Dan Wylie. Road
Work. Echoing Green Press, 2007. ISBN 978 0 9802501 38.
Resensent: Joan
Hambidge
Vir sy bundel The Road Out (1996) het die digter Dan
Wylie die Ingrid Jonker- en Olive Schreiner-pryse behaal. Sy nuwe bundel heet Road Work. Jack Kerouac se On the road het die definisie van skryf / reis vir ewig verander.
Dit is ook ongelooflik hoe Kerouac en die Beats steeds met ons bly. Ons bly
steeds terugkeer na daardie ongelooflike roman wat in een waansinnige vaart
geskryf is. Vir my bly Allen Ginsberg onder andere ‘n digter wat eweneens
tydloos bly. En die kreatiewe energie kan nie nageboots word nie.
Dit is nie
korrek om ‘n bundel te resenseer wanneer jy
as keurder opgetree het nie. Jou subjektiewe oordeel mag deurslaan in
jou bespreking. Dit is egter heeltemal aanvaarbaar om ‘n bundel te bespreek
indien dit wel élders verskyn. Juis omdat die bundel by ‘n uitgewershuis
weggewys is, omdat daar net drie bundels per jaar kan verskyn, mag jy daaroor
skryf.
Daar is in hierdie bundel soveel onthoubare gedigte wat verskillende reiservarings karteer. Daar word na etlike buitelandse plekke gereis, maar die Suid-Afrikaanse landskap word terselfdertyd verken.
In Afrikaans is daar die onvergeetlike reisgedigte van Uys Krige. Die reisgedig werk altyd met die spanning tussen die bekende en die onbekende. En dikwels hoé verder die digter van die huis staan, des te beter kan dit begryp word.
Die openingsgedig
heet dan “Touchdown” geskryf uit Perth. Met ‘n datum wat aan hierdie bundel ‘n
soort reisverslag of –dagboek-aanslag gee.
Wanneer die vader aangespreek word, verwys hy na die “cockpit of dreams”” (p. 5), beelde bekend aan sy lewe. Die vader word later weer aangespreek op ‘n reis in die gedig “Tropic of Capricorn 4” (p. 49) wanneer hy besef die vader is sterwend.
In “Three Greek poems”, elegiese verse, word die die dood van die vader gekarteer:
You are my
cargo.
You drag like
barnacles at my keel.
You are the
motor vibrating in my belly (p. 57).
Verskillende
kontinente word bestryk in “trains, plains and automobiles”. In die aangrypende
vers oor “Chichester Cathedral” (p. 12) word die katedraal van buite beskryf;
dit word egter ook ‘n simbool van die digter se belewenis van homself.
Die digter het
‘n voorkeur vir die langer vers en dikwels is daar uitgesponne prosaverse. Sodanige verse vereis ander bindingseise,
omdat die vers dikwels verby ‘n normale slot kan verby beweeg of gewoon ‘n
arbitrêre indruk laat oor wat in of uitgelaat kan word. Hierdie soort vers is
dan dikwels in wese metonimies van aard, ofskoon Wylie sterk beelde skep wat ‘n
mens bybly:
”The stitching
of railway tracks” of “some deaths elude all archeology”.
Of “the vulnerable heart is sealed in speed”.
In die vier
afdelings word sowel die vreemde as die eksotiese landskap onder woorde
gebring. Die gevaar van so ‘n tipe gedig is dat dit maklik in “travelogue” kan
ontaard of ‘n blote gevoel van ek-was-ook-daar. Die gevaar word nie altyd
ontkom nie, maar in gevalle waar die digter dit laai met mitlogiese verwysings
soos “Prometheus in the Andes” (p. 74) of aandag gee aan die skryfhandeling
soos in “Café” (p. 69) beweeg die gedig verby die poskaart-oomblik.
If by travelling
we intend to
confront the obstacles
of strangeness,
then why
does this path
along the river
snake along the
line
of least
resistance? (“If by travelling”, p. 76).
Daar is vele
leesplesiere aanwesig in hierdiebundel.
Aan die negatiewe kant – soms word ‘n gedig aangekondig as ‘n Aubade (p.
32), maar ons sien helaas nie veel van ‘n ondersoek na die eiesoortige eise wat
die vorm stel nie.
Hier is wyd en
ver gereis: van die Limpopo tot doer by die Tierra del Fego, tot by Perth en
dan weer tot in die VSA.
‘n Rustelose siel se dagboek.
Die bundel kan bestel word by Echoing Green Press, Posbus 12194, Empangeni, 3880. Dit beslaan 82 bladsye.
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]