Sunday, February 24, 2013

Petra Müller - Night Crossing (2006)



Petra Müller. Night CrossingTafelberg Uitgewers, 2006. ISBN 978-0624044642.

Resensent: Joan Hambidge

By die bekendstelling van de bekroonde digter, Petra Müller se Night Crossing het die vermaarde digter en Dante-vertaler, Patrick Cullinan ‘n belangrike opmerking gemaak: dat ons hier te lande deur sowel Engels as Afrikaans beïnvloed word. Dit is beslis waar: Opperman het altyd sy bewondering vir Roy Campbell bely, om een voorbeeld te noem. Waar sou ons in Suid-Afrika gewees het sonder Gus Ferguson? Dit is juis om hierdie kulturele uitruiling, wat ‘n mens die kleinlike reaksie op Antjie Krog se vertalings, Body bereft so jammer gevind het.

By dieselfde bekendstelling het Petra Müller ‘n belangrike punt gemaak: haar moeder het vir hulle as jong kinders Engelse verhale en gedigte voorgelees en nou ja, die taal-van-die-moeder het ‘n impak op die digter se taal, as ‘n mens Julia Kristeva se Desire in language sou betrek.

Die jongste bundel – wat ‘n herskrywing, herdigting, herbelewenis is van o.a. Die aandag van jou oë – is geskryf vir kleinkinders woonagtig in die buiteland wat nie Afrikaans magtig is nie. Hierdie bundel handel oor die afsterwe van die lewensmaat, maar dit word ‘n kartering van liggaamlikheid, liefde, afsterwe en die “die aandag van jou oë” is die leser se betrokkenheid by die intieme aard van die skryf- en lees van poësie. By die reeds genoemde bekendstelling het die digter die verse voorgelees en haar roerende vertolkings ontsluit iets van die magies-misterieuse aard waarna Cullinan verwys het.

Die ware poësie, so weet ons uit Neruda, besoek die digter en oorval hom/haar met ‘n bykans obsessiewe of verterende passie. Dit is beslis die geval met Night Crossing.

Die lieflike omslag – wat oorspronklik in Martin Versfeld se studeerkamer gehang het,
is ‘n akwarel:”Hebridian scene”.

Die soeke ná die geliefde na die verlating, kan net deur ‘n gedig gestil word en hierom is die gedigte gevul met tekens van die geliefde. In A lover’s discourse verwys Roland Barthes na hierdie oorrompeling van tekens deur die afwesige geliefde. Juis te meer so wanneer die geliefde nooit weer bereik kan word nie. In “glyph” met sy onbedoelde verwysing na Derrida, word die geliefde “my love, my life, my lief” in skrif, alfabet en ‘n rune-sisteem.

Die volgehoue spel van afwesig/aanwesig – bykans soos Isis wat soek na haar verlore Osiris – is die kragpunt van hierdie aangrypende bundel.

“You have to be strong” bely welke eise die skryf van gedigte behels, ‘n siening waarmee elke ernstige digter kan identifiseer. Ek lees altyd ‘n bundel van agter na voor, en dan weer van voor na agter en so in my agterstevoorom-lees, staan die “Little-Isis”. So word my instink reg bewys.

Müller is ‘n mitologiese digter, nie alleen in haar aanroep van o.a. die Griekse, Skotse, Joodse kultuur nie, maar weens die eie mitologie wat sy skep. Dat die digter as’t ware haar eie tekensisteem skep. In hierdie verband moet die verbluffende “Mountain Injury” vermeld word waar sy as ‘n Nebukadneser tot genesing kom.

Ons lees:

The telephone sang
its loud, unanswered song.

‘n Gedig wat jou diep tref, is “Pears in Autumn” waar daar vir die sterwende geliefde klein stukkies peer gevoer word en  in die skerpste détail na sy tong gekyk word. Maar dit word ‘n vers oor herfs, oor ‘n eenmalige, lieflike, oorrompelende herfs en die skoenmaker wat vir haar ‘n digterlike reël skenk:

To sweep is holy, says Krishna, the shoemaker, my friend,
and patience with leaves, milady, is life.

Vir die liefhebber van haar digkuns, sou dit van waarde wees om die Engelse bundel teen haar Afrikaanse werk te plaas en te sien hoe sy die verse ómdig, herposisioneer, temas herhaal. Ook hoe die aangesprokene dikwels terugpraat en die gedigte laai met nuwe betekenisse.

Sy vang die wesensaard van die Engelse ritme op in ‘n oortuigende, oorrompelende, lieflike bundel. Dit is ‘n bundel wat inbeweeg in die onrustige toestand tussen lewe en dood,  kreatiewe gedagte en gedig. Die digter het tuisgekom in Engels met ‘n vaardige, meesleurende, oorrompelende bundel.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]