Thursday, February 14, 2013

J.M. Gilfillan - Glas (2007)



J.M. Gilfillan. Glas. Lapa, 2007. ISBN 978 0 7993 3920 8.

Resensent: Joan Hambidge

Deur die jare het J.M. Gilfillan ‘n vertolking gegee van die lewe van die buitestaanderkind en onvervulde of reisende vrou wat dikwels deur verhale ‘n uitvlug of toevlug vind in ‘n benouende bestaan van onbegrip, dwang of manlike oorheersing. Veral Van stiltes en stemme in 1989 en die Die vrank smaak van frambose (1993) het oortuig. Die novelles (Die verhaal van ‘n vrou, ‘n leeu en ‘n hoenderhen in 1995, en Pouoogmot in 1998),  het eweneens verskyn en die laaste novelle is vir my persoonlik haar mins oortuigende teks.

In die jongste bundel, Glas, vind ons bekende temas terug: liefde, onvervulling, verraad,  stiltes – en die metarefleksie, d.w.s. ‘n verhaal oor ‘n verhaal. Die sterkste verhale in die bundel is daar waar die skrywer afstand kry oor haar emosies. Juis omdat sy oor die intiem-vroulike skryf soos klere, gevoelens, ensomeer word die verhale dikwels bedreig deur ‘n soet aanslag. In die metaverhale, soos die knap “Die kersieboom”, word daar afstand geskep en is die vertellende instansie skepties oor geykte beelde en hoe mans na vroue-literatuur kyk. 

Liefdesontrou en –onvervulling word ondersoek tydens ‘n reis van ‘n man en vrou. Wie vertel die waarheid? Die eggenoot? Die “versteurde” vrou? Totdat die leser besef dat die derde karakter, by wie hulle tuisgaan, die rede vir haar ineenstorting was weens haar wete dat hy ‘n bloedskendige verhouding met sy dogter bedryf. Die verhaal word ‘n sydelingse kommentaar op die sogenaamde “mad woman in the attic” en hoe vroue deur mans in tekste gerepresenteer is deur die jare. Hierdie vrou kry agentskap deur dat sy aan die woord gestel word deur ‘n simpatieke vroueskrywer wat namens ander vroue praat. Dit is egter nie ‘n woedende feministiese posisie nie, maar een van lydsame opstand.

In “Wind” ontdek ‘n vrou dat haar man se ontrou ‘n relasie met ‘n ander man behels. In ‘n soeke na sin knoop sy ‘n gesprek aan met ‘n verloopte en die konfrontasie met die eggenoot bly uit: die betekenis of sin wat sy aan haar lewe probeer gee, verbeel sy haar staan in ‘n traktaatjie opgeteken wat deur die wind weggewaai word.

Op ‘n behendige wyse tree sy in gesprek met ‘n bekende belydenis van Athol Fugard oor ‘n treinongeluk en hoé moeilik dit vir ‘n skrywer is om sinvol op so ‘n tragedie te
reageer in “Van treine en van hoenders”. Háár verhaal situeer sy anders, by monde van ‘n literêre “groupie” – boonop transponeer sy die verhaal na die eg plattelandse Afrikaanse leefruimte, maak die verteller ‘n man en verander aan die oorspronklike gegewe. So gelees, word die verhaal ‘n kommentaar op hoé skrywers met mekaar in gesprek tree en hoe daar as’t ware geen kopiereg op idees bestaan nie. Fugard het immers dit in ‘n koerant gelees en hervertel voor ander skrywers en raconteurs.

Die opposisies in verhale is soms te maklik:  “Die brief” waarin ‘n ballerina op dansende voete na hom sal aankom, teenoor die ander vrou wat ‘n swaar skoen dra!

Die prosa sit vol geykte beelde en neig na mooiskrywery, ofskoon die begin van bundel ‘n Duisend-en-Een-Nagte wil aankondig…   

Soms mis verhale ‘n sterk(er) slot of is die aanslag, vir hierdie leser altans, te soet.

Hierdie leser verkies navrante slotte of ‘n (meer) siniese wending of dénouement.

In hierdie verband het A.S. Byatt met The djinn in the nightingale’s eye die sprokie / fantasie / meta-gegewe puik ontgin, op storie- en taalvlak.

In die sterkste verhale is Gilfillan op haar beste.  Die verhale moet egter skerper gefokus word en die oordadige taal kort snoeiwerk. In Imagining characters – van Byatt & Sodré – word daar fassinerend geskryf oor vroue-fiksie en die rol van verbeelding.

Wat die titelverhaal skrynend maak.

Bronne:

Byatt, A.S.: The Djinn in the nightingale's eye. Chatto & Windus, Londen. 1994.

Byatt, A.S.: Possession: A Romance. Chatto & Windus, Londen. 1995.


Byatt, A.S. & Sodré, Ignês: Imagining characters. Six conversations about women writers (red. Rebecca Swift). Vintage, Random House, Londen. 1995.  


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]