Tuesday, February 12, 2013

Sujit Saraf - The Peacock Throne (2007)



Sujit Saraf. The Peacock ThroneSceptre, 2007. ISBN 978 0 340 899700

Resensent: Joan Hambidge

Paul Scott (1920 - 1978) se The Raj Quartet bly waarskynlik die toetssteen vir ‘n  groot roman oor Indië en verskeie films het al hierdie komplekse kultuur gerepresenteer: sir Richard Attenborough se Gandhi en al die speelse films uit Bollywood lewer eweneens ‘n bydrae om iets vir die Westerse waarnemer te ontsluit. Boonop is ‘n reis deur hierdie landskap ‘n verbysterende, oorrompelende ervaring wat so diep op die psige inwerk dat mense selfs siek word.  Daar word vertel dat Jung flou geval het voor ‘n besoek – omdat hy besef het die psigiese impak gaan hewig wees. ‘n Reis deur die bekendste plekke, maak ‘n mens bewus van ‘n leefwyse wat jy net met een woord kan opsom: paradoks.

Uiterse armoede teenoor luukse hotelle; sofistikasie teenoor verlooptheid in die stad Moembaai met glansende Bollywood, puik restaurante, IT-sofistikasie en wát nog.
Delhi weer met duur hotelle en daar doer stap ‘n koei luilekker oor die straat, terwyl die kinders krieket speel op die veld.

Hier is skrywers opgelewer soos V.S. Naipaul – wat die Nobelprys in 2001 verower het – Salman Rushdi (wat later uitgewyk het), Vikram Seth, Arundhati Roy, die Desais en andere.
Sujit Saraf se 750 bladsy roman heet The Peacock Throne waarin die outeur hom ten doel stel om die Indiese leefwyse uit te beeld. Daar is ‘n handige glossarium agterin vir die toegewyde leser.

Delhi. Meer spesifiek, Chandni Chowk, ‘n besige straat.

Gopal Pandey het ‘n chai-stalletjie.

Op 31 Oktober 1984 is Indira Gandhi vermoor.

En die roman ondersoek die impak van hierdie daad op Gopal se lewe wat skielik uit beheer raak, omdat hy geld kry.

En dan begin jy lees aan aan ‘n lang roman. Voorin is daar ‘n kaart: die Rooi Fort, die Delhi-stasie waar ons een nag geslinger-malinger het op pad om trein te kry na die Taj Mahal, koorsig en siek van die griep en die maaggedoentes.

Die outeur wil dus die leser binne die werklikheid plaas:  gesitueer dan in 1984 en vanaf die openingsin, word die leser betrek by ‘n vinnige vertelpas.

Dit is inderdaad ‘n epiese vertelling van moderne Indië, geskryf deur ‘n binnestaander/buitestaander teenoor Scott se ervaring van Indië, wat hy tydens die Tweede Wêreldoorlog beleef het. The Peacock Throne behoort tot die sub-genre van die Ramayan of epiese roman. Die titel slaan op die Moeghaalse troon. Die Perse het hierdie troon in 1739 gesteel.

Die roman is ongelooflik gedétailleerd beskryf vol verwysings wat beteken dat jy die hele tyd na die glossarium moet blaai vir die betekenis van die die begrippe kurta of kalash. Vir hierdie leser het dit die ontsagwekkende en oorrompelende ervaring van Indië teruggebring met al die jukstaposisies wat die reisiger tref.

In die roman word die hoofkarakter as miopies uitgebeeld – ‘n simbool wat vanselfsprekend al so oud soos die berge is en dat die blinde / bysiende beter kan sien as die een met sig. O Teiresias, eet jou hart uit.

Vir die leser wat belangstel in die geskiedenis, is daar fassinerende aspekte om te ervaar: die kaste-stelsel en die oorgang na ‘n sogenaamde demokrasie; die impak van die verkiesings en hoe gewone mense se lewens beïnvloed is hierdeur.

Dit is ‘n vlot, onderhoudende roman wat lekker-lees. Dit is egter nie ‘n Vikram Seth nie. Dáár word die spanning tussen Moeslem en Hindoe met groter delikaatheid en tekstuur verbeeld. Ek vermoed dat hierdie leser dikwels buite die gebeurde gevoel het, omdat ‘n mens nie werklik bekend is met die fynere nuanses van die geskiedenis nie.

Die roman verbeeld die dénouement in die Indiese geskiedenis in ‘n roman wat leesbaar is, maar beslis nie die hoogtes bereik van die epiese, oftewel Ramayan voorgangers nie. Die verhaal van die gewone man wie se lewe dramaties verander deur omstandighede van buite – hier o.a. deur geld wat hy kry – is deur Etienne Leroux in Die mugu verhaal.

Die outeur is ‘n ingenieur en werk tans in Kalifornië wat ‘n interessante blik-van-buite 
impliseer. Hy is nog jonk (38) en ek dink dit is die soort roman wat ‘n ouer, wyser skrywer méér genuanseerd sou aanbied.

Vir die leser wat bekend is met die konflik tussen die Moeslems en Hindoes, die geskiedenis van Indië, weet waarom moskees opgeblaas word, sal die roman geniet.
Vir dié leser wat nie wil kopkrap met lang, formele sinne en beskrywings nie, gee dit liefs ‘n mis.

Dikwels word te veel inligting ook op die karakters se binnespraak gelaai, soos dat die roepee se wisselvalligheid te danke was aan Mevrou Gandhi se optredes ensomeer.
Dit is en bly maar altyd ‘n probleem met ‘n roman wat jy buite ‘n bepaalde kultuur wil versend. Wat gaan die buite-leser tog begryp van al die ingewikkeldhede van ‘n bepaalde kultuur-opset, al dan nie?

Ek wel gaan nalees oor die Moeghaalse Ryk om presies uit tevind wie Bahadoer Shah Zafar en Baboer was. En uitgevind dat ‘n bai die Madama in die Bordeel is.

* Oor die geskiedenis van die “Peacock throne” is die Wikipedia geraadpleeg.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]