Thursday, February 28, 2013

Koos Kombuis - Raka die roman (2006)



Koos Kombuis. Raka die roman. Human & Rousseau, 2006. ISBN 07981 4589 7.

Resensent: Joan Hambidge

Raka die roman is Koos Kombuis, ‘n voorste satirikus se jongste roman, ‘n boek waarvan die lagkurwe uit die grafiek skiet. Om te beweer ek het gelag, sou leuenagtig wees. Nee, kom ons probeer bulder.

Waarom? Koos Kombuis (André Letoit) span al sy satiriese kragte hier in om ‘n teks te lewer (glo alles Kleinboer se skuld!) wat Raka, die grootse epiese gedig as interteks gebruik. Die verhaal? Dominee Theunis Opperman se manewales (o.a. ‘n episode waarin hy per ongeluk ‘n private sms aan sy hele adresboek stuur èn ‘n platvloerse verbuiging van sy naam, en ja, ‘n baba-monitor wat ‘n intieme oomblik openbaar…) met sy telge se opstand teen hierdie vader en die simboliese Vader, die orde van die patriargie. Raai maar wat vang hulle alles aan met ‘n “band” (ja, raai die naam), dagga en Loslyf.

Die tegnieke? ‘n Parodiese aanslag wat slim werk met verwysings (selfs Koos Kombuis se lirieke kry ‘n dwarsklap), regte mense (oi, Laurika Rauch, Jurie Els, Dan Roodt, Jan Blohm, Breytenbach, Johan Rademan), instansies (die Universiteit van Stellenbosch) en die Afrikaner se vrese. Daar is ‘n ouktoriale verteller wat soms tussen parenteses kommentaar lewer op die lawwe en groteske insidente wat werk met oordrywing, bekende grappe, folklore en vrees. Oënskynlike teenstrydighede (soos Spiderman en Raka) word teen mekaar geplaas en die lesing van Meneer Huisamen (ja van Paul Roos) aan die joernaliste van die Son, beklemtoon ‘n verdere dimensie van hierdie roman: die gemaak-geleerdheid waarmee elke denkbare teiken van pretensie en waardigheid met één snelle vaart afgemaai word. (Kyk onder andere hoe word Koki beskryf.) 

Die roman is vlot, super-vlot geskryf en ‘n mens tuimel saam met die karakters en die verteller van een mal insident na die volgende. Netjies in plek gehou met die ouktoriale verteller se aankondigings in hoofstuk-afdelings soos “die dag toe die ondier gekom het” en “dis die uur van die tokkelossie”. Wat jou voorberei op ‘n tragedie, veral as jy die oorspronklike teks in die herinnering roep en weet dat Stellenbosch beslis nie meer ‘n veilige hawe is nie.

Die oordeel? ‘n Heerlike skouspel (‘n karnaval as ons Bahktin wil naderklap) van humor, oordrywing, satire, vermaak, parodie, ensomeer. Dit ewenaar miskien nie die beste in sy oeuvre nie, naamlik Suidpunt-Jazz en Somer II nie, maar ons benodig in hierdae dae van taalstryde so ‘n boek wat uiteindelik bewys: as daar nog lekker met Afrikaans gespeel kan word, gaan dit goed met die taal. Dit het ‘n pop-aanslag en vra vir ‘n saamlees van Tom Sharpe se Wilt. En ook Tom Dreyer se Stinkafrikaners en Jeanne Goosen se ‘n Paw-paw vir my darling.

Kritiek? Hoe gewaar ‘n mens reuk van parfuum? (p. 182)

Gaan ek dit weer lees? Waarskynlik sal ‘n mens oor ‘n ruk bewus wees van die donker grein wat dikwels in hierdie soort boek aanwesig is; onder die grap broei die ontnugtering wat deur satire of parodie (tydelik) herstel word. ‘n Politieke werklikheid wat van moord en doodslag ‘n alledaagse iets maak. Beslis sal ek dit weer lees wanneer ek na ‘n vermoeiende dag lafenis soek vir my siel en dit beslis voorskryf vir my studente om die postmodernisme-in-aksie te sien. En die impak wat ‘n speelse, parodiese aanslag tot ‘n grimmige, donker roman op die leser het.

Moet ek dit koop? Dit kos net R125 en is ‘n moet vir elke ikonoklas se boekrak. Plaas dit neffens Tom Sharpe en Faulty Towers-video’s. Etienne van Heerden se In stede van die liefde gee weer ‘n ánder, ernstiger blik op Stellenbosch, die dorp waarin hy en Koos groot geword het. Hierdie twee romans verskyn waarskynlik nie onbedoeld op dieselfde tydstip nie…

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]