Thursday, February 14, 2019

Filmrubriek | Can You Ever Forgive Me? (2018)

In Marielle Heller se Can you ever forgive me? is Lee Israel (vertolk deur Melissa McCarthy) 'n New Yorkse skrywer wat worstel met geldprobleme, alkoholisme en, op die koop toe, skrywersblok. Hierdie trits gee dan aanleiding tot haar persoonlike drama. Sy verkwansel 'n brief van Katherine Hepburn aan Anna, die eensame plaaslike boekhandelaar, wat 'n verhouding met haar wil begin.

Haar agent wys haar af en die geldnood druk en hierom begin sy bedrog pleeg. 'n Brief van Fanny Brice wat sy vind in 'n argief tydens haar navorsing, is die motoriese moment en met die hulp van 'n swendelaar ene Jack Hock, wonderlik vertolk deur Richard E. Grant, maak Lee vordering. Van 'n boek oor Estée Lauder tot die owerhede wat ingryp toe sy haar hand oorspeel met 'n vervalste brief van Noël Coward. En sy word geswartlys. Letterlik en figuurlik.

Sy het net 'n kat en 'n tikmasjien.

Daar is 'n biografie oor hierdie vervalsings wat heet Can you ever forgive me? gepubliseer in 2008. Tussen 1990 and 1991 het sy meer as 300 briewe geskryf en gebuikspreek vir Dorothy Parker, Louise Brooks, Edna Ferber, Lillian Hellman en Noël Coward, en dit dan verkwansel aan antikwariese handelaars.

Die kyker moet self die storie ervaar en die ontknopings meemaak. 

Die film lewer skerp kommentaar op die rol van agente in die boekbedryf. As jy nie saamspeel nie, is jy vergete. Jy moet bereid wees om deel te raak van die reklamemasjien en goeie skryfwerk is nie al wat tel nie. Boonop verander modes en behoeftes van lesers in 'n ommesientjie.

Hierom is die siniese Dorothy Parker die sentrale interteks waarmee die hele film werk.

Die film lewer aweregse kommentaar op genderkonstruksies. Coward se seksualiteit was nie so eerlik as wat Lee wou voorgee nie en dit lei tot haar ondergang. Daar is implisiete lesbiese ondertone en openlike homoseksualiteit.

Sy het eweneens 'n whizza in die hand en haar woonstel is vuil en vol vlieë. Haar klere en lyf lyk oes. Onder haar bed is daar kuttels. Jack is op drugs en smokkel waarskynlik.

Die sub-teks is duidelik: as die hoofkarakter 'n heteroseksuele en suksesvolle skrywer was, sou sy nie hierdie dinge aangevang het nie.

Haar lewe is dié van 'n kopiïs, 'n afbeelding van die suksesvolle skrywer wat sy sou kon wees. Wanneer sy in die hof verskyn, bely sy egter dat sy haar oortredings geniet het.

Haar straf is dat sy 'n werk moet vind, gemeenskapsdiens moet doen en by die AA sal aansluit. Boonop is daar huisarres op die spel.

In 'n siedende slottoneel beledig sy en Jack (sterwend aan VIGS) mekaar in 'n wedersydse gebrek aan respek met desillusie oor 'n vriendskap sonder lojaliteit.

Die tonele van New York is bedreigend. Die kroeg is donker en oud. (Hier is die kamera soos 'n ouktoriële verteller besig om implisiete kommentaar te lewer op die stad New York.) By 'n skrywersparty gaps Lee 'n jas, terwyl haar agent ongemaklik voel oor haar gedrag en vuil klere.

Ten slotte skryf Lee 'n brief asof sy die briljante digter Dorothy Parker is ...

Heerlike Parker-aanhalings bly immer: “Beauty is only skin deep, but ugly goes clean to the bone” en “If you want to know what God thinks of money, just look at the people he gave it to”.

Haar roman oor Fannie Brice, die sangeres en komediant, is eweneens belangrik vir die begryp van swart humor in die film. Barbra Streisand se Funny Girl (1964) is op haar lewe gebaseer.

Gaan kyk eerder Can You Ever Forgive Me? en beleef hierdie aserbiese film se kommentaar op die skryfwêreld.

Hierdie is my gunsteling Parker-vers!

Resume

Razors pain you; 
Rivers are damp; 
Acids stain you; 
And drugs cause cramp; 
Guns aren't lawful; 
Nooses give; 
Gas smells awful; 
You might as well live. 

Mrs. Parker and the Vicious Circle is 'n puik weergawe van haar lewe met Jennifer Jason Leigh as Parker in 'n 1994 film van Alan Rudolph.

Daardie samekomste by die Algonquin hotel in 1919 tot 1929 word puik vasgevang.

© Joan Hambidge

Tuesday, February 12, 2019

Resensie | H.P. van Coller, Helize van Vuuren & Louise Viljoen (samest.) - Afrikaans poems with English translations (2018)

H.P. van Coller, Helize van Vuuren & Louise Viljoen (samest.) - Afrikaans poems with English translations. Protea Boekhuis. 2018. ISBN 978-1-4853-0694-8

Resensent: Joan Hambidge

In Andrei Tarkofsky se Nostalgia (1983) lees die gids Eugenia ‘n vertaling van gedigte. Haar reismaat Andrei wys op die onvertaalbaarheid van alle kuns. Sy reageer en wys hom tereg daarop dat as dit nie vir vertalings was nie, ons geen groot Russiese skrywers sou kon lees nie.

Daar verskyn tans etlike vertalings van Afrikaanse gedigte: in 2015 verskyn In a Burning Sea (Marlise Joubert, red.), en sopas het daar ‘n derde uitgawe van Michael Chapman se The New Century of South African Poetry (Ad Donker / Jonathan Ball) verskyn. Daniel Hugo en Zandra Bezuidenhout is aktiewe vertalers van Vlaams en Nederlands. Haar vertaling van Alfred Schaffer se Mens dier ding is puik. Helize van Vuuren vertaal moeilike gedigte op Versindaba.

Hierdie hersiene weergawe van C.J.D. Harvey en A.P. Grové se bloemlesing Afrikaans poems with English translations wat in 1962 verskyn het, is behartig deur drie gesiene literatore: H.P. van Coller (o.a. die redakteur van Perspektief & Profiel), Helize van Vuuren (‘n deeglike Opperman en Breytenbach navorser) en Louise Viljoen, ‘n antoloog van Poskaarte saam met Ronel Foster; met gepubliseerde studies oor Krog en Breytenbach.

‘n Mens sal nie ‘n poësiekenner vind in Afrikaans wat nie by dié projek betrokke was op ‘n manier nie. Twee van my verse is opgeneem (ek verklaar my belange toe ek gevra word om te resenseer); ‘n ander kommentator het vrae gevra oor waarom sekere digters nie opgeneem is nie. Hierdie kwessie sou waarskynlik ‘n hele dagblad kon volmaak.

‘n Handvol digters het opname geweier en die bloemlesing is ‘n projek van die Akademie vir Wetenskap en Kuns (uitgegee deur Protea). Soms berus die kopiereg by eersgenoemde; soms by die skrywer.

Met Groot Verseboek wat alreeds drie kluiwe beslaan, sou ‘n nuwe uitgawe waarskynlik vier volumes opeis. En een leser sou in elk geval nie tans ‘n genoegsame oorsig oor ons poësietoneel kon hê nie. Ten minste vier kenners word benodig; dis nou te sê, as die kleiner uitgewers kopiereg verleen sónder die enorme onkostes hieraan verbonde.

Dalk moet ‘n mens eerder fokus op die vertalers en hoe die digkunstoneel verander en getransformeer het.

Vertalers wat hier hul merk maak, is uiteraard die Branfords, terwyl gesoute digters  soos Guy Butler, Anthony Delius, Sheila Cussons, Charl J.F. Cilliers, en Ernst van Heerden (o.a.) ook behendige vertalers is. Daar is ook Tony en Gisela Ullyatt.

Lost in translation heet Sofia Coppola se film uit 2003. Wat fluister Bob Harris (Bill Murray) in Charlotte (Scarlett Johannson) se oor ten slotte? 

En dis hoe ‘n mens ‘n bundel met vertalings moet lees. Elke vertaler (soos elke kyker) sal ‘n ander afleiding maak, oor wat gesegge word. Sekere digters word moeiliker getransporteer van Afrikaans na Engels, omdat die gedigte te idiomaties, boers; vol kwinte én kwinkslae sit. Byvoorbeeld Breytenbach en Krog. Hoe kan ‘n mens “ek skryf omdat ek woedend is” reg vertaal? Philander se “die bome is kiets” word vertaal as “upright” deur Andries Wessels (162). Die vertaler wou kennelik ‘n rympatroon behou, maar die woord “kiets” se betekenis gaan verlore. 

“A lone goose dropped a feather light” het nie die ritme en musiek van “‘n berggans het ‘n veer laat val” nie.  By Boerneef, ‘n volksdigter, is die gebruik van “thee” problematies, omdat hy juis so uniek modern was in sy outydsgeit (171).

“Hoe sal ek jou van hierdie volgehoue stilte red?” uit Petra Müller se klassieke elegie “Nico”, word “persistent anonimity” wat totaal iets anders is (246 - 247).

“Allogot!” word “Holy fuck!” (Marlene van Niekerk, 252) wat wys hoe woorde in verskillende tale anders resoneer.

“Krakeel” word “quarrel” (254). Vraagteken. C.M. van den Heever se “Voëls in die skemering” aktiveer een van die grootste probleme van die digkuns: klank. Hoe vertaal ‘n mens “Voëlgeklepper in die skemer / oor buigende riet” oortuigend? Dit word deur die Branfords vertaal as “In the twilight, birds alighting / on whispering reeds” (48-49). 

Dieselfde geld die problematiek met gert vlok nel se unieke taal wat Leon de Kock aangedurf het. In “i sagte reën het agtermiddag” (286) word “uitgehol” dan “scooted out”. Tog presteer De Kock om die eiesoortige gebroke sintaksis in die Engels op te vang.

Lawrence Venuti se sieninge oor vertaling kom handig te pas. Moet die vertaler onsigbaar bly? Moet jy die teks huis toe bring of oorsee stuur? Of laat die vertaler maar altyd sy duimafdruk in die teks? (Ek is van mening dat die vertaler altyd tog maar aanwesig bly. Gaan kyk maar na D.M. Thomas se Russiese vertalings.)

Hierdie boek het my teruggeneem na Venuti studie The Translator's Invisibility: A History of Translation wat in 1995 verskyn het. Venuti on beteken tog come on!
‘n Goeie vertaler is soos ‘n goeie stemnabootser of ‘n komediant wat ander kan naboots. (Kevin Spacy kry dit volkome reg om iemand anders te word in sy komiese nabootsings. Maar ons weet dit is Spacy wat dit doen.)

Wat fluister Bill tog vir Charlotte?

Ander gedigte beweeg makliker, flinker en word verander in die vertaling. Loftus Marais klink lekker; Nathan Trantraal se egte Kaapse idioom werk nie in Engels vir my nie.

Die leser kry sowel die Afrikaanse as die Engelse weergawe. ‘n Wit bladsy sou ‘n opsie kon wees vir die lesende vertaler wat wil verskil of bywerk. ‘n Mens vergelyk onder andere die verskille tussen Harvey en J.M. Coetzee se vertalings van Ina Rousseau se “Eden” met ‘n kopknik na Coetzee op bladsy 157.

Maar kom ons fokus eerder op die landskap.

Om ‘n oorsig te gee van hoe die digkuns verander het: ‘n honderd van die mees betekenisvolle gedigte in Afrikaans, dit weet die samestellers, is ‘n saak van onmoontlikheid. ‘n Tradisie gewortel in Afrika en binne ‘n internasionale gesprek, danksy die internet, is hoe sake nou daar uitsien. Die probleme van ‘n klein mark en leesgehoor is terloops iets wat alle digters ervaar; aldus Paul Muldoon, die belangrike Ierse digter, werksaam in die VSA. En Muldoon met sy eg Ierse aanslag (en “slant rhyme”) het hom al uitgelaat oor hoe moeilik dit is om sy gedigte te vertaal.

Die indruk wat hierdie bloemlesing by my as leser laat, is hoe enorm gesofistikeerd ons ouer digters soos Marais, Totius, Leipoldt, Toon van den Heever, I.D. du Plessis en C.M. van den Heever al gedig het. En bly Celliers se “Dis al” nie maar ‘n klassiek nie!

Van formele gedigte tot die parlando; van ‘n standaard-Afrikaans tot kaaps; van rym tot vrye vers; van harde werklikheid tot droom; van artefak tot interteks; van punktuasie tot foefieslaaid; van Hoofletters tot kleinletters; van realisme tot surrealisme; van verhewe word tot vloekwoord; van intieme gedig tot woedende politieke aanklag; van ek-wou-nog-sê tot klaarpraat.

En hierdie volgende digter se verse verklap hoe mens soek na die regte grein.

“‘n skaap se derms vir die snare…”
skaapderm en boom plus perdehaar
kom in die geheim
in ‘n mensehart bymekaar.

Só praat T.T. Cloete (258). Nou probeer u liewe leser om bg. te vertaal.

Die landskap-omslag van Kristèl de Weerd is pragtig – dit dui ook weer iets aan oor die aard van hierdie land… ‘n pad wat kronkel, berge in die vertes, bome… Elke kyker sal iets anders hierin raaksien en waardeer. 

Soos dit met hierdie bloemlesing gesteld is. Vir die hiate en oorsigte bestaan daar gelukkig ánder bloemlesings.

En ons sê almal so.

Sunday, February 3, 2019

Resensie | Alfred Schaffer -Mens dier ding (2018)

Alfred Schaffer -Mens dier ding. Human & Rousseau, 2018. ISBN13: 978 07981 78143 (Vertaal deur Zandra Bezuidenhout)

Resensent: Joan Hambidge

I
Die digter gebruik anachronismes en intertekste om die lewe van Shaka Zoeloe oor te vertel. Daar is films (Apocalypse now en Raging bull, o.a.), 'n perskonferensie, selfone, drome, UFO's, die Lonely Planet-gidsboek, komiekstrips, Kafka, Plath, die blinde digter Borges, Superman o.a. wat die storie uit die perspektief van 'n spreker wat soms hoog op dagga is, weergee. Susan Sontag se Illnes as Metaphor luier ook in die agtergrond. Verskillende vertellers en stemme dus. Schaffer teenoor Thomas Mofolo se Chaka, die roman uit 1931 met 'n voorblad van Mohau Modisakeng: Qhata (2011). Die tirannie van indertyd teenoor die geweld van nou. Die bemarking van die bundel wys op die spel tussen mite en werklikhede:
Daar word dikwels na hom verwys as ’n gesaghebbende dog ongevoelige krygsman en strateeg – uitvinder van die kort assegaai. Maar sy lewe verteenwoordig ook dié van asielsoeker, vlugteling, digter, weeskind, ’n sieklike man wat wegkwyn weens ouderdom. ’n Slagoffer van kolonialisme. Kon hy regtig ’n gloeiende vuur met sy kaal voete uitdoof en was visvang sy stokperdjie? Het hy inderdaad skaak gespeel, en met ’n blitsige motorkar in voorstede rondgejaag? En op ’n goeie dag vir dood op die snelweg gaan lê? [1]
Die bekroonde digter Alfred Schaffer (vertaal deur Zandra Bezuidenhout) word 'n buikspreker vir hierdie figuur. Maar meer as dit. Hy kyk as Nederlander van buite na die kolonistiese landskap. En ook van binne. Schaffer het hier in 2002 sy doktorsgraad voltooi (onder wyle Henning Snyman) en gee klas aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy was ook mede-redakteur van Nuwe stemme saam met Antjie Krog.

Kom in, dit vries daar buite (vertalings deur Daniel Hugo in 2013) som iets van sy posisie op as inkommer én buitestander.

Mens dier ding is 'n pragboek. My eksemplaar sit vol uitroepe van beelde wat bybly en kwel.

II

Hoe moet 'n mens hierdie bundel benader? Is dit 'n gedig-as-draaiboek? 'n Kreatiewe onderhoud met die historiese figuur, Shaka? 'n Dagdroom? 'n Hallusinasie? Iets geskryf op lekker twakkies? 'n Skaakspel?

Daar is kort vinnige gedigte (soos "Lekker!", 64) en dan weer 'n prosavers (67).

Die stylversnellings en -veranderings plaas die leser pens en pootjies binne die metamodernisme. Brian McHale se Postmodernist Fiction (Methuen, 1987: 36 - 37) op die sosiale konstruksies van die (on)werklikheid. Dit wat ons dink ons weet, word dikwels op sy kop gekeer. Die anargistiese landskap van die wêreld in meervoude ...

III
Dewald Koen beskou hierdie bundel tereg as 'n tour de force

Hy skryf:
Die bundel is veelsydig van aard en word Koning Sjaka se lewensverhaal deur middel van dagboekinskrywings, monoloë, dagdrome, briewe en herinneringe aangebied. (Versindaba » Resensie/ Mens Dier Ding (Alfred Schaffer). Vert. Zandra BezuidenhoutBesoek 3 Februarie 2019)

'n Mens sou kon byvoeg: 'n mens sien ook die binnewerkinge in 'n dagboek van 'n digter se kreatiewe prosesse. Dit tree nie alleen in gesprek met Lady Anne nie, maar ook met Raka.

'n Moderne epos met stylbreuke. Soms liries. Soms verhalend.

Hierdie gevoel word bevestig deur die volgende op bladsy 109:

Nog nie 'n paragraaf verder nie, of Shaka se moeder
lê vir altyd in 'n voetnoot plat op die grond.

Hierdie vers word dan parodies oor die volksaal en met 'n verwysing na method acting:

Die aarde, donkerpers vandag en leeg
is glad soos 'n enorme rolbalbaan.
Daar kom die eerste bal al aangerol.  (110)

Hierdie bundel is reeds met die Awater Poëzieprijs, Paul Snoekprijs asook die Charlotte Köhlerprijs bekroon. Die vertaling sal waarskynlik geloof word. Dit dans naatloos van Nederlands na Afrikaans.

dag(droom) # 0

Ek kan nie slaap nie ysige naglig hou my wakker.
Soos ’n boomblaar wieg ek heen en weer
hierdie gewieg bring geen rus nie.
In ’n refleks van vraatsug skiet my pote vorentoe
maar ek is versadig, ek is verlate in hierdie oerbos
met sy sonverskroeide bome –
dronk van vermoeidheid ná alles wat ek vernietig het.
Dit was soos ’n geploeter oor ’n eindelose grondpad
in ’n verderflike hitte.
Herwaarts en derwaarts tussen die stamme en die struike
brokstukke mens, gebars of gesmelt.
Hulle sê dit spook hier hulle sê
wat nie beweeg nie moet bevrore wees van angs.
Maar ek het net lief.
Soos in ’n baie ou sprokie.
As ek regop kom dan bid ek, ek bid dan en so bid ek
en ek bid dat iemand my gebed verhoor.
Sirenes swel aan tot anderkant die verte.
Ek het na U gesoek maar kon geen weerstand vind nie.

Hierdie bundel is 'n noodlyn vir die moderne leser. Boonop lees ons in die verantwoording dat De Sovjet UFO dossiers van Paul Stonehill (1998) besoek is. Aha. 

Ons is terug by McHill en Patricia Waugh.

Ek het goed om my rondgekyk maar ek was heeltemal alleen
as mens as dier as ding ... (68)

Endnoot:
1. Versindaba » Nuwe bundels. Besoek 3 Februarie 2019.

Inderwaarheid weet ons baie min oor die legendariese geskiedkundige figuur, Sjaka Zulu. Daar word dikwels na hom verwys as ’n gesaghebbende dog ongevoelige krygsman en strateeg – uitvinder van die kort assegaai. Maar sy lewe verteenwoordig ook dié van asielsoeker, vlugteling, digter, weeskind, ’n sieklike man wat wegkwyn weens ouderdom. ’n Slagoffer van kolonialisme. Kon hy regtig ’n gloeiende vuur met sy kaal voete uitdoof en was visvang sy stokperdjie? Het hy inderdaad skaak gespeel, en met ’n blitsige motorkar in voorstede rondgejaag? En op ’n goeie dag vir dood op die snelweg gaan lê?

In dié vertaling van Alfred Schaffer se bekroonde Nederlandse bundel, Mens dier ding, ondersoek die digter die mite van Sjaka deur kort dagboekinskrywings, monoloë, herinneringe, briewe en dagdrome. Sjaka word vergestalt as ’n kleurryke figuur; die mites rondom sy geskiedenis word op die kop gedraai en ondermyn, en eindelik, soos almal van ons, word hy akteur in sy eie lewensverhaal.

’n Poëtiese kragtoer, en voorwaar ’n hoogtepunt ter plaatse dat dié vertaling (deur Zandra Bezuidenhout) eindelik in Afrikaans sal beskikbaar wees.

Oor die digter

Die bekroonde Nederlandse digter Alfred Schaffer is in 1973 in Leidschendam gebore. Sy ma was van die Karibiese eiland Aruba, en sy pa was ’n Nederlander. Hy voltooi sy voorgraadse studie in Leiden en verwerf in 2002 sy doktorsgraad aan die Universiteit van Kaapstad. Daarna werk hy as redakteur by die uitgewery De Bezige Bij en later by die tydskrif Bunker Hill. Tans doseer hy Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch.

Sy debuutbundel, Zijn opkomst in de voorstadt, verskyn in 2000 en word gevolg deur Schuim (2006), Kooi (2008), Mens Dier Ding (2014) en Een lofzang (2016). Sy gedigte is onder meer vertaal in Engels, Frans, Duits, Spaans, Turks en Chinees, en in 2013 verskyn ’n keur van sy gedigte in Afrikaans, vertaal deur Daniel Hugo en getiteld Kom in, dit vries daar buite.

Schaffer ontvang ook die volgende toekennings vir sy digkuns: die Jo Peters-poësieprys, die Hugues C. Pernath-prys, die Ida Gerhardt-poësieprys en die Jan Campert-prys.