Monday, February 4, 2013

Jelleke Wieringa - Bloot mens (2009)



Jelleke Wieringa. Bloot mens. Protea Boekehuis, 2009. ISBN 978 1 86919 311 9.

Resensent: Joan Hambidge

Jelleke Wieringa het destyds met haar debuut in Nuwe stemme 2 (2001) ‘n handvol knap verse gelewer en hierna ook haar stem dik gemaak in Karapaks waarvan die uwe die samesteller was. Bloot mens is haar solodebuut by Protea Boekehuis en die bundel word opgedra aan die stemloses: “opgedra aan almal / wat nie geoor (sic!) word nie / wat nie gemond is nie”. Die vrou as stemlose word eweneens duidelik beklemtoon uit die voorblad waar die gesig van die vrou afgesny is en ons dus net haar mond kan sien. ‘n Geposeerde foto daarby wat kommentaar lewer op die digproses as ‘n pose, of iets wat jy opmaak en ‘bedink’ – die aanhaling uit Breytenbach bevestig hierdie woordspel dus.

Die bundel bevat intens-intieme verse en ‘n manlike leser het dit as grillerig beskryf. Nou ja, vroulike skrywers is al hierdie verwyt gemaak: Anne Sexton, onder andere is gevra dat sy liefs haar intieme oomblikke tussen aanhalings moet plaas. Antjie Krog veroorsaak eweneens by sekere lesers, sowel manlik as vroulik, ‘n gevoel van onvanpastheid. Nou kan ‘n mens Julia Kristeva se Powers of horror. An essay of abjection (1984) nadertrek en miskien juis hierdie dimensie in hierdie bundel ondersoek. Veral in die galery wraakverse sou ‘n mens Kristeva kon gebruik: om te verwys na die geliefde se ‘adiposity’ (42) span waarskynlik die kroon in grillerigheid.

Ons sien die drilarms en die ‘trogloditiese tande”. (Adipose dan hier in die sin van vet (subcutaneous fat).

Die openingsgedig besin oor die funksie van die digkuns (en die woordspel met verlies van ‘n deelteken) aktiveer alreeds ‘n soort siniese, speelse en sardoniese aanslag. In hierdie reeks beleef on die Bloubaardkamer van die vroulike spreker en die gedigte vra dan vir ‘n saamlees met Carol Ann Duffy se reeks-verse waarin sy beroemde vroue aan die woord stel en aan hul agentskap verleen soos onder andere aan Mevrou Freud. (Duffy is uiteraard in ‘n klas van haar eie, maar dit daar gelaat.)

Dit word bevestig in die gedig “Vlug van die miskruier” (14) waar Ms K skryf. En wanneer Breytenbach se Die windvanger gelees word, beleef ons ‘n muskietmoord (en daardie ander outentieke vers wat smeek om parodie: “Muskietejag”!)

Boonop sterf digters nie aan natuurlike oorsake nie en hierdie vers, sonder die sinies-kil aanslag van Dorothy Parker, maak ‘n bestekopname oor die dood:

En ek? Gegas, geblaas, gesny,
gepil gespring, gestring…?
of op die ritme uitgevlerk? (18)

In die fantasieryke “Profiel” word daar heerlik met allerlei p-woorde assosiasies gevorm en hierdie oënskynlike nonsense-versie maak sterk stellings oor haar wese. In “Galery van gewese geliefdes” – wat haar pendant het in Krog se Otters in bronslaai, 1981– word daar wraak geneem op die manlike geliefdes. Hier het ek gebulderlag:

Kort voorspel ek jou
lewe en daarom intenser
onder die ruggesaaide sproete
bewonder ek jou boude:
‘n Huggies-fantasie.
Maar in die middel
twee kolle skurf:
Jy sê my nie (36).

‘n Gedig oor kindermolestering word so vars en helder weergegee en self die voorspelbare afloop – dat die ouers dit nie wil glo nie – word oortuigend weergegee.

Die politieke hier-en-nou word eweneens aangespreek soos o.a. in “Dislojale verset” (63) en die metafisika kom ook aan bod in “God, ons almal se pel” (80). Die lykdig vir die suster met die sielige slot moes myns insiens nie opgeneem gewees het. Jelleke Wieringa is op haar beste wanneer sy ironies is en ‘n gedig soos “10 September 2007” wys haar nie goed op nie. Op haar sterkste is daar ‘n woordvaart, ‘n vermoë om assosiasies te maak en ‘n gedig sy eie loop te laat neem.

In “Profiel” (23) waarsku:

Pastoraal kan sy nie
poëteer oor petunias
pagodas, ponies
papawers, Pekinese
peuters, piet-my-vrou
en die Pleiade nie.

Van Sappho tot Sylvia Plath kom dus aan bod.

Dis ‘n debuut wat waarskynlik nie in almal se smaak sal val nie, omdat dit die dekorum van die poësie ‘n bietjie uitdaag. Maar vir lesers wat hou van spot en humor te midde van ‘n woordvaardigheid met onder draai die duiwels rond, behoort hierdie bundel ‘n aangename debuut te wees. Op die webbladsy van die Versindaba verneem ons dat daar binnekort ‘n tweede bundel pad is. Sy waarsku immers in die reeds aangehaalde gedig:

In haar privaat tyd
praktiseer sy
proktologie in die psige
van die proletariaat
en publiseer pront
haar projeksies.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]