Sunday, July 28, 2019

Resensie | Azille Coetzee – In my vel (‘n reis) (2019)

Azille Coetzee: In my vel (‘n reis). Tafelberg, 2019. ISBN: 978 0 624 087 29 8

Resensent: Joan Hambidge

In my vel se sub-titel lui: 'n reis.

En dit is sowel 'n letterlike reisverslag as 'n emosionele kartering van die verskille tussen Suid-Afrika en Holland deur die oë van 'n wit, intelligente jong vrou wat aan die Vrije Universiteit 'n PhD skryf. Sy het 'n visum vir 22 maande.

Lanklaas het ek 'n boek gelees wat soveel belangrike sake op so 'n toeganklike en eerlike wyse aanspreek. Gender, identiteit, ras - daardie drie belangrike aspekte wat die self bepaal, word hier ondersoek.

In Nederland waar alles werk en waar mense hulle vererg omdat jy indruk in 'n ry of jou voete op die tremsitplek sit, word geplaas teen Suid-Afrika waar groot politieke issues en sosiale onrus aan die orde van die dag is. Hier word jy betig met 'n "Doe even normaal".

Omdat ek nie die leser van sy of haar leesplesier wil ontneem nie, gaan ek net enkele aspekte toelig. Die skrywer het haar vinger op die pols oor die hele kwessie van postkolonialiteit en Afropolitanisme.

In die dekoloniseringdebat vloei alles inmekaar met die verwerping van maklike binariteite.

Die Nederlanders voel anders oor genadedood as ons en telkens word die leser bewus van die skrywer se skuldgevoelens. (Dis immers deel van ons Calvinistiese bestaan. Es ist in der Luft. Niemand ontkom dit nie.)

Antjie Krog se Begging to be black kom aan bod by 'n besprekingsgroep. En ja, velkleur is ons probleem. 'n Mens dink ook aan die digter se Kleur kom nie alleen nie.

Ons is in hierdie land kleurbesete, want dit is die shorthand wat soveel verskille insluit en stereotipes opsluit.

Oor rassisme skryf sy insigryk. En Trevor Noah se respons vanuit die buiteland op ons bestraffing van rassiste is eweneens belangrik.

Want dan kan ons tog voel: ons is nie almal so nie ...

Vreemd dat 'n feminis eers laat in haar lewe Thelma and Louise sien?

Dis 'n verhaal van terugkeer na haar moederland eerder as ontvlug in die ordelike Nederland.

Die verslag oor haar liefdeslewe karteer haar as eerlik. Die verhouding met 'n ouer man loop dood. Sy keer terug en werk 'n ou verhouding weer uit. Die beskrywing van partytjies en die verskille tussen hier en daar, is eweneens tersaaklik. Ook die vryheid rondom liggaamlikheid en seksuele voorkeure van vriende.

Dwelms daar, drank, dans, galerye en die simboliek van hoekom jy fietsry in Holland, word onder die loep geneem. Via Judith Butler (gender), Biko en Mbembe (ras), Virginia Woolf  en J.M. Coetzee (skryf) , om enkele name uit te sonder, neem sy haar posisie in.

Lê die Afrikanerplaas werklik buite geskiedenis en tyd?, soos J.M. Coetzee skryf. Ek dink nie so nie.

Dit word verkeerd bewys deur die groot plaasromans in Afrikaans. En sommer ook in sy eie tekste.

Daar is 'n kopknik na Laura Windvogel. Oor taalsake veral Christo van Rensburg.

Oor taalverskille lag 'n mens lekker en hoe ons mekaar heerlik verkeerd verstaan.

Bekakt is aanstellerig. As jy iemand daar wil uitskel, is kankerhoer 'n mooi een!

Soos Rian Malan en Jonny Steinberg keer sy terug. Gewond maar onoorwonne.

Sy bedank haar feministiese mentors Amanda en Louise. Ons neem aan dit is Amanda Gouws?

Lees hierdie gevoelige en belangrike verslag van 'n postdoktorale navorser aan Stellenbosch.

Hoewel die wêreld plat geword het in ons tegnologiese epog ( in haar woorde) en ons vinniger kontak het, bly ons verskille staan.

Daar is poëtiese oomblikke (soos op bladsy 79) wanneer sy oor haar taal praat.

Suid-Afrikaners is tegendraads, lewe buite boksies en ons is kompleks, vol paradokse en pluraliteit (141). En sy vang dit so goed op.

Hierom spook ons met identiteitsverwarring en onsekerheid.

Net soos sy weet dat sekere verliese onverwerkbaar is.

Die boek word bemark as nie-fiksie. Dit is iewers tussen 'n outobiografie, verslag en reisbeskrywing.

Soos haar sieninge alle binariteite ontglip, kan 'n mens ook nie die teks finaal vaspen nie. Dalk iets soos "Creative Non Fiction".

Die boek word voorsien van 'n bibliografie.

Filosofiese kwessies word toeganklik en helder verwoord.

Tuesday, July 23, 2019

Resensie | Benno Barnard – Die trouservies (Vertaal deur Daniel Hugo) (2019)


Benno Barnard – Die trouservies (Vertaal deur Daniel Hugo). Naledi, 2019. ISBN 978-1-928426-87-5

Resensent: Joan Hambidge

I
Die vertaling van Nederlandse en Vlaamse tekste eis ’n besondere taalkennis en -vaardigheid op.

In die jongste poging van Daniel Hugo word Afrikaanse lesers aan ’n Vlaamse digter bekend gestel. En wat ’n wonderlike leeservaring word dit nie. Die titel – aldus Yves T'Sjoen aktiveer Auden se bekende reëls:

And the crack in the tea-cup opens
a lane to the land of the dead.

Die digter word tipeer as romanties-serebraal. Sy lang gedig “Gebed sonder end” is ’n kragtoer. Hy gebruik die slotreël telkens in ’n begin in tien afdelings waar die gedig bykans soos ’n pantoem funksioneer. Dit word in die Vlaamse letterkunde as ’n suite beskryf.

Die digter se klassieke beheer word in die nawoord geloof en sy hantering van die tersine is skitterend.

Yves T'Sjoen wys op sy tong-indie-kies-aanslag en sy hantering van ironie.  Terwyl daar grappig ’n wind gebreek word, oorweeg hy die heiligheid van die digkuns (65).

Sy gedigte getuig van dieselfde vormbeheer as Auden en aktiveer in my gemoed ’n gesprek met die voormalige poet laureate van die VSA, Robert Pinsky.

Daar is uitstaande verse by Barnard soos die een oor Bob Dylan (29) met hierdie wonderlik onthoubare reëls:

Maar die waarheid is dat ek jou bewonder. Jy vee jou af
aan meta-taal. Jy is soveel stemme: jy is ’n nasale
eenmansmenigte van ons almal se denke, protes, verlange,

geboorte. En agter jou luidneusigheid klink die stom stemme
op van jou voorouers in ’n moerassige, vervloekte grensgebied
van die tsaar: immerklaende dooies wat doodwees verpes.

“Ode aan Joy” (41), eweneens uitstekend, sluit só:

dit het jou seker al opgeval dat die lipstif
te voorskyn kom soos ’n hondetril
uit sy voorvel? Ja, kind, alles is seks.

II

Kritiese vrae is daar wel rondom die vertaling, maar dit verminder bepaald nie die leesplesier nie.

Waarom word “De moderniteit heeft hem God en de interpunctie ontnomen” vertaal as “Die moderniteit het hom God en die interpunksie ontneem”? Sou “van God” nie beter klink nie?

“Plat du jour” kon eerder na Afrikaans vertaal word? (130)
“Anus” eerder as “poephol”. (21)
“Laat een scheet” word vertaal as “los ’n poep?”
Waarom “ligtekooi”? Dis tog “hoer” in Afrikaans? (7)
Daar is per ongeluk ’n punt op p. 9 (Namaakleef.)

III

En hier is ’n vers van Barnard:

Pianoforte

Sien u daardie Europese meubelstuk by uitstek, okkerneut,
kandelare, gebou deur Stephan Hain in Krefeld
vir die statiese, Wilhelminiese, sonnige salon
van ’n morsdood dame in ’n reeds lank vergane japon?
Ek bedoel omstreeks 1910 en terstond sien ek so ’n stywe
mevrou met ’n goewernante, ’n poësiealbum
en heimwee na haar meisiedae; en ongetwyfeld druk die eksbruid
se vingers die vrees vir haar opdringerige eggenoot
saans in die vorm van die noodsaaklike dromerigheid uit.
Nou staan daardie ding in my woonkamer en swyg,
net so dood soos die boom waarvan hy gemaak is. Maar
sien u nie ook ’n voormalige Duitstalige provinsiestad,
Tjernowitz of so iets, met kastaiinglanings, ’n byna reeds
ekspressionistiese son, ’n okerkleurige skoolgebou,
bedaarde antisemitisme, jong digters – die hele
wêreld wat nog uitgewis moet word, voor die troepe kom,
die konvooie, die kornette met hul praatjies en, onder ’n snor,
’n melodie uit die negentiende eeu; voor die nag toesak
en die reën val en die modder styg en die kollaborateur swaai
aan ’n boom wat nie in ’n klavier verander nie? Hoor tog hoe
die kadense van die kontinent hul saans uit oop somervensters stort!

Uit: Die trouservies.

Hoe wonderlik praat hierdie vers nie met Robert Pinsky se gedig “The green piano”:

Aeolian. Gratis. Great thunderer, half-ton infant of miracles 
Torn free of charge from the universe by my mother's will. 
You must have amazed that half-respectable street 

Of triple-decker families and rooming-house housepainters 
The day that the bole-ankled oversized hams of your legs 
Bobbed in procession up the crazy-paved front walk 

Embraced by the arms of Mr. Poppik the seltzer man 
And Corydon his black-skinned helper, tendering your thighs 
Thick as a man up our steps. We are not reptiles: 

Even the male body bears nipples, as if to remind us 
We are designed for dependence and nutriment, past 
Into future. O Europe, they budged your case, its ponderous 

Guts of iron and brass, ten kinds of hardwood and felt 
Up those heel-pocked risers and treads splintering tinder. 
Angelic nurse of clamor, yearner, tinkler, dominator — 

O Elephant, you were for me! When the tuner Mr. Otto Van Brunt 
Pronounced you excellent despite the cracked sounding board, we 
Obeyed him and swabbed your ivories with hydrogen peroxide. 

You blocked a doorway and filled most of the living room. 
The sofa and chairs dwindled to a ram and ewes, cowering: now, 
The colored neighbors could be positive we were crazy and rich, 

As we thought the people were who gave you away for the moving 
Out of their carriage house — they had painted you the color of pea soup. 
The drunk man my mother hired never finished antiquing you 

Ivory and umber, so you stood half done, a throbbing mistreated noble, 
Genuine — my mother's swollen livestock of love, lost one, unmastered: 
You were the beast she led to the shrine of my genius, mistaken. 

Endlessly I bonged according to my own chord system “Humoresque,” 
“The Talk of the Town,” “What'd I Say.” Then one day they painted you pink. 
Pink is how my sister remembers you the Saturday afternoon 

When our mother fell on her head, dusty pink as I turn on the bench 
In my sister's memory to see our mother carried moaning up the last 
Steps and into the living room, inaugurating the reign of our confusion. 

They sued the builder of the house she fell in, with the settlement 
They bought a house at last and one day when I came home from college 
You were gone, mahogany breast, who nursed me through those 

Years of the Concussion, and there was a crappy little Baldwin Acrosonic 
In your place, gleaming, walnut shell. You sere gone, despoiled one 
Pink one, forever green one, white-and-gold one, comforter, living soul. 

Pinsky is Joods en Barnard kom uit ’n Christelike tradisie. Hy is ook bekend vir sy omstrede sieninge oor die posisie van die Jode in Israel wat al baie polemiek ontlok het.

Beide digters in hierdie gedig aktiveer ’n stuk persoonlike en sosiale geskiedenis. Ek had die voorreg om Pinsky hierdie gedig uit Jersey Rain te hoor voorlees op Harvard Square in 1999.

Dan hóór jy die musiek in die gedig. 


Wednesday, July 17, 2019

Huldeblyk | Charl JF Cilliers 1941 - 2019

I
Een van die wonderlikste ontdekkings van my lewe was die poësie van Charl JF Cilliers. ’n Engelse digter met ’n Afrikaanse naam.

My mentor, wyle Henning Snyman het met my akkoord gegaan: hier is ’n digter van formaat. Oor sy versamelde gedigte het Snyman op die agterplat geskryf:

Die eenvoud van die bundel kan misleidend wees, want hierdie eenvoud van woord en struktuur word gelaai met van die allermooiste metafisiese verse in die Suid-Afrikaanse letterkunde.

West-Falling Light (1971) was sy debuut en hierna volg Has Winter No Wisdom (1979), en Collected Poems (2008). Hy publiseer ook ’n kinderbundel: Fireflies Facing The Moon (2008).

The Journey (2010), Karoo: Haiku Variations (2012), Grains of Sand (2013), Behind the View (2014), en Dark Hole of the Moon (2016) is van die tekste waaroor ek entoesiasties geskryf het.

Hy moes later sy eie werk publiseer, omdat die Engelse uitgewers gewoon nie wou uitgee nie.

Ons het vriende geword en elke Sondagoggend sou ek hom bel om te hoor hoe dit gaan. Gereeld sou ek resensies aanstuur vir hom waar hy op die Weskus gewoon het.

’n Jaar gelede het hy ernstig siek geraak en dikwels kon hy nie die foon antwoord nie.
Na ’n reis het hy my vertel hy was in die hospitaal en ek was bekommerd. Gelukkig is hou ontslaan.

Gister vra Johann de Lange ook: hoe gaan dit met Charl?

Vanoggend bel ek, maar niemand antwoord nie. Ek sou graag wou laat weet dat sy vertalings van my werk ook in ’n Nederlandse bloemlesing opgeneem is. 

Sy vertalings van my gedigte het my oneindige vreugde verskaf. Hy het die volledige Lot se vrou eMeditasies vir my gedoen en ’n keuse is opgeneem in The Coroner’s Wife

II

Graveyard flowers © Charl JF Cilliers

Hy was die digter van die kortstondigheid en die efemere. 

Dark Hole of the Moon (2016) vergestalt die digter se liefde vir die mono no aware, oftewel, die skoonheid in die verganklikheid of efemere. Cilliers was onder andere beoefenaar van die haikoe, kwatryn en cinquaine, digvorme wat verstegniese beheer opeis. En hy verduidelik ook in n nawoord hoe hy die gedigte van een kultuur na n ander verplaas het.

 in the pain

in the pain of dis-
integration God reveals
a broken wholeness 

In Behind the view (2014) spot hy:

Quatrain

I started writing this quatrain
and now only three lines remain –
the damn thing’s going down the drain
because I know the last rhyme is inane.

In sy bundel Karoo: Haiku Variations (2012) maak hy die sinryke opmerking:

In the postmodernist world of hyperactivity, the haikuesque experience is a refuge of outer- inner reflection, of acceptance of stillness, of the beauty of transient things…”

Met min woorde kon hierdie digter n hele wêreld skep.  Hy het die kiru of snypunt van die haiku volledig begryp en kon die kigo (seisoenale woord) opvang. Sy haikoes sluit aan by die meer moderne gendai haiku.

Magnolia

The magnolia grows
older petal by petal
leaf by falling leaf.

Nooit weer sal daar ’n e-pos van franban@mweb.co.za wees nie, maar sy gedigte sal altyd by my wees.

Kamieskroon, Skilpad Nature Reserve © Charl JF Cilliers


© Joan Hambidge

Tuesday, July 9, 2019

Filmrubriek | The Office (2001 - 2003), BBC


I

Wát is humor nou eintlik? En waarvoor lag ons?

The Office (2001 - 2003) verskaf verskeie antwoorde op die komplekse vraag oor humor. Hierdie BBC-reeks speel af in 'n kantoor waar people poisoning gedy. Kantoor-politiek word ondersoek en die allerbekende taktiek wanneer jy mense wil beheer, vertel jy negatiewe goed oor wat ander oor hulle sou gesê het ...

Plot-lyne word onderbreek met kommentaar van die baas David Brent of 'n dwanggenoot wat in die rookkamer iemand uitvra oor sy liefdeslewe. Presies daardie vrae wat die kyker sou wou vra.

Dis my soort humor: woordspelings, absurde toespelings, selfbedrog, 'n soeke na oplossings wat nie bestaan nie, en natuurlik: selfverheerliking. Met 'n besondere dekonstruksie van John Betjeman se gedig "Slough".

Rondom die baas wat homself as 'n comedy man sien en loodswaai, word die absurditeite opgedien. Brent is 'n selfgenoegsame, plomp idioot. Hy dink hy is gewild, maar is dit helaas nie. Wanneer hy sy voormalige span nooi vir 'n bier, reageer niemand nie. Hy laat hom egter nie onderkry nie. "Wat van moreaand?", is sy antwoord.

Hy is seksisties, baasspelerig en doen 'n dans wat 'n mens laat skaterlag.

Sy papiermaatskappy is egter in die verknorsing en 'n merger of samesnoering met die opposisie bring nog mense wat hom openlik verag.

Hy haal graag filosowe aan. Prysloos. Of versin uitsprake soos dat Dolly Parton sou gesê het 'n mens kan alleen die reënboog waardeer, omdat daar reën is.

Politiek inkorrekte opmerkings is aan die orde van die dag. Alles word net-net verkeerd aangebied. Sy hond heet Nelson, vernoem na Nelson Mandela wat 'n politieke gesprek uitlok. 

En: hy vertel vir die ontvangsdame by sy werk dat hy elke dag aan sy testikels voel en dat hy gelukkig is om te weet die knop was nie kwaadaardig nie.

Die grapjas word egter ge-retrench. Die nuwelinge lag nie vir sy grappies nie en aanvanklik vat hy dit soos 'n man. Hy sien dit as 'n nuwe uitdaging - soos Jesus Christus wat Betlehem moes verlaat, moet hy 'n ander plek vind. Sy woorde ...

Maar sy kordaatheid is kortstondig. Hy pleit by sy base ('n man en 'n vrou) om hom 'n tweede kans te gee.

Skielik is die humor wrang.

Hy keer telkens terug werk toe; kwansuis om almal op te beur, maar maak 'n oorlas van homself. Hierna soek hy vroue via internet-afsprake. En wat hy oor hulle te sê het, boemerang op hom. Hy is 'n emosieswendelaar en 'n regte loser.

Die reeks is 'n regte smoelneuker en die vervaardiging is puik. Ook die ekstra materiaal waar daar onderhoude gevoer word met die akteurs, is insigryk.

II

'n Episode word met regisseurkommentaar gegee. Goeie humor, leer ons uit hierdie reeks, is wrééd. Dit is 'n mocumentary en alles word aangebied asof dit 'n ernstige dokumentêr is.

Ricky Gervais en Stephen Merchant lewer kommentaar oor die produksie van Episode 2. Hoe die karakters niksseggend met mekaar kommunikeer, gesprekke wat gelaai is met seksuele innuendo, hier in Slough. Dit speel alles af in die papiermaatskappy Wernham Hogg (where "life is stationery"), Berkshire.

Op 'n blind date verwys David na Beethoven se hits. Hy verminder die vrou, omdat sy vet en middeljarig is; onbewus van hoe sleg hy self daar uitsien. Hy voel die foto het hom mislei; sy voel presies dieselfde.

The Office analiseer ten beste dit wat 'n mens as abuse kan beskryf. Om dit wat iemand nodig het, te weerhou. 

Wanneer Dawn 'n mooi skets van Tim maak, is die aaklige Anne dadelik reg om uit te wys dat dit nie mooi is nie. Sy neus is te groot.

Die hoofkarakters is: David Brent, Tim Canterbury, Gareth Keenan, Dawn Tinsley, Jennifer Taylor-Clarke, Ricky Howard, Chris Finch, Neil Godwin en Rachel Anne.

Tim Canterbury - vertolk deur Martin Freeman - het later 'n beroemde akteur geword. Groot-oog Gareth Keenan (MacKenzie Crook, eweneens later bekend) was in die army en hy is 'n volledige control freak. In een episode word hy in sy kantoor toegesluit. Sy gedrag teenoor kollegas - veral vroue - is grotesk. Op 'n keer versoek hy selfs 'n hand job!

'n Party sit vol dronk mense wat 'n swanger vrou beledig. Hier dink ek gaan dit te ver.

III

Terry Eagleton skryf in Humour (Yale UP 2019) die volgende: Om humor te analiseer, is om dit dood te maak.

Ek verskil. Wanneer 'n mens die gesprekke róndom die vervaardiging van hierdie uitstekende reeks bekyk, besef jy hoe fyn daar gespot word. Begrippe soos 'n brain jail of anti-laugh laat 'n mens nadink.

Politiek-korrektheid vang ons vas en humor verlos ons. Daar is momente in hierdie reeks wat jou absoluut van die stoel afgooi soos wanneer David Brent meen daar is meer suiker in 'n suurlemoen as in 'n bessie (dalk waar, maar dis hoe hy dit oordra) en dat koeie vier pense het. Dit is sy gesprek met 'n blind date.

Terwyl die sot in 'n motelkamer uitspan, bely hy dat whisky sy Radox is!

Of daardie oomblik wanneer hy iemand moet aflê, kroek hy. Hy bel die persoon, maar sy vrouebaas ontmasker hom: hy het die nommer om die tyd te hoor op sy foon geskakel.

In hierdie reeks het ons 'n laughter of hate, soos daar in 'n oorsig gesê word. Die akteurs besef ook dat 'n volgende produksie sal nie werk nie. 'n Mens kan immers nie grappe oor en oor herhaal nie.

En die model en inspirasie?  John Cleese se Fawlty towers. L'Hôtel en folie in Frans.
https://www.youtube.com/watch?v=jcEws7il4EY  Besoek 9 Julie 2019

Wednesday, July 3, 2019

Reisjoernaal | Tunisië III. Kartago, Nabeul 2019

I Carthago delenda est *

Hoe ironies dat ek Hein Viljoen se digbundel Brisant (Naledi, 2019) ingepak het. 'n Epiese vers en 'n soort moderne Joernaal van Jorik.

So verduidelik die internet die betekenis:
Brisance is the shattering capability of a high explosive, determined mainly by its detonation pressure. The term can be traced from the French verb "briser" ultimately derived from the Celtic word "brissim". 
En daar in die sentrum ontplof 'n bom.

En ek ontvang van Breytenbach uit Parys die volgende skakel na 'n grafiese roman: From After the Spring/ A Tunisian Youth - Words Without Borders. Besoek 3 Julie 2019.

Vandag swem ek in die see en in die swembad by die hotel in Nabeul. Die see is klipperig en nogals onbegaanbaar. Maar ek druk deur. Swem sal ek swem.

Ek tel 'n klip op wat by die versameling klippe tuis sal staan.

Verkyk my aan die Tunisiese vroue wat met klere in die swembad swem.

Ek flonker met 'n speedo en 'n Lacoste-hemp en sonbril.  Twee opposisies van vrouwees: bedek versus onbedek.

Ek probeer hard om die ervaring van terrorisme agter my te sit. Vele vriende skryf e-posse vol bekommernis en die Tunisiërs is skouerophalend: die lewe moet aangaan.

Daarom probeer ek ook maar vergeet van die ellende. Orals is daar mooi katte. Goed versorg en van verskillende kleure…

Ek sien net een hond tydens my reis en dis so 'n Labradoragtige een op die strand in Nabeul. Vir die res is dit katte en nogmaals katte.

Laatmiddag storm daar ongeveer vier skoolspanne met sokkerspelers die hotel binne. Ouderdomme so tussen tien tot twaalf en die lawaaivlakke hoog. Die hotel se klavier word getokkel ten spyte van die onnies se kwaai blikke.

Die swembad word oorgeneem. Met duikslae en gewoel. Teen agtuur die aand breek 'n oorlog uit tussen die jongelinge. Die bestuurder maak hulle stil met 'n basta!

Nie een van hierdie jongelinge sou verewig word in Bloeityd nie.

Ek kyk maar sokker: Kameroen teen Ghana. 'n Spel wat nêrens heen gaan nie.

Ons verlaat die hotel so om tien vir my vlug Tunis-Parys om 2 vm. Dis Saterdagaand en die locals stap buite rond in die dorp.

Die lughawe is afgesper. Orals is daar sekuriteit en net reisigers mag die lughawegebou binnegaan. My gids gooi my af by die vertrek-lokaal.

Jy word driekeer deursoek deur polisie.

Ek tjekkereer in: met net handbagasie en boeke. Die vrou by die toonbank wil eweneens nie praat oor die voorval nie.

"Jy moet weer terugkom, asseblief."

Die rooi-oog-vlug is rapide. Ek drink water en mediteer. Langs my sit 'n ingenieur.

Ek kyk by die venster uit en sien 'n wonderskone beeld: 'n sekelmaan en die rooi lig wat gloei uit die opkomende son. My kamera sal dit ongelukig nie kan opvang nie, maar die beeld is in my geheue ingeprent. 'n Astroloog verduidelik dit is die pre-balsamiese maan: die maan net voordat dit verduister.

Ons land in Parys om vieruur. My vlug vertrek om tien.

Dan tot by zone 2. Trein wat passasiers soos sardiens insluk en weer uitgooi.

Weer deur sekuriteit. Die alarms loei. Ek word deursoek.

"Dis maar my aura wat sulke dinge aanvang," sê ek vir die sekuriteitsbeampte wat dit gelukkig snaaks vind.

Dieselfde hek waar ek laas in 2016 Parys verlaat het. Die son is reeds bloedig en Parys beleef 'n hittegolf.

Slaan 'n dampie, trek vars aan en shoppereer. Ontdek my pilboksie het iewers met al die deursoeke verlore geraak.

Om 9 uur betree ons die vliegtuig waar 'n vrolike span ons inwag met blomme om die nek.

"Is dit dan 'n vlug na Mauritius?"

"Nee, ons vier fees. Ons beste vriendin tree af – dis haar laaste vlug." En ons word bederf in Premier Economic met heerlike wyn, sjokolade, lekkers – en grappies. Nie die gewone irritasie met diens nie.

Die menu is in Engels, Frans en Arabies.

Salmon tartare, chicken in a jus with chopped vegetables
or
Penne pasta with a creamy mushroom sauce
Camembert
Red berry crumble
Coffee and tea

En natuurlik Heineken en rooi wyn of wit wyn.

En films is altyd 'n heerlikte op so 'n vlug.

'n Dokumentêr oor Buster Keaton (Peter Bogdonavich, 2018) met sy uitdrukkinglose, emosielose gesig word eerste gekyk. Hierdie styl word Keatonesque genoem glo.

The Great Buster.

Kommentare van Mel Brooks, Tarantino  en Werner Herzog wys op sy enorme invloed op ander filmmakers. Hy is inderdaad die "deadpan genius" genoem.

Soos die huis wat deur 'n trein omgery word of met verkeerde aanwysings 'n vreemde kontrepsie word. Soos dit met humor gesteld is!

En 'n herbesoek van die meesterlike, nooit oortroffe Priscilla, queen of the desert.

'n Mengsel van hartseer en snaaks. Ek luister ten minste driekeer na "Go West". Die gespottery met ABBA is wonderlik. Die slottoneel waar die twee karakters 'n vertoning gee as die twee ABBA-vroue 'n wenner.

Die dialoog is vlymskerp. Drie drag queens se avonture word heerlik weergegee en daar gedans en ge-mime op musiek.  Terence Stamp (waarskynlik sy beste vertolking ooit) as die weerlose dog skerp Bernadette Bassenger, Hugo Weaving as Anthony "Tick" Belrose / Mitzi Del Bra en Guy Pearce as Adam Whitely/Felicia Jollygoodfellow gee 'n ensemble-vertolking uit die boonste rakke. Die film is in 1994 vrygestel met Stephan Elliot as die regisseur. (Hy is ook te siene in 'n klein kameerol as die deurwag!)

Die musiek is behartig deur Guy Gross.

Die bus heet Priscilla, Queen of the Desert wat op 'n homofobiese dorpie toegetakel word met aaklige slagspreuke en 'n versoek dat hulle die dorp, Coober Pedy,  moet verlaat. Want hulle het sekerlik Vigs.

Die skelwoorde word met pienk verf uitgewis.

By 'n ander staanplek sing die Australiese inboorlinge lekker saam.

Tussen Sydney en Alice Springs word daar beweeg deur die Simpson-woestyn.

En ja, die bus breek en 'n helper, Bob die mekaniek, wat ogies maak vir Bernadette, kom hulle te hulp. Sy bly dan uiteindelik agter saam met Bob…

En daar is 'n geheim.  Tick is getroud en het 'n kind by sy vrou, Marion.

Sy agtjarige kind het egter vrede met sy pa se seksualiteit en reis terug saam met hulle na Sydney.

Die Kings Canyon word uitgeklim in volle drag regalia; 'n droom van die drie karakters word so verwesenlik.

Die kamera fokus op die pragtige, veelkleurige akkedisse wat 'n mens hier aantref. Soos hierdie reptiele oorleef in die woestyn, sal die drie drag queens met hulle uitspattige klere eweneens oorleef.

Die film wil uiteindelik 'n boodskap oordra: dat kinders homoseksualiteit verstaan, en dat die eksvrou ook begrip vind. En veral: dat daar iewers vir elke drag queen 'n straight man is. 'n Fantasie word dus so uitgespeel.

Al word jy aangeval op 'n klein dorpie is daar iewers iemand wat liefdevol en begrypend sal optree.

Om presies tienuur terug in my land.  Ek wag rustig eers en kom (woordeloos) tot verhaal. 'n Vriendelike swart paspoortbeampte heet my welkom.

Nou 'n taxi vind in die nag. Dis koud en 'n Kaapse winter op sy felste. My selfoon sê 12 grade.

Livingstone ('n gepaste naam) neem my huis toe.

My aantekeningboekie is vol notas en idees vir gedigte en die bundel Konfessies, kaarte en konterfeitsels begin koers kry.

Carthago delenda est? 

Kartago / Tunis is in 9 VC gestig.

Rome het in 146 VC die stad verwoes (Carthago delenda est) en hierna het 'n Romeins-Kartogeense stad weer uit die ruïnes opgebloei.

Nee, die stad bly staan ten spyte van die aanval.

* Carthage must be destroyed