Monday, May 6, 2024

Resensie | Hedley Twidle – Show me the place | Jonathan Ball, 2024

Hedley Twidle - Show me the place. Jonathan Ball, 2024. ISBN: 9781776193202. 228 pp. Sagteband

 

Resensent: Joan Hambidge

 

In hierdie versameling essays is daar ‘n motto voorin van Damon Galgut uit In a Strange Room oor die hele kwessie van reis. Die efemere en vervlietende aard van die reiservaring word hiermee beklemtoon. Die kamer wat jy nou betrek, word binnekort deur iemand anders beset. Alleen in die herinnering word iets bestendig of verewig.

 

In Afrikaans het Elize Botha, ‘n fyn stilis, vir ons in 1975 Afrikaanse essayiste gegee. In Italiaans is daar (vertaal in Engels) Umberto Eco se besinnende essays. In Frans ‘n hele galery essayiste van Michel de Montaigne tot Roland Barthes. In die verskillende definisies is ons altyd bewus van die persoonlike indruk of mening. En soos Susan Sontag, een van die grootste beoefenaar van die essay, tereg opgemerk het: “Style is the principle of decision in a work of art, the signature of the artist’s will”. (Sontag maak ‘n buiging hier: ‘n karakter het ‘n streep deur haar hare nes Susan Sontag.)

 

Die essay kan literêre kritiek wees, maar soms word dit ook ‘n persoonlike of politieke manifes. En dit ervaar en beleef ons in Margaret Atwood se essays uit 2005 Curious Pursuits.


Hedley Twidle gee sy siening en belewenis in Show me the place van verskillende plekke, intellektuele ruimtes, tye, die otro mundo (of hiernamaals), utopias en distopias.  Dit is hibriede tekste: iewers tussen essay en kortverhaal. Selfs met politieke kommentaar.

 

Van hier te lande (Rhodes se verdwene neus) tot die monsoon raag. In “A line of light” skryf hy oor sy ouers, en meer spesifiek, sy moeder se demensie. Hierdie leser ken min tekste waarin die pyn, ontnugtering en verdriet só ingehoue en raak beskryf word. Die rooi dagboekie verklap die aftakeling en die skrywer navigeer alles met wetenskaplike feite. (Wees gewaarsku: moenie dit lees tydens die blou uur nie.)

 

Wat hierdie versameling hoogs leesbaar maak, is die skrywer se skerp oog (en oor). Nie net as voyeur nie, maar veral as écoteur. Is reis nie, wonder hy, nie eerder om vreemde klanke en musiek te ervaar nie? ‘n Skreeuende baba op ‘n vlug huil namens die hele mensdom se ellendes, soos opgesom op die verteller se Kindle.

 

Of die geluid wat gesoute branderplankryers maak aan die begin van hul vaart. Die deeglike her-vertelling van hoé die tsoenami ervaar is deur ‘n oorlewende, tref in die maag. Want reis konfronteer jou met tekste wat jy toevallig sien of iets opteken wat jy nie werklik begryp het nie.

 

En waarskynlik nooit ten volle sal begryp nie …

 

Van George Orwell, Gandhi, Ursula Le Guin tot ‘n biblioteek met selfhelp-boeke kom onder die loep in ‘n soort ashram. Wanneer hy skryf oor Rhodes se verdwene neus, neem hy ons terug na Gogol se klassieke verhaal, Sello Duiker en natuurlik na William Kentridge se interpretasie hiervan. En ontmoetings met werklike figure wat die verhaal nog ingewikkelder maak. 

 

In hierdie klein kompendium registreer die verteller die teenstrydige emosies rondom reis. En ek gebruik met opset die begrip verteller: want die werklike Hedley Twidle skep hier ‘n vertellende instansie én fokalisator (I am a camera, I am a sound recorder, I am a eavesdropper) om sy sieninge neer te pen. En terselfdertyd slim te bevraagteken of dekonstrueer. 

 

Die tekste speel eweneens op mekaar in. Ons besef reis onthul jou verborge fantasie van jouself en jou Umwelt. Hierom is dit ‘n verregaande proses (letterlik en figuurlik). 

 

Op die voorblad word die woord essays onderstebo geplaas om waarskynlik die hele kwessie van wat die essay nou eintlik wil wees, te problematiseer. Dis helder en eerlike tekste, wat iets van hierdie tydsgees opvang. Skerwe van hoop en verbeelde plekke. Let’s save pessimism for better times, lees ons op die agterblad. En kyk wat dink hy van die akademie se negatiewe diskoerse en werkswinkels. 


Hedley Twidle

Utopia in al sy geledinge word semanties ontleed: van eutopia tot outopia. Van Thomas More tot nou. 


“Five by three” onthul iets van die kompleksiteite van moderne verhoudings. Ons leer van iets soos “polyamory”. Daar is slim intertekste (soos Calvino) en ‘n verwysing na Werner Herzog se film in 2005 Grizzly Man oor Timothy Treadwell. ‘n Film oor beer-aktiviste Treadwell en Amie Huguenard) se dood in Alaska.

 

Daar is humor, daar is slimmighede, daar is rou emosie en ‘n vermoë om disparate elemente saam te snoer. En wyshede:”Travel means relinquishing control of what music is playing around you” (166). Hier kan ‘n mens byvoeg: kos, mense, slaapplek.

 

Daar is ‘n analise van Alberto Manguel en Gianni Gaudalupi se The Dictionary of Imaginary Places (1980) en die begeerte om ander wêrelde te skep. Met ‘n skerpsinninge ontleding van Ursula Le Guin, die koningin van SciFi.

 

Die boek word tereg aangeprys o.a. deur Jonny Steinberg en Mark O’Connell, die Ierse skrywer en joernalis.

 

Ek was werklik spyt toe ek klaar gelees het en toe sommer dadelik weer begin. Sela. Netsach. Amen.

 

Joan Hambidge is ‘n senior navorser en Fellow aan die Universiteit van Kaapstad. Haar jongste roman heet Stasies.