Wednesday, February 20, 2013

My Dad – by South African Sons (2006) / Slaan vir my ‘n masker, Vader (2006)



Lucas Radebe (Samest.). My Dad – by South African SonsTwo Dogs, 2006. ISBN 1 92013 703 3.


Suzette McKerron & Diana Ferrus (Samest.). Slaan vir my ‘n masker, Vader. Printwize, 2006. ISBN 0620360755.

Resensent: Joan Hambidge

Die verhouding tussen ‘n vader en kind is ‘n ingewikkelde en problematiese verbintenis. Veral Freud het uitgebreid oor dié verhouding tussen ouer en kind geskryf en terme soos oedipalisasie en vadermoord – wat hy terugvoer na Koning Oedipus, die klassieke drama – het kernbegrippe in die psigoanalise geword. Geen mens staan koud of afsydig teenoor die ouer nie. Trouens, kilheid of oordadige liefde kan volgens Freudiane dikwels op ‘n beduidende woede of minagting dui.

In ‘n klassieke Afrikaanse roman, Laat vrugte van C.M. van den Heever, word die spanning tussen die ouerwordende vader, Oom Sybrand en sy seun, helder belig. Ons reageer altyd op verbrokkelende vader-seun-verhoudings: ons dink hier onder andere aan die spanning tussen Jannie Engelbrecht en sy seun; Naas Botha se ontkenning van sy buite-egtelike kind en Steve Hofmeyr se vele kinders. En sonder om morele besware aan te teken, is die bloedband ‘n genetiese en emosionele verbintenis. Hierom dat die pers altyd met aandag ingaan op só ‘n steurnis.

Twee boeke wat tegelyk die lig sien is My Dad by South African Sons – uitgegee deur Two Dogs – en Slaan vir my ‘n masker, Vader, saamgestel deur Suzette McKerron en Diana Ferrus, waarin die verhouding tussen vader en dogter belig word. Ons lees intieme briewe oor ‘n lesbiese ontdekking weens die emosionele wond van die dogter –en die vader se reaksie hierop, is absoluut verbysterend-roerend.

Die onlangse heengaan van my vader het ‘n sterk invloed op my gemoed gehad: ‘n goeie, ondersteunende verhouding is skielik nie meer daar nie en dis asof ‘n mens met groot helderte die vaderfiguur deur al jou fases skerper in reliëf sien. Van spanning tot aanvaarding, wedersyds.

Antjie Krog skryf die voorwoord tot Slaan vir my ‘n masker, Vader (‘n titel ontleen aan Van Wyk Louw se Asterion) en hoe ouderdom, geslag en ras in hierdie verhale, belydenisse, briewe en essays na vore kom. Krog wys ook op die swygende aard van ons letterkundige tradisie weens die sterk koloniale geskiedenis en dat mense dikwels nóú eers gehoor kan word.

‘n Vertellende-belydenis soos Elrena van der Spuy se blik op die vaderfiguur en die hoop dat hy in die hiernamaals geluk mag vind, weg van die moeder se betigtende en veroordelende bestaan, is waarskynlik bekend aan alle lae- en middelklasmense. Hierdie vertelling het sy skrynende opposisie in Justin Fox se bo-middelklasbestaan, “Between you and me” (in My Dad).

Sean O’Toole beskryf sy verhouding met die vader deur ‘n portret: die swart bestuurder by sy vader se firma ten einde iets van die vader te wete te kom. Waarskynlik is die lekkerste teks – wel in my boeke – Grant Warren se “The Storytellers” wat opnuut bewys dat humor die beste wapen is om jou jeug te verwerk. Hierdie semi-psigopatiese jeug van winkeldiefstal, rapporte verander om beter te vertoon en ‘n aanranding wat skeefloop, word in soveel besonderheid (selfs oordrywing) en met krag vertel dat die leser nie anders kan om die vader in hierdie vertelling te bewonder nie.  

Hierteenoor staan Neil McCarthy se meer afwesige pa wat hy al vertellende-skrywende ontdek. Hierdie vertelling is meer melancholies, maar eweneens belangwekkend. Soos Lucas Radebe wat vergewend kyk na die vader se lyfstraf en besef dat dit hom in sy lewe dissipline geleer het.

Grant Schreiber dekonstrueer vaderskap, geboorte en dood uiters behendig in sy pragtige stuk. Die geboorte van sy seun word geplaas teenoor die vertelling wat hy aangehoor het oor sy vader se reaksie op sy eie geboorte en hoe hy in die nag gery het om al sy vriende te vertel dat hy ‘n seun ryker geword het.

Schreiber se ontdekking in die hospitaal dat net ouers die baba tydens die aand mag sien, bring by hom die skokkende besef: hy is nou daardie ouer; dis nie meer sý ouers waarna hier verwys word nie.

Die vertellinge wat imponeer word gekenmerk deur humor, eerlikheid, genade èn vergifnis. Party is verhale; ander essays. My Dad is waarskynlik beter vanuit ‘n letterkundige perspektief, omdat hier meer geoefende skrywers aan die woord is. Maar die rou belydenisse van Slaan vir my ‘n masker, Vader is tersaaklik, omdat dit stemloses ‘n stem gee met belydenisse wat ongeredigeer voor ons geplaas word. 

Verhale dikwels sonder masker of distansie. Cecile Mienie se “Beerman” raak ‘n verslag van die self, beskryf deur die vader. Wat ek dus oor ander skryf, kan op my van toepassing gemaak word...

Diana Ferus skryf vir haar Daddy ‘n brief – in soos in vele belydenisse word nie alleen die politiek nie, maar ook die Vader God aangespreek. Op die man af word alkoholisme en slopende rusies beskryf en die impak wat die op die dogter gehad het met haar verlange wat nie gestil kon word nie. Dit is ‘n brief wat woede, vergifnis en berusting weergee.

Abdul Milazi, koerantman en digter, se pynlike verslag van sy verhouding met sy vader ruk aan die keel. Hoe hy uiteindelik vrede maak met die vader via psigoanalise en tot die besef kom, danksy Fromm, dat ‘n mens jou eie vader en moeder moet word, kan geen leser koud laat nie. Hy vertel van die ‘underbelly’ van ‘n komplekse verhouding: die paradokse wat opgesluit is in ‘n verbintenis wat jou lewe bepaal tot die dag van jou dood.

Die geboorte van sy kind word met soveel eerlikheid vertel en hoe hy die baba vashou en wat alles met hom gebeur in daardie eerste paar oomblikke getuig van ‘n mens wat uiters verwond is.

Hierdie belydenis sal ek beslis weer en weer lees.

Ierephaan Abrahams se se beskrywing van sy “Derre” bring die Bo-Kaap vir ons en die wysheid: moenie die verlede aanhang nie, omdat dit ‘n vermorsing van energie is. Leef eerder vir nou en die dag van more.

Ons leef in ‘n tyd van dr. Phil en Oprah Winfrey en belydenisse van die onbetaamlike. Dis asof die media saamspeel in hierdie openbaarmaking. As dit genesing tot gevolg het, is dit goed. Hoe sou die vaders voel, of gevoel het, as hulle die vertellinge van hul kinders kon lees of gelees het?

In vele gevalle is ons as lesers bewus van die nabaat-uiting, van ek-wou-nog-sê...

Maar ‘n gepubliseerde verhaal word meer as jy en jou vader: dit word ‘n vertelling wat namens ander iets vertolk, opskryf en verwerk. En in die bestes word dit ‘n dubbelportret wat die spesifieke oomblik of verhouding oorstyg. Die kind word ‘n buikspreker vir ander se komplekse en ‘n belangrike verhouding.

Elna Boesak praat oor haar ouers se ongelukkige verhouding en die kartering daarvan is eerlik beskryf. Dit is ook hierdie vader wat haar bystaan wanneer sy publieke allemansgoed word.

Hy is die man sonder grense wat begryp dat sy moes trou met haar liefde, ‘n bruin man wat haar moeder geskok het.

Die begrafnis en geloofsbelydenis word gebruik om die komplekse emosies te verbeeld – en tot vergifnis te kom danksy die vader se mantra wat in die kind se kop draai. (Terloops, mag die bliksem wat daardie uitskelbrief aan Elna Boesak gestuur het in die hel brand.)

My vader loop reg deur my digkuns. Vrouetydskrifte gee aan wit vroue dikwels die geleentheid om te praat oor die vader. Waarskynlik nie so onopgesmuk en eg soos in McKerron & Ferrus se versameling nie. Magde du Preez, Aletta Erasmus, Florence Filton, en nog vele meer.

‘n Punt van kritiek: waarom Afrikaanse sinsnedes verkeerd opneem in My Dad? Vaderland, dis nie “opvok” nie, maar “opfok”; nie “skelmigheid” maar tog skelmte!

Beide tekste se voorblaaie is oogvangend: Leonora van Staden se komiekstrip en die vader met die brylcream op My Dad! Met speelse aanwysings soos nommer 1 by paint by numbers dat die ou vader nie sou weet wat “moisturiser” is nie!

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]