Don de Lillo. Falling
Man. Picador, 2007. ISBN 078 330 453172
Resensent: Joan
Hambidge
Nou onlangs het
die groot literatuurkenner Harold Bloom vir Philip Roth, Thomas Pynchon, Cormac
McCarthy en Don De Lillo as die grootste Amerikaanse romanskrywers
uitgesonder. Natuurlik léwend, want ‘n
mens sou beslis Saul Bellow by hierdie lys moes voeg.
De Lillo is die
skrywer van die briljante White noise
en Underworld. In 2006 is
laasgenoemde roman beskou as een van die beste romans van die afgelope
vyf-en-twintig jaar deur die New York Times Book Review en in die jaar 2000 is
dit bekroon met gesogte Howells Medalje van die Amerikaanse Akademie.
De Lillo se
jongste roman, Falling Man, is ‘n
pakkende roman en geen leser kan die toespelings mis nie. Dit is die vallende
man uit die World Trade Center geval het en oor wie se identiteit daar deur
vele skrywers en digters bespiegel is. Maar daar was glo ‘n persoon wat tien
dae na die ineenstorting van die geboue onderstebo aan ‘n gebou gehang het en
sodoende mense herinner het aan die tragiese gebeurde. (Lees hoe die skrywer
feit en fiksie vervleg.)
Die agterblad
beskryf hoe hierdie gebeurtenis ons emosionele landskap verander het. Ons
geheue, ons ervaring van die wêreld sal waarskynlik nooit weer dieselfde kan
wees nie en ‘n besoek aan die VSA kort ná 9.11 het die Amerikaners as paranoïes
onbloot.
Daar word
dikwels geglo dat ‘n gebeurde van hierdie impak nie dadelik onder woorde
gebring kan word nie. En hoe verwoord ‘n mens soiets? D.M. Thomas gee Flying into love die sluipmoord op JFK
uit verskillende perspektiewe weer, omdat dit onmoontlik is om net één weergawe
op hierdie moord te gee. Verskillende storievertellers spekuleer, praat,
onthou. (Oliver Stone se film JFK doen
presies dieselfde in ‘n duidelik omlynde weergawe van vóór en daarna).
Om so ‘n sterk
histories-gelade onderwerp aan te pak, is uiteraard gevaarlik. Trouens, die
roman begin reg met die dramatiese gebeurde en ineenstorting. Hy plaas dit
binne die menslike drama van Keith en sy voormalige eggenote, Lianne. In die
hande van die sober prosaïs, De Lillo, wat uiters spaars met woorde omgaan. Die prosa het die hoë dramatiek van
amperse digkuns en dit voel vir die leser asof die outeur hom op ‘n maniese
wyse in daardie insident, daardie dag inskryf sodat hy vir ons presies wil
weergee hoe dit alles gevoel het.
So beskryf hy ‘n
hospitaaltoneel:
“Doctors in
scrubs and paper masks checked his airway and took blood-pressure readings.
They were interested in potentially fatal reactions to injury, hemorrage,
dehydration. They looked for diminished blood flow to tissues. They studied the
contusions on his body and peered into his eyes and ears...”(p. 15).
De Lillo gebruik
ook Alzheimer-pasiënte as ‘n simbool: hulle moet opteken wat alles op daardie
gebeur het . Ons verneem grieselige besonderhede van hoe ‘n
menslike bom stukke in ander mense inskiet wat later uitsweer. Hier dink ‘n
mens aan die impak van die atoombom en hoe Japannese se liggame jare later
steeds swere dra.
Juis omdat die
gegewe teen so ‘n frenetiese spoed gebeur, moet die prosaskrywer dit in ‘n
amper staccato-agtige toon weergee. En hierin slaag De Lillo.
“All of life’s
lost time is over now”, verneem ons later in die boek.
Die skrywer klim
ook onder die vel an die vyand, die terroris. Hy gee die ánder kant weer van
Hammad en Amir en waarom hierdie daad gepleeg is.
Die snelvuur van
die vertelling vergestalt die emosionele pyn van die verteller en sy karakters.
Die slot is onstellend: hier word die ongewone reggekry. Dit wat regdeur die
roman in jukstaposisie geplaas word, naamlik die New Yorkers binne-in die gebou
se ervaring van die aanval versus die selfmoord-agent se uitvoering daarvan.
Dit is ‘n hewige einde. Waarskynlik grensoorskrydend, omdat mense se ervarings
van angs uigespeel word – met ‘n hemp wat deur die lug draal.
Daardie vallende
man en sy rol word ontleed in ‘n roman wat jy lees en moet neersit weens die
hewige aanslag op jou gemoed.
Dit is ‘n roman
wat waarskynlik net deur ‘n Amerikaanse romanskrywer so pakkend beskryf kon
word. Dit vertel van die angs wat steeds voortduur en die merk wat dit op die
Amerikaanse psige gelaat het.
Dit vra om met
Saul Bellow se Dangling Man gelees
te word en die afwesigheid van God en die vrae rondom metafisika speel in op
George Steiner se sieninge in The death of tragedy.
Foto: man wat val
Bo hemel en
aarde
Vertikaal
hang hy
gekruisig deur ’n fotograaf
die man:
Eers ’n naamlose
uitroepteken
op die
oordeelsdag
toe hy vlug
van die swael en
vuur
weg
weg
na ’n bestaan
buite tyd
(en pyn).
Vele vraagtekens
volg:
wie was hierdie
man?
Die misterie
verbreek:
Ons verneem hy
was ene Norberto Hernandez
van Puerto Rico.
Dit was sy laaste
werksdag as
bakker
en skinker van
die lewe.
Maar eintlik was
hy ’n engel
wat tydens
hierdie Armageddon
die ondraaglike
breekbaarheid van lewe
oorwin.
(Uit: Ruggespraak. Protea Boekehuis, 2002)
[Hierdie
resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]