Dave Eggers. Short short stories. Penguin, 2005.
ISBN 97 80141 023083.
Resensent: Joan Hambidge
Hoe kom ek aan Dave Eggers se Short short
stories? Ek sit een aand in ‘n restaurant met ‘n vriend en André le Roux
hardloop na Exclusive Books toe en gee hierdie klein boekie vir my persent! Le
Roux, self ‘n onbetwiste kenner en beoefenaar van kortfiksie, weet wanneer ‘n
storie werk. En ‘n dag later begin ek lees aan hierdie kort-kortverhale waaroor
Hennie Aucamp al insigryk geteoretiseer het.
Eggers vermeng dikwels feit en fiksie. Sy
stories lewer kommentaar op die harde politieke werklikhede van ons tyd en hy
skroom nie om die VSA en die Bush-administrasie aan die keel te gryp nie. Soms
vra hy die leser om die slot te skryf of in die hartseer-pragtige verhaal “Of
Gretchen en de Gaulle” word die leser versoek om aan die Universiteit van
Illinois se “School of Accounting” te skryf sodat Gretchen toegelaat kan word
as student. Gretechen helaas is ‘n reuse inkvis wat graag wil gaan studeer.
Daar was ‘n man wat op die De Gaulle-lughawe sit en ‘n storie wil skryf, maar
hy word so meegevoer deur Gretchen se lot dat hy vir ons haar storie vertel. En
op hierdie aweregse manier word diskriminasie en die lot van die verstoteling
vir die leser oopgemaak.
Die verhale beur dan ook dikwels na die
werklikheid en Eggers se waansinnige fantasie, in die goeie sin van die woord,
maak van hierdie verhale iets hoogs leesbaars en besonders. Die verhale is ook
soms postmodern, omdat jy as leser betrek word. Die storie’tjies beweeg in sirkels
en werk soos gedigte. Elke woord is op sy plek. Sulke kort-kortverhale bly jou dan ook altyd by: ek dink hier aan die aangrypende verhaal van Nanette van
Rooyen getiteld “Tollie Hans” wat soos ‘n gedig werk.
‘n Beeld word vir die leser gegee in hierdie
sub-genre wat Aucamp tereg as "vonkfiksie" beskryf. Daar is dikwels ‘n klein
kooltjie van implikasies en nuanses wat die leser self moet aansteek: soos
Eggers se “True Story – 1986 – Midwest – USA – Tuesday” waarin ‘n onderwyser se
liefde vir jong seuns uitgebeeld word. Die verduideliking dat die onderwyser
mag staar na hulle in die storte, omdat hy moet toesien dat hulle net een
handdoek in plaas van twee neem, word met soveel onderstelling en ironie
hanteer dat die leser moet teruggaan om te sien hoe die verteller die verhaal
as’t ware laai met subtiele kodes.
“What the water feels like to fishes” is
eweneens ‘n ander klein wenner “Like the fur of a chinchilla. Like the cleanest
tooth. Yes, the fishes say, this is what it feels like” (p. 5). Amper ‘n Gary
Larson-aanslag, dink ‘n mens in verhale wat werk met min woorde, knap beelde en
‘n verhaal wat lank na die lees nog in jou na-werk.
In “Woman, Foghorn” word ‘n onverwagse dood
bykans iets wat jou tussen die oë tref, maar met ‘n tweede lees sien jy weer
hoe die verhaal bykans matematies uitgewerk is.
Wie is Dave Eggers? Hy het skynbaar vir
Esquire geskryf en sy debuut A Heartbreaking Work of Staggering Genius (2000)
het groot opslae gemaak, ‘n memoir oor sy ouers se dood. Hy word ‘n Wunderkind
genoem en ek apploudiseer dit. Hy is nog bloedjonk (in sy dertigerjare!) Hy is
gebore in 1970, gebore in Illinois en tans woonagtig in San Francisco. Sy
tweede boek heet You shall know our velocity (2002). In 2004 verskyn ‘n bundel
met kortverhale How we are hungry: stories en ‘n roman The Unforbidden is
Compulsory; or, Optimism word gepubliser as ‘n serie op Salon.com.
Daar is 636 000 inskrywings op die internet
vir hierdie skrywer en boonop het André ook ‘n nuwe roman van hom in sy hand
gehad.
Maar ek wil weer en weer hierdie
kort-kortverhale lees. Dit is suiwer plesier. Met die klem op suiwer sowel as
plesier. Dis ook lekker om die stories saans in die bed soos ‘n slaaptydstorie
vir jou maat te lees. Soos “She needed more nuance” waar ‘n mens lank kan stry
oor dit wat in die werklikheid mag “waar” wees nie in ‘n storie werk nie. Want
‘n goeie storie het sy eise. En jy moet waak teen “klutzy” wees in die clichés
en ‘n goeie storie, nou ja, ...
Ek gaan niks verder verklap nie. Dankbaar André!
Bronne oor Eggers se lewe:
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]