Thursday, August 29, 2013

The Verwoerd who toyi-toyied - Melanie Verwoerd (2013)



Melanie Verwoerd. The Verwoerd who toyi-toyied. Tafelberg, 2013. ISBN: 9780624057383.

Resensie: Joan Hambidge

I,

Op die buiteblad word hierdie outobiografie aangeprys deur biskop Tutu en Roger Moore. Inderdaad die voormalige James Bond. Maar kom ons begin by die gegewe wat hier aangepak word: dit is ’n verhaal, meer spesifiek, ’n lewensverhaal, ’n apologia pro domo van ’n jong vrou wat by verskillende geleenthede stroomop opgetree het. Melanie Verwoerd het die aandag getrek toe sy as jongmens by die ANC aangesluit het. Hierna word sy politikus en lid van Mandela se eerste nierassige parlement. Sy word ambassadeur in Ierland en hoof van UNICEF-Ierland en raak betrokke by Gerry Ryan, die Ierse uitsaaier. Vervreem van sy vrou, maar nog nie amptelik geskei nie, omdat egskeidings daar sloer.

Die outobiografie en biografie as letterkundige teks interesseer my. Dikwels is daar besonderhede wat die subjek anders laat vertoon as wat hy of sy miskien bedoel het.

In 2008 het Gerry Ryan se outobiografie verskyn; gaan goegeloer gerus oor hom. [1]


Nou moet ek bely: ek het die laaste gedeeltes eerste gelees. Die beskrywing van die verhouding met Gerry Ryan word in besonderheid vertel. Hoe hy haar inspireer het, laat lag het, en ons lees hoe hy haar gevra het voor sy dood om ’n boek te skryf, want hulle sou hom uitmaak as ’n “evil bastard” (256). So beskou, is hierdie boek dan ’n soort regstellende aksie. Dit wil die leuens en wanvoorstellings rondom hierdie mediapersoon regstel. Met bekendheid kom daar ’n prys: bemind en onbemind.

Ons lees ook lang gesprekke oor sy Gerry Ryan se populariteit, hoe sy vriende nie vir hom wou geld leen toe hy in nood was nie, oor sy liefdevolle verhouding met haar twee kinders, en les bes sy gesondheidsprobleme. By herhaling versoek Melanie Verwoerd hom om dokter toe te gaan, maar hy skryf dit bloot af as stres. Ons lees hoe sy – saam met haar seun – sy lyk gevind het en al die reaksies van ander oor sy voortydige dood. En ellendes wat net nie ophou nie: sanksies rondom die begrafnis, die media wat baljaar, verraad …

Daar is immers skouers geskuur met Bono. As lid van UNICEF is daar kontak met Liam Neeson, Vanessa Redgrave, Annie Lennox …

Die foto’s verklap iets hiervan.

Die kulturele verskille tussen Ierland en Suid-Afrika is onthullend, en ook hoe die Iere daarvan hou om mense te “bespreek”.

Die spanninge rondom die “coroner’s report” word eweneens onthul. Die pers se inbraak op privaatheid. Rusies oor besittings wat aan haar behoort het. ’n Onderhoud om sake reg te stel en al die ronddanserye en dubbelpratery hieromheen.

Die begrafnis:
video

 Bono se reaksie:


video

Op bladsy 295 verneem ons: “The pathology report found that Gerry had been drinking the previous night. It also indicated the presence of Xanax and the sleeping pill in his blood, as well as trace amounts of cocaine.” Met hierdie inligting hardloop die pers dan. Die boek lewer skerp kommentaar op die rol van die pers. By meer as een geleentheid moes sy die pers se harteloosheid verduur.

Tereg het Gerry Ryan twee keer gesterf: eers letterlik en toe nadat die pers met die gegewe begin loop het. Met Melanie Verwoerd wat strykdeur haar geliefde verdedig. Onthou, sy moet. Haar geliefde het immers gevra dat sy ná sy dood die waarheid moet vertel. [1]

II.

Die lewensverhaal begin by ’n optekening van die familieromanse (soos Freud dit noem). Die grootouers is ’n model vir haar soeke na geregtigheid, en die invloed van haar ma, ’n briljante vrou, is kennelik van belang. Die verhouding met die alkoholis-pa word met soveel eerlikheid vertel. Hier sluit sy aan by die nuwe tradisie in Afrikaans, waar kinders die feilbaarheid van die ouer sonder skroom onder die loep neem.

Haar politieke ontwaking en huwelik met Wilhelm Verwoerd word in besonderhede gekarteer. Haar liefde vir haar kinders en die impak wat die aansluiting by die ANC gehad het, word eweneens belig. Dit is ’n lewe wat van meet af aan ’n opdraande stryd inhou: sy is immers ’n feminis, studeer teologie aan die Universiteit Stellenbosch en bevind haar in ’n tradisioneel manlike wêreld. Oxford word ’n basis vir haar eggenoot – ook hier sien sy die patriargie in aksie.

Sy is bloedjonk toe sy die politieke arena betree, maar sy maak ’n verskil. In die nag gaan lewer sy ID-boekies af vir mense sonder adres in ’n township. Daar is etlike kere wat sy ’n boer op sy plaas aanpraat oor hoe hy sy werkers behandel. Hier is daar werklik ellendes waaroor ’n mens jou net kan skaam.

Haar stryd met ’n bank en ’n patriargale gemeenskap – veral op die wynplase – maak van hierdie boek ’n belangrike feministiese dokument. Dieselfde wynboer wat haar beledig het, is in Ierland ’n gas waar sy ambassadeur is.

Die verskeurdheid ervaar ’n mens wanneer die eise van moederskap en die einde van ’n huwelik sy tol begin eis. Oor haar gesondheid skryf sy deurgaans.

Die Stellenbosse gemeenskap en hul reaksie op haar politieke “verraad” word ’n belangrike tydsdokument. Wilhelm Verwoerd se spanninge met sy ouers is ook daar. Maar daar is ook bystand en geesgenote: Anton van Niekerk, Annie Gagiano, Wina du Plessis – en vele swart susters in die stryd.

Wanneer Wilhelm se vader hulle in die openbaar verwerp, word Mandela die simboliese vader. ’n Gesprek met Mandela vroeër aktiveer haar ook om betrokke te raak by die “struggle”. Met die naam wat jy dra, het jy mag; jy kan ’n verskil maak …  (60).

Oor Mbeki se Vigs-beleid is sy krities – vanselfsprekend word sy later by UNICEF en haar werk daar bewus van al die implikasies van ’n verkeerde Vigs-beleid. Persoonlik het sy wel waardering vir sy intellek.

Haar vertellinge van die lewe in ’n ambassade waar sy anders optree, is eweneens tersaaklik.

III.

Die boek het wonderlike humoristiese staaltjies. Tannie Betsie Verwoerd se reaksie op Mandela se besoek aan haar in Orania: sy nie weet wie die swart man was wat haar besoek het nie, maar is vies oor die media haar blomme vertrap het (121).

En skaterlag ’n mens nie oor die jong dogtertjie wat voor die TV weggeruk word sodat die konserwatiewe grootouers nie kan sien hoe sy “Amandla” sal uitroep nie (67). Of kleintjies wat almal Mandela wil wees op die maat van “Aanstap rooies …”

IV.

Wat is waar, wat is wolhaar? Hieroor moet die leser self besluit. Maar ek het agter die skerms ingekyk na die persoonlike reis.

Melanie Verwoerd se storie is aangrypend, eerlik, dapper. ’n Mens moet dit eweneens lees as ’n verslag van verlies.

Die impak van die media op haar lewe is ook hier. Die media het immers ook ’n rol gespeel om haar loopbaan by UNICEF te kompliseer. Sy het ook die wind van voor gekry in Ierland met mense wat probeer het dat die boek nie gelees moet word nie. Auk. Ten spyte hiervan was die boek dáár ’n topverkoper.

Hierdie onderhoud is relevant:


video

’n Resensent het nie van die meer persoonlike gedeeltes gehou nie. Dis immers wat ’n outobiografie wil wees: dit moet vertel, verduidelik, openbaar.

Dis ’n memoir, ’n lewensverslag van ’n “small town girl”, politieke aktivis en celeb. Jungiane sou ook praat van ’n individuasie wat plaasgevind het. Die skrywer verwys ook na die feit dat sy fey is (39).

Daar is ’n belangrike toneel in hierdie boek waar Melanie Verwoerd by die parlement oor ’n hek klim wat gesluit is. So moet jy hierdie lewensverhaal benader: dis iemand wat dikwels in haar lewe voor geslote hekke te staan gekom het en tog oorgeklim het.

Ek voorspel sy sal weer ’n hek oopmaak.

Bronne

Gerry Ryan - Wikipedia, the free encyclopedia. (4 Julie 2013 geraadpleeg)

Author interview/ The Verwoerd who Toyi-Toyied - City Press. (6 Julie 2013 geraadpleeg)

Die Burger / Ook histories waardevol. (6 Julie 2013 geraadpleeg)

Die ander Verwoerd | Rapport. (6 Julie 2013 geraadpleeg)

Eindnota

[1] Vroeg in 2008 het Gerry Ryan aangekondig dat hy deur Penguin genader is om sy outobiografie te skryf. Die voorskor van €100,000 wat Penguin Ryan betaal het, was  na bewering die grootste nog ooit betaal vir 'n boek wat in Ierland gepubliseer is. Would the Real Gerry Ryan Please Stand Up is op 16 Oktober 2008 in Ierland vrygestel, en het teen Januarie 2009 alreeds meer as 10 000 kopieë verkoop.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Litnet geplaas.]

Monday, August 26, 2013

Wilma Stockenström - Hierdie mens (2013)



Wilma Stockenström. Hierdie mens. Human & Rousseau, 2013. ISBN 978 0 7981 6373 6.

Resensent: Joan Hambidge

Deur die jare het Wilma Stockenström ‘n belangrike bydrae tot ons digkuns gelewer. Haar gesprekke met NP van Wyk Louw en Peter Blum is opvallend. Sy skryf ‘n gestroopte, intellektuele vers waarin die sintaksis van die gedig tot die maksimum uitgedaag word en die leser geïmponeer word deur ‘n gedig waar geen woord uit plek is nie. Haar verse is dikwels bondig en in haar satiriese verse – waar sy van haar beste werk gelewer het – is die aktrise aan die woord. Sy ontmasker en oordryf; haar leser is dikwels ‘n bysiende, speurende een (soos een van haar titels heet) wat met intellektuele genoegdoening die monsters van ons bestaan beleef. 

Haar Afrika-verse is aanskoulik, soos in Van vergetelheid en van glans (1976) en binne ‘n groter verband van die heelal, word die mens teenoor die klip geplaas, vasgevang in sotternye en selfbedrog. Die leser is dus paleontoloog en die jongste bundel, Hierdie mens, speel in op die klassieke gedig “Ecce Homo”.  Aan die Kaap geskryf (1994) en Spesmase (1999) het hierdie bundel al voorberei: ‘n terugkeer na die self en ‘n afskeid van en besinning oor die lewe. Hierdie bundel is geskryf in die sleutel van laatwerk en die literator Helize van Vuuren se essays oor hierdie onderwerp is tersaaklik vir die lees van hierdie digbundel. In die openingsvers skryf die digter:

Om ’t ewe

Hulle sê terloops my verse is nie singbaar nie.
Hopelik darem onthoubaar ofskoon onverstaanbaar.

Sal ek my steur aan hierdie hulle?
Wat weet hulle van die waarde van prulle?

Geagte leser, dink oor die volgendes.
Skaar u u by die verbolgenes?

Is u verwonderd of bedonderd?
Terloops, dis my om ’t ewe.

Die leser word dus betrek by die skryfproses en die digter is ironies en gedistansieerd oor haar gedigte. Poësie as ‘n waardelose, dog nodige aksie – skouerophalend – word hier aangetref. Ons vind ook ‘n gesprek met ander digters (“Skatpligtig”, 9) waar Celliers, Van Wyk Louw en Ingrid Jonker aan bod kom. “Sic biscuitus desintegrat”, oftewel dis hoe die koekie krummel.

Die verouderde tikmasjien word in ‘n Ode besing. Die troue maat deur dertien dun boekies moes sy weggooi, omdat sy nie ‘n tiklint kon vind vir hom nie.

Lof swaai ek jou toe, beskeie grys obsolete,
jy was draagbaar, toeritsbaar, dierbaar, myne (10).

In ‘n stukkende droom probeer die spreker die legkaarte van die self uitpluis, daardie een gedeelte wat nie gevind kan word nie. Hierdie gedig sluit aan by “Olke bolke” (12) waar die sittendes in die ouetehuis na mekaar kyk – uitgelewer aan ‘n situasie en bewus van die naderende einde. Hierom dan die dood wat in ‘n volgende vers aangespreek word:

Uitnodiging

Daar’s ’n glimlag in sy stem.
Hy sê: kom binne, kom binne,
ons werk nie meer met linne,
dis nou as en beentjies en rook
uit ’n vuur deskundig gestook
maar steeds vir daar doer bestem. (13)

Die ironies-sardoniese spreker maak ‘n grap van die geslag van die dood: hoekom altyd ‘n hy, vra sy. Nog ‘n onderwerp vir Vrouedag hierdie geslagsdiskriminasie, besluit sy in die gedig “Diskriminasie” (14). En die digter vergelyk ‘n gedig met ‘n kat met die gedig wat nie met ‘n kat kan kers vashou nie!

Ag wat kat

Geen gedig loop so lenig soos ’n kat. 
Geen gedig rek hom halfsirkel
en geeneen pronk soos ’n kat nie,

staar intens ’n kamerlengte
ver soos ’n kat nie, en geen gedig, geen,
openbaar kat soos kat kat nie. (27)

Die digter probeer telkens om die heilige onsin in ons dwalinge te ontmasker en hierom word die digproses ‘n ruimte van gestrooptheid. Sy verkies die sigbare, die natuur bó die Onsienlike: “Niks genadiger as die genade van niks” (36).

In “Maankeuse” (44) word digterlike simboliek aan die kaak gestel en dink sy wat sy sou doen as sý die maan was. Die gedig word ‘n ontsnapping van mites en ‘n vooropstelling van ‘n patent van egtheid.

Die slotvers “Daar en hier” (49) staan apart van die ander gedigte. ‘n Afskeid aan haar digkuns? ‘n Bestekopname? ‘n Gedig vir haar geliefde man, die poliglot wat sy bestendig en verewig in hierdie lieflike vers?

Dit is ‘n belangrike en aangrypende bundel wat sterk herinner aan die laatwerk van Elisabeth Eybers: ‘n bestekopname van ‘n lewe en terugspeel op bekende temas in die oeuvre, geskryf in ‘n mineurtoon, maar steeds dwingend, belangrik en imposant weens die tegniese beheer. Spieël van water heet ‘n bundel: inderdaad (in navolging van Lacan) kyk die leser in die gedig as ‘n spieël wat die besinnings van ‘n briljante vrou terugkaats. D.J. Opperman het tereg die enorme talent van hierdie digter raakgesien toe sy by ‘n klein uitgewershuis gedebuteer het. Die res is geskiedenis.

Vir hierdie mens bly net geluid oor
wat vorm soek om in te woon (24).


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]

Friday, August 23, 2013

Onderhoud: Om te skryf is om afgesonder in 'n eggokamer voor 'n spieël te sit

Dominique Botha © Tessa Louw


Joan Hambidge gesels met Dominique Botha, skryfster van Valsrivier

1. Baie geluk met jou aangrypende roman. Een van die belangrikste aspekte van die boek is dat jou broer se lewensloop en uiteindelike dood die tema is vir hierdie boek. Jy “voltooi” as’t ware sy kreatiewe impuls wat gekortwiek is deur sy dood. Kommentaar.

My boek is 'n protes teen vergetelheid. Die behoefte om die dood op sy plek te hou lê diep in die menslike natuur. Deur iets tasbaar agter te laat is 'n weerspreking van die "Paul-shaped hole in the universe", om die treffende doodsmetafoor uit Arundhati Roy se God of Small Things te leen. Nou bestaan die buitelyne van die verdwene mens en van sy gedigte op papier. 

Met nabetragting sou mens kon sê dat die kortwieking van my broer se kreatiewe impuls uiteindelik vleuels gegee het aan my eie stem. Ek neem die vertelling oor. Baie versigtig in die begin, maar soos die verhaal ontplooi, so beweeg die susterstem geleidelik weg uit die skadu van die ouer broer se talent asook uit die skadu van verlies.


2. Daar is herkenbare mense in die roman – soos onder andere Antjie Krog en jou familie. Hoe voel jy hieroor of dink jy die roman fiksionaliseer die gegewe genoegsaam?

Ek het in 'n innerlike tweestryd vasgeval oor my reg om sulke private geskiedenis op so 'n publieke manier te gebruik. Hoe verdiskonteer mens die wrywing tussen feit en fiksie? Is dit nie maar net 'n manier om 'n kombers te gooi oor die intieme vervlegting van verbeelding en geheue nie? Of die teks as verhaal of verhandeling ingedeel word is eintlik 'n ronddansery wat nie die kompleksiteit van 'n skrywer se etiese uitdagings verskraal nie. 

My oorgang van memoir tot roman was ook deels as  gevolg van 'n groeiende besef dat die volkome waarheid nie haalbaar is nie. Om 'n herinnering op te roep is ook om 'n eerste daad van fiksie te pleeg.  Skryf is ook 'n dissipline waardeur mens geleidelik van die sin van uniekheid van die self verlig word; 'n bevrydende gestrompel in die rigting van nederigheid. Nogtans mag lesers die mededeling kyklustig op sigwaarde interpreteer, want hulle lewe nog met die gewig en las van 'self'. Vir 'n skrywer om te skryf, kan die persoonlike nie 'n leibeurt ontsê word uit die gemeenskaplike sluis van geskiedenis nie.'n Skrywer dweil indrukke op en wring 'n narratief uit die oorloop. 

Ek het probeer om die gebruik van intieme familie geskiedenis met integriteit te benader, asook die herkenbare mense met eerlikheid en grasie te beskryf, en hoop dat die leser dit sal oordeel as 'n metafoor met 'n breë weerklank, verby die persoonlike gegewens van die verhaal.


3. Die boek lewer kommentaar op tyd en die boek is in ‘n siklus geskryf. Die begin en einde sluit bymekaar aan. Dink jy die onbewuste is ‘n soort tydlose ruimte waarin alles vir ewig geberg word?

Ek dink die onbewuste is 'n onveilige stoorplek met sy eie skeppende drange. Ons onthou op maniere wat ons wil onthou, merendeels in diens van die ego as noodwendig in diens van die waarheid. 

In jou resensie oor my boek trek jy 'n vergelyking tussen water en die onbewuste,  'n raakvatting wat ook in die titel Valsrivier weerspieëling vind. Die titel is 'n toespeling op die naam van die rivier wat deur die familieplaas vloei, met 'n verdere dieperleggende betekenis. Paul se groot literêre held Eugène Marais het geskryf oor die diep rivier, die donker stroom, wat  gesien kan word as 'n verwysing na sy eie stryd met morfienverslawing, asook die donker keersy van die skeppingsdrang, wat beide lewensgewend en doodsgevaarlik kan wees. Soos die siklusse van water wat kom en gaan, so maak die geheue binne die kontoere van die onbewuste. Niks is standhoudend nie.  Digters en skrywers is die watersoekers wat verborge strome moet opdiep.


4. Ek dink die begrafnistoneel is so goed beskryf. Hoe lank het jy aan hierdie teks gewerk en was dit deel van jou Kreatiewe Skryfskool-portefeulje aan Wits? Wie was jou mentor en hoe voel jy oor skryfskole?

Ek het ongeveer 3 jaar lank gewerk aan die teks. Leon de Kock, as hoof van die skryfskool by Wits het my baie aangemoedig, en toe onder verdere leiding van Gerrit Olivier en die res van die MA-groep het my boek geleidelik gestalte gekry. Om te skryf is om afgesonder in 'n eggokamer voor 'n spieël te sit.  Skryfskole bied belangstellende lesers, kritici en sperdatums aan. Dié is van onskatbare waarde.

Die slot van die boek het eers na die afloop van die kursus opgewel. Ek dink dit het ontstaan uit 'n behoefte om 'n diep kreet van smart op 'n beheersde wyse vorm te gee en te besweer. 


[Hierdie onderhoud word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Monday, August 19, 2013

Dominique Botha - Valsrivier (2013)



Dominique Botha. Valsrivier. Umuzi, 2013. ISBN 978 1 4152 0380 4.

Resensent: Joan Hambidge

Valsrivier deur Dominique Botha is ‘n prosateks wat beweeg tussen die grense van vertelling en poësie. Dit is ‘n hártgrypende verhaal wat die jeug van die verteller en haar sibbe in oënskou neem. Die leser begin die verhaal lees van die verteller / fokalisator (wat dieselfde naam dra as die outeur) en ‘n stuk Afrikaanse verlede ontplooi hier voor die leser se oë. Die lewe op ‘n plaas in die Vrystaat en hoe jong kinders reageer op ouers, skool, politieke verskille, diereslag, onreg – en wat nog word beskryf.

Dit behoort tot die genre waarin Carson McCullers en Truman Capote so uitgemunt het: die ouer verteller wat terugkyk asof hy/sy steeds die kind is wat alles beleef het. In hierdie soort vertelling skuif die ouer persoon en kind se waarneming ooreen en die verlede word herbesoek. Die besonderhede van Valsrivier val die leser onmiddellik op en die verhaal, wat as ‘n elegie beskryf word, is in die werklikheid gebed. Die sirkelgang en sluiting is opvallend. Hierom is tyd so belangrik in die roman (198): “ons reis deur die skyn van tyd” dui op die feit dat emosionele ervarings nooit weggaan nie.

Inderdaad laat die gees sy eie grafskrif, soos die motto van Paul Botha lui. En hy is die sentrale fokus van die verhaalopset: die dag nadat hy sy polse gesny het, word die droogte gebreek. Met die suster wat begrip het vir sy lot (146): sy sien hom nie as lafhartig nie.

Die roman begin met ‘n waarskuwing dat die suster te na aan die water (die onbewuste) staan en op die keerwal vrot die oog van ‘n dooie karp weg (7). Ook haar ellendes word weergegee (soos die ervaring van menstruasie en lyflike aftakeling), maar uiters subtiel vertel. Haar kat, Lietjiebet Lotriet, speel in op ‘n kinderverhaal van ‘n brandmaer weeskind (52). Hoe kinders op skool geïndoktrineer is (soos die Voortrekkerbabas wie se koppies teen wawiele stukkend geslaan is en die kommunisme), word goed weergegee (63). Die vreemde skool in Natal het wel wonderlike humoristiese oomblikke soos die Juffrou wat vir haar sê sy moet haar trane spaar vir werklike ellendes!

Daar is ‘n besoek aan Middenspruit by ‘n digter, Antjie Krog, wat raadgee vir die jong belowende Paul. Ons sien sy talent raak in die ingebedde tekste wat die suster vir ons gee.

Die verhaal word hortend, rukkerig vertel, want die fokalisator skryf oor haar broer en algaande besef die leser hoe hy “anders” was. Van jongsaf opstandig, slim, ‘n skrywer – en veral ‘n teëprater, met die suster as sy fiksionele biograaf of optekenaar. Dit is uiteindelik háár kreatiwiteit wat oorwin sodat die elegie verander in ‘n laus. Soos daar ‘n glasbottel met ‘n boodskap ontdek word in ‘n muur, so maak die leser die geheime boodskappe mee van hierdie roman (120).

Die impak van die politiek van die tyd en die broer se opstand daarteen, bring die Weermag en die ou-Suid-Afrika sterk na vore. Die ouers se linkse politiek word eweneens ‘n silwer draad wat regdeur die roman loop. En die emosionele verwoesting wat die ou Afrikaner politiek tot gevolg gehad het.

Dis beeldskoon, hierdie debuut. En op die agterblad reken Breyten Breytenbach dat moed nie normaalweg gereken word as ‘n literêre kenmerk nie. Hier is dit wel die geval. Dis ‘n boek oor die “vals” geheime van die geheue en hoe elke leser verwond is deur jeugervaringe.

Paul waarsku: Jou herkoms brandmerk jou vir ewig. Skryf is ‘n oorblyfsel van waar jy jouself bevind. Van hoe die seisoene verloop.” (150).

Lees dit. Dis ook as e-boek beskikbaar.

Die boek eindig met ‘n beeldskone vers:

tyd rol en sloer
soos ‘n muntstukkie gegooi
op die kim van die naderende dag

jy het my altyd vooruit geloop

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]

Wednesday, August 14, 2013

Studie: Seks as eucharistie

Andres Serrano, Piss Christ, 1987


Gay men are guardians of the masculine impulse. To have anonymous sex in a dark alleyway is to pay homage to the dream of male freedom. The unknown stranger is a wandering pagan god. The altar, as in pre-history, is anywhere you kneel. 

Camille Paglia

I.

As liefde ons verkeerd bewys

As liefde ons verkeerd bewys
en die nag in ons holtes kom lê,
en die dood ons laaste hegsels
losknip uit die lewe se patroon
sodat ons saam is, ongeheg,
asof om te sê ons liefde ken
nog duur nog vordering, sal ons
weet die dood is tydloos soos plesier,
en ons is net somerweerlig,
'n aprillende gier, net lewe
vir sy dood, voorbrand vir sy vuur.

Hierdie klein liefdesvers, uit Snel grys fantoom, wys hoe behendig die digter met die paradoks kan werk. Die gedig werk soos ‘n matematiese som: as a = b, dan...-beginsel. Die gedig begin met ‘n subjunktief as (indien) wat tot uiting kom in sodat en met sal (die voltrekking) eindig. Liefde in hierdie geval is verkeerd bewys: die liefde gaan nie duur nie, hierom die gedig met die wete dat die ons net ‘n “aprillende gier” is. Dit is ook somerweerlig: gevaarlik en iets wat jou dus kan doodmaak (wat vir die ingeligte De Lange-leser ook gelees kan word as ‘n toespeling op Vigs, ‘n onderliggende bedreiging in die gay-lewe). 

Die 'plesier' (wat 'tydloos' is, dus buite tyd lê) aktiveer eweneens Roland Barthes se The pleasure of the text (1973 / 1975) waarin hy die onderskeid tussen plesier en jouissance verduidelik. Plaisir (plesier) kan in woorde uitgedruk of besê word, terwyl jouissance buite woorde bestaan, omdat dit soos ‘n orgasmiese ervaring is.

Barthes onderskei in S/Z tussen die lisible (readerly) en scriptible (writerly) teks. In eersgenoemde teks hou die leser sig aan die kodes en voorskrifte van die teks, terwyl die leser in laasgenoemde teks dit teen verwagtinge en kodes inlees.

In hierdie gedig, sou ‘n mens kon aanvoer, word daar van die leser verwag om die vers te ontrafel. Die leser word dus mede-skrywer en die aksie is dus scriptible

II.

In die bundel Vleiswond ondersoek De Lange die verhouding tussen religie en seks. Die seksuele word telkens in terme van religieuse beelde beskryf en meer spesifiek in terme van die Rooms-Katolisisme. Begrippe soos kommunie, gemeente van die vlees, benediksie, sakrament, bieghokkie, e.d.m., word beeldend gebruik ten einde die cruising bykans tot ‘n metafisiese vlak te verhef.

Reeds die motto van Walt Whitman introduseer hierdie benadering:

I believe in the flesh and the appetites, 
Seeing, hearing and feeling are miracles,
and each part and tag of me is a miracle. 
Divine am I inside and out, and I make holy
whatever I touch or am touched from; 
The scent of these armpits is aroma finer than prayer, 
This head is more than churches or bibles or creeds.

Die vleeslike wil dus as ‘n soort mirakel weergegee word. Die seksuele as ‘n ritueel word dus sodanig belemtoon: cruising as ‘n bedevaart met ‘n sakrament en boetedoening. In Barthesiaanse terme beweeg die digter hier in die jouissance in, te wete dit wat buite woorde lê.

Kommunie, hoogpriester, benediksie (seënspreuk), sakrament, bieghokkie, wywaters plaas die seksuele daad binne die religieuse orde en meer spesifiek binne die orde van die Rooms-Katolisisme. Terselfdertyd verbind De Lange dit met die werk van Walt Whitman (1819 – 1892), die Amerikaanse digter. Leaves of Grass (1855) is in sy tyd as skokkend ervaar. Whitman word beskou as die vader van die vrye vers en in hierdie opsig is De Lange se gedig ‘n relevante kniebuiging in die rigting van ‘n andersoortige “hoogpriester”. 

Harold Bloom skryf soos volg oor Leaves of Grass tydens die 150e viering van hierdie teks: “If you are American, then Walt Whitman is your imaginative father and mother, even if, like myself, you have never composed a line of verse. You can nominate a fair number of literary works as candidates for the secular Scripture of the United States. They might include Melville’s Moby Dick, Twain’s Adventure’s of Huckleberry Finn, and Emerson's two series of Essays and The Conduct of Life. None of those, not even Emerson's, are as central as the first edition of Leaves of Grass. (Harold Bloom: Walt Whitman, America's Greatest Artist.) 

“I sing the body electric” is eweneens in die film van David de Silva Fame (1982) ‘n lied van vryheid.

Die verbintenis van die seksuele ervaring met die religieuse dimensie kan deur ‘n leser as aanstootlik ervaar word. In die resepsie van Vleiswond is hierdie problematiek uitgewys deur onder ander Marlene van Niekerk wat in ‘n kritiese reaksie verminderend geskryf het oor die beeld en toepassing in hierdie oeuvre.

De Lange gebruik die religieuse ervaring van die Rooms-Katolisisme wat volgens herkenbare rituele funksioneer, waarin die nie-sienbare of geloofsaspek sigbaar of kenbaar gemaak word, ten einde die seksuele ervaring te beskryf. Twee ervarings, te wete die religieuse en die seksuele, word in terme van ‘n ritueel beskryf. Die leser ervaar dus ‘n soort sekularisering van die religieuse orde: cruising is vir die spreker soos ‘n besoek aan ‘n bieghokkie of die gebruik van heilige sakramente. Deur Whitman te verhef tot die “hoogpriester”, verskerp die omstredenheid van hierdie figuur die idee van sekularisering. Ook omdat Whitman die vader van die vrye vers genoem is, sou ‘n mens kon aanvoer dat die digter sowel die vryheid van die lyflike as die vryheid van poëtiese segging in die gedig wil vier.

Kommunie I

Sondagaand, die promenade: 
in kortbroeke en t-hemde
daag ons op: die gemeente
van die vlees
en Walt Whitman
was met ons,
hoogpriester,
met sy lang wit baard
en sy hande op ons almal
‘n benediksie op sweetblink lywe,
op ons tonge die kosbare wit
sakrament van die fallus.

Ons ken hom ook daar
alleen in ‘n bieghokkie
waar ons kniel
voor die klein gode
wat deur ‘n loergat seën
en wywaters van die doop 
op ons tonge laat reën.

In die gedig “Tweeluik” aktiveer De Lange nie alleen ‘n teksfragment van Edmund White nie, maar word die gedig ‘n belangrike interteks vir die gay-ikoon, White. White se belangrikste intellektuele teks is waarskynlik The Burning Library - Writings on Art, Politics and Sexuality 1969-1993

White se A Boy’s own Story en States of Desire: Travels in Gay America, asook sy biografie oor Genet, gee insig in die sogenaamde politieke woordeskat van gay-wees.
White wys op die verskillende modelle wat bestaan: die mediese model (wanneer gay-wees as ‘n siekte beskou word); die religieuse model (wat gay-wees tot ‘n sonde reduseer); die sosiologiese model (wat dit as ’n afwyking beskou); die wettiese model (oftewel die modus van kriminaliteit) (1994: 70). 

In die gedig “Tweeluik” aktiveer De Lange al vier die modelle vir die leser. Die konvensionele leser sal dit sowel religieus as sosiologies onvanpas vind. Die gedig aktiveer ook die aspek van kriminaliteit, omdat die aspek van donkerte en gevaar deur die gedig geaktiveer word. Die gedig is ‘n tweeluik wat die “liriese deurvaart” beskryf, maar terselfdertyd die gevaarelement van die “somber nagdier” aktiveer. Hierdie “somber nagdier” is blootgestel aan verwerping, dood, VIGS en misverstand.

Tweeluik
na Edmund White

want die lyf van ‘n man
is ‘n god: drie-eenheid
van mond, fallus, anus;
maar ook: twee helftes
wat stry: die kaal
agternek, keel, hande
en gesig grasieus,
die liriese deurvaart
wat soos ‘n jong prins
rus op die bloedige
barbaarse troon
van die onderlyf:
onpersoonlik, verwisselbaar
wreed, omsluit
deur ‘n denimpantser

die bolyf soms in syhemp
of met ‘n goue ketting
oorring, lenig-glad,
byna vroulik; en onder:
swart leerkamaste,
die voete in konstruksiestewels
(die flegmatiese somber nagdier)

en swewend tussen dié twee 
helftes: die hande, 
behorende tot die torso 
reik dit tog na die donker 
onder-lyf

By De Lange vind die leser immer ‘n tweeluik, ‘n spanning tussen die konvensioneel-religieuse en ‘n inbeweeg in die grensoorskrydende – dog in beheer gehou deur die strak poëtika.

III.


Elemente van die Eucharistie

Ter agtergrond:

Eastern Christianity

Among Eastern Christians, the Eucharistic service is called the Divine Liturgy (Eastern Orthodox) or similar names (Oriental Orthodox). It comprises two main divisions: the first is the Liturgy of the Catechumens which consists of introductory litanies, antiphons and scripture readings, culminating in a reading from one of the Gospels and, often, a homily; the second is the Liturgy of the Faithful in which the Eucharist is offered, consecrated, and received as Holy Communion. Within the latter, the actual Eucharistic prayer is called the anaphora, literally: "offering" or "carrying up" (ἀνα- + φέρω). In the Rite of Constantinople, two different anaphoras are currently used: one is attributed to Saint John Chrysostom, the other to Saint Basil the Great. Among the Oriental Orthodox, a variety of anaphoras are used, but all are similar in structure to those of the Constantinopolitan Rite, in which the Anaphora of Saint John Chrysostom is used most days of the year; Saint Basil's is offered on the Sundays of Great Lent, the eves of Christmas and Theophany, Holy Thursday, Holy Saturday, and upon his feast day (1 January). At the conclusion of the Anaphora the bread and wine are held to be the Body and Blood of Christ. Unlike the Church of Rome, the Eastern Orthodox Church uses leavened bread, with the leaven symbolizing the presence of the Holy Spirit.[37] The Armenian Apostolic Church, like the Roman Catholic, uses unleavened bread.

Conventionally this change in the elements is understood to be accomplished at the Epiclesis (Greek: "invocation") by which the Holy Spirit is invoked and the consecration of the bread and wine as the true and genuine Body and Blood of Christ is specifically requested, but since the anaphora as a whole is considered a unitary (albeit lengthy) prayer, no one moment within it can be readily singled out. (Eucharist - Wikipedia, the free encyclopedia. Afgetrek 13 Augustus 2013.)

IV.

“Kommunie I” het ‘n pendant in “Kommunie II”: die nagmaal van die vlees word getransendeer en in die tweede gedig word die Jesus-figuur aangespreek. Die saadstorting van die cruiser word beskryf as die “dun gebed van my kondoom”.

Kommunie II

Na die aand se brood en wyn 
– die nagmaal van die vlees –
voel my vingers oor jou lyf 
die opgehewe letsels van jou vrees

en weet dat jy gekruisig is, 
dat almal van jou praat 
en jy in drome elke soen 
onthou as Judas se verraad,

dat jy in die doopsweet van die nag 
weet wat ander van jou dink, 
dat een, dat hý 
nie uit jou glas wou drink.

Ek hoor jou langs my vra: 
Word sonde sigbaar as sarkoom? 
Skuil u Gees nie skimmig wit 
in die dun kondoom

van my gebed? Kan U my voel 
deur die fyn membraan? 
Ek hoor jou laatnag huil, en Een 
wat sê: Dit is voldaan.

Is u bloed dan ook besmet? 
Hoe word ons ooit van U genees? 
Is dit hoe U ‘n liggaam breek, 
die bros skyf van die gees?

In die slotstrofe lees ons:

Is u bloed dan ook besmet? 
Hoe word ons ooit van U genees? 
Is dit hoe U ‘n liggaam breek, 
die bros skyf van die gees?

In hierdie twee verse tree De Lange nie alleen in gesprek met Walt Whitman nie, maar aktiveer hy ook ‘n gesprek met die Italiaanse filmmaker Pasolini se film oor Jesus Christus, Pasolini se The Gospel according to St Matthew (1964) is ‘n aangrypende film oor die kruisiging van Jesus en sy verhouding met sy dissipels. Dit is ‘n film gemaak deur ‘n ateïs wat die lewensloop van Christus getrou weergee.

Waarom sou ‘n gay-ateïs ‘n film oor Jesus maak? 

Vermoedelik die identifikasie met Jesus as outsider en revolusionêr? 

Dalk ‘n opheffing van stereotipes oor religie en metafisika en om die liggaamlike te transendeer.

Bibliografie:

Tekste:

Barthes, Roland. 1970/1974. S/Z. An essay. New York: Hill and Wang.
                            
Barthes, Roland. 1973/1975. The pleasure of the text. New York: Hill and Wang.

Bloom, Harold. "Walt Whitman, America's Greatest Artist". Afgetrek 5 Augustus 213

De Lange, Johann. 1986. Snel grys fantoom. Kaapstad: Human & Rousseau.

De Lange, Johann. 1993. Vleiswond. Kaapstad: Human & Rousseau.

White, Edmund. 1994. The Burning Library - Writings on Art, Politics and Sexuality 1969-1993.  Londen: Picador.


Film:

Da Silva, David. 1992. Fame.

Pasolini, Pier Paolo. 1964. The Gospel according to St Matthew.

Friday, August 2, 2013

Rubriek. Die primordiale patrone van speelgoed



Vrydag 02 Augustus 2013

Sy is gek oor speelgoedwinkels en het ’n kas vol speelgoed wat sy oor die wêreld heen gekoop het. Want speelgoed is duidelik vir grootmense bedoel, meen Joan Hambidge.

Wat het ’n New Yorkse geel cab, ’n wit polisiemotor, ’n draadfiets uit Kenia, ’n skilpadjie uit Mexiko, ’n papiermotor uit Kuba, ’n bloedrooi Mini uit Londen en ’n vliegtuigie uit Nagasaki gemeen?

Dit is memento’s van reise om die aardbol.

Meer nog, dis speelgoed. Ek het ’n hele kas vol speelgoed. Speelgoedwinkels is een van my grootste tydverdrywe en ek meen dis eintlik vir grootmense bedoel.

Oor die simboliek van speelgoed is daar al baie geskryf. Op die webblad van die Universiteit van Kansas se skool vir maatskaplike welsyn sê hulle motors staan vir beweging, mag, ontvlugting, verdedigingsmeganismes . . .

En so kan ’n mens voortgaan met die soektog na betekenis. Jare gelede ontvang ek ’n geskenk van ’n vriendin: ’n Japannese zen-tuintjie met die sand, harkie, ’n boompie met Nemo daarin en die 120 jaar oue seeskilpad wat sy pa by hom uitgebring het!

Maar is dit vir ’n kind, hierdie zen-tuintjie?

Ek glo nie.

. . .

Dan is daar iets soos speelterapie soos in die kenners Schaefer en Kaduson se standaardwerke.

Nes flieks soos Toy Story, Finding Nemo en A Town Called Panic (Panique au village), Stéphane Aubier en Vincent Patar se fliek van 2009. Eintlik animasie-flieks vir grootmense. Gepak met sydelingse toespelings en slim verwysings. Interspeletjies, as u wil.

Toy Story (1995, met die regisseur John Lasseter, VSA) handel oor die lot van Woody, die cowboy wat uitgeskop word wanneer ’n beter speelding, Buzz Lightyear, sy opwagting maak.

Hoeveel keer moes ons nie al almal die pynlike ervaring verwerk dat iets “nuuts” of “beters” jou plek inneem nie? Miskien ’n nuwe broer of suster en later in ’n mens se lewe: ’n jonger, ouliker en mooier geliefde.

Juis omdat hierdie primordiale patrone aangespreek word, het so ’n fliek ’n besliste impak op die kyker.

Religie kom ook aan bod wanneer ’n poppie verlos word uit ’n ronde dobbelkas en sê: “I’m chosen, I’m chosen.”

En die cowboy weet hy is ’n speelding, terwyl Buzz glo hy is werklik ’n ruimtevaarder. In ’n pynlike oomblik sien hy op TV ’n advertensie van die speelding wat hy is. Hierdie skokkende oomblik is dan ’n soort katarsis in sy gemoed en hy pluk die “Made in Taiwan”-plakkertjie af.

Daardie oomblik van selfkennis wat ons almal al as volwassenes moes deurmaak. Wees jouself, is die subliminale boodskap.

Andy is die goeie seuntjie en die buurkind, Sid, is ’n opperste klein booswig, wat vreemde koppe op sy sussie se speelgoed sit. Boonop probeer Sid vir Buzz vernietig deur hom aan ’n vuurpyl vas te maak.

Die goeie oorwin die bose wanneer Sid se speelgoed in opstand kom.

Wanneer Woody en Buzz herenig word met Andy se speelgoed nadat hulle bykans deur Sid vernietig is, word Woody plegstatig as “sheriff” aangespreek.

Uiteindelik is Andy se nuwe speelding ’n hondjie.

Hoeveel keer moes ons nie al almal die pynlike ervaring verwerk dat iets “nuuts” of “beters” jou plek inneem nie?

Finding Nemo (2003, regisseur Andrew Stanton) is die quest van Nemo se pa wat die hardkoppige en ongehoorsame kleine Nemo terugvind nadat hy via ’n diepseeduiker in ’n tandarts se visbak in Sydney land. Dié fliek werk ook met die opposisie tussen die goeie en die bose en die onderliggende boodskap is natuurlik dat deursettingsvermoë ’n deug is.

A Town Called Panic – wat waarskynlik minder bekend is by Suid-Afrikaanse fliekgangers – is kortom een van die beste animasierolprente wat ek nog gesien het.

’n Misverstand rondom boustene (50 miljoen van hulle) wat afgelewer word as geskenk vir Perd (Cheval) se verjaardag, dryf die verhaal voort. Telkens word daar ’n ander geskenk vir Perd gesoek.

Die rolprent word beskryf as ’n “puppetoon”.

Cowboy, Indiaan en Perd se daaglikse wel en wee word beskryf met ’n wonderlike danstoneel tussen Perd en sy perdemeisie.

Cowboy is die bangbroek en word dikwels deur Indiaan uitoorlê, terwyl Perd se manewales vooropstaan.

Boonop is Perd slimmer as die Indiaan (wat ons almal as kinders gehad het: daardie plastiekspeelgoed wat op staanders is) en dissiplineer die ander twee dikwels hardhandig.

Dan is daar die boer en sy vrou – met die boer wat die vrou beslis ón-feministies hanteer.

En hoe gaan die rekening betaal word vir die verkeerde bestelling? Die huis stort in duie, die onskuldige word in hegtenis geneem en dan vlug Perd, Cowboy en Indiaan.

Om my punt finaal te bewys: Hier in ’n soort James Bond-gegewe is daar mal wetenskaplikes wat sneeuballe afvuur.

Die ingeligte kyker herken Moonraker en al die ander Bond-rolprente. Dr No (1962) en You Only Live Twice (1967), onder meer. Boonop is daar ’n baie groot grafsteen opgerig vir Moby Dick.

Perd speel klavier en vertolk klassieke musiek.

My geluksbringer is ’n baba-Boeddha wat altyd op my skryftafel staan. Bedoel vir ’n kind?

Ek dink nie so nie.

                                                         (c) Joan Hambidge

                 [Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]