Thursday, February 14, 2013

Rhonda Byrne - The secret (2007)



Rhonda Byrne. The secret. Simon & Shuster, 2007. ISBN 13 978 1 8 473 7029 7.

Resensent: Joan Hambidge


Ons is nie alleen van vlees en bloed nie. En dit wat dit bevraagteken, skep dikwels ‘n nuwe Evangelie. In ‘n lang rits boeke oor die Onsienbare verskyn The Secret van Rhonda Byrne.
Plato, Shakespeare, Newton, Hugo, Beethoven, Lincoln, Emerson, Edison, Einstein het glo in die “geheim” geglo.

Dan begin ‘n mens die boek te lees wat in ‘n soort outydse aanslag gepubliseer word, maar terselfdertyd word hierdie gevoel ondermyn omdat die boek op glanspapier gedruk is.
Ons verneem onder andere dat ons gedagtes ‘n energie skep.

“You are the most powerful transmission tower in the Universe. Your transmission creates your life and it creates the world. The frequency you transmit reaches beyond cities, beyond countries, beyond the world. It reverberates throughout the entire Universe. And you are transmitting that frequency with your thoughts!” (p. 11

Dus as jy jou gedagtes verander, kan jy die jou lewe verander. Ensovoort.

Natuurlik is dit so dat ‘n mens se uitkyk op die lewe dinge draaglik(er) kan maak; dit kan helaas nie die onverwagse binnetrede of fata afweer nie.

Die daaglikse praktyk van dankbaarheid waarborg geluk. En ons lees ook – tussen die lyne – hoe sukses = geld jou lewe kan verander.

As jy positief dink oor geld, kom dit maklik (aldus Loral Langemeier).

Daar word dikwels mense buite konteks aangehaal. ‘n Figuur soos Ralph Waldo Emerson gooi ook hier ‘n draai (“Success comes from within, not from without”, p. 107).

‘n Kollega in die Korporatiewe Wêreld weet te vertel dat hierdie boek in die besigheidskringloop opslae maak en dat almal van hierdie boek praat. Dis nie die soort boek wat George Claassen, wetenskapkenner, sal waardeer nie.

Daar is eweneens ‘n film.

Fokus op dit wat die belangrikste is in jou en die wet van aantrekkingskrag sal nog meer goeie dinge na jou toe bring.

So besluit: gaan hierdie resensie snippermandjie toe of glo u die resensent?

The Money or the Box?

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]