Mike Nicol
& Joanne Hichens. Out to score. Umuzi, 2006. ISBN 141 152
000 2 5.
Resensent:
Joan Hambidge
Mike Nicol
& Joanne Hichens se Out to score
gebruik Kaapstad as die agtergrond vir hierdie kriminele roman. Crime fiction
staan daar op die agterplat van hierdie boek, uitgegee deur Umuzi, met twee
outeurs.
Mullet Mandes
is ‘n voormalige polisieman wat nou PI is. Geweld, leuens, verraad – alles
bekend aan hierdie sub-genre word in hierdie roman ondersoek. Daar is geen
romantisering van die PI-bestaan nie. Dis nie ‘n Magnum wat rondrits in blink
motors en knipoog vir die kamera/leser/kyker nie.
Dit is ‘n
wêreld bekend aan Raymond Chandler-karakters: waar doodslag en psigopatiese
optredes aan die orde van die dag is. Die hele herdefinisie van die sub-genre –
met Carl Hiaasen se Striptease as
voorbeeld – stel dis geweldige eise aan die skrywer(s) wat hom of haar in
hierdie vaarwaters bevind.
Nicol is
bekend aan ‘n bekroonde en ernstige outeur en nou waag hy ‘n hand aan die
‘gritty crime thriller’- met goeie gevolge. Die roman begin met die regte
aanslag: Mullet wat vir die ‘new bird’ in sy lewe ‘n abalone-steak maak. Die
leser word blitsvinnig ingelig oor presies wat dit is op bladsy 7.
Al die bekende
noemers van hierdie roman is hier aanwesig: ‘n vinnige vertelpas, ‘n fokus op
die leidrade wat gelaat word vir die speurende leser. Die gedrag en reaksie van
hoofkarakter en newe-karakters op die gevaar waaraan hulle blootgestel word is
uiteraard van die fokus van die roman. Hierom, soos bekend aan hierdie
sub-genre, is daar altyd ‘n klein oomblik van menslikheid: die straatkind wat
op die agterstoep tuisgaan, maar terselfdertyd homself ontbloot en dus weer
speurder laat terugbeweeg op kilheid.
Nie om dowe
neute nie word die begrip afrodisiak gebruik om hierdie bestaan te verduidelik.
Die roman is
baie knap geskryf. Dis ‘racy’ en dit gee ‘n besonder negatiewe blik op die
huidige samelewing waarin dwelms, haweloosheid, bedrog en ander donkerhede al
hoe meer besig is om sy tol te eis. Wat vir die speurende leser eweneens lonend
mag wees, is dat die stad se plattegrond duidelik beskryf word. ‘n Mens beweeg
saam met die karakters na bekende restaurante en bakens.
As hierdie ‘n
film was, sou dit ‘n PG-gradering gekry het weens die vuige taal en die sterk
uitlatings. Hoe dan anders? By die lees van die roman het ek gedink aan
Polanski se film Chinatown en opnuut
besef dat goeie misdaadvertellings in staat is om die ‘underbelly’ van ‘n stad
te koppel aan seksuele vergrype. Só beskou, lewer hierdie sub-genre sterk
sosiale kommentaar. Dit is dikwels ‘n sub-genre waarop mense neersien; ofskoon
‘n karakter soos Maigret juis gespruit het uit die komplekse, wroetende psige
van Georges Simenon, die ongekroonde speurverhaalskrywer neffens Agatha Christie.
Joanne
Hichens, ‘n vriendin van Nicol en ‘n student van die UK se Kreatiewe
Skryfwerk-afdeling het saam hierdie boek geskryf. Wie het wát gedoen?
Het die een
die plot uitgewerk en die ander een die storie geskryf?
Mevrou Nabokof
het dikwels tekste van haar beroemde man vertaal, maar waar word die grense
getrek in hierdie soort kollaborasie?
Of is dit ‘n
roman wat op verregaande wyse kommentaar lewer op Barthes en Foucault se
siening van die sogenaamde “dood van die outeur”? Jerry Palmer se gesaghebbende
studie oor hierdie sub-genre het vir altyd my leesbenadering (ten goede)
beïnvloed. Hy wys op die patrone tussen skurk en held en in watter mate die
karakters deur paranoïa beheer en saamgesnoer word. En in welke mate “machismo” die vertelling
beheer. (Gevoelige lesers sal verlief moet neem met vloekwoorde, kru
seksbeskrywings en ‘n uitsiglose bestaan.
Hierdie mense se morele struktuur is
aan flarde. Die karakters het nie “a licence to kill nie”, maar is nietemin
bewapen en die ‘held’ se meisie word in die Intensiewe Eenheid opgeneem – raai
hoekom...
Miskien is
Mike Nicol ons antwoord op Graham Greene, ‘n skrywer wat daarin kon slaag om ‘n
ernstige roman uit hierdie sub-genre na vore te bring.
By Nicol nog
nie heeltemal dieselfde struktuur of
aanslag nie, maar nietemin ‘n goeie leeservaring.
Bron:
Palmer, Jerry: Thrillers - Genesis and structure of a popular genre. Edward
Arnold, Londen. 1978.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]