Micki Pistorius. Sorg. ‘n Roman. Penguin, 2006. ISBN 0 143 02519 8.
Resensent: Joan Hambidge
Onder die noemer “magiese realisme” word
die grootste “tall stories” gepleeg binne die Suid-Afrikaanse letterkunde. En
drooggemaak. Binne die Suid-Amerikaanse romankuns, en hier dink ons aan
Márquez, se Hundred years of solitude,
is hierdie verskynsel gebed binne die Rooms-Katolisisme én ‘n tradisie van ‘n
geloof in die ón-sienlike. In La Paz het ek verkleinde menskoppe in
versterkwater gesien en die meeste Suid-Amerikaners dink dat “magiese-realisme”
is die werklikheid.
In ‘n Engels-Suid-Afrikaanse roman val
‘n figuur deur ‘n plafon, eweneens onder die allesverduidelikende term: magiese
realisme. Die term word egter dikwels misbruik wanneer die verteller se
fantasie potsierlik hande uitruk.
Micki Pistorius se roman, Sorg, verskyn by Penguin. Pistorius het
veral bekendheid verwerf as forensiese profielsamesteller en kenner van
reeksmoordenaars.
Op die agterplat verneem ons dat hierdie
roman is van liefde, verraad, gierigheid, haat en vergifnis – so fel was
hierdie emosies dat karakters ná hul dood nog vasgevang bly in hierdie
oorrompelende gevoelens. Die roman gee ‘n uitgebreide bronnelys: van Van
Greunen se Kommando’s deur die Klein-Karoo tot Van Waart se Paleise van die pluime, die FAK, boeke
oor Distrik-ses, Langenhoven, ensomeer.
Indien u die boek lees, moet u asseblief
die skrywersnota vooraf vermy. Hierin bely die outeur haar siening van spoke
wat sommige lesers as “vreemd” mag ervaar.
Hierdie leser het ‘n groot affiniteit
vir die onderwerp en my studeerkamer is vol gepak met studies oor die
parapsigologie, “The Unexplained”, en wat nog.
Daar is dus geen lesersweerstand teen
die gebruik van spoke nie. Inteendeel. (Ook reeksmoordenaars interesseer my,
vir die rekord.) Maar om ‘n roman te skryf oor só ‘n ambisieuse onderwerp, vra
méér as ‘n gordyn wat skuif of ‘n karakter wat in ‘n trans beweeg wanneer sy
voor ‘n portret staan.
Hiedie roman het my teruggeneem na
Márquez in al sy gedaantes en die memoirs, Living
to tell the tale (2003).
Op hierdie reis terug in sy verlede,
verduidelik die skrywer hoe magies-realisme werk. Hoe ‘n storie ‘n spel tussen
werklikheid en fiksie word. Trouens, dit is ‘n aanbevole handboek vir enige
skrywer. Gerekend en in die beginfase.
Pistorius se verteller spring weg met
die skeppingsverhaal.
Dan begin die verhaal, maar daar is
soveel potsierlike taalhebebbelikhede dat die leser nie altyd seker is of die
roman nie parodies wou wees nie. Is hierdie roman onder meer na ‘n kundige
leser soos ‘n Hettie Scholtz gestuur vir raad?
Byvoorbeeld:
“Dis lanklaas wat iemand my gegryp het
of ek iemand gegryp het, dink hy en sy gedagtes
dwaal terug na Tessa op die dorp...” (p. 24).
of
“En ek wil jou lyf teen myne hê, “ sê
Danie hees terwyl hy die bottel wyn en die kers neersit. Hy trek die handdoek
stadig af. Sy het ‘n mooi lyf, goudbruin en ferm. Sy is klein en fyn, maar sy
lyk sterk. Haar spiere dans onder haar vel en haar lang, swart hare val reguit
teen haar rug af en waai effens in die wind, wat deur die kaggelskag inbreuk
maak op hulle privtaatheid. Haar bruin oë blink in die kerslig.
“Elke ding op sy tyd,” sê sy en tel weer
die handdoek op. “Steek daardie vuur in die studeerkamer aan. Ek en jy en oupa
Hendrik het baie om oor te gesels vanaand” (p. 204).
Hees? I ask you!
Hoe dans spiere onder die vel?
Ja-nee, steek die vure aan!
So kan ‘n mens aangaan, “ad nauseam”, om
lompe stellings, verspotte tonele uit te lig.
En as jy moet lees dat as ‘n mens eers
Afrika in jou are voel klop het (p. 166).
“Hierdie kontinent het ‘n manier om haar
kinders gevange te hou” (p. 166), verneem ons.
Hierdie diepsinnige filsofie word
onderskraag met vele ander wyshede, soos dat nostalgie aan die hart pluk (p.
167).
In hierdie oer-ambisiseuse roman – ja,
selfs Rhodes en die Jameson-inval maak hier ‘n draai, Buller, die Tommies en
die hele boksemdaais, o.a. – sodat ‘n mens op ‘n blits-kursus geneem word deur
ons geskiedenis. Dink maar wat het Ingrid Winterbach/Lettie Viljoen gemaak in Buller se plan? Of Niggie?
Dit is nie aangenaam om ‘n roman van
hierdie aard te sien misluk nie. Dit laat Marita van der Vyver se Stiltetyd na ‘n Hertzogprys-roman
lyk. Gaan lees liewer die meester:
Gabriel García Mârquez en hou jou hart van gode rein. Die lewe is te kort om
romans te lees wat nie die paal haal nie.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Rapport geplaas.]