Ebbe Dommisse & Willie Esterhuyse. Anton
Rupert, ‘n Lewensverhaal. Tafelberg Uitgewers, 2005. ISBN 0624 04151 4.
Resensent: Joan Hambidge
Ons kan saam met konings eet, maar ook met
bedelaars aansit, oftwewel: Van Voorbrand tot Rembrandt. Beskeie heet die
sub-titel “lewensverhaal”, asof Ebbe Dommisse met die samewerking van Willie
Esterhuyse wil sê dat hierdie net een perspektief is op die sake-ikoon, Anton
Rupert. Die biografie neem ‘n vele vorms aan. Daar is al ‘n biografie oor ‘n
stad (Londen) geskryf, Jean-Paul Sartre het as filosoof sy skatpligtigheid aan
Jean Genet bewys; Edmund Wilson het Genet van alle kante beskou en daar is tans
in Parys ‘n ligte skudding oor vermeende plagiaat-aantygings in Jean-Paul
Sartre se skryfwerk. Wat is Paul Johnson se Intellectuals dan anders as
mini-biografieë van groot intellektuele se teenstrydige optredes? Daar waar die
lewe dikwels die filosofie ondermyn of teëpraat.
Die afgelope paar jaar het J.C. Kannemeyer
lang studies oor bekende skrywers gepubliseer, o.a. Uys Krige, Leipoldt,
Langenhoven, nou onlangs Jan. S. Rabie. Die groot verlange oor Marais deur Leon
Rousseau bly steeds ‘n baken in ons letterkunde, ten spyte van Johann Lodewyk
Marais, self ‘n digter, se kritiek op Rousseau se werkswyse. Die twee bande oor
Van Wyk Louw deur J.C. Steyn is eweneens ‘n grootse werk.
Advokate verwys na ‘n groot saak as “my
man”; vir soveel jare moet jy elke poging aanwend om die persoon te verdedig
teen aanklagte en probeer jy sy motiewe verstaan. Nou onlangs het Leon Rousseau
ook bely in By (Die Burger) hoe Marais steeds by hom spook en dat dit vir hom
onmoontlik sou wees om ooit weer ‘n studie van hierdie omvang aan te pak. Daar
word vertel dat ‘n stewige ondersoek na iemand anders se lewe ‘n obsessiewe
preokkupasie kan word.
Ek is ‘n ywerige biografie-leser en die
Rupert-boek, uitgegee deur Tafelberg, is ‘n imposante studie met ‘n handige
indeks, bronne, erkennings aan onderhoude wat toegestaan is, tydskrifte,
artikels en ander tekste. In my bespreking gee ek dan kanttekinge op dit wat my
geboei het in hierdie ryke studie; ‘n politieke ontleder, historikus, filosoof
of sosioloog sal weer die fokus anders laat val.
Hierdie is my kersgeskenk aan
my vader, ‘n kenner van die politieke landskap van die Afrikaner en ek kan nie
wag om sy kommentaar aan te hoor nie. Van die stamboom, die beginjare in
Graaff-Reinet, die agtergrond van hoe die voorvader hier aangekom het, word die
leser voorgestel aan die ruimte waarbinne hierdie besonderse mens sou
ontwikkel. Waarskynlik het die gene van die hardwerkende oupa deurgeslaan op
Rupert. Op ‘n fassinerende wyse word die jeugjare beskryf, die
deursettingsvermoë, die verhouding met Dirk Hertzog, die lewe eers in die ou
Transvaal en dan op Stellenbosch waar bekendes hulle lewe kruis. Iemand soos
professor Yeats, en natuurlik, Opperman. Die lojaliteit jeens Rupert van sy
werkliede word met groot oortuiging beskryf en die werk van sy eggenoot wat
haar beywer vir pensioene vir vroue, is feministies relevant. Ten einde die
figuur Rupert te begryp, word die “back drop” van die indertydse politieke en
sosiale omstandighede belig.
‘n Fassinerende stuk – vir my altans - is
die beskrywings van ‘n reis deur Afrika en Rupert se opstand teen kolonisering.
Vermaaklik ook sy ervaring van ‘n vlugvertraging en hoe rooi rose ‘n tydige
plek kan verseker in Egipte!
Natuurlik is Alf Ries en Ebbe Dommisse se Broedertwis
(1982) in die bronverwysing, met Opperman se Groot verseboek! Opperman was veel
aan hierdie magnaat verskuldig; hy is immers op ‘n uitgebreide Europese toer geborg
deur Rupert (pp. 470 - 472). Dolosse is deur hierdie reis geïnspireer en
Opperman het later sy drama Vergelegen aan Rupert opgedra.
Rupert se bydrae ten opsigte van die
vertaling van gedigte in Engels en Duits word onder die loep geneem. Dit is
duidelik dat sy belangstelling en liefde vir die kuns (sy ondersteuning onder
andere van Mimi Coertze en sy gedagte om ‘n monument vir die Gebroeders Louw)
egter nooit met sy sakesin ingemeng het nie. In ‘n stadium as grootste
aandeelhouer van Human & Rousseau gee hy wyse raad oor die bemarking van
boeke!
As weldoener hy het hy verder Jean Welz en
Irma Stern vereer met glansboeke, die navorsingsenstrum aan die voormalige
Universiteit van Bophuthatswana ondersteun, die Boekehuis op Calvinia geopen.
Sy intelligente lesing oor Afrikaans toe hy van die FAK ‘n erepenning ontvang
het in 1987 is steeds lewenskragtig.
Daar is vele anekdotes – vanselfsprekend –
wat ‘n lig werp op hierdie fenomenale man: hoe hy onder andere in Mosambiek op
Chissano wag, maar dan eerder die tyd verwyl in ‘n restaurant toe die afspraak
van 10 uur eers drieuur die middag plaasvind. Die rede vir die wag? Hy is in sy
hart oortuig dat die idee van ‘n vredespark vir sowel Mosambiek as Suid-Afrika
van waarde sal wees.
Uit hoofde van sy
geweldige rykdom word hy en sy vrou gedurig oorval deur versoeke vir geldelike
hulp of skenkings. Hierop is Rupert se wyse kommentaar altyd dat die persoon of
instansie die eerste helfte moet vind; hy sal dan die res bydra! Ten spyte van
sy geweldige rykdom, bly hy spaarsamig leef.
Enige mens se lewe moet teenslae verduur;
hiervan is die ontydige dood van sy seun, Anthonij, ‘n voorbeeld en die
trooswoorde van Mandela onthoubaar. Sy dogter se oogprobleme en delikate
operasies wat haar sig verbeter het.
Dommisse as skerpsinnige politieke ontleder
vra watter effek dit op ons politiek sou gehad het indien Rupert tot die
politiek sou toetree? Rupert het egter homself buite partypolitiek gehou, met
‘n gesonde afstand. Waarskynlik het die biograaf gelyk wanneer hy meen dat die
land sou baatvind by Rupert se toetrede en dat daar “waarskynlik ‘n veel sagter
en mensliker verloop” sou wees (p. 500) Politieke ontleding in waarskynlikheid
of hipotese bly altyd ‘n fassinerende spel; dit is ongelukkig nié toetsbaar
nie. Die verwysings na Jung, Plinius en ander intellektuele, maak van die boek
‘n leesplesier. Giliomee beskou hom as een van die vyf grotes in die panteon
van die Afrikanerdom.
Soos Opperman verwys het na Rupert in Komas
uit ‘n bamboesstok:
Hy, Prins van die Handel,
het my op Pegasus laat klim;
Die paaie oor die berge
is jou kim!
Ek het die grote Rupert nog nooit
persoonlik ontmoet nie; hom wel in ‘n Stellenbosse restaurant, Decameron, sien
sit met bekendes by sy ronde tafel in die hoek van die restaurant. Op ‘n keer
saam met sy biograaf wat met hierdie studie méér as ‘n lewensverhaal vir die
leser bied: dit word ‘n analise van ‘n sosiale tydperk, van taalpolitiek,
sieninge oor finansies, oor Afrikaanse adel. Kortom, ‘n studie oor ‘n
Renaissance-man, wat Thabo Mbeki tereg ‘n wyse ou man noem.
Van depressie-kind tot een van die rykste
mense op aarde, bevriend en bekend met vele beroemdes.
Is ‘n biograaf ‘n pleitbesorger vir sy
onderwerp? Kan ‘n biograaf ooit werklik objektief wees, omdat hy/sy meegesleur
word deur die motiewe en oortuigings van sy onderwerp? Hermione Lee het in haar
epogmakende studie oor Virginia Woolf waarskynlik die onderwerp té veel
ver-objektiveer, terwyl Janet Malcolm oor Sylvia Plath skryf met die wete dat
daar nie een Sylvia is nie; maar verskeie, gegee die hoek waaruit jy haar
bekyk.
Die voorwoord van die Rupert-biografie erken rondborstig dat die
navorsing lank was en dat hulle nie ‘n goedkeurdende biografie wou lewer nie, maar
eerder ‘n studie wat die toets van die tyd sou deurstaan. Hieroor, weet ons, kan
net die tyd helaas oordeel.
Vir my is Ebbe Dommisse, voormalige
redakteur se lewensverhaal van Anton Rupert, met die bystand van Willie
Esterhuyse, filosoof en politieke ontleder ‘n puik werk met ‘n balans tussen
objektiwiteit en die gawe om die persoon onder bespreking helder en duidelik te
teken. Veral omdat dit ‘n mens ‘n goeie insig gee in hoe die politieke tye
verander het. Hier is die verhouding met Beyers Naudé belangwekkend.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Litnet (Seminaarkamer) geplaas.]