Thursday, February 14, 2013

Hendrik Januarie - Nag Jakkals (2007)



Hendrik Januarie. Nag Jakkals. Kwela, 2007. ISBN 978 0 79570 253 2.

Resensent: Joan Hambidge

Van Hendrik Januarie het daar indertyd by Perskor ‘n bundel verskyn met die titel, Pro rata (1989). Dit was in die dae toe daar al om die hawerklap ‘n bundel in Afrikaans verskyn het. En Perskor, helaas, was nie juis bekend vir die lewering van die beste bundels nie.

Nag Jakkals het sopas by Kwela verskyn met ‘n besondere mooi voorblad: ‘n sekelmaan bó ‘n verlate landskap. Met die titel en naam van die digter tussenin.

In die openingsgedig is dit duidelik dat die digter homself vereenselwig met die nagjakkals. Wat wil hierdie jakkals? Is dit soos Van Wyk Louw se jakkals? Die vrae word egter nie beantwoord nie en die leser word dikwels frustreer met verse wat interessante idees is wat nog nie vers geword het nie.

Die simboliese duiding van die jakkals word nie ontgin nie.

In enkele gevalle is daar verse wat ‘n mooi balans handhaaf tussen die abstrakte en konkrete soos “Die transaksie” (p. 14) of die vers “Kortpad” (p. 18). ‘n Mens sou die gedigte as verse van die nostalgie kon beskryf, as gedigte wat weifel tussen nou en toe met die wete dat die verlede onherroepelik verby is.

Daar is ook speelse oomblikke soos in “Non-epiek” (p. 25).

So klink dit:

Dis amptelik:
brief op brief
oproep ná oproep
faks op faks
gesprek ná gesprek
geduld op geduld
e-pos op e-pos
epopee o epopee
sal ek tog ooit
langs hierdie weë
‘n epos deur kan gee?

Wie, vra ek myself af, kan ‘n digter ernstig opneem wat die volgende retoriek gebruik? Lees hier:

Bosluise

As hulle die stolling
in die pols kon proe,
hul uit die verknogtheid
los kon woel.... (p. 34)

In “Ook hierdie winter” staan daar:

Ook hierdie winter
is die oewer glibberig
moerassig, misbetrap... (p. 32)

Waarskynlik is die grootste probleem dat die digter digterlik wil klink. Die jakkals-vyand van die digkuns is dit bepaald. Die nabootsing van ‘n outydse poëtiese aanslag klink eweneens vreemd op.

‘n Digter moenie aan geheueverlies lei wat die prosodiese ontwikkelinge binne sy tradisie betref nie. Dit is soos om met aandklere by ‘n middagete op te daag of met sandale by ‘n groot onthaal.

Jy moet die kodes van die digkuns presies ken en verstaan – en dan jou eie merk maak. En dit is veral jammer omdat Kwela die afgelope tyd mooi bundels uitgegee het soos Gail Dendy se The Lady Missionary.

Hier, helaas gebeur dit selde.

Die kriptiese, min woorde verraai wel belofte.

‘n Jammerte vir sowel uitgewer as digter.

Die meeste verse is op pad. Maar nog nie daar nie. Dit kort ‘n verdere afronding. Selfs ‘n stukkie “naglopery”-waansin.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]