Friday, February 15, 2013

David Farrel - A book of lives (2007)



David Farrel. A book of lives. Protea Boekehuis, 2007. ISBN 978 1 86919  185 6.

Resensent: Joan Hambidge

Wat ‘n ongelooflike bundel, wil ‘n mens uitroep. Van die oomblik wat ‘n mens hierdie pragtige voorblad sien van ‘n man wat afstap op ‘n wandelpad in ‘n Engelse dorp: aan die een kant ou huise, aan die ander kant nuwe gebou met ‘n rivier wat die twee skei, wil jy die bundel oopmaak. A book of lives van David Farrell – met ‘n outydse tikmasjien-skrif op die omslag – is ‘n bundel wat jy letterlik nie kan neersit nie.

Die digter is ‘n Londenaar, woonagtig in Kaapstad en die skrywer van The Charlie Manson False Bay Talking Rock Blues wat in 1974 verskyn het.

Die nuwe bundel het met my gepraat. Dit is gedigte wat jou in die maag tref: soos ‘n gedig waar die spreker tob oor die dood van sy hond by die veearts, sy eks raakloop en weet hoekom hulle ‘n verhouding gehad het, en terselfdertyd weet waarom dit misluk het.
Dit is gedigte soos die verse van James Dickey (1923 – 1997), daardie ongelooflike Amerikaanse digter en die skrywer van Deliverance. Dit draai nie doekies om nie. Dit tref jou met ‘n skerp aanslag soos in “Borderline, 1979”:

‘They are mopping up’, the radio says.
Human bodies are cleaved less carefully
Than chicken breasts. It’s only a sleepwalk
From the kitchen sink to the blood bath. (p. 28).

Soos die digter dan opmerk: “the carving knife’s edge to bright / keenness for some plump thing to cut” is die beste beskrywing vir die werkswyse in hierdie bundel.

Dan is daar “The waiting room” wat ‘n siniese blik op die lewe, dood (‘n selfmoord o.a.) en die einde van ‘n verhouding weergee:

Don’t wait here. Go out and marry the sun
For there is nothing to mourn but our silence.  (p. 33)

‘n Gedig oor miet word ‘n klein ars poetica wanneer al die lettertjies soos miet oor die papier versprei.

Daar is verse oor die natuur, ‘n spel met die I Ching, en ‘n gevoel van ontnugtering. In ‘n gedig soos “Worship” verduidelik die spreker – terwyl hy na Gigli se vertolking van La donne è mobile luister – dat juis omdat die verlede perfek was, is die ervaring van die hede so somber, so volledig verlore.

In “Second Person Singular” gee hy ‘n interessante blik op die geskryfde in die gedig se posisie, naamlik dat hy/sy die gedig mag toe-eien, al word verskillende jy’e in die aangesprokene verpak.

And so you rise glowing from the cold coals
Of words to claim this page as your own (p. 53).

Daar is ‘n aangrypende lykdig vir Lionel Abrahams (“The Garden of Lionel”) en een oor die vader (“Burial Ceremony”).

Die afwesige vader word aangespreek, maar terselfdertyd karteer die spreker die verlies aan die vader en vertel hy hoe sy lewe as kind verloop het op ‘n ontroerende wyse wat hy as sý epitaaf beskou.

Teenoor die moeder s’n op die vader se graf in Normandië waar die vader tydens die oorlog gesneuwel het in 1944.

Dit is ‘n gedig wat eweneens vra vir ‘n saam-lees met Johann de Lange se pynlik-eerlike verse oor die verlies aan sy vader waarin die verlies en verdrietige afskeid in vers na vers ónbesweer bly.

A book of lives is ‘n bestekopname van ‘n lewe, verlies en winste, in ‘n handvol sterk, driftige verse.

Die bundel is opgedra aan Lionel Abrahams en op die agterplat staan hierdie vers:

Forward. Forward.

If only my slug would cease
if the endless wanting would wither
then I who live in the curl of the shell
would sing to the end of the shining trail.

En dit spreek boekdele.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]