Thursday, February 14, 2013

Trienke Laurie - Sonskyf (2007)



Trienke Laurie. Sonskyf. Protea Boekehuis, 2007.  ISBN 978 1 86919 1658.

Resensent: Joan Hambidge

Wanneer ‘n mens pas herstel het van die onooglike voorblad van Trienke Laurie se Sonskyf, dan tref die openingsvers jou tussen die oë.

Wat het ons hier? ‘n Parodie? ‘n Grap?

My bloekom

Saans beuk die wind die bloekom
en beur hom, beur hom weg
uit al sy gejeuk en geneuk
en kwinte en kwale uit:
‘n gejeuk onder die oksel,
‘n geneuk in die kwaste (p. 12)

Die res van die “gedig” gebruik selfs woorde soos “ferplie en jannetjies”.  (“En knepe wat die grondwater help houvas”).

Vir vermaak, haal erk graag die volgende een aan:

Optelvroue

‘n Skip is dikwels ‘n drywende hotel:
Aan die boeg klou vele verstekelinge –
Sebramossels, krappe – en ook kwalle.
Ja, die kwal lyk al hoe meer op ‘n hoer,
‘n hoerende drel, ‘n kwakkerige kwal!
In die Swartsee vreet uitheemse kwalle
hulle sakke vol aan plankton
sodat skole ansjovis uithonger en vrek.
Ongenooid dring hulle deur die poort,
ongelys die huurvroue, hierdie wiebelrige pofbroeke,
onwelkom, maar eis nogtans hul prys.

In “Ertjiesop”(p. 15) verneem ons:

“Vandag lyk die see pure snert
dik van dweil wees”.

Elke denkbare sonde van swak dig staan hier: oordrywing,  geen interne spanning, die Groot Gebaar, uitmorsing van gesogte beelde, uitroepe, soel taalgebruik, dig verby die natuurlike slot, koersloosheid, ellipse en uitroepe, Hoofletters, retoriek, e.d.m.
Moenie die banale vergeet nie:

 “’n ongeskonde oujongnooi, onbeklad, ongerad,  ongenaai” (p. 68).

Die bundel is ‘n verleentheid, ‘n groot verleentheid. Veral as ‘n mens in gedagte hou dat sy die Ingrid Jonker-prys verower het.

Hoekom is hierdie bundel hoegenaamd gepubliseer?

As jou ma Judy Garland is, gaan jy aan haar gemeet word. Dit het Liza Minnelli op die harde manier geleer. Minnelli het wel baat gevind hierby in haar vertolking in Cabaret, maar daarna was dit afdraande-pad.

As jou pa D.J. Opperman is, soek jy vir moeilikheid om binne dieselfde genre te werk.

Nou ja, die voorblad – deur die digter self – som dit alreeds op. Per geleentheid het die uwe hierdie digter Trienke Laurie as die digter van uitroepteken beskryf.

Uitroepteken het vraagteken geword.

Hoe kan ‘n mens so ‘n bundel publiseer?

In “Die duister put” word die titel verklaar.

Met hierdie bundel word ‘n nuwe laagtepunt binne die Afrikaanse digkuns ingelei (ingely?).
Barok-oordaad in die ergste graad.

“Vandag sien ek ‘n klokkie lê  -
‘n klein koperklokkie”, dig sy oor Francesco die nar.

En ek seg Trieng, trieng (roomys)lorrie.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]