Thursday, February 14, 2013

Steve Shapiro - of little consequence (2007)



Steve Shapiro. of little consequence. Unpublished Manuscript Press, 2007. ISBN 979 1 874923 74 9.

Resensent: Joan Hambidge

Kan ‘n Westerling ‘n Boeddhis wees?

Kan ‘n Westerling ‘n haikoe skryf?

Hieroor kan ons baie lank debatteer en kenners sal meen dat op beide vrae die antwoord nee sal wees.

In die klassieke Japannese vorm is die gedig regaf. By ons is daar sewentien sillabes in die volgende patroon opgebreek 5 / 7 / 5. Met ander woorde, in drie reëls word dit uitgespeel. Gewoonlik in die klassieke haikoe (hokku) is daar ‘n stelling oor die natuur en die beste beoefenaars verbind die konkrete met ‘n abstraksie. Basho word gewoonlik in elke glossarium oor die haikoe vermeld.

In Afrikaans is daar min goeie haikoes en Hélène Kesting en Eveleen Castelyn is waarskynlik die bekendste beoefenaars van hierdie vorm. In Engels-Suid-Afrikaanse letterkunde is daar natuurlik Gus Ferguson en Steve Shapiro, die digter van of little consequence.

Shapiro het in 1996 die Ingrid Jonker-prys verower vir sy bundel In a borrowed tent en sy jongste bundel dekonstrueer die haikoe-vorm.

Om iets te parodieer, beteken dat jy die vorm moet ken. En Shapiro terg lekker, maar hy is nie altyd vormvas nie. Trouens, sy haikoes kry nie die altyd sillabes reg nie. Dalk is dit ook die punt wat hy probeer maak.

Plesierig is dit wel, in Engels en op Afrikaans, hierdie spel met die ou filosofiese mymeringe.

Digkuns aan die duiwel
dronk en lewend
kyk ek krieket

Boskak besig
‘n entjie verder
wilde sampioene

In between
worrying about money
the falling leaves

African violets
on the bathroom sill
and haemorrhoid cream

Taking a break
from self-pity
- rain on the roof

Die kenner en aanhanger van die vorm het waarskynlik al gesien dat hier ‘n soort banalisering aan die wroet is wat Basho-aanhangers sal laat gru.

Hoe durf hy oor sulke sake praat in ‘n haikoe?, sou mense wonder.

In ‘n postmoderne tyd word daar “gemisdoen” in die skoene van die grotes en snorre op die Mona Lisa geteken.

So Basho gaan ook op sy duiwel kry.

Hierdie boekie wil ont-heilig en dit het my weer terug geneem na Eveleen Castelyn se Minder as die engele (1990) waarin sy gewoon klassieke haikoes skryf wat ‘n mens altyd bybly:

Roosblare bêre
hartvormig in diep laaie
die as van liefde

Dis ‘n mini-gedig met groot wyshede of waarhede. Amper nes ‘n kort-kortverhaal wat ‘n vinnige punt moet maak.

Die leser moet self besluit of  die onluisterende aanslag van Shapiro met jou praat.

Sommiges is wel ernstig – soos die een waarin die vlinder al weg is voordat hy die geleerde Latynse naam kan onthou!

Nogmaals dank aan Gus Ferguson wat digters bly bemark in Engels hier te lande.

Hierdie boekie het my weer teruggeneem na Eveleen Castelyn, onbetwiste meester van die haikoe en tanka (die 31-sillabe gedig) in Afrikaans:

in die eendeweer
loop die dakkie van my hoed
oor soos my gemoed


Bronne:


2. Haiku 

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]