Showing posts with label Tom Wolfe. Show all posts
Showing posts with label Tom Wolfe. Show all posts

Tuesday, March 26, 2013

Tom Wolfe - A man in full (1998)



Tom Wolfe. A man in full. Jonathan Cape, 1998. ISBN 0 224 0306 1.

Resensent: Joan Hambidge

Tom  Wolfe het in die sewentigerjare bekendheid verwerf vir sy New Journalism-tekste, oftewel faksie. Vertellinge waarin die  tydsgees joernalisties, “objektief” ondersoek word met 'n skeutjie fiksionalisering daarby. Hiervan was Radical chic & mau-mauing the flak catchers (1970) vir my die innoverendeste en The electric cool-aid acid test (1968) insgelyks belangrik.

Daar is ook tekste wat gewoon studies wil wees soos The painted word (1975) en The right stuff (1979. Verder het sy roman The bonfire of the vanities (1987) 'n nuwe begrip aan die term best-seller gegee met die suksesvolle verkope. Ook die film was interessant.

Wolfe se ander bekende waarmerk is sy dandyisme, sy “natty” skoene en pakke. Die outeur as stylvolle poseur.

Die jongste roman A man in full maak opslae. Die New Yorkse kritici wys tandjies en naeltjies. Is die lewe lank genoeg dat 'n mens so 'n lange roman kan inpas?, vra 'n bitsbek. En ag, is Wolfe darem nie nou weer aan die rol nie? 742 bladsye? Ook word dit bemark as die roman waarna die meeste uitgesien is in die twintigste eeu!

My liefde vir lang, deurgekomponeerde romans is bekend. Gee vir my 'n lang Flaubert of Balzac en ek is stil; of Byatt se The babel tower. A man in full is gewoon net wat omvang betref, 'n prestasie. Daar is skerp dialoog en helder beskrywings van 'n komplekse gemeenskap: die VSA aan die einde van die twintigste eeu.

Die storie: Atlanta, Georgia. Charles Crocker, 'n voormalige voetbalspeler en nou verloopte magnaat met 'n landgoed waarop kwarteleiers geskiet word. Conrad Hensley, in Oakland, ontdek die gatkant van die Amerikaanse regssisteem en verder is daar aantygings van “date rape” teen Fanon, 'n agtergestelde - met al die implikasies van 'n swart-wit-spanninge.

Dit is 'n ambisieuse roman met 'n wye doek-aanslag.  

Die bemarking alleen was by die $500 00m en ongeveer $1.2 miljoen is gespandeer op die druk van die boek. Dan praat ons nie eens van die regte wat die skrywer gekry het om die boek se regte aan Rolling Stone -tydskrif te verkoop nie ($600 000).

Die roman analiseer die Amerikaanse obsessie, te wete geld en skuld. Deur New York af te speel teenoor Kalifornië word die volledige Amerikaanse droom betrek. Die roman is 'n antwoord op F. Scott Fitzgerald se The great Gatsby, meen 'n kritikus. Maar dan 'n roman met groter kwashale geskilder as eersgenoemde.

In die karakter, Charlie Croker, 'n man in sy sestigerjare – hy word ook op die voorblad van die roman afgedruk as mens die skutblad oplig – word 'n tipiese Balzaciaanse gegewe behandel: as jy diep in die skuld is ($5 00 miljoen) word jou mens-heid en eer diep beproef. Veral as geld deur die jare dit so gerieflik gemaak het om van die goeie waardes te vergeet...

In die film, Cousin Bette word hierdie situasie ook behandel; met Jessica Lange as 'n aangrypende Bette.

Lees Wolfe. Hy het baie belangrike dinge te sê oor die moderne samelewing aan die einde van 'n millennium.

As kultuurwaarnemer word daar skerp kommentaar gelewer op 'n gemeenskap van “thugs” en terapie. Die geweld van hierdie samlewing word byvoorbeeld baie oortuigend beskryf op bladsy 675 in Wolfe se kenkmerkende staccato-styl.

En hoe briljant, ondergesteld kan Wolfe nie beskryf nie. Wanneer Jill (p. 262) verneem dat daar geen geld meer oor is nie, word die leser oortuig van die totale verplettering.

Die slotsin lees ek as 'n waarskuwing dat daar dalk 'n opvolg mag wees...

Om so 'n roman op 'n tikmasjien te kon skryf, wil gedoen wees.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]

Monday, March 11, 2013

Tom Wolfe - Hooking up (2001)



Tom Wolfe. Hooking up. Jonathan Cape, 2001. ISBN 0 224 06119 4.

Resensent: Joan Hambidge

Hooking up van Tom Wolfe dra die sub-titel "essays and fiction". My sy laaste roman in 1998 A Man in Full het Wolfe waarskynlik bewys dat hy die langste roman in die wêreld kan skryf sedert Proust se Remembrance of things past, maar dat hy sy leser ook intens kon verveel.

Tereg is op hierdie roman baie ink verspil in die New Yorkse boekebylae en tydgenote was nogal katterig oor sy poging tot die "great American novel". Amerikaanse romansiers poog om hierdie groot roman te skryf wat die Amerikaanse psige en leefwyse sal opsom. John Updike, Thomas Pynchon, Norman Mailer, Saul Bellow e.a. het al bygedra tot hierdie mitiese roman en hoewel Vanity's Rainbow en Humboldt's Gift uitstaande romans is, sou 'n mens kon aanvoer dat Melville se Moby Dick dit alreeds presteer het.

Maar Wolfe mag miskien misluk het in sy poging om die Amerikaanse psige via 'n roman goed te karteer, maar as essayis en beoefenaar van "new journalism" het hy skitterende analises gemaak. The Kandy-Kolored Tangerine-Flake Streamline Baby (1956), The Electric Kool-Acid Test (1968), Radical Chic & Mau-Mauing the Flak Catchers (1970) staan sterk in die herinnering, nes The Right Stuff (1979) of The Bonfire of the Vanities (1987).

Dit is dus 'n imposante oeuvre en die bydrae tot kunskritiek The Painted Word (1975) bly 'n baken. Ook is daar 'n doktorale studies behaal in "American Studies". Op die voorblad van die jongste versameling, Hooking Up word die dandy Wolfe sitgemaak voor 'n portret van homself. Gewoonlik is hy voor die tikmasjien; op sigself 'n prestasie om soveel woorde op dié manier te kon produseer.

In "My three stooges" kritiseer hy Upidke, Irving en Norman Mailer vir hul snedige aanvalle op A Man in Full. In 'n briljante analise van die huidige stand van die Amerikaanse roman, besluit hy dat films waarskynlik die afgelope dekades reggekry het om meer naturalisties te wees as romans. Hierdie 'apologia pro domo' word 'n uitmuntende analise van presies wat skort met moderne romans: dit is anoreksies. Die roman is nie meer in die lewe geanker nie, maar sit vol idees. Lionel Trilling en die hele akademiese leefwyse word die skuld gegee vir presies wat verkeerd gegaan het met die Amerikaanse roman. Dit is hoogstaande polemiek, want elke uitspraak word met 'n voorbeeld toegelig.

Dit is 'n essay wat verpligte leesstof moet wees aan universiteite wat met film- en mediastudies die studie van klassieke letterkunde afskeep in 'n poging om jong studente se voorliefde vir die efemere mediastudies te bevredig.

In die "Foreword:Murderous Gutter Journalism" word die oeroue waarheid bewys. Moenie met 'n koerantman sukkel nie! Intriges kry uiteindelik hul lê en die sage met die opgeblase New Yorker word kwistig vertel.

In 'n puik essay "In the land of the Rococo Marxists" word nie alleen 'n analise van trends in die moderne denkwêreld gemaak nie, maar die leegheid van uiversiteitdenke ook aan die kaak gestel. Dit, hoop hierdie leser, sal elke universiteitsdosent lees. Sy skerp siening van Stanley Fish ('n "lapsed Milton"-kenner) is in die kol. In "Hooking up", die eerste essay, word 'n amusante analise gegee van seksuele kodes en mores in die VSA. Van tieners tot Bill Clinton en die Lewinsky-sage is daar.

Die versameling bewys dat Tom Wolfe geen gelyke het as 'n analis van die moderne denke nie. As "new journalist" is hy ook uitstekend. 'n Mens het hierdie soort skrywer nodig wat soos in "Sorry, but Your Soul Just Died" kan verduidelik hoe die sielkunde ontwikkel het van Freud tot neurosielkunde en pilverslawing. Ook in 'n essay karteer hy die belang van die internet ("Digibabble, Fairy Dust, and the Human Anthill") wat volgens hom herleibaar is na die werk van Teilhard de Chardin en Marshall MchLuhan.

Sy definisie van die intellektueel onderstreep sy sinisme: dit is iemand wat oor alles 'n mening het, behalwe in die veld waarin hy 'n spesialis is!

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]