Monday, March 29, 2021

Resensie | Gerard Scholtz – Stipstaar | Fluisterbos, 2021

Gerard Scholtz – Stipstaar. Fluisterbos, 2021. ISBN 978 0 620 89603 0 

Resensent: Joan Hambidge


Een van die mooiste haikoes in Afrikaans is geskryf deur Eveleen Castelyn: 

 

Roosblare bêre 

hartvormig in die laaie 

die as van liefde 

 

Uit: Minder as die engele (1990). 

 

Tony Ullyatt se River Willows dra die sub-titel: Senryū from lockdown. Tydens die pandemie het die digter elke dag só 'n vers geskryf en na 83 dae was daar 111 gedigte. Dis treurverse. Maar terselfdertyd vind ons hier 'n ervaring van die oomblik 'n besinning oor die verganklikheid van alles en die vreugde van die natuur. 

 

Day 55 

 

a gaggle of birds 

quite lovely to listen to 

and envy as well 

 

In Dag 24 tree hy in gesprek met Bashõ, die meester van die Japannese kort vers. 

 

Haiku (俳句 met die wending (of snypunt), genaamd kireji, handel oor seisoenale wisselinge met 'n 5/7/5-patroon. Masaoka Shiki het hierdie stylverskynsel sy naam gegee aan die einde van die negentiende eeu. Elke taal het egter alreeds buite Japan sy eie tradisie gevestig teenoor die rasegte een in Japan wat in een reël weergegee word teenoor die Engelse en Afrikaanse een in 3 reëls. 

 

Matsuo Bashō is een van die beroemdste eksponente met die bekende 

 

Quietly, quietly, 

yellow mountain roses fall – 

sound of the rapids. 

 

Die haikoe sluit aan by die tanka wat eweneens voortreflik deur Castelyn ver-beeld is. Soos in die werk van Hélène Kesting saam haar eggenoot, Deon in die bundel Klein akkoord (1979). 

 

Hierdie boek is ongelukkig uit druk uit. 'n Paar is bewaar in Groot verseboek

 

Ons vind wel vele boere-haikoes in Afrikaans by gevestigde digters.

 

Scholtz wys daarop dat hy hierdie verse op sy vingers trommel tydens dag- of nagreise op daardie oomblik wanneer skoonheid, gedagtes, woorde of 'n ou versreël onverwags oopgaan of opduik. 

 

Hierdie bundel is wonderbaarlik mooi uitgegee en moet saamgelees word met Raymond M. Smullyan se The tao is silent (HarperSanFrancisco, 1977) wat hierdie denkwyse vir die leser oopmaak. 

 

Stipstaar is die regte benadering tot die lees van hierdie klein verse:

 

die blare verwaai 

in die trae middagwind 

word afskeidsbriewe 

(104)

 

Die blare word afskeidsbriewe (konkrete beelde) wat die verhulde abstraksie (pyn en verlies) oordra. 

 

wit vrugtebloeisels 

val swewend na benede 

dit sneeu in die boord 

(91) 

 

Die vrugtebloeisels wat val lyk soos sneeu en aktiveer die naderende winter (en ook verliese). 

 

Daar is klein pragverse wat die leser met haar saamdra: 

 

angelusklokke 

lui oor heuwel en vallei 

in landskapritme 

(80) 

 

'n somersmiddag 

ons eet onder 'n sambreel 

die son word botter 

(59) 

 

Kyk hoe praat hierdie bundel met wyle Gisela Ullyatt se Die waarheid van duiwe wat verlede jaar by Protea verskyn het:

 

swart stoppels 

van die veld

swaels in die winter se kombers

(28) 

 

stilte 

is windklokkies 

van glas 

(29) 

 

Lees hierdie bundel en kyk hoe vervlietende oomblikke opgevang word wat 'n hele wêreld laat oopwaaier in 'n spel met die konkete en abstrakte. 

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Sunday, March 21, 2021

Resensie | Simon van Schalkwyk - Transcontinental delay | Dryad Press, 2021

Simon van Schalkwyk - Trans- continental delay. Dryad Press, 2021 

Resensent: Joan Hambidge

 

'n Transkontinentale benadering tot letterkunde is tans aan die orde van die dag. Die moderne mens het weens internetverbindings en snelreise die hele wêreld anders begin benader. Grense het vervaag en selfs nou tydens hierdie tyd van inperking leef ons verby die eens bekende bakens of grense. Literatuurteoretici wys daarop hoé skrywers in 'n metamodernistiese tydvak anders na bekende domeine kyk; verby die bekende nasionalistiese grense na die transkontinentale dimensie beweeg. Niks staan meer vas nie en word "floating points".

 

Hierom word tyd ook 'n belangrike rigtingwyser in gedigte: vertraging, tydsones wat verskil en hier versus die verlede. Van die suide waar hy gebore en getoë is tot ander windstreke soos beskryf in "West Country" waar Bristol se koue teenoor die Kaapse wind geplaas word. Die verskillende latitudes word werklik en via boeke beskryf. Buenos Aires, die Andes, Bolivië, Turkye is ook hier in die reisherinneringe.

 

Kunstenaars soos Irma Stern en De Chirico word kodes vir 'n wêreldbeskrywing. Die politiek van die dag en die veranderinge word in "#Fallism" betrek teenoor die ellendes in Turkye wat steeds duur ("Atatürk").

 

In hierdie aanskoulike en vir my aangrypende debuut wat Transcontinental Delay heet, lewer die digter en akademikus Simon van Schalkwyk verslag van hoe hy die wêreld sien. 

 

In die gedig "Transcontinental Delay" skryf hy:

....

 

Talk to me about latency. Tell me—

ignore the transcontinental delay.

I will wait for your mouth to arrive at my ear,

 

listening, in the meantime, to the meantime—

listening in, waiting for your voice to traverse

continents, via cables, undersea. This is the cost

of arrival—money for a few minutes of air.

 

(40)

Delay beteken ook vertraging en in hierdie bundel is daar dan ook 'n terugkyk na die verlede én die digters wat 'n bepalende invloed op sy lewe gehad soos Ezra Pound, Czesław Miłosz, Stephen Watson, Robert Lowell, Cafavy, Frank O' Hara, John Ashbery,  P.A. Anderson. Ook ongenoemdes dalk soos Derek Walcott. 

Yevtushenko praat deur sy gedigte wat die digter in 'n boekwinkel optel. Al het hy die Neva of Seine gesien nie, kan hy dit verbeeld in 'n gedig.

 

In die slotvers "Skogsägarna Mellanskog ek För" (74) lees ons:

 

Lacking sense, having nothing to do but wait,

I left the Hotel Clarion and walked

 

down, to the Fyris, crossing the footbridge

near the ice-cream stand, and turning down,

 

like an apostrophe, toward the Stadsrädgården.

 

(...)

 

Die apostroof is hier 'n belangrike rigtingwyser, omdat dit verwys na die taalsisteem en Fanie Olivier se gelyknamige bundel Apostroof (2010) oproep vir hierdie leser.

 

Die apostroof, volgens Alex Preminger (red.) se klassieke ensiklopedie, is ‘n stylfiguur waarin die afwesige persoon aangespreek word. Ons vind hierdie aanspreekvorm – wat sterk verband hou met personifikasie – dikwels by Shakespeare met die Oh! Of in ander tekste met die versugting (A!). Die apostroof (‘) is ook waar letters weggelaat word: ‘n in Afrikaans vir een, ensomeer. 


Die afwesige persone is hier veral digters - lewend en dood - waarmee die digter in gesprek tree. Ook die vader en familieherinneringe word beskryf.

 

 

II

 

Die subtiele spel tussen hede en verlede word uitstekend gekallibreer in die gedigte. Daar is sowel intellektuele as emosionele verse. Hauntology, situationismpsychogeographical mapping is belangrike kodes vir die bundel se begrip. Hauntology (Dwerrida se neologisme vir haunting en ontology) soos beskryf in Spectres of Marx (1993) is van die intellektuele kodes vir die oopmaak van die bundel. Situationism impliseer dat die omgewing 'n groot impak het op jou gedrag. Vreemde landskappe verander die digter se sienswyse telkens. "Latchkey" werk met kaarte ("mapping").

 

Verskillende tegnieke en vorme word aangebied soos die prosagedig (soos "Future Scenarios") teenoor kort liriese verse. Daar is ook "found poetry", gedigte wat werk met rympatrone en strofebou. Elegiese of treurverse teenoor ars poeticas word hier aangebied. Ook die "eclogue" (pastorale vers) vind ons hier.

 

 

III

 

In 'n beeldvers "Imago" word die wandelende Jood geaktiveer en die Vervremdung van Kafka. Die Unheimliches (van Freud) 

word sterk verbeeld.

 

Imago

 

~ for Sophy Kohler

 

You were neither cockroach nor Mistkäfer

but a beetle with wings beneath the shell.

Kafka called you ungeheures Ungeziefer

and though he once referred to you as Insekt,

he said you were not to be depicted,

meaning that no image should distract

from your essential lack of clarity.

Fitting, then, that you should be lost

 

somewhere between tongues: vermin, bug,

both miss the mark; you were the unclear,

the guest, the traveler roaming from house to house;

eternal stranger, rumour, Wandering Jew.

Unsurprising, then, that you were not surprised

by your Verwandlung: Immer unheimlich, du.


(54)

 

Stephen Watson was die mentor en deur hom word daar na ander digters verwys en veral Cafavy se "Ithaka", daardie aangrypende reisvers, is hier ingebed saam met Miłosz, 'n digter oor wie Watson geskryf het.

 

Saudades

 

~ in memory of Stephen Watson

 

Long after the sun descends (once more)

to the level of those stone pines, set askew

 

along the black ridge of the Old Mule path,

I lean in to read the sulcalised spines

 

of books in your lost library: Watermark,

Calligrammes and Elegy for the Departure.

 

The sea-wind withers, and I light the lamps,

staring out from the darksome sea-deck

 

and across the windblown bay, staring out

as far as Seal Island. You look, you once said,

 

like a refugee. I still remember.

Now, I set a flame to the hearth, uncork

 

the Flagstone and, with bread and cheese,

begin to read: Mr Cogito

 

still sends reports from his besieged city;

in late afternoon bedrooms and cafés,

 

empty but for saudade, Cavafy holds

a straw hat at an angle to his melancholy;

 

and, elsewhere, Miłosz remembers Wilnow

in alexandrines, very much like yours.

 

In the end, each letter is an entry

or an envoi in some other writer’s diary.

 

(56, 57)

 

 

IV

 

Die opposisie tussen die Komorebi en Saudade is eweens opvallend. Die komorebi is 'n Japannese beginsel wat wys op die lig op blare wanneer die sonlig deur die bome skyn. Dit impliseer ook 'n melancholiese of nostalgiese verlange na ruimtes of mense wat ver van jou af staan. In hierdei bundel wat dikwels vanuit die vreemde terugkyk is hierdie gevoel opvallend in die gedigte.  Dit is dan uiteraard ook 'n "transcontinental delay", 'n gevoel ervaar op 'n vreemde plek wat die bekende aktiveer. Nostalgie is by uitnemendheid dikwels ook 'n verlange na iets wat nooit werklik bestaan het nie ...

 

Hierteenoor die Portugese begrip van Saudade - eweneens 'n diep melancholiese gevoel, maar dikwels is dit iets bittersoet. 

 

Die spanning tussen 'n Oosterse en Westerse gevoel is belangrik vir die bundel se aanslag, omdat die digter verskillende ruimtes in die werklikheid en in die verbeelding betree.

 

Hierdie bundel het met my gepraat, diep gepraat en hierdie gedig is dan vir die digter:


Komorebi

 

Tussen lig en donkerte

op die sinkansen na 'n futon

tussen Tokio en Nagasaki

 

verloor 'n pen my

tel tankas en haikoes op

bloeisels in Kioto

 

by die vele tempels

onthou ek nou 

dat dié heilige stad

 

tsoenami's, aardbewings, 

atoombomme,

oorleef het.

 

In die woorde van die digter doen hierdie bundel die volgende:

 

I flick my cigarette—presto—the snow ignites, and a small

flame burns luminous emerald, like foxfire.

 

Die bundel is 'n tableau vivant wat inspireer en ontroer. 'n Uitsonderlike debuut.


Saturday, March 13, 2021

Rubriek | Greyhound 2021

Die sluiting van die Greyhound-busdiens het my onkant betrap. 

Die Greyhound het die groot, wye landskap van die VSA vir my oopgemaak en elke keer wanneer ek 'n film sien met 'n Greyhound, raak ek erg nostalgies. En diegene wat neersien op 'n busrit, weet nie wat hulle misloop nie.

 

Hier te lande het ek al male sonder tal die bus geneem van Kaapstad tot in Johannesburg; of van Kimberley tot in Pretoria. Of van Pretoria na Durban.

 

Om die landskap deur 'n bus se venster waar te neem, is wonderbaarlik. Net 'n treinrit troef dit. 'n Mens sien en ervaar die ryk geskakeerde landskap. Jy ontdek hoé kompleks ons land (en ander lande) se mense is. So het die buswaardin 'n dronk man by Beaufort-Wes afgegooi, omdat hy die ander passasiers gepla het. Hy wou nog sit, toe loop hy al!

 

'n Down-sindroom-kindjie in Kimberley klim op die bus en groet my met 'n môre-tannie.

 

Sy is heel vrolik op pad na haar Tante in Pretoria. Toe ontdek sy haar R50 is weg.

 

Ontroosbaar huil sy en beskuldig een van haar maats in die tehuis van die diefstal. Uiteindelik gee ons op die bus vir haar weer geld en sy is rustig.

 

Hoe wonderlik was dit nie om deur Turkye met sy laaaaaaaaaaaaang paaie te ry van Istanboel in 'n sirkel terug tot in Istanboel nie. Met die gids wat paai: "Ons is amper daar!". Amper daar was elke keer nog drie ure weg.

 

En 'n knorrige man uit Sydney wie se tas in Plymouth gegaps is en vir twee weke deur die Britse kolonies woedend is oor hy geen klere het nie en hy sal die toergids gaan aangee bla-bla-bla en ons weet nie hoe wha-wha-wha ons almal is nie.

 

Selfs die buskollekte vir 'n nuwe broek, hemp en tandeborsel kon hom geen plesier gee nie.

 

En die moderne Greyhound met sy skerm waarop films gewys word. Hier te lande Leon Schuster wat in 'n rasdiverse bus almal laat skaterlag. Ten spyte van politiek-korrektes se gemor dat sy films aanstootlik is. Maar nou ja, selfs satire durf nie eens meer 'n bier-advertensie en min wetend julle beswaarmakers: daardie rooikop, Johann Vermaak, het 'n MA-verhandeling onder my leiding geskryf oor satire!

 

Nog iets wat vir altyd verby is in die tyd van korona.

 

Slow-mo, kan 'n mens 'n busrit noem. Dis werklik reis. Jou liggaam en gees kom tegelykertyd aan by jou bestemming. Anders met 'n vlug waar dit dae neem voordat alles weer sinchroniseer. 

 

As Roland Barthes maar net kon weet hoe die Greyhound hier 'n simbool is, sou dit neffens die "The 'Nautilus' and the drunken boat" opgeneem kon word in Mythologies (1957 / 1972).

 

'n Boot se "bliss of closure", 'n afgeslote eenheid, is eweneens van toepassing op 'n busrit. Die "unbroken inwardness", want elke busrit is uniek met sy mense en landskappe en intriges. 

 

Las Vegas, Nevada 

 

Hier staan dobbelhuise neffens kerke 

hul plek vol en sy ry met ’n Greyhound, 

geleerbaadjie en gerugsak, die Sondestad binne. 

Met ’n achy breaky heart word die woestyn 

die perfekte back drop vir ’n down town-motel, 

waar reisigers en hoere kortsondig vertoef. 

Fear and loathing in Las Vegas. Agter haar lê 

die Stad van Engele en vóór haar Miami. Nou, 

in die oomblik, beleef sy die Mojave-woestyn, 

nageboots in restaurante dwarsoor die wêreld, 

met kaktus en klip kompleet. Vir haar is dit hel, 

hierdie flikkerstad met sy gebedekrale van $-tekens. 

La$ Vegas. Lush Vegas. Leaving Las Vegas. 

In die Liberace-museum verpand broer George 

handtekeninge namens die virtuose vertolker. 

’n Boekwinkel stal Barthes se Mythologies uit. 

Saam met die semioloog vertolk sy die xeriscapes, 

nabootsings, afbeeldings, flikkerligte: dollar a fuck. 

Sy verkas uit Vegas, op pad na Dallas, op soek 

na die American Dream, the greening of America: 

na dit wat soos ’n mirage in die woestyn glimmer. 

 

(Visums by verstek. Human & Rousseau, 2011).

 

© Joan Hambidge 

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van BY)

Sunday, March 7, 2021

Resensie | P.P. Fourie – 'n Hart is so groot soos ’n vuis | NB-Uitgewers 2021

P.P. Fourie – 'n Hart is so groot soos ’n vuisNB-Uitgewers, 2021. ISBN 978 079571 0018

 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

 

Hierdie roman word aangeprys op die skutblad deur S.J. Naudé wat sopas 'n besonderse teks gelewer het. 

 

In 'n Hart is so groot soos ’n vuis deur P.P. Fourie vind die leser 'n ontstellende en meedoënlose terugblik op 'n pynlike jeug. Die vader, alkoholis en skrywer, se impak op sy familie word in hierdie roman beskryf wat kennelik semi-outobiografies is. Die verteller - 'n akademikus - se lang reis tot selfontdekking as gay-man word oortuigend weergegee.

 

Die gefiksionaliseerde outeur, optekenaar, dagboekhouer, scriba gee stem aan al die ander stemloses op sy lewensreis. Die moeder wat psigies en fisies aangerand is; die grootouers wat stilswyend is; Evelina wat kortstondig redder word en die jonger halfbroer Ben wat 'n sprituele uitweg soek.

 

Die leser word in klein hoofstukke of skerwe vertel watter impak hierdie vader op die gesin se lewe had. Die verteller sweer die vader af en ontdek later tot sy skok dat hy tog wil kontak maak met die vader wat kontak verbreek het met hom. 

 

Dit is dan 'n teks van ambivalensie en onsekerheid. Daar word oor kinderdepressie (en die psige wat tot stilstand kom) ontroerend geskryf, nes die selfdood van 'n buitestaander-kind.

 

Uiteraard is daar herhalings, want die leser beleef die sirkelgang van onthou en terugkeer na die bloedige jeug. 'n Jong kind se eensaamheid word pynlik-eerlik beskryf via Oscar Wilde se Die klein prins. Ons vind vele ingebedde tekste wat die vertelling amplifiseer: verwysings na psigoanalise, vertelling-as-heling en Truman Capote se Breakfast at Tiffany's.


Tolstoi oor geluk/ongeluk in gesinne. Arvo Pärt is hier met verwysings na ander musiek, films en skilderye. En Flaubert teenoor Julian Barnes. Hoe lyk eindes in moderne tekste teenoor klassieke romans? Is daar ooit closure?

 

Die boek is 'n mosaïek en 'n tessera. Maar tessera beteken ook voltooiing en antitese, soos Harold Bloom dit beskryf in The anxiety of influence (1973). Paul se identiteit is juis bepaal deur die gewelddadige vader wat tot gevolg gehad het dat hy en sy moeder op die vlug moes slaan. En die verraad van die vader wanneer hy betrokke raak by sý vriendin wys op die psigiese afhanklikheid tussen vader en seun. Oedipus en Laius dus nuut beskou.

 

Tessera bedui ook fragmentering. Verskillende fragmente vertel die storie: van 'n kind wat met 'n kettie vensters probeer uitskiet tot die verteller wat bely hy is dissosiatief. (In die inhoudsopgawe lees ons: tesserae). 'n Mosaïek dan ook en ons sien dit van ver en van naby soos wanneer 'n mens 'n moskee binnegaan.

 

In hierdie dae is dit veral vroueskrywers wat die vader in die beskuldigdebank plaas vir die onsigbare letsels hul aangedoen en met hierdie teks word die dikwels ónverhulde ellendes van mans beseer deur toksiese manlikheid openbaar gemaak. Dit word 'n aanklag oor hoe kinders geen agentskap het nie en verniel word deur afwesige ouers. Want abuse is júis om dit te weerhou wat behoef word.

 

Alles speel af teen die wyer doek van die Noodtoestand, wit manlike beheer, rassistiese grootouers en 'n political unconscious, soos Fredric Jameson dit tipeer. Mense word immers gekodeer deur politieke (on)sigbaarhede. 

 

II

 

By die lees van hierdie pakkende roman vind hierdie leser 'n (onbewuste) gesprek met Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan, daardie besonderse belydenisroman uit 1937. Maria teenoor Marié met Anna as die aangesprokene. In die konstruksie van Smit se boek is dit presies in die middel van die boek wat die hele verhaal oopwaaier. In Fourie se teks is dit skerwe waarheen jy terugkeer soos die kind wat 'n skat in die tuin begrawe en dit nie kan vind nie. Die titel word verklaar op bladsy 99: "Die kompartement is so groot soos 'n menslike hart, wat ook so groot is soos 'n vuis."

 

Kompartemente en laaie word oopgemaak. Regdeur die teks word die hartsimboliek uitgewerk. Die kindergemoed word goed weergegee met in "Die plek waar die wêreld eindig".

 

Treasure Island (1938) is hierom tersaaklik net soos J.M. Coetzee se romans oor sy jeug en die beskrywing van die alkoholis-vader in Boyhood van 1997. Dominique Botha se Valsrivier (2013) waar die suster die skriba word vir die gestorwe broer.

 

Toe word teenoor nou geplaas en die invloed van tyd op ons lewens geanaliseer. Die verlede is vir my sterker beskryf as die ouer, analiserende gedeeltes. 

 

 

III

 

Die tesserae plaas die teks binne die mistieke en die Kabbalisme. Die halfbroer is egter meer geïnteresseerd in die Boeddhisme as die verteller. Maar nou moet ons onderskei tussen die verteller/fokalisator en die implied author wat kennelik agter die konstruksie van hierdie diggeweefde teks staan. Hierom word die leser bewus van twee belangrike argetipes in die teks, te wete die afdaal in die Hades en die ritueel van hergeboorte. 

 

Soos Tom Chetwynd dan opmerk in sy studie van 1982, A dictionary of symbols, gee die psige weer wat in die wêreld gebeur, maar dit verander en boetseer ook die Umwelt. Die verlies aan mites (soos wat die jong kind ervaar waar alle strukture ineenstort) is uiteraard katastrofies. 

 

Die vader geen raad oor skryf. Hy word 'n bloedige mentor, 'n precursor in Bloom se terme. Die seun (ephebe) neem sy kreatiewe energie oor en word dan die skrywer. 

 

IV

 

 

Dit is 'n boek wat boei en ontstig. 'n Mens lees in verbystering en ontsteltenis oor hoé die vertellende instansie die skerwe optel en saamvoeg om tot insig te kom.

 

Dit maak nie saak of dit werklik gebeur het met die outeur nie. Wat saak maak is dat dit gebeur het met die verteller wat ons saamneem op sy reis. 

 

Et cu fut tout? Besluit self.

 

Die roman is vertaal deur Marius Swart.


 

Bron:

 

Chetwynd, Tom. 1982.  A dictionary of symbols. Londen: Paladin.

 

Monday, March 1, 2021

Resensie | S.J. Naudé – Dol heuning | Umuzi, 2021

S.J. Naudé – Dol heuning. Umuzi, 2021. ISBN 9781415210796

 

Resensent: Joan Hambidge

 

In hierdie uitdagende kortverhaalbundel staan daar die volgende woorde opgeteken: "Toe hy ’n slag opkyk, bemerk hy in een van die mure se houtpanele ’n deur. ’n Soort ge­heime opening waarvan die oppervlak die reliëf voortsit, en sonder ’n hand­vatsel. Hy gaan druk daarteen en dit klik oop."  En dit is presies wát van die leser verwag word in 'n boek met vele verwysings en toespelings. Jy moet fyn kyk agter die geheime openinge in. In een verhaal is daar 'n verwysing na die camera obscura.

 

Verhale speel in op mekaar met uiteenlopende temas soos rykdom, die soeke na identiteit, die korporatiewe lewe, begeerte, teisterende herinneringe, mense wat verdwyn op ski-vakansies, verskillende kulture wat mekaar nie begryp nie en hoe rykdom jou inperk, eerder as bevry. Verder word verhale gelaai met subteks en interteks. In 'n liefdesverhaal "Die wonderwerk" bly 'n man in 'n ryk apartment in New York waar Julia Roberts vertoef. So aktiveer hy die film Pretty woman (1990) en natuurlik ook La Traviata. Die leser weet die einde gaan sleg afloop; tog tref die ónafwendbaarheid van alles jou steeds in die maag.

 

C.G. Jung se Memories. Dreams, Reflections (versorg deur Aniela Jaffé) het in 1961 verskyn by Random House. In hierdie besinnings oor die lewe (en dood) word die leser teruggeneem na prosesse wat hier verbeeld word: die psigiese parallellismes én die konneksie tussen ervarings, tussen toe en nou; die sogenaamde hierosgamos. By Naudé kry karakters bykans 'n mitologiese status, soos die moeder-kind-verhouding (skitterend vertolk in "Twee libretto's") of  Lev wat die bose word. Die Maria-beeld word geplaas teenoor 'n sterk, aardse moeder in Namibië met die twyfelende Thomas, die seun as waarnemer.

 

Daar is 'n verwysing na die liggaam van Ötzi, ’n man van 3 300 of wat voor Christus, in die vroeë 1990’s in die ys gevind is. Iewers tus­sen Italië en Duitsland dateer Ötzi uit die Kopertydperk, maar hy het merkwaar­dig behoue gebly (181). Dit is 'n bundel van grense en liminaliteite, oorgange van lewe na dood.  Ervarings kry telkens simboliese betekenis. Sand wat waai van die Sahara oor na Griekeland en Turkye. Wat deur die atmosfeer opgesuig word en oor die Alpe neersak elke vier, vyf jaar ...

 

So bely die verteller in 'n bykans poëtiese binnespraak die volgende: "Haar drome, raai hy, is van die blinde, abstrakte soort. Visioene van silwerwit lugleegtes, van halfdeurskynende wande, van helder skeure lig, van ’n duisend yskeëls teen die son."


Die boek is simmetries en elke verhaal werk met fyn toespelings en motiewe wat in 'n slot saamgetrek word. 'n Soektog na die self wat dikwels faal: die binne-reis wat eensaamheid en teleurstelling inhou, word in somber verhaal na donker verhaal opgeteken. Die abjekte word gekoppel aan die dood met verwysings na La Faune des tom­beaux en La Faune des cadavres van Jean-Pierre Mégnin en hoe insekte gebruik word om die geskiedenis van kadawers te interpreteer. Belangrike kunswerke is eweneens sleutels soos Caravaggio wat droë vuurvlieë fyngemaal en met sy verf gemeng het.


Jeff Koons, Louise Bourgeois, Berlinde De Bruyckere, Ryan McGinley ("The Pied Piper of the Downtown Art World") en  Herman Nitsch se ritualistiese kuns laai die tekste verder met implikasies. Grond, ondergronds, bo-grond, agtergrond, barre grond en droogte is woorde wat die leser telkens raaklees. Jy word hier gedwing om telkemale terug te keer en weer na 'n subtiele, bykans weggesteekte motief te kyk. Onder draai die duiwels  bepaald rond.

 

Klere verraai ook karakters se ingesteldheid: mans in speedo's teenoor vroue in joekatas. Ontwerpersklere word 'n snelskrif om 'n karakter te verstaan. 'n Man met grys hare het geen liggaamshare nie. Waarom?

 

Jong kinders se argwaan met hul ouers word eweneens goed vertolk. 

 

In "Fawzi al-Junaidi" word ras- en genderdiskoerse geplaas teen die wye doek van politieke ongeregtighede met skuldgevoelens wat soos bamboese groei. Twee mans het 'n seun en die ervaring van hierdie pa's (in 'n eenderse geslag-verhouding) word uitgespeel teenoor 'n swart huiswerker en háár seun wat die omgekeerde van wit bevoorregting ervaar. Naamlose, ouerlose seuns kan net in 'n fantasie versorg en beskerm word.

 

In "Dol heuning" word misverstande en kultuurstereotipes op hul kop gedraai en in "Wonderwerk" kan jy die hele plattegrond van New York voor jou oë sien tot by Tribeca. Hierdie dramatiese verhaal werk soos installasiekuns; selfs met 'n motor wat in 'n swembad land.

 

In "die dal van doodskaduwee" word die moderne paranoïese bestaan in Johannesburg met keeltoetrekkende vaart vertel. Geweld met sambokke word later 'n s&m-geweld binne 'n gesofistikeerde omgewing. "Warm kompos" is waarskynlik my gunsteling met sy beelde van ondergrondse vuur wat alles verwoes gekoppel aan sieninge oor die heilige gees en spiritualiteit. "Landskappe met figure" is onvergeetlik ryk geskakeer met 'n verhaal wat soos 'n mini-opera werk.

 

Soos Valerie Shaw uitwys in haar analise van Tsjekof in The short story - a critical introduction (Longman, 1983) vermy die Rus melodrama in sy distansie. Tog is hy nie onbetrokke as verteller nie. Dieselfde geld Naudé in hierdie verhale met sy artistieke distansie én stilistiese beheer.

 

Naudé is kortverhaalskrywer en romansier. Die derde spoel was 'n uitdagende leeservaring oor verdwene films uit die dertigerjare en Walter Benjamin. Sy debuut Alfabet van die voëls, 'n kortverhaalbundel, was eweneens goed en het sy transkontinentale aanslag ingelui.


 Naudé is bekroon deur die Akademie vir sy debuut en 2014 het hy die Jan Rabie / Marjorie Wallace-toekenning ontvang. Tereg is Die derde spoel met die Hertzogprys bekroon. 


Hierdie bundel bewys hoe verkeerd diegene is wat dink die kortverhaal se tyd is verby. Ons lees immers steeds Tsjekof, Alice Munro en Hennie Aucamp. En wonder  oor hierdie kortetjie van Hemingway: 

For sale: baby shoes, never worn.

Verruklik, uitdagend, melancholies; 'n leeservaring wat jou ontstem én begeester. Dis 'n boek wat die verborge verbande saamsnoer en die fabels van toe en nou interpreteer oor rituele vernederings en bestaanswoede.

 

Sublieme ambag.