Julian Barnes. Arthur & George. Random House, 2005. ISBN: 0 224 07782 1.
Resensent: Joan Hambidge
Julian Barnes se roman Flaubert’s parrot
het ons voorberei op sy jongste roman, Arthur & George. Sy vermoë om intense navorsing met
verbeelding te versoen, is waarskynlik sy belangrikste kenmerk en handtekening
as romanskrywer. Onder die skuilnaam Dan Kavanagh het hy al speurverhale in die
tagtigerjare geskryf oor die biseksuele Duffy. Hieroor het Time breedvoerig
geskryf.
Die jongste roman handel oor Sir Arthur
Conan Doyle, skepper van die Sherlock-Holmes verhale. Dus (soos met Flaubert’s
parrot) ‘n skrywer wat (analises van) speurverhale skryf oor ‘n ánder
speurverhaalskrywer se fiksionele speurder wat in die werklikheid eenkeer ‘n
saak ondersoek het.
Die Skotse Conan Doyle se lewe word geplaas
George Edalji (half-Indies) se bestaan in Staffordshire en die verhaal word
beurtelings vanuit elkeen se perspektief weergegee. Die eerste ‘n gewilde, knap
leerling en sportman; die ander een ‘n outsider, die kind van ‘n arm “vicar”.
Hoe kom hierdie twee uiteenlopende mense
bymekaar uit? George Edalji, ‘n prokureur, word in 1903 aangekla daarvan dat hy
vee gemutileer het en tot ‘n sewejaar-lange tronkstraf veroordeel. (Ons vind
ook ‘n skets van die vermeende wapen.) Dit blyk egter dat hy nie skuldig was
nie (die leser weet dit en glo aan sy integriteit en uit die vertelperspektief)
en dit is dan die beroemde skrywer en skepper van speurverhale, Conan Doyle,
wat sy saak in die koerante in die parlement verdedig. Net in hierdie één geval
het die Conan Doyle, op versoek van sy leserspubliek, ingetree om die misterie
rondom hierdie saak te probeer oplos. En so het ‘n saak, wat waarskynlik ‘n
blote voetnoot in die geskiedenis sou wees, ‘n opsienbarende saak en nou, roman
geword.
Die briljante Conan Doyle word in
jukstaposisie geplaas met die swaksiende en half-Indiese George, ‘n persoon wat
as jong kind homself bevuil in spanningstoestande en deur ander kinders verwerp
en uitgelag word. Boonop bestudeer hy regspleging, en meer spesifiek, wette
aangaande die Spoorweë, wat nog verder sy figuurlike verbeeldingsloosheid
illustreer. Geen romanskrywer kon twee méér uiteenlopende figure teenoor mekaar
geplaas het nie. Trouens, selfs die briljante Barnes het hier in die
werklikheid karakters gevind wat “larger than life” is. In ‘n nawoord bely hy
dat hy argivale navorsing moes onderneem om hierdie roman te skryf.
In die tronk lees George die beroemdste
Conan Doyle se The Hound of the Baskervilles
en die toestande wat hy meemaak, word dwingend beskryf deur Barnes wat die
uitsigloosheid van hierdie man se lewe en sy bykans gedoemde bestaan binne ‘n
rassistiese Engeland, onder die loep neem. Die miopiese George is reeds van
kindsbeen uitgelewer aan die spot van ander en sy ouers (sy vader is ‘n
prediker) se pogings om hom te verdedig in die hof, vererger net sake. Tog bly
hy hoop, op pynlik-naïewe manier, dat ander in sy onskuld sal glo. Die leser
sien egter die rassistiese en klassistiese gemeenskap in aksie en die brutale
polisiemag wat letterlik en figuurlik op hom spoeg.
Wat hierdie roman besonder meesleurend
maak, is dat Barnes implisiet kommentaar lewer op die skryfproses en wat ‘n
suksesvolle speurverhaal alles moet behels. Conan Doyle bly bewus van die feit
dat hy nie Kipling is nie en weet dat ‘n verhaal “intelligible, interesting and
clever” (p. 198) moet wees. Sou ‘n mens dit van hierdie roman kon sê?
Absoluut, behalwe dat die skrywer die
werklike gebeure as uitgangspunt vir sy roman geneem het en dus minder op sy
verbeelding staatgemaak het as in vorige romans. Vanselfsprekend is daar steeds
verbeelde passasies en insidente: onder andere die verhouding van Conan Doyle
met sy vrou, kinders en minnares, sy ongelukkige huwelik, sy sieninge oor die
Boere-oorlog (hieroor sou ‘n mens meer wou weet), ensomeer. Het Sir Arthur
werklik seekoei-vleis geëet of is dit Barnes wat hier gekskeer?
Die roman bevat plate wat na werklike
dokumente verwys en selfs die huweliksuitnodiging na Conan Doyle se tweede seremonie
word afgedruk. Met George wat besluit om boeke vir hom as geskenk aan te bied.
Die effek wat hierdie skrywer se dood op die wêreld gehad het, word eweneens
helder belig. Dit is ‘n roman waarin spiritisme en heldersiendheid ondersoek
word.
Ek het die 360 bladsye in een naweek
verslind synde ‘n Barnes- en speurverhaal-verslaafde. ‘n Konvensionele
speurverhaal is dit nie; maar ‘n roman wat subtiele wyses die skryfproses èn
noodlot ondersoek. Teen die einde van die roman is daar ‘n verwysing na Agatha Christie
en haar verdwyning. Sir Arthur raak egter nie betrokke by hierdie saak nie; hy
kontak haar eggenoot en oorhandig ‘n handskoen aan ‘n psigiese persoon om te
probeer bepaal waar sy haar bevind. Die twee skrywers van die primordiale
speurverhaal word ook hier in opposisie geplaas.
Hopelik beoog Barnes ‘n roman oor die lewe
van Georges Simenon, die skepper van Maigret. Of dalk Agatha Christie? Die
roman se slot (waar George ‘n spiritisme byeenkoms meemaak), lewer verdere
kommentaar op die metafisika van die tyd en Conan Doyle se The Hound of the Baskervilles. ‘n Kragtige slot, meen ek.
Letterkundige speurders kan eweneens kyk na
A.N. Wilson se A jealous ghost (2005) waarin Henry James se The turn of the
screw die basis van ‘n roman word.
Bron:
Tim Adams se “Show
me the way to go, Holmes” op
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]