Tuesday, February 26, 2013

Marlize Hobbs - Flarde, ‘n novelle (2005)



Marlize Hobbs. Flarde, ‘n novelle. Genugtig! Uitgewers, 2005. ISBN 0 9584604 4 2.

Resensent: Joan Hambidge


Flarde, van Marlize Hobbs, is ‘n klein juweel. ‘n Eenvoudige, dog slim gestruktureerde vertelling van ‘n maatsakplike werkster se ervaring van ellende, armoede, verkragting in ‘n klein gemeenskappie, Ganyesa.

Die leser word terselfdertyd betrek by die ek-verteller se poging om ‘n roman te skryf en soos dit dan dikwels die geval is in die sogenaamde meta-roman, word die leser deel gemaak van hierdie fassinerende spel tussen roman-werklikheid en skryf-werklikheid. 

Tussendeur is daar jeugherinneringe, ‘n shrink, J (die mentor) wat help orden aan die vloed van emosies, herinneringe en neuroses. Die ek-verteller as skrywer laat ook háár perspektief resoneer met dié van die swart mense wat haar besoek. Dit verduidelik dan die titel van die novelle: ons beleef ‘flardes’, nie ‘n geheel nie. 

Die vertellende instansie is ook nie altyd betroubaar nie – sy beleef intense epileptiese aanvalle, is verslaaf aan valiums en waarsku die leser ook subtiel dat sy verskillende selwe kan skep – onder andere sien ons dit in haar optrede in Sênet, die gesprekskamer van Litnet. Vir die ernstige prosaleser is dit ook ‘n boek wat vele herlese en nadenke inhou. Vir diegene wat dit gewoon as ‘n storie wil lees is dit ook aan te beveel.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]