Monday, February 25, 2013

Leon de Kock - Gone to the edges (2006)



Leon de Kock. Gone to the edgesProtea Boekehuis, 2006. ISBN 1 86919 132 3.

Resensent: Joan Hambidge

Leon de Kock is ‘n uitmuntende vertaler wat alreeds bekroon is vir sy Triomf-vertaling. Hy is digter, bloemleser en akademikus. Sy The heart in exile – saamgestel saam met Ian Tromp – gee ‘n blik op Suid-Afrikaanse Engelse digkuns (1990 – 1995). In hierdie bloemlesing vind ‘n mens twee besonderse verse oor die einde van ‘n verhouding deur Peter Wilhelm: “On her departure” en “Divorce”.

Wilhelm gebruik die sterk beeld “Love isn’t a hacksaw / to hack up the heart’s dark cage”. En liefdesverse, so weet ons, gaan meer oor die afwesige geliefde as ‘n / die aanwesige beminde. In De Kock se bundel word die programgedig, “I have gone to the edges”,  op die agterblad afgedruk. Die leser word pertinent bewus gemaak dat die einde van ‘n spesifieke verhouding hier onder die loep geneem word ( Afdeling I : “After the death of mariage: 2003 – 2004”) met al die komplekse emosies van verwonding, liefde, haat, opstand, wrewel wat so ‘n skeiding behels. 

Daardie komplekse “odi et amo” waaroor Catullus gedig het en ons almal ken Matthew Arnold se “Dover beach” en Anthony Hecht se woedende, vernietigende parodie:”Dover bitch”.

Wallace Stevens het immers geskryf dat poësie ‘n binneste opstand is wat ons beskerm teen die geweld van buite. En die woede-vers, sal ons Boeddhisties weet, is net die anderkant van die liefdesmunt. Solank as wat jy nog woede ervaar oor die (eks)geliefde, is die persoon nog werksaam in jou gemoed én onbewuste.

‘n Paar gedigte word in sowel Engels as Afrikaans weergegee – met die geslaagder weergawe in die Engels. Daar word vertel dat D.J. Opperman by geleentheid die jong digter gemaan het dat die digter eerste aan die gedig moet dink en dan aan die effek wat dit op die familie sou kon hê. Dit is egter ‘n morele kwessie en in die eerste en laaste geval moet die gedig die toets van die tyd deurstaan. As die woede, ontsteltenis, onsekerheid, ambivalensie of watookal verby is, moet die gedig-as-gedig bly staan. Dan is die werklikheidsaspek of die vermeende (h)erkenning afgehandel. 

Hieroor sou elke leser uiteindelik self moet besluit en geen mens benader ‘n gedig in iedere geval “onskuldig” nie. Stanley Fish se Is there a text in this class? lewer uitgebreid verslag oor wat alles inspeel wanneer ons ‘n teks benader en die sogenaamde “community of readers” lees nie altyd eensgesind nie. Wat my betref mag die digter op gevaarlike plekke gaan, mits die gedig die woede/pyn of aanklag kan dra. En dit is iets wat in die taligheid van die gedig skuilhou, nie in die morele dimensie of valensie van die vers nie. “How to recognize a poem when you see one” is in  elk geval binne die postmoderne tyd al aangepas, verander & gedekonstrueer.

Die digter is bewus van hierdie proses: in “Groundless ground” soek hy na die regte stem en vergewis hy hom oor presies wie sy gehoor mag of sal wees. Die dubbelloop-vers “They dug up your garden” / Hulle’t jou tuin omgedolwe” (pp. 14 – 15) word die “icy beauty” en “line of defence” van die geliefde aan die kaak gestel. (Strykdeur is myns insiens nie die korrekte vertaling vir “right through it” nie.)  ‘n Besondere sterk vers is “Wife, departed” waarin die geliefde eers die verwyt gemaak het dat sy die woordeboek saam geneem het. Dit word ‘n boeiende metafoor waarin die skryfproses dan ‘n soort ontdekking word dat hy steeds woorde oorhet:

You hadn’t taken our tome
our tomb of words,
after all.

Die geliefde daarenteen is terughoudend: swygsaam.

Daar is ‘n voortdurende tuimeling van emosies. In “Non serviam” verset hy hom weer teen die geliefde wat hom kan vernietig:

I will not
Be the pickings
In the gaps
Between your teeth (p. 24).

En in “Lamb to slaughter” eet hy letterlik sy eie hart op, ofskoon die gedig nie genoegsaam die aangebode beelde ontgin nie.

“Why he hates her” – in navolging van Leonard Cohen” – gee ‘n grimmige blik op die vertrekkende geliefde wat vir jare al sy hart gepekel het voordat sy dit opgekerf (“butchered”) het. Hier is die spreker die verwonde slagoffer wat die geliefde aankla van liefdeloosheid, ‘n normale fase in die verwerkingsproses van ‘n bloedige skeiding.

“She who haunts your heart with something lost” (uit die sterk “Daemon”, p. 32) aktiveer eweneens die gedig-as-aanklag, as verset teen die pyn wat die vertrekkende geliefde aangestig het.

Die digter eksperimenteer ook met die sms-vorm as gedigvorm in prettige vorme. In Afdeling II (“From the inside: 1998 – 2002”) wat die leser laat vermoed dat die tweede afdeling as ‘n pendant van die eerste gelees moet word. Hier is groter afstand en daar word aangrypend gedig oor die verhouding tussen vader en seun. 

Een van my gunsteling-verse hier is “Bird, trapped” waarin die digter ironies genoeg juis ‘n vers maak uit die pynlike toestand van die voël wat nie kan vlug nie; net so het hy eweneens uit die liefdesongeluk, waarin hy vasgevang was, gedigte kon maak. “A bend in the river” is oortuigend in die ryk beeldskakering, terwyl die transgressiewe ‘n Lekker klein pakkie” waarskynlik vra vir ‘n Freudiaanse lesing, geaktiveer in “Everything you don’t know yet”. Hier is die Id kennelik ‘n bietjie aan die oorstoot.

Daar verskyn eweneens in hierdie bundel vertalings van “Winternag” en “Diep Rivier” van Eugène N. Marais.

Dit is ‘n bundel waarin die intense pyn afgewissel word met meer metaforiese, gedistansieerde verse. Vir die leser is daar dus ‘n duidelike proses aanwesig tussen die oomblik en die agterna-distillaat, die verwerking of metaforisering van die verse in iets buite die self.

Daar is ‘n handvol versies wat nie heeltemal poëties oortuig nie, soos o.a. “The bridges”, “Stukkend”, “Russian time”, “Empty” (‘n spel met William Carlos Williams se bekende gedig).

Dit is ‘n ongelyke bundel met ‘n paar sterk verse. “The business of poetry” het Wallace Stevens geleer is waneer jy terugkeer na daardie “jar in Tennessee”. Staan hy nog daar? Of het die tyd hom weggevreet?

Anecdote of the Jar
by 
Wallace Stevens

I placed a jar in Tennessee
And round it was, upon a hill.
It made the slovenly wilderness
Surround that hill.

The wilderness rose upon it,
And sprawled around, no longer wild.
The jar was round upon the ground
And tall and of a port in air.

It took dominion everywhere.
The jar was gray and bare.
It did not give of bird or bush,
Like nothing else in Tennessee.


This Is Just to Say
by William Carlos Williams

I have eaten
the plums
that were in
the icebox

and which
you were probably
saving
for breakfast

Forgive me
they were delicious
so sweet
and so cold

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]