Friday, February 22, 2019

Resensie | Carina Diedericks-Hugo – Karaktermoord (2019)

Carina Diedericks-Hugo - Karaktermoord. Penguin, 2019. ISBN 9781415210178

Resensent: Joan Hambidge

Die bekende jeugverhaalskrywer Carina Diedericks-Hugo debuteer met Karaktermoord by Penguin as volwasse skrywer. Die voorblad aktiveer verskeie reekse en Ruth Rendell.

Om jou kleim af te steek binne hierdie sub-genre wil gedoen wees. En sy kry dit absoluut reg. Die titel speel in op die vrees wat elke ordentlike mens (en skrywer) het: dat leuens, halwe waarhede, onwaarhede of oordrywings oor jou verprei mag word. Jy moet 'n Truman Capote wees wat beweer: vertel van my wat jy wil; verkieslik 'n leuen.

Die roman speel binne 'n uitgewershuis af. 'n Skrywer word vermoor en dan word daar gesoek na die moordenaar. 

Deur die roman so te situeer, aktiveer die skrywer al die ego-strukture en probleme wat die verhouding tussen 'n skrywer en uitgewer mag oplewer. Die uitgewer moet 'n boek verkoop, dit bemark - en dis nie altyd vir die skrywer aangenaam om te besef dat sy / haar boek nie meer aan die leesbehoeftes voldoen nie. En as die skrywer boonop emosioneel of seksueel by die uitgewer betrokke raak, is dit 'n resep vir 'n ramp.

Met 'n rapier, nie 'n knuppel nie, word die verhaal van Anna (en haar manewales) oopgesny. Hier en daar is daar flitse van herkenbaarheid wat nie die storie se gang belemmer nie, maar die kwessie van wat "karaktermoord" behels, ontleed. 

En dit is hierdie dubbelpraat (doublespeak) wat die roman vorentoe dryf. Dit is dus tereg satiries en oordrewe in aanbod soos Deborah Steinmair tereg uitgewys het in haar uitstekende Rapport-resensie (Seks en satire teen ’n uitasem snelpas | Netwerk24). 

En dit satiriseer ook die feit dat almal deesdae krimies wil skryf - waarskynlik omdat dit geld maak. (Is die verwysings na ernstige tekste geplant om te wys hoe ons leesmodes verander het? Hoe sou ons nou op Sewe dae by die Silbersteins gereageer het?)  Leroux is ingebed in die teks en Saul Bellow se Humboldt's Gift waar 'n voet 'n bietjie uithelp (129).

Anna Neethling teenoor Malan Sinclair. 'n Depressiewe vrou en 'n seun wat sy vader haat. Die wynbedryf teenoor die skryfwêreld. Seks en geld. Die suksesvolle Sebastiaan Barnard. Wynand du Toit wat sy posisie wil inneem. Die ywerige joernalis Christina; die vader van Anna, 'n predikant; 'n wynmaker, ene Dawid Briers wat sy druiwe elders kry en dan wyn maak. ('n Skuinsklap na die bedryf waar dit 'n doodsonde is as jy dit nie erken nie.)  Die name is al beduidend vir die satiriese kodes.

Die slot het ek nie sien kom nie. Met 'n teruglees, kan jy dit egter insien!

Is die mense werklik? Is hulle samestellings van werklike mense soos Steinmair beweer?

Waarskynlik wérklik plus 'n verbeelding wat iets bysit. Roland Barthes se vraisemblance word geaktiveer. Net soos werklike plekke en 'n stad herkenbaar is, maar binne hierdie roman gelaai word met núwe implikasie.

Dis teen 'n vinnige pas geskryf met implisiete verwysings na TV-reekse.  Die skrywer was 'n uitgewer op haar dag; so sy kén die bedryf. Sy deel klappe uit na "kommaskuiwers" en "letterslawe". Sosiale media se obsessiewe boekhou (23) en hoe 'n sekretaresse of 'n onbeduidende redakteur gemanipuleer kan word. Die chignon teenoor die bajonet. Snyerspakkies en dasse word opgestuur.

Korreksie: Boonzaaier moet lees Boonzaier (108).

Nuwe wyn in ou sakke. Beslis nie bitter aalwyn vir hierdie leser nie. Dalk pleeg jy karaktermoord as jy mense herken en dit nie bloot as fiksie benader nie.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Thursday, February 21, 2019

Resensie | Dolf van Niekerk – Berigte uit die skemerland (2019)

Karoosange (1975), Dubbelster (1996), Nag op 'n kaal plein (2006), Lang reis na Ithaka (2009), Bleek planeet (2013), en Portrette in my gang (2015) is van die bundels uit Dolf van Niekerk se pen.

Sopas, op sy 90ste, verskyn Berigte uit die skemerland by Impramatur! 

Die meeste lesers ken hom waarskynlik vir sy roman Die son struikel uit 1960 wat menige kind op skool moes lees (dalk eerder deurworstel) as voorgekrewe werk. Vir my is hy die digter van die eenvoudige reëls wat jou bybly:


snags boor ek
na die oergesteente
van die Groot Karoo
en elke dagbreek
bid ek droë woorde op  

(Bleek planeet, 2013)

Of hy dig oor die panta rei, of die Karoo, of nadink oor wáár hy vandaan kom, bly Dolf van Niekerk 'n beleë (en onderskatte) digter in ons digkuns. Daar is 'n misterie en soeke na die “God wat Is” en 'n wete dat lewe (soos die dood) 'n sirkelgang is.

alles keer in siklusse terug,
alle syn herhaal sigself
deur die tyd, wat was word nou
en nou is môre soos dit was. 

(Portrette in my gang, 2015)

Hy vermeng filosofie en natuur-waarneming op unieke wyse.  Soms stel hy groot filosowe aan die woord soos Nietzsche of word die massamens via Ortega y Gasset gekritiseer. Die digter is 'n opgeleide filosoof, maar dit oorwoeker nooit sy verse nie.

Wanneer daar ongerymdhede in ons letterkunde plaasvind, is hy immer die stem van rede.

Luister na hierdie video-greep van ’n voorlesing uit Nag op ‘n kaal pleindeur Dolf van Niekerk (Protea Boekhuis, 2006). Dié opname is gemaak tydens Versindaba 2007.

In Berigte uit die skemerland vind die leser 'n terugblik op sy lewe. Daar is verwysings na die Karoo, die verhouding met die vader, natuurverse én besinnings oor die lewe en dood.

Bykans 'n digterlike testament, sou 'n mens kon sê. Van Niekerk is 'n filosoof; hy het 'n doktorsgraad in die filosofie behaal. Verwysings na die filosofie, onder andere na Huizinga, figureer. Daar word nagedink oor die geskiedenis van taal: van "hebban olla vogala" tot Marais – tot waar ons nou met Afrikaans staan ... (29). Van skryf- tot digtaal.

Van die enkeling tot die eise van 'n kollektiewe bestaan, word in hierdie bundel ondersoek. Die tiptol word bekyk, so ook die herfskleure.

Buite die kring
wat van gees nie weet 
– brabbelklanke van die skare
in die roes van skyn
en dors na welvaart en mag – 
sal hy eenkant
van die meer-as-baie staan.

'n Mens kan uiteindelik die bundel benader as een lang gedig met verskillende rusposes in 'n digterlike bestekopname. Bekende Van Niekerk-temas, maar nou die wete dat dit in die lig van die laastelike val ... (Die aarde waarop ek loop wat in 2003 verskyn het, is immers die titel van een van sy outobiografiese vertellings.)

Hierom die stil aanslag; asof die gedigte na binne keer.

Hier is 'n paar verse:

Skemer se geheim ontwyk my steeds –
sal ek dit in die misterie van
my eie doofheid vind?

*

Skelet van ’n gedig:
By die middelpunt van nag
word nag gesplyt
ver van skemer, naby dag – 
bipolêre nag.
Waak ek by boeke
oor syn en wording,
wese en gestalte,
bring middernag ’n vraag:
Is twyfel die vader van glo,
onsekerheid die moeder van dink?
Waak ek op die mure
tussen lig en duisternis,
terwyl ek wag
op iets wat seker is.

*

Seisoene treur oor die aflê van die self,
verlies aan kleur en vrug,
gebind in die vloei van tyd, 
in die kosmos se gang 
waar begin geen einde het,
dag en nag in skemers versoen.
Seisoene daag in die spel van son
en aarde, buite die raamwerk
van kalendermens se kille waan 
om die absolute te definieer,
die onkenbare te ken en tyd 
aan kettings te slaan.

Hy het 'n besondere ryk oeuvre: prosa, poësie, jeugvertellings, outobiografiese sketse en dramas. Oor die intieme aard van die digkuns het Dolf van Niekerk vir jare al 'n beduidende bydrae gelewer.

Skrik kom huis toe (1968) is 'n jeugboek wat my altyd sal bybly.

Om op 90 so 'n bundel te lewer, wil gedoen wees!

Ten slotte, uit Portrette in my gang (2015):

Laaste woord

Bo-aardse wind uit oersee
waai deur my lyf
dat ek deursigtig voor my spieël
vel en pees van jare moet verduur.
Ek soek agter ou oë en ribbekas
nog jeug; wil met albatrosse vlieg
na stormwaters van die gees
en duik in gevaarlike getye
van denke en dade, nou dat
die liggaam so maklik meegee.
Opstand, weerstand tevergeefs,
maar tot die laaste bietjie weet
en asem die lyf verlaat
om na sy oorsprong terug te keer,
sal die gedig nog van onsterflikheid leer.



© Joan Hambidge






Wednesday, February 20, 2019

Resensie | Philip Kerr - Hans-Nazi's: 'n Bernie Günther speurverhaal (2019)

Philip Kerr - Hans-Nazi's: 'n Bernie Günther speurverhaal. Jonathan Ball, 2019.  ISBN 9781868428809

Resensent: Joan Hambidge

I
Hierdie uitmuntende speurverhaal van Philip Kerr is 'n lonende leeservaring. Bernhard Günther word ingeroep deur 'n miljoenêr-sakeman om 'n moord op te los. Sy dogter en skoonseun is vermoor. Die eintlike doelwit is om die waardevolle juwele te vind wat tydens 'n inbraak gesteel is.

Die tyd is 1936. Die stad is Berlyn. Die back drop is Nazi-Duitsland.

Die boek het oorspronklik verskyn as Berlin Noiren hierdie roman as March VioletsHans-Nazi'sis dan deel van die reeks Die bleek oortreder en 'n Duitse requiem.

Die onderwêreld van korrupsie, manipulasie en misdaad word vermeng met politieke toespelings na die Gestapo. Goering en Himmler is hier. Nagklubs, drank, seks, lykshuise, grafiese besonderhede oor lyke.

Verder is daar aktrises en vroue van die nag.

Al die elemente dus vir 'n spannende page turner. 

Die einde het my nie verbaas nie. Die speurverhaalleser weet by voorbaat hoeveel hase daar nog uit die hoed getrek kan word.

Tereg beskou Deon Meyer dit as 'n kragtoer. Inderdaad – die verwysings en kopknikke na Dashiel Hammett en Sherlock Holmes beklemtoon dat die outeur die genre se kodes ken. 'n Pro los gewoonlik nie 'n deur oop nie (71).

Op bladsy 68 is die wegwyser vir wie die eintlike moordenaar mag wees. 'n Slim truuk.

En die Nibelungen-lied draai onder saam met al die duiwels rond.

Ou films kom ook aan bod wat die teks verder laai met subteks.

Wat absoluut vermeld moet word, is die puik vertaling van Elsa Silke wat die teks weergee in 'n akkurate Afrikaans.

My kopie sit vol merke soos wat ek met vreugde die boek gelees het.

Vreemde dinge het al plaasgevind in die donker drome van die Groot Oorreder…

So begin die boek.

Kerr se styl is vol kwinkslae. 'n Man se boordjie sit so styf dat jy 'n brood daarmee sou kon sny (20); of daar is so baie boeke in 'n biblioteek – van die soort wat jy by die meter aanskaf (21). Of: ek word wakker met 'n hoer se broekie in my mond (34).

Of: "Die laaste keer wat ek so 'n slegte liggaamsreuk teëgekom het, het 'n perd op my gesit gaan sit" (66). Of iemand voel soos 'n sweertjie in buikspreker se mond (87).

Silke skram nie weg van die plat woord nie (67); uiteraard is dit hoe hierdie mense praat. Die woord kak en poephol staan daar.

Die roman vang die tydsgees perfek op. 'n Pickelhaube in plaas van 'n fedora.

Bavarian military Pickelhaube
Prussian police leather Pickelhaube



The Pickelhaube (plural Pickelhauben; from the German Pickel, "point" or "pickaxe", and Haube, "bonnet", a general word for "headgear"), also Pickelhelm, is a spiked helmet worn in the 19th and 20th centuries by German military, firefighters, and police. Although typically associated with the Prussian Army, which adopted it in 1842–43, the helmet was widely imitated by other armies during this period. It is still worn today as part of ceremonial wear in the militaries of certain countries. 

II

Kerr leef nie meer nie. Hy is in 2018 oorlede aan kanker.

Hy het ook ‘n meestergraad in filosofie en die regte behaal. ‘n Mens kan hierdie akademiese en intellektuele agtergrond in sy werk sien.

Tereg is hy onder andere bekroon met die RBA-prys in 2009, ‘n gesogte toekenning en die British Crime Writers' Association's Ellis Peters Historic Crime Award. In 2018 is Prussian Blue op die langlys vir die Walter Scott-prys.

In 1989 het ‘n voltydse skrywer geword nadat hy vir die reklamebedryf gewerk het. As jong kind skryf hy pornografiese verhale vir sy klasmaats – natuurlik teen ‘n fooi. (Hierdie skunnige aanslag sien ‘n mens in sy werk.)

Metropolis binnekort verskyn; sy vrou kondig dit op sy webwerf aan.

Hy is ‘n hardebaard-speurverhaalskrywer – soos John le Carré. Sy The spy who came in from the cold (1963) is daardie sooort verhaal waarteen alle krimies gemeet word.

Hier die dubbel agent en die Koue Oorlog. ‘n Verhaal wat boei as spanningsverhaal, maar terselfdertyd skerp sosiale analises maak.

Kerr analiseer die korrupsie van die Duitsers in 1936.

Deon Meyer se jongste roman Prooi analiseer weer die huidige Suid-Afrikaanse samelewing, terwyl Carina Diederichs-Hugo in Karaktermoord, wat sopas by Penguin verskyn het, na Steinhoff verwys. (Oor hierdie pakkende roman skryf ek later uitgebreid.)

Speurverhale en thrillers ontmasker dikwels die politiek van die dag. Dit is tersaaklik dat Philip Kerr verwys na die Nibelungenlied – ‘n epos gebaseer op die orale tradisie, die sogenaamde Duitse Iliad.

Hierdie teks is gebruik as ‘n opswepingsteks in die Nasionaal-Sosialistiese propoganda. En Hans-Nazi’s is skerp krities oor wat met Duitsland gebeur het. Dit word vertel in die tyd met die agterna-wete van die leser (en die implisiete outeur) oor hoé boos dit in wese was.

Deon Meyer se roman vertel vir ons hoe korrup ons samelewing reeds is.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Thursday, February 14, 2019

Filmrubriek | Can You Ever Forgive Me? (2018)

In Marielle Heller se Can you ever forgive me? is Lee Israel (vertolk deur Melissa McCarthy) 'n New Yorkse skrywer wat worstel met geldprobleme, alkoholisme en, op die koop toe, skrywersblok. Hierdie trits gee dan aanleiding tot haar persoonlike drama. Sy verkwansel 'n brief van Katherine Hepburn aan Anna, die eensame plaaslike boekhandelaar, wat 'n verhouding met haar wil begin.

Haar agent wys haar af en die geldnood druk en hierom begin sy bedrog pleeg. 'n Brief van Fanny Brice wat sy vind in 'n argief tydens haar navorsing, is die motoriese moment en met die hulp van 'n swendelaar ene Jack Hock, wonderlik vertolk deur Richard E. Grant, maak Lee vordering. Van 'n boek oor Estée Lauder tot die owerhede wat ingryp toe sy haar hand oorspeel met 'n vervalste brief van Noël Coward. En sy word geswartlys. Letterlik en figuurlik.

Sy het net 'n kat en 'n tikmasjien.

Daar is 'n biografie oor hierdie vervalsings wat heet Can you ever forgive me? gepubliseer in 2008. Tussen 1990 and 1991 het sy meer as 300 briewe geskryf en gebuikspreek vir Dorothy Parker, Louise Brooks, Edna Ferber, Lillian Hellman en Noël Coward, en dit dan verkwansel aan antikwariese handelaars.

Die kyker moet self die storie ervaar en die ontknopings meemaak. 

Die film lewer skerp kommentaar op die rol van agente in die boekbedryf. As jy nie saamspeel nie, is jy vergete. Jy moet bereid wees om deel te raak van die reklamemasjien en goeie skryfwerk is nie al wat tel nie. Boonop verander modes en behoeftes van lesers in 'n ommesientjie.

Hierom is die siniese Dorothy Parker die sentrale interteks waarmee die hele film werk.

Die film lewer aweregse kommentaar op genderkonstruksies. Coward se seksualiteit was nie so eerlik as wat Lee wou voorgee nie en dit lei tot haar ondergang. Daar is implisiete lesbiese ondertone en openlike homoseksualiteit.

Sy het eweneens 'n whizza in die hand en haar woonstel is vuil en vol vlieë. Haar klere en lyf lyk oes. Onder haar bed is daar kuttels. Jack is op drugs en smokkel waarskynlik.

Die sub-teks is duidelik: as die hoofkarakter 'n heteroseksuele en suksesvolle skrywer was, sou sy nie hierdie dinge aangevang het nie.

Haar lewe is dié van 'n kopiïs, 'n afbeelding van die suksesvolle skrywer wat sy sou kon wees. Wanneer sy in die hof verskyn, bely sy egter dat sy haar oortredings geniet het.

Haar straf is dat sy 'n werk moet vind, gemeenskapsdiens moet doen en by die AA sal aansluit. Boonop is daar huisarres op die spel.

In 'n siedende slottoneel beledig sy en Jack (sterwend aan VIGS) mekaar in 'n wedersydse gebrek aan respek met desillusie oor 'n vriendskap sonder lojaliteit.

Die tonele van New York is bedreigend. Die kroeg is donker en oud. (Hier is die kamera soos 'n ouktoriële verteller besig om implisiete kommentaar te lewer op die stad New York.) By 'n skrywersparty gaps Lee 'n jas, terwyl haar agent ongemaklik voel oor haar gedrag en vuil klere.

Ten slotte skryf Lee 'n brief asof sy die briljante digter Dorothy Parker is ...

Heerlike Parker-aanhalings bly immer: “Beauty is only skin deep, but ugly goes clean to the bone” en “If you want to know what God thinks of money, just look at the people he gave it to”.

Haar roman oor Fannie Brice, die sangeres en komediant, is eweneens belangrik vir die begryp van swart humor in die film. Barbra Streisand se Funny Girl (1964) is op haar lewe gebaseer.

Gaan kyk eerder Can You Ever Forgive Me? en beleef hierdie aserbiese film se kommentaar op die skryfwêreld.

Hierdie is my gunsteling Parker-vers!

Resume

Razors pain you; 
Rivers are damp; 
Acids stain you; 
And drugs cause cramp; 
Guns aren't lawful; 
Nooses give; 
Gas smells awful; 
You might as well live. 

Mrs. Parker and the Vicious Circle is 'n puik weergawe van haar lewe met Jennifer Jason Leigh as Parker in 'n 1994 film van Alan Rudolph.

Daardie samekomste by die Algonquin hotel in 1919 tot 1929 word puik vasgevang.

© Joan Hambidge

Tuesday, February 12, 2019

Resensie | H.P. van Coller, Helize van Vuuren & Louise Viljoen (samest.) - Afrikaans poems with English translations (2018)

H.P. van Coller, Helize van Vuuren & Louise Viljoen (samest.) - Afrikaans poems with English translations. Protea Boekhuis. 2018. ISBN 978-1-4853-0694-8

Resensent: Joan Hambidge

In Andrei Tarkofsky se Nostalgia (1983) lees die gids Eugenia ‘n vertaling van gedigte. Haar reismaat Andrei wys op die onvertaalbaarheid van alle kuns. Sy reageer en wys hom tereg daarop dat as dit nie vir vertalings was nie, ons geen groot Russiese skrywers sou kon lees nie.

Daar verskyn tans etlike vertalings van Afrikaanse gedigte: in 2015 verskyn In a Burning Sea (Marlise Joubert, red.), en sopas het daar ‘n derde uitgawe van Michael Chapman se The New Century of South African Poetry (Ad Donker / Jonathan Ball) verskyn. Daniel Hugo en Zandra Bezuidenhout is aktiewe vertalers van Vlaams en Nederlands. Haar vertaling van Alfred Schaffer se Mens dier ding is puik. Helize van Vuuren vertaal moeilike gedigte op Versindaba.

Hierdie hersiene weergawe van C.J.D. Harvey en A.P. Grové se bloemlesing Afrikaans poems with English translations wat in 1962 verskyn het, is behartig deur drie gesiene literatore: H.P. van Coller (o.a. die redakteur van Perspektief & Profiel), Helize van Vuuren (‘n deeglike Opperman en Breytenbach navorser) en Louise Viljoen, ‘n antoloog van Poskaarte saam met Ronel Foster; met gepubliseerde studies oor Krog en Breytenbach.

‘n Mens sal nie ‘n poësiekenner vind in Afrikaans wat nie by dié projek betrokke was op ‘n manier nie. Twee van my verse is opgeneem (ek verklaar my belange toe ek gevra word om te resenseer); ‘n ander kommentator het vrae gevra oor waarom sekere digters nie opgeneem is nie. Hierdie kwessie sou waarskynlik ‘n hele dagblad kon volmaak.

‘n Handvol digters het opname geweier en die bloemlesing is ‘n projek van die Akademie vir Wetenskap en Kuns (uitgegee deur Protea). Soms berus die kopiereg by eersgenoemde; soms by die skrywer.

Met Groot Verseboek wat alreeds drie kluiwe beslaan, sou ‘n nuwe uitgawe waarskynlik vier volumes opeis. En een leser sou in elk geval nie tans ‘n genoegsame oorsig oor ons poësietoneel kon hê nie. Ten minste vier kenners word benodig; dis nou te sê, as die kleiner uitgewers kopiereg verleen sónder die enorme onkostes hieraan verbonde.

Dalk moet ‘n mens eerder fokus op die vertalers en hoe die digkunstoneel verander en getransformeer het.

Vertalers wat hier hul merk maak, is uiteraard die Branfords, terwyl gesoute digters  soos Guy Butler, Anthony Delius, Sheila Cussons, Charl J.F. Cilliers, en Ernst van Heerden (o.a.) ook behendige vertalers is. Daar is ook Tony en Gisela Ullyatt.

Lost in translation heet Sofia Coppola se film uit 2003. Wat fluister Bob Harris (Bill Murray) in Charlotte (Scarlett Johannson) se oor ten slotte? 

En dis hoe ‘n mens ‘n bundel met vertalings moet lees. Elke vertaler (soos elke kyker) sal ‘n ander afleiding maak, oor wat gesegge word. Sekere digters word moeiliker getransporteer van Afrikaans na Engels, omdat die gedigte te idiomaties, boers; vol kwinte én kwinkslae sit. Byvoorbeeld Breytenbach en Krog. Hoe kan ‘n mens “ek skryf omdat ek woedend is” reg vertaal? Philander se “die bome is kiets” word vertaal as “upright” deur Andries Wessels (162). Die vertaler wou kennelik ‘n rympatroon behou, maar die woord “kiets” se betekenis gaan verlore. 

“A lone goose dropped a feather light” het nie die ritme en musiek van “‘n berggans het ‘n veer laat val” nie.  By Boerneef, ‘n volksdigter, is die gebruik van “thee” problematies, omdat hy juis so uniek modern was in sy outydsgeit (171).

“Hoe sal ek jou van hierdie volgehoue stilte red?” uit Petra Müller se klassieke elegie “Nico”, word “persistent anonimity” wat totaal iets anders is (246 - 247).

“Allogot!” word “Holy fuck!” (Marlene van Niekerk, 252) wat wys hoe woorde in verskillende tale anders resoneer.

“Krakeel” word “quarrel” (254). Vraagteken. C.M. van den Heever se “Voëls in die skemering” aktiveer een van die grootste probleme van die digkuns: klank. Hoe vertaal ‘n mens “Voëlgeklepper in die skemer / oor buigende riet” oortuigend? Dit word deur die Branfords vertaal as “In the twilight, birds alighting / on whispering reeds” (48-49). 

Dieselfde geld die problematiek met gert vlok nel se unieke taal wat Leon de Kock aangedurf het. In “i sagte reën het agtermiddag” (286) word “uitgehol” dan “scooted out”. Tog presteer De Kock om die eiesoortige gebroke sintaksis in die Engels op te vang.

Lawrence Venuti se sieninge oor vertaling kom handig te pas. Moet die vertaler onsigbaar bly? Moet jy die teks huis toe bring of oorsee stuur? Of laat die vertaler maar altyd sy duimafdruk in die teks? (Ek is van mening dat die vertaler altyd tog maar aanwesig bly. Gaan kyk maar na D.M. Thomas se Russiese vertalings.)

Hierdie boek het my teruggeneem na Venuti studie The Translator's Invisibility: A History of Translation wat in 1995 verskyn het. Venuti on beteken tog come on!
‘n Goeie vertaler is soos ‘n goeie stemnabootser of ‘n komediant wat ander kan naboots. (Kevin Spacy kry dit volkome reg om iemand anders te word in sy komiese nabootsings. Maar ons weet dit is Spacy wat dit doen.)

Wat fluister Bill tog vir Charlotte?

Ander gedigte beweeg makliker, flinker en word verander in die vertaling. Loftus Marais klink lekker; Nathan Trantraal se egte Kaapse idioom werk nie in Engels vir my nie.

Die leser kry sowel die Afrikaanse as die Engelse weergawe. ‘n Wit bladsy sou ‘n opsie kon wees vir die lesende vertaler wat wil verskil of bywerk. ‘n Mens vergelyk onder andere die verskille tussen Harvey en J.M. Coetzee se vertalings van Ina Rousseau se “Eden” met ‘n kopknik na Coetzee op bladsy 157.

Maar kom ons fokus eerder op die landskap.

Om ‘n oorsig te gee van hoe die digkuns verander het: ‘n honderd van die mees betekenisvolle gedigte in Afrikaans, dit weet die samestellers, is ‘n saak van onmoontlikheid. ‘n Tradisie gewortel in Afrika en binne ‘n internasionale gesprek, danksy die internet, is hoe sake nou daar uitsien. Die probleme van ‘n klein mark en leesgehoor is terloops iets wat alle digters ervaar; aldus Paul Muldoon, die belangrike Ierse digter, werksaam in die VSA. En Muldoon met sy eg Ierse aanslag (en “slant rhyme”) het hom al uitgelaat oor hoe moeilik dit is om sy gedigte te vertaal.

Die indruk wat hierdie bloemlesing by my as leser laat, is hoe enorm gesofistikeerd ons ouer digters soos Marais, Totius, Leipoldt, Toon van den Heever, I.D. du Plessis en C.M. van den Heever al gedig het. En bly Celliers se “Dis al” nie maar ‘n klassiek nie!

Van formele gedigte tot die parlando; van ‘n standaard-Afrikaans tot kaaps; van rym tot vrye vers; van harde werklikheid tot droom; van artefak tot interteks; van punktuasie tot foefieslaaid; van Hoofletters tot kleinletters; van realisme tot surrealisme; van verhewe word tot vloekwoord; van intieme gedig tot woedende politieke aanklag; van ek-wou-nog-sê tot klaarpraat.

En hierdie volgende digter se verse verklap hoe mens soek na die regte grein.

“‘n skaap se derms vir die snare…”
skaapderm en boom plus perdehaar
kom in die geheim
in ‘n mensehart bymekaar.

Só praat T.T. Cloete (258). Nou probeer u liewe leser om bg. te vertaal.

Die landskap-omslag van Kristèl de Weerd is pragtig – dit dui ook weer iets aan oor die aard van hierdie land… ‘n pad wat kronkel, berge in die vertes, bome… Elke kyker sal iets anders hierin raaksien en waardeer. 

Soos dit met hierdie bloemlesing gesteld is. Vir die hiate en oorsigte bestaan daar gelukkig ánder bloemlesings.

En ons sê almal so.

Sunday, February 3, 2019

Resensie | Alfred Schaffer -Mens dier ding (2018)

Alfred Schaffer -Mens dier ding. Human & Rousseau, 2018. ISBN13: 978 07981 78143 (Vertaal deur Zandra Bezuidenhout)

Resensent: Joan Hambidge

I
Die digter gebruik anachronismes en intertekste om die lewe van Shaka Zoeloe oor te vertel. Daar is films (Apocalypse now en Raging bull, o.a.), 'n perskonferensie, selfone, drome, UFO's, die Lonely Planet-gidsboek, komiekstrips, Kafka, Plath, die blinde digter Borges, Superman o.a. wat die storie uit die perspektief van 'n spreker wat soms hoog op dagga is, weergee. Susan Sontag se Illnes as Metaphor luier ook in die agtergrond. Verskillende vertellers en stemme dus. Schaffer teenoor Thomas Mofolo se Chaka, die roman uit 1931 met 'n voorblad van Mohau Modisakeng: Qhata (2011). Die tirannie van indertyd teenoor die geweld van nou. Die bemarking van die bundel wys op die spel tussen mite en werklikhede:
Daar word dikwels na hom verwys as ’n gesaghebbende dog ongevoelige krygsman en strateeg – uitvinder van die kort assegaai. Maar sy lewe verteenwoordig ook dié van asielsoeker, vlugteling, digter, weeskind, ’n sieklike man wat wegkwyn weens ouderdom. ’n Slagoffer van kolonialisme. Kon hy regtig ’n gloeiende vuur met sy kaal voete uitdoof en was visvang sy stokperdjie? Het hy inderdaad skaak gespeel, en met ’n blitsige motorkar in voorstede rondgejaag? En op ’n goeie dag vir dood op die snelweg gaan lê? [1]
Die bekroonde digter Alfred Schaffer (vertaal deur Zandra Bezuidenhout) word 'n buikspreker vir hierdie figuur. Maar meer as dit. Hy kyk as Nederlander van buite na die kolonistiese landskap. En ook van binne. Schaffer het hier in 2002 sy doktorsgraad voltooi (onder wyle Henning Snyman) en gee klas aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy was ook mede-redakteur van Nuwe stemme saam met Antjie Krog.

Kom in, dit vries daar buite (vertalings deur Daniel Hugo in 2013) som iets van sy posisie op as inkommer én buitestander.

Mens dier ding is 'n pragboek. My eksemplaar sit vol uitroepe van beelde wat bybly en kwel.

II

Hoe moet 'n mens hierdie bundel benader? Is dit 'n gedig-as-draaiboek? 'n Kreatiewe onderhoud met die historiese figuur, Shaka? 'n Dagdroom? 'n Hallusinasie? Iets geskryf op lekker twakkies? 'n Skaakspel?

Daar is kort vinnige gedigte (soos "Lekker!", 64) en dan weer 'n prosavers (67).

Die stylversnellings en -veranderings plaas die leser pens en pootjies binne die metamodernisme. Brian McHale se Postmodernist Fiction (Methuen, 1987: 36 - 37) op die sosiale konstruksies van die (on)werklikheid. Dit wat ons dink ons weet, word dikwels op sy kop gekeer. Die anargistiese landskap van die wêreld in meervoude ...

III
Dewald Koen beskou hierdie bundel tereg as 'n tour de force

Hy skryf:
Die bundel is veelsydig van aard en word Koning Sjaka se lewensverhaal deur middel van dagboekinskrywings, monoloë, dagdrome, briewe en herinneringe aangebied. (Versindaba » Resensie/ Mens Dier Ding (Alfred Schaffer). Vert. Zandra BezuidenhoutBesoek 3 Februarie 2019)

'n Mens sou kon byvoeg: 'n mens sien ook die binnewerkinge in 'n dagboek van 'n digter se kreatiewe prosesse. Dit tree nie alleen in gesprek met Lady Anne nie, maar ook met Raka.

'n Moderne epos met stylbreuke. Soms liries. Soms verhalend.

Hierdie gevoel word bevestig deur die volgende op bladsy 109:

Nog nie 'n paragraaf verder nie, of Shaka se moeder
lê vir altyd in 'n voetnoot plat op die grond.

Hierdie vers word dan parodies oor die volksaal en met 'n verwysing na method acting:

Die aarde, donkerpers vandag en leeg
is glad soos 'n enorme rolbalbaan.
Daar kom die eerste bal al aangerol.  (110)

Hierdie bundel is reeds met die Awater Poëzieprijs, Paul Snoekprijs asook die Charlotte Köhlerprijs bekroon. Die vertaling sal waarskynlik geloof word. Dit dans naatloos van Nederlands na Afrikaans.

dag(droom) # 0

Ek kan nie slaap nie ysige naglig hou my wakker.
Soos ’n boomblaar wieg ek heen en weer
hierdie gewieg bring geen rus nie.
In ’n refleks van vraatsug skiet my pote vorentoe
maar ek is versadig, ek is verlate in hierdie oerbos
met sy sonverskroeide bome –
dronk van vermoeidheid ná alles wat ek vernietig het.
Dit was soos ’n geploeter oor ’n eindelose grondpad
in ’n verderflike hitte.
Herwaarts en derwaarts tussen die stamme en die struike
brokstukke mens, gebars of gesmelt.
Hulle sê dit spook hier hulle sê
wat nie beweeg nie moet bevrore wees van angs.
Maar ek het net lief.
Soos in ’n baie ou sprokie.
As ek regop kom dan bid ek, ek bid dan en so bid ek
en ek bid dat iemand my gebed verhoor.
Sirenes swel aan tot anderkant die verte.
Ek het na U gesoek maar kon geen weerstand vind nie.

Hierdie bundel is 'n noodlyn vir die moderne leser. Boonop lees ons in die verantwoording dat De Sovjet UFO dossiers van Paul Stonehill (1998) besoek is. Aha. 

Ons is terug by McHill en Patricia Waugh.

Ek het goed om my rondgekyk maar ek was heeltemal alleen
as mens as dier as ding ... (68)

Endnoot:
1. Versindaba » Nuwe bundels. Besoek 3 Februarie 2019.

Inderwaarheid weet ons baie min oor die legendariese geskiedkundige figuur, Sjaka Zulu. Daar word dikwels na hom verwys as ’n gesaghebbende dog ongevoelige krygsman en strateeg – uitvinder van die kort assegaai. Maar sy lewe verteenwoordig ook dié van asielsoeker, vlugteling, digter, weeskind, ’n sieklike man wat wegkwyn weens ouderdom. ’n Slagoffer van kolonialisme. Kon hy regtig ’n gloeiende vuur met sy kaal voete uitdoof en was visvang sy stokperdjie? Het hy inderdaad skaak gespeel, en met ’n blitsige motorkar in voorstede rondgejaag? En op ’n goeie dag vir dood op die snelweg gaan lê?

In dié vertaling van Alfred Schaffer se bekroonde Nederlandse bundel, Mens dier ding, ondersoek die digter die mite van Sjaka deur kort dagboekinskrywings, monoloë, herinneringe, briewe en dagdrome. Sjaka word vergestalt as ’n kleurryke figuur; die mites rondom sy geskiedenis word op die kop gedraai en ondermyn, en eindelik, soos almal van ons, word hy akteur in sy eie lewensverhaal.

’n Poëtiese kragtoer, en voorwaar ’n hoogtepunt ter plaatse dat dié vertaling (deur Zandra Bezuidenhout) eindelik in Afrikaans sal beskikbaar wees.

Oor die digter

Die bekroonde Nederlandse digter Alfred Schaffer is in 1973 in Leidschendam gebore. Sy ma was van die Karibiese eiland Aruba, en sy pa was ’n Nederlander. Hy voltooi sy voorgraadse studie in Leiden en verwerf in 2002 sy doktorsgraad aan die Universiteit van Kaapstad. Daarna werk hy as redakteur by die uitgewery De Bezige Bij en later by die tydskrif Bunker Hill. Tans doseer hy Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch.

Sy debuutbundel, Zijn opkomst in de voorstadt, verskyn in 2000 en word gevolg deur Schuim (2006), Kooi (2008), Mens Dier Ding (2014) en Een lofzang (2016). Sy gedigte is onder meer vertaal in Engels, Frans, Duits, Spaans, Turks en Chinees, en in 2013 verskyn ’n keur van sy gedigte in Afrikaans, vertaal deur Daniel Hugo en getiteld Kom in, dit vries daar buite.

Schaffer ontvang ook die volgende toekennings vir sy digkuns: die Jo Peters-poësieprys, die Hugues C. Pernath-prys, die Ida Gerhardt-poësieprys en die Jan Campert-prys.