Margaret Orr, Mary Rorich & Finuala Dowling (Reds.). Buttons and Breakfasts. Wits Wonderwoman project, 2007. ISBN 978-1868144235.
Resensent: Joan Hambidge
Die posisie van vroue-akademici bly ‘n
glibberige area. Tot ongeveer in die middel-tagtigerjare het vroue in SA nie
huissubsidies gekry nie en is manlike akademici meer betaal. Danksy kritiek van
vroue binne die akademci het vroue aktiewe rolspelers geword en in die
senaatkamer van die UK hang ‘n bordjie wat daarop wys dat 88 % van alle volle
professore mans is.
Onder leiding van Margaret Orr, Mary
Rorich en Finuala Dowling het daar ‘n WonderWoman-boek verskyn: Buttons and Breakfasts.
Die titel verwys na die beroemde
(berugte?) vraag aan professor Sarah Whiting, professor in astronomie, dat as
alle vroue wetenskaplikes sou wees, wié sou omsien na die knope en die ontbyt?
Dit is 2006. Daar is professore, dekane,
vise-rektore en selfs ‘n kanselier van die vroulike orde, maar reflekteer die
kurrrikula en denkwyses aan universiteite die invloed en aanwesigheid van
vroue? Of is vroue in magsposisies dikwels vroue van ‘n biologiese orde, wat
soos mans dink en praat?
Butttons and Breakfasts
ondersoek al hierdie kwessies rondom magsposisies, besoldiging, seksuele
teistering en die gevolge daarvan op ‘n vrou se lewe en akademiese loopbaan,
die vrou as wetenskaplike, ensomeer.
Gender aktiveer altyd ras, klas en
identiteit. En hier dink ek is een van die belangrikste essays “Mrs
Livingstone, I presume” geskryf deur Professor Livingstone. Nie alleen word
imperialisme op alle vlakke geaktiveer met die gesprek tussen Livingstone en
Stanley nie, maar hierdie pittige stuk wys op die transformasie van die vrou
wat as Me(juffrou), Ms, Mevrou beweeg tot doktor/professor.
Sy mag dalk in die verkeerde
hospitaalsaal beland of Virgin se gimnasium weet nie hoe om haar geklassifiseer
te kry nie! En as iemand bel, dan dink hy onmiddellik dat die dr. verwys na die
manlike wederhelf.
‘n Ander seminale essay is “Iron Ore”:
"What do you
have to do to be a warrior? Sometimes
it’s really simple. You have to
speak. Speak out into a silence. Speak when no one wants to listen. Speak when what you are going to say will be
unwelcome; will be misheard; will expose you utterly to ridicule, to calumny,
to anger, to public shame, to misunderstanding.
Speak when the price of speaking is unimaginably high, but the price of
silence is even higher."
Hier vertel
Orr, wat tans by Wits is, van haar hellevaart by UNISA toe sy ‘n senior manlike
lid van die raad van seksuele teistering aangekla het. Ofskoon sy die hofsaak
uiteindelik gewen het, moes sy vele pryse betaal: sy is weg van UNISA na Wits –
om vele komplekse redes, maar ook weens ‘n eenvoudige oorsaak: die gebrek aan
ondersteuning aldaar was ‘n stremming. Haar huwelik het in die slag gebly en die
emosionele impak van die klag word in hierdie stuk bely.
Hierdie
proses het haar fisiek bedreig, haar professionele integriteit is (en was)
bevraagteken, haar moraliteit was onder die soeklig geplaas, en veral: haar pos
was in gevaar.
Sy het egter
deur die proses deur te sien van die stemlose na die stemhebbende beweeg. En
dit, meen ek, kan as ‘n refrein gelees word in hierdie studie. Hoe vroue wat
een stil was, nou ‘n stem kry deur hul werk op teken, navorsing te doen en die
manlike domein van die Akademie te beveg en oorleef.
Hierom is Mary Rorich se kort stuk iets
wat jou in die maag tref: “Julia’s Women”. Hoe die swart student wat ‘n oudisie
doen deur ekonomiese realiteite aan bande gelê word. Want swart vroue, is
steeds, die méés stemlose vrou. Almal
leef op die grootmoeder se pensioen – en as Julia ondersteun kan word, kan haar
stem alles verander...
Dit is dan ook tersaaklik om te wys op
stryd in die “sisterhood” – iets wat Margaret Orr aanraak: dat vroue kompleks
en teenstrydig teenoor mekaar optree en dat vroue in bestuurposisies (dikwels)
groot boelies kan wees!
Dit is ‘n belangrike teks wat verby die
domein van Wits gaan en die posisie van alle vroue binne die Akademie
aanspreek. Brenda Keen se “Selection Panel” slaan die spyker op syn kop: hoe gemaak
as die vrou wat akademikus is terselfdertyd ‘n moeder is?
Wat van die angs wat sy ervaar rondom
die baba wat versorg moet word? Rondom vrae wat aan haar gevra word tydens ‘n
bevorderingsronde word ‘n briljante analise gemaak van gevoelloosheid en die
mes wat op al die sagte plekke ingesteek word. Haar gevoel van nutteloosheid en
selfloosheid word in hierdie stuk knap geanaliseer, nes Leah Gilbert wat met
die “lost in translation”-idioom speel.
Dit is ‘n belangrike versameling hierdie
wat op elke gender-teoretikus en –spesialis se rak hoort met nog vele essays en
stukke wat tersaaklik, opruiend, b(r)oeiend en dekonstruerend is.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]