Danie Marais. In die buitenste ruimte. Tafelberg Uitgewers, 2006. ISBN
0 624 0 4458 0.
Resensent: Joan Hambidge
Met sy debuut-digbundel, In die buitenste ruimte, lewer Danie
Marais ‘n genoeglike bydrae tot die sogenaamde praatgedig. Die vers wat
uitstekend werk, veral wanneer ‘n mens die digter die verse self hoor voordra.
Marais was een van die digters op die onlangse kortlys vir die DaimlerChrysler
vir poësie met figure soos Ilse van Staden en Gabeba Baderoon as mededingers.
Baderoon het die prys gewen, omdat háár voorlegging, in daardie stadium, meer
geskakeerd was – sosio-polities en tegnies - as die bydraes van die ander
digters. Dit kan ek bely as ‘n beoordelaar.
Tog is daar beklemtoon dat elkeen van
hierdie digters ‘n belangrike aanslag en stem het en dit was fassinerend om
Marais te plaas teenoor onder andere die orale digters uit die swart
letterkundes. Hy vertolk sy verse mooi en dramaties en aktiveer belangrike
sub-tekste vir die luisteraar/leser.
In die buitenste ruimte handel
oor gedigte wat o.a. inspeel op ‘n verblyf in Duitsland en die mooi
komiekstrip-buiteblad van Karlien de Villiers vang iets van die vervreemding
van die gedigte op. Die titel speel eweneens in op Jacques Derrida, die
dekontruksie-filosoof, se se siening van teks: dat daar geen buite-teks bestaan
nie en elke gedig van Danie Marais praat met ‘n bekende popliedjie,
herinnering, liefdesvers, motto sodat die vers inspeel, uitspeel op soveel
assosiasies. Op die buiteblad is daar agter ‘n maan, ‘n plant – voor staan die
geboue. Hierdie lieflike buiteblad gee soveel weg: stad versus onskuldige jeug;
brute daaglikse bestaan versus ongeskondenheid en al die ander bekende
opposisies waarmee die digkuns werk.
Die belangrikste temas, behalwe ‘n
verblyf in die vreemde, is die liefde, die dood van grootouers, ‘n obsessie met
die digkuns, musiek en taal en ‘n ontroerende blik op jeugherineringe. Ek dink
een van die sentrale gedigte in hierdie bundel is die vers “Verleë” (pp. 53 –
56), een van die aangrypendste gedigte wat ek in ‘n lang tyd gelees het. Die
beskrywing van ‘n dogtertjie, Sabine se onvermoë om wiskunde te doen, word dan
vir die spreker ‘n simbool van sy eie eensaamheid en belewenis van ‘n wrede
lewe. Hy probeer die kind se hoopvolle glimlaggie vernietig – maar dit bly
onvernietigbaar, “bullet proof soos ‘n song”.
(Die geweldig baie gedigte oor die eie jeug en gedigte oor jong kinders,
aktiveer interessante interpretasies via Melanie Klein, die Oostenrykse
kinderpsigoanalis, onder andere.)
‘n Mens sou Marais waarskynlik verder
ten beste kon tipeer as die digter van die nostalgie en juis vanweë die
buite-blik wat ‘n soort dubbel-perspektief tot gevolg het, kyk hy dikwels met
‘n vreesloosheid na Afrikaans en haar digkuns:
en jy wonder
of jy dalk eendag in ‘n Duitse
aftree-oord sal moet antwoord:
die taal waarin ek gebore is het verdwyn
soos ‘n tuisland
moes toemaak soos ‘n haarsalon vir honde
aan die verkeerde kant van die spoor
(uit: “Bundesstrasse 51”, p. 77).
Daar is dikwels verpletterende slotte:
‘n slot wat jou laat mee-leef met die ontnugtering van die spreker wie se
ervarings in ‘n buitenste ruimte van eensaamheid en troosteloosheid beweeg. Die
intertekste gloei, maar dit is verwerkte en ingesinkte verwysings. Robert
Lowell wat onder andere sterk saampraat in hierdie bundel. Hoe dan anders? Hy bly
‘n “poet’s poet”.
Die orale of praatvers maak
vanselfsprekend veral op die gehoor aanspraak. Marais skeep nie sy metaforiese
of beeldende aspekte af nie.
“Verlange het ons
suutjies melkwit
deur ‘n ou kremetartboom afgeloer”
(p.
33)
“...verleë soos ‘n Kersboom op Nuwejaar”
(p. 29)
“Die stort het ‘n breakdown gehad –
hy drup net...”
(p. 19)
Daar is ‘n sterk buiteblik, ‘n vermoë om
onvergeetlike waarnemings in jukstaposisie te plaas en ‘n ongelooflike,
hartverskeurende weerloosheid. Ek ken min gedigte waarin die berou oor die
afloop van ‘n huwelik met soveel skuld en aandadigheid bely word. En die wete:
dat ons eers by nabaat verstaan deur ‘n gedig.
Vir die speurende leser is veral die
interessante gesprek met Brinkmann, saam met Enzensberger, vooraanstaande
Duitse digters en ‘n hele skare van rock-musici wat netjies ingebed word in
gedigte en ‘n enorme musikaliteit aan die verse gee. (Van Brinkmann, terloops,
is daar al gesê dat sy eenvoud die leser in ‘n koma kan sit!) Ek hoor ook iets
van Bertolt Brecht, die grootse digter, in die begin van “In Duitsland waar die
wolke in gelid masjeer”:
Duitsland is waar die wolke in gelid
masjeer,
waar die son ‘n permit het om te skyn,
waar die maan nie mag opbly so laat soos
sy wil nie.
(p. 43)
Dis ‘n aangrypende debuut wat
waarskynlik min afwisseling in toonaard bied vir sommige lesers en wat miskien,
as ‘n klein kritiek in die kantlyn vir die digter, die gevaar mag loop om té
woordryk en uitgesponne te raak. Die snoeisker moet soms ‘n bietjie loei.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Rapport geplaas.]