Thursday, February 14, 2013

Luuk Gruwez - Bandelose Gedigte (2007)



Luuk Gruwez. Bandelose Gedigte. (Vertaal deur H.P. van Coller). Praag, 2007. ISBN: 1920123 050.

Resensent: Joan Hambidge

Vroeër vanjaar by die Woordfees op Stellenbosch daag hierdie digter, ene Luuk Gruwez,  op en saam met sy vertaler, die akademikus Hennie van Coller, word sy gedigte in ‘n duet voorgedra. Van Vlaams na Afrikaans.  Die gehoor is ekstaties, meegevoer – lag selfs, want hierdie versameling gee ‘n blik op ‘n besondere digterskap wat sowel geestig as ernstig is. Terselfdertyd lyk en klink die verse toeganklik, maklik, selfs “oop” – tot jy fyner lees en besef: die digter werk met fyn tegnieke soos die elliptiese beeld of einde wat ‘n dubbele negatief bevat wat met ‘n herlees eintlik dan op niks neerkom nie.

Dit is ‘n bundel wat Praag gepubliseer het wat onlangs die gedenkbundel van Eugène N. Marais gelewer het onder redakteurskap van Johann Lodewyk Marais. Die belangrikheid van ‘n digterlike invoer- en uitvoerproduk hoef nie beklemtoon te word nie: Daniel Hugo het Herman de Coninck en Gerrit Komrij vir ons vertaal; Johann de Lange se vertalings, nou onlangs, van Wilma Stockenström, imponeer sowel die Engelse as die Afrikaanse lesers.

Die bundel is “unputdownable”, soos die Engelse opmerk. ‘n Mens lees die hele bundel gulsig, omdat jy nie kan wág om te sien wat ‘n volgende vers sal bied nie. Is dit dalk ‘n Vlaamse karaktertrek? Hierdie mengsel van melancholie en aweregse selfspot? Ons vind dit ook by De Coninck en Tom Lanoye. Waarom is sekere digters meer guitig as ander?   
In ‘n vers soos “Tafereel” word Du Perron betrek: om ‘n werkswyse tussen toe en nou uit te werk en ‘n stelling oor die lewe daarbuite te maak. Ons vind dikwels hierdie spanning in die digter se gedigte: daar word oënskynlik speels na die wêreld daarbuite gekyk, maar dan lewer die gedig op ‘n metavlak kommentaar op die ewige spanning tussen Lewe en Skryf.
Die gedigte gebeur as’t ware voor jou: dis asof die digter ‘n stellng maak oor die lewe en dit dan wil reg of verkeerd bewys.

In “Ars Armandi”, die kuns van die liefde, verneem ons:

Nulliteite met hul letters,
maar bedrewe met hulle lippe
en briljant, soms, in hul kroeë: digters.

Hulle is boonop “kletsers, praters, flaters van God” en hierom moet ons van die digters gered word!

Die slot van hierdie heerlike vers waarsku dat die liefde vir ’n gedig opgeoffer sal word:

- Raak desgewenes maar aan hul vrouens,
Raak nooit te nimmer aan hul kommas.

Al spelende en dekonstruerende, maak die digter verse soos ‘n jongleur.

Hy skryf oor die dood van ‘n geliefde, aangrypend oor die verlies van ouers, hy stel God aan die woord, kyk na hoere se doen en late, parodieer vet mense, ensomeer. Daar is deurgaans ‘n ironiese blik en nie om dowe neute nie, word ‘n bundel Allemansgek genoem.  Die sjarme van die gedigte word opgesluit in die oënskynlike eenvoud – as jy dieper naspeur, beoefen hy die Rondeel en daar word aandag gegee aan klanke en onverwagse wendings.

Die versamelbundel – Bandelose gedigte – kry ‘n ander betekenis vir ons in Afrikaans, omdat die verse met Afrikaanse lesers ‘n band smee. Dit is ‘n bundel wat met elke lees meer plesiere bring.  Ek dink sy hantering van die lykdig verdien eweneens vermelding en die lang relaas van die “tweegeveg” wat die geliefde met kanker beleef het, word werklik besonder goed weergegee. (Interessant dat die digter afwyk van die dekorum van die lykdig en die rede vir die dood vermeld.)

‘n Ander gunsteling is “Taksidermie”, ‘n spotvers oor masturbasie (p. 87) en die gedig oor verlies, “Samehorig” (p. 81) verdien eweneens vermelding:

Daar moet ‘n wêreld van verlore dinge wees
waarin ‘n handskoen, inderhaas vergeet,
saamhoort met ‘n ou koerant,
‘n serp, ‘n sakdoek of ‘n kam.

En dan die slot:

..............
En voorgee dat jy alles kan vergeet,
ofskoon jy, stomverlore soos ‘n mens,
alleen in die heelal moet wees.

Dikwels is daar Vlaamse woorde wat ek meen nie vir die gewone leser bekend sal wees nie en waarskynlik sou ‘n voetnoot vir die leser van waarde kon wees. Maar dit doen nie afbreuk aan die leesplesier nie. (Nou desgewens of awery is ook van daardie woorde, wat jy dink jy ken, maar nie heeltemal ken nie.) Plek-plek is die vertalings stomp – veral wanneer ‘n mens die verse hardop voorlees, besef jy dat die Afrikaans iets meer úitstuwend verwag het. Soos die dubbele negatief wat ‘n mens verwag, o.a. by “Tweegeveg” (p. 94).  Is “boze” byvoorbeeld kwaai? (p. 94).

Een setfout (niet in plaas van nie, p. 121) het deurgeglip en kan reggestel word.

Maar dit is ‘n boek vir die toegewyde leser van die poësie en ook vir diegene wat dikwels mor dat die digkuns net vir ‘n handvol geleerdes geskryf word. Dis pret en hartseer. Poësie van die sourdino en die uitbundigheid.

Gaan onmiddellik na die naaste boekwinkel en koop hierdie bundel!


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]