Philip Roth: Everyman. Jonathan Cape, 2006. ISBN: 0 224 07869 0.
Resensent: Joan Hambidge
Deur die jare het Philip
Roth ‘n ongelooflike bydrae gelewer tot die romankuns: Portnoy’s complaint, American pastoral, I married a communist en
natuurlik: The plot against America,
om enkele tekste uit te sonder. Hy is saam met Saul Bellow vir my die
belangrikste Amerikaanse skrywer wat veral betref die vermoë om die Amerikaanse
leefwyse en die moderne mens se filosofiese vraagstukke oor dood en lewe te
ontrafel.
Die jongste heet Everyman. Elkeman, dus. Hiermee
aktiveer Roth die gesprek met die 15e eeuse allegorie en die mens se soeke na
sin in sy lewensloop. Meer nog, aktiveer dit ook die Tarot en Jung se siening
dat die mens uitendelik in sy dood deel word van die kollektiewe onbewuste en
dus ego-loosheid.
Roth is Joods en die roman
betrek dus die verhouding met die familie, die vader en moeder en die
hoofkarakter, ‘n suksesvolle advertensie-man en later in die aftree-oord ‘n
skilderleermeester, was driekeer getroud en met ‘n veelheid van
liefdesavonture, word opeens bewus van sy eie sterflikheid wanneer sy liggaam
ingee. Die roman begin met sy eie
begrafnis wat sy eie mortaliteit
aktiveer en op bladsy 71 lees ons: "...but now eluding death seemed to have
become the central business of his life and bodily decay his entire story”.
Die
verhaal speel in New York af en die karakter het 2001 na ‘n aftree-oord in
Jersey Shore verhuis.
Die begin roep Faulkner se As I lay dying op. Die fokalisator is
in die derdepersoon-vertelling aanwesig en kan dus die beperkende grense van
die belydende ek-verteller sodanig oorkom. Om deel te word van die aarde word
egter aanvanklik as versmorend ervaar wanneer hy sy eie vader, ‘n juwelier, se
begrafnis in die herinnering roep. Dit word goed in jukstaposisie geplaas met
die slot en ‘n gesprek met die grafgrawer vir wie dit ‘n belangrike taak is om
elke graf eiehandig uit te grawe sodat ander grafte nie in die proses beskadig
word nie.
Oudword, en wat dit alles
behels, word as ‘n ramp beskryf en die vertelling beweeg in ‘n sirkelgang met
herinneringe aan oortredings – ‘n genotvolle liefdesoortreding in Parys word
deur sy vrou as die laaste strooi ervaar. In ‘n kortstondige gesprek met ‘n
drawwende jong vrou, wat aanvanklik blyk belang te stel in sy attensies, word
hy helaas later ontnugter wanneer sy nie terugbel nie. Die leser word aan
herinneringe van ervarings en oorwinnings wat onder andere ‘n grensoorskrydende
seksuele interlude op ‘n mat met ‘n sekretaresse behels.
Dit is ‘n korterige roman,
maar gelaai met subtekste en heenwysings na ander romans en die werklikheid. In
welke mate is die teks outobiografies? Ons weet dat Roth se een vrou hom met ‘n
hofbevel die swye probeer oplê het en dat hy, haar chagrin ten spyt, bly skryf
het.
Is Phoebe op haar gebaseer?
Vir my was dit ‘n aangename
leeservaring, maar lesers wat ‘n roman van The
human stain se reikwydte verwag, sal moontlik teleurgesteld wees.
Tog moet hierdie teks gelees
word as ‘n moderne allegorie.
Die vraag is of die skrywer
– as ouerwordende romanskrywer – nie dalk die teks moes uitbrei nie? Of is dit
juis die punt: dat ‘n roman ook hierdie proses verraai?
By ’n skrywer van Roth se
formaat is die oeuvre één tapisserie. ‘n Mens herken kniebuigings na Portnoy’s complaint en die hele
Portnoy-reeks word as’t ware hier in die lewe geroep. Roth, soos John Updike,
se métier was nog altyd die selfrefleksiewe outeur wat nadink oor die komplekse
verhouding tussen lewe en kuns; en: die lewe en dood.
Everyman is
waarskynlik ‘n letterkundige testament, ‘n afsluiting van ‘n lang, ryk
skryfloopbaan waarin Joodsheid, die Amerikaanse moralisme (of gebrek daaraan),
liefdesverhoudings, die skryfkuns onder die loep geneem is. Roth, soos Saul
Bellow, skryf nie romans nie. Hulle gee insig in dit wat agter die romankuns
beweeg: die lewe en ‘n mens kan altyd aanhaal uit hul boeke – veelvuldig en
tersaaklik.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Volksblad geplaas.]