skitterende Stof (2018).

 

So ‘n wenner roep onmiddellik vergelykings op met ander wenners (Dan Sleigh, Winterbach) en naaswenners (Etienne van Heerden, Alexander Strachan …).  

 

Boordelaarspanele word dikwels ‘n kollektief (aldus Jung) en word beïnvloed deur nie-tasbare of sosiaal-politieke onderstrominge. Jare, jare later kyk ‘n mens terug en dink hoe het dit gebeur? 


En in die reklamestuk staan daar met groot stelligheid:” met die werklik gesaghebbende, wyse, filosofiese stem van ’n ervare skrywer aan die woord.”

 

Die teks word ook as elegies beskryf met ‘n spirituele soeke …

 

Wanneer die uwe resenseer, word ‘n boek ten minste driekeer gelees. By die lees van hierdie roman van Jaco Fouché, wat heet Simoelégri, het die uwe jurielede aangestel om my van raad te bedien.


Ek het my ouija-bord uitgehaal en begin soek …

 

Dit was die groot romanskrywer Virginia Woolf wat gewaarsku het die lees van ‘n roman ingewikkeld is en dat jy uiteindelik die reëls-van-die-spel wat die skrywer voor jou neersit, moet nakom. Omdat daar met gendersake gespook word, was Woolf dus die eerste lid van die jurie.

 

Om die hele kwessie van transgender in ‘n roman aan te spreek, vra uiterse besinning, waarsku sy. 


“Ek dink die enigste volwaardige “cross dresser” in die Afrikaanse letterkunde is Hennie Aucamp se “Vir vier stemme” (uit: Volmink) en oor transgender is daar maar sopas ‘n outobiografie geskryf deur Robert Hamblin. Dit is al uiteraard ‘n problematiese romangegewe wat vergelykings sal oproep – ook met Orlando. Natuurlik lewer dit kommentaar op die tyd en die klassessisteem (en ja oor Vita Sackville-West), maar dis ‘n roman van metamorfose,” laat weet sy stadig en afgemete.

 

(Ek sou Foucault wou uitvra oor Herculin Barbin wat in 1980 verskyn het oor die 19e eeuse hermafrodiet, maar ek is ingelig dat hierdie teoretikus knorrig reageer op enige navraag via ‘n oujia-bord.)

 

Dus gaan ek maar na Nabokof, een van die grootste skrywers en kenners van die romankuns.

 

Vladimir Nabokof brom-brom en verwys my na sy beroemde Cornell-lesings (wat in 1980 by Wiedenfeld verskyn het) oor klassieke romans in die wêreldletterkunde waar hy tekste uitmekaar haal soos wat jy ‘n legkaart bou.

 

Die boek val oop by Flaubert se beroemde dictum dat die outeur orals aanwesig én onsigbaar moet wees in sy roman, soos God in sy wêreld.

 

In die genoemde Cornell-lesings is daar ‘n eksamenvraag oor Madame Bovary: What had Emma read? Name at least four works and their authors. 

 

Dieselfde vraag kan aan lesers van Fouché gevra word, meen hy.

 

Daar is verwysings na die Boek Jona, Boeke oor Marilyn Monroe en Sylvia Plath, die Bybelkonkordansie. Sumeriese geskrifte. Alles sleutels.

 

Maar maak die outeur Fouché werklik iets hiervan? Mooi oomblikke is daar: Leef dubbeltyd, bladsy 109; die riool van die stad wat parfumeer; die aarde wat post-alles is; selfs post-hemel (99); Uit die bloed van onse hemel, ens. ‘n Lewensverhaal wat net 2000 woorde behels! Boeiende Ronnie en Dean. 

 

In Nabokof se Lectures on Russian Literature val die boek by Maxim Gorki oop en sy analise van The Lower Depths. Nie ‘n groot skrywer nie, maar tog relevant binne die sosiale struktuur van Rusland. 

 

Dalk omdat Fouché in sy roman - met die subtitel – Stad van onrus – die verloedering van ‘n stad aanspreek, het hierdie roman die paneel aangegryp?

 

Aktualiteit en spanninge rondom politiek en ongelykhede beskryf?  Lady Die (“Dame Dood”) die transgender-figuur, woonagtig in ‘n verlate ou kerk in ‘n fiktiewe Simoelégri, is weliswaar ‘n interessante gegewe.

 

By Fouché is die klassesisteem die bekende haves/have nots en die kerk aktiveer in die verbeelding (dalk?) daardie een op die Groentemarkplein indertyd beset deur haweloses en inkommers, uiteindelik verwyder deur die polisie.

 

(En hier is ‘n virus, onrus, dwelmhandelaars, die hitte van ‘n konkavuur.)

 

Jaco Fouché het alreeds ‘n bestendige plek ingeneem binne die Afrikaanse vertelkuns, veral met sy besonderse debuut, Die ryk van die rawe in 1996 en die onlangse Aanspreeklikheid. Met hierdie roman voel hierdie leser dat die roman die tekstuur en drif mis van daardie twee boeke. Dalk te vinnig gepubliseer vir die romanwedstryd? Die roman sou gebaat het met ‘n verdere herskrywing. 


Hopelik beantwoord ek die vraag gerig aan die leser op bladsy 125:

 

“En jy, leser, hoe is jou tydsgees? Wie is jy wat hier lees? Watter soort mens?”


Hopelik sal hy weer ‘n roman vir hierdie leser skryf wat aan die keel gryp.

 

Thursday, February 14, 2013

Jaco Fouché - 2 Dae in Mei (2007)



Jaco Fouché. 2 Dae in Mei. Umuzi, 2007. ISBN 978 4152 0039.

Resensent: Joan Hambidge

‘n Roman oor alkoholisme. Dit is basies waaroor Jaco Fouché se roman 2 dae in Mei handel. Alkoholiste Anoniem in Belville.

‘n Volwasse onderwerp van ‘n jong skrywer wat die interaksie tussen ‘n drinker-wat-probeer-ophou en Elna, die hoof van AA, word weergegee. Robert, Elna, Jim.

Die foltering, die leuens, die verwoeste lewe wat agter die persoon lê, word in die vlotvertelde roman weergegee.

Op die buiteblad staan daar die outeur ‘n vakman is wat jou hart ongesiens kan breek. Dis ‘n bietjie sentimentele praat oor ‘n roman wat júís op ‘n on-sentimentele wyse ‘n problematiek probeer aanspreek. In vergelyking met sy tydgenote soos Jaco Botha (Miskruier) en Tom Dreyer (Equatoria) is hier ‘n bepaalde volwassenheid aanwesig wat nogal imponerend is vir so ‘n jong skrywer.

Die skadukant en leuens waaronder die alkoholis gebuk gaan, word goed verwoord. Dit is immers soos ons almal weet, ‘n siektetoestand en nou onlangs het ek selfs ‘n Jungiaanse analis, ene Linda Leonard, ‘n belydenis hoor maak oor haar verlede. (Een van haar tekste heet The wounded woman). Die deurbraak om  uit verslawing te beweeg, het haar op ‘n ander kreatiewe roete geplaas. Die belangrikste aspek van hierdie roman – behalwe vir die vlot en onderhoudende vertelling – is die gedeeltes waar daar by implikasie kommentaar gelewer word op die skryfproses. Hoe die kuns as’t ware terugspeel op die lewe. (“Maar die kuns ploeg op sy beurt weer materiaal in die lewe in”, bladsy 71) maak van die stuk vertelling dus ‘n konstruksie. 

Ons word immers herinner daaraan dat dit twee dae in Mei is. Gebeur daar soveel in twee dae? Kan ‘n mens ooit werklik getrou die lewe “naboots”? ‘n Dag in die lewe van, vind ons by Russiese skrywers en James Joyce het in Ulysses één dag probeer weergee. Maar dit bly altyd ‘n voorstelling en dit is onmoontlik om ‘n representasie weer te gee. Trouens, ‘n volledige afdruk sou vervelig wees. Dus hier, waarsku die skrywer die leser, dat ons besig is met ‘n artefak. ‘n Soort meta-kommentaar, as u wil.

Die swerfboek waaruit Jim lees, is On the road van Jack Kerouac. ‘n “Racy”, vinnig-geskrewe kultusteks, enig in sy soort.

In die erkenningslys word daar eweneens verwys na die literatuur van die AA.

In my bespreking gebruik ek woorde soos “vlot”, “goed geskrewe”, “onderhoudend”, ensomeer. Dit kan ‘n mens uiteindelik alles van hierdie roman sê.

Dit is egter nie ‘n boek waaroor ek so hoog gaan opgee as Koos Kombuis wie se Raka – die roman vir my meer om die lyf gehad het.

‘n Mens lees dan aan ‘n vlotgeskrewe roman oor die wanhoopstoestand van alkoholiste wat elke dag as ‘n klein oorwinning beleef.

Fear and loathing in Las Vegas se pendant is dit.

Nog minder het dit die versnelde pas van ‘n Beat-teks.

Wanneer ‘n mens die onderhoud van Jaco Fouché op Litnet lees, dan besef jy wat die skrywer wou doen, en wat uiteindelik hier tot uiting kom, is twee dinge.

‘n Verdienstelike teks, beslis ja.

Maar ook ‘n bietjie vervelig.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]