Thursday, February 14, 2013

Jungfrau and other short stories (2007)



Jungfrau and other short stories (The Caine Prize for African Writing, 7th Annual Collection). Jacana, 2007. ISBN 978 1 77009 367 6.

Resensent: Joan Hambidge

Die wenner van die sewende Caine-prys vir Afrika-skryfwerk is Mary Watson met die verhaal getiteld “Jungfrau”. Dit is dan die openingsverhaal uit verhale van regoor die kontinent. Die ander kortlys-wenners Sefi Atta van Nigerië, Darrel Bristow-Bovey van SA, Muthoni Garland van Kenia, Laila Lalami van Marokko.

Dit is nie die eerste keer wat die Suid-Afrikaanse letterkunde so goed vaar nie. Hierdie keer was die bekende skrywer Ben Okri die keurder wat die hoop uitspreek dat hierdie prys mense se persepsies oor Afrika sal verander.

‘n Paar kanttekeninge oor die bydraes. Die meeste van die verhale is sterk gepolitiseer, soos onder andere “Looking for Biko” deur Véronique Tadjo. Die verhaal spring dan weg met ‘n belydenis dat hulle gewoon op reis wou gaan en toe meer ontdek het as waarvoor hulle gesoek het. Navigasie en die ontdekking van die suiderland deur ‘n buitelander wat alles plaas teen die ervaring van Burkina Faso en hoe politieke stryders gehuldig en uiteindelik vergeet word, maak van die verhaal iets aangrypends.

Wat ‘n reisgids vermeld vir die reisiger en die keiharde werklikheid van die begaafplaas van ‘n (politiek) beroemde, is twee dinge.

Is dit byvoorbeeld anders gesteld met Thomas Sankara se graf?

Hierdie verhaal wentel rondom etlike vinjette wat Afrika representeer in ‘n lang geskiedenis van bevryding en kolonistiese verdrukking.

Darrel Bristow-Bovey bewys: daar is lewe na ‘n aanklag van plagiaat en met sy verhaal “A Joburg Story” lewer hy ‘n tipe neo-joernalistieke kommentaar op lewe in moderne Egoli.
Sewende laan, televisie en paranoïa is deel van die mengsel in ‘n verhaal met ‘n moderne aanslag.

Die wenverhaal, “Jungfrau”, van Mary Watson bevat al die elemente van ‘n aangrypende verhaal geskryf uit die perspektief van ‘n kind: ‘n vermenging van ironie en erns (omdat die ouer fokalisator oor die ‘waarheid’ beskik), ‘n konkrete beskrywing van die jong kinders met hul snotneusies wat deur die stomende sop gesmelt word en sensitiewe waarneming van wat toelaatbaar en wát oortreding is.

Trouens, hierdie verhaal wentel rondom skuldgevoelens wat uiters subtiel inspeel op die gemoed van die jong figuur en wat die leser al dwingende meemaak. Die ontknoping herinner sterk aan die briljante kinderperspektief-verhale van Henriette Grové waar die verlies aan onskuld eweneens op ‘n dramatiese slot afloop.  Dit vra eweneens vir ‘n saam-lees met Truman Capote se eerste (kind)verhale.

“The last trip” van Sefi Atta is in volledig ‘n ander toonaard aangebied: die smokkel van heroïene na Londen. Dit is een van die sterkste verhale in die bundel. Nie alleen word die leser gekonfronteer met die besonderhede van smokkelreis nie, maar die skrywer onthul die verskille tussen die Britse en Afrika-kultuur op ‘n sardoniese wyse. BA-vlugte is nooit laat nie en die stand van ‘n Afrika-land se netheid (volgens Westerse standaarde) word beskryf. Dus nog ‘n kode oor Afrika: die agteruitgang, die armoede en die dwelmbedryf as ‘n wyse om te oorleef. Of, wonder ‘n mens, wil hierdie verhaal dalk sydelingse kommenaar lewer op wat met mense gebeur wanneer hul kultuur verpand word en as ‘minderwaardig’ afgemaak word?

Die relevansie van hierdie boek vir die leser is dat dit ‘n mens laat wonder nie alleen oor die leefwyse op die Donker Kontinent nie – wat Bristow-Bovey se karakter probeer dekonstrueer nie -, maar dat dit ‘n mens terselfdertyd laat peins oor die aard van die streek-kortverhaal en hoé ‘n verhaal uit Afrika verskil van sê nou maar, ‘n verhaal uit Japan. So gelees is dit duidelik dat vele van die verhale by implikasie werk met die beginsels van die orale tradisie, met storie-vertel, dikwels ter stigting en lering. (Nou onlangs het ek weer die verruklike Dwaalstories gelees en dit is die as waarom hierdie vertellnge wentel.)

Wat is die belangrikste kenmerk van ‘n goeie kortverhaal: ekonomiese skryfstyl en ‘n insident – gewoonlik met een belangrike karakter binne een transformerende situasie – maar veral: ‘n goeie kortverhaal bly jou by. Lank nadat jy dit gelees het, byt dit nog aan jou soos ‘n ete met knoffel of piri-piri.

Verder is die uwe van mening dat ‘n knap kortverhaal jou sommer met die intrapslag aan die keel gryp: en as Pettina Gappah skryf dat dit die kinders was wat eerste besef het daar is fout met die hoofkarakter, dan lees jy verder. Dieselfde geld die verhaal “The first time I said fuck” van Bristow-Bovey, ‘n onthutsende analise van die ou-Suid-Afrika rondom Beaty en ‘n pas.

Dit geld vir ‘n handvol van die verhale in hierdie versameling, vir Watson en Sefi Atta, in die besonder.

Die versameling beslaan net so oor die 200 bladsye en vir die kortverhaal-liefhebber is dit ‘n belangrike boek gedruk op herwinbare papier (aha, alle stories is tog hersirkulasies nie 
waar nie?) met ‘n mooi omslag van Diana Ong wat heet: Four Seasons.

En of Ben Okri se siening, naamlik dat persepsies getransformeer moet word, deur hierdie boek sal gebeur, val te betwyfel.

Letterkunde gee nooit eenvoudige antwoorde nie.   

Okri is gekant teen die klassifikasie van Afrika- of Swart Letterkunde. Feit bly staan: dit hoef nie as ‘n minderwaardige etiket / noemer  beskou word nie.

Aartsbiskop Tutu gee ook sy seënwense aan die boek.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]