Peter Swanborn & Robert Dorsman (Samest.). 44
Gedichten voor Antjie. Tortuca Cahier, 2012. ISSN 1572-4956 ; 008
Resensent: Joan Hambidge
Ter viering van Antjie Krog se 60ste verjaardag verskyn
hierdie bundel met 44 gedigte in Nederland by Tortuca.
Hier te lande was daar nie so ’n cadeau nie, hoewel ’n
paar digters en skrywers haar wél in die pers en op die Versindaba-webruimte
gelukwens.
In Afrikaans is daar onder meer die pragtige
geleentheidsbundel vir Ernst van Heerden en hierdie soort versameling is altyd
vir die poësieliefhebber ook jare later ’n besondere ervaring.
Wat het geword van ’n digter? En hoe sou ons nou na Van
Heerden kyk?
Sulke bundels is eweneens tydsdokumente wat ’n bepaalde
tydsgees opvang en ’n digterlike mode of beweging karteer.
Krog, soos Elisabeth Eybers, beklee ’n besondere posisie
in die Lae Lande. Sy is geliefd onder die Nederlandse en Vlaamse digters.
Poësielesers daar is gaande oor haar gedigte en Krog werk
goed in ruimtes soos by Poetry International of ander voorlesings omdat sy ’n
besondere voordragkunstenaar is.
Alle digters weet: Jy moet sorg dat jy vóór Krog lees,
want sy is sowel digter as vertolker.
’n Opdraggedig is al speels ’n verleentheidsvers genoem
omdat min digters in staat is om onder druk vir ’n bepaalde geleentheid ’n vers
te kan skep.
Tom Lanoye begryp hierdie dilemma terdeë in sy bydrae “De
Krogse kersentuin” (bl. 48) wanneer hy speels die probleme rondom so ’n vers
die onderwerp van die gedig maak.
En raak hy nie opgewerk nie:
O Parmantige Pausin van Kaap- & Kroonstad!
O Subtiele Dalai Lama van het Afrikaans!
O Cruella Deville van het Vrouwelijk Begeren,
het Menselijk Tekort en het Eeuwige Verlies!
En vra hy: Is skryf enigsins iets werd as dit nie ’n
“bungeejump” is na die essensie van die syn nie?
(Die gebruik van Engels in Nederlandse gedigte val op,
nes hier by ons.)
In hierdie gedig loof hy die digter vir haar aandeel aan
sy tuiskoms in Suid-Afrika. Dan bely hy dat hy eerder na prosa sal oorgaan en
besing haar as sy sangoma.
Die konvensie van hierdie soort bundel is dat jy die
aangesprokene moet vereer, hoewel ek eenkeer by ’n geleentheid was waar ’n
prysdigter die Vereerde opgestuur het – tot groot vermaak van die Xhosa-gehoor.
Krog se digkuns karteer die volledige ontwikkeling van
vrouwees: jong meisie, student, geliefde, getroude, moeder, geskeide, ouer
vrou, ouma. In die aangrypende vers van Hagar Peeters “Sylvia, Ingrid” (bl. 74)
word die kondisie van die vrouedigter onder die loep geneem:
In bloemlesingen prijkt jullie ontzetting
op sterk water voor altijd, voor elk nageslacht.
Vele digters tree ook in gesprek met haar politieke
persona soos Alfred Schaffer in “Heelhuids” (bl. 81) met ’n slot wat in die
maag tref.
Soms is daar handgeskrewe gedigte by – wat hierdie
versameling des te meer besonders maak.
Daar is bekendes en minder bekendes (vir my altans), maar
gelukkig is daar ’n klein biografiese addendum.
Daar is verse van Luuk Gruwez, Ramsey Nasr, Charles
Ducal, Willem Jan Otten, om enkele bydraes uit te sonder.
Intieme gesprekke soos Christine Otten se “Soulfood” (bl.
67) gee ’n besonderse blik op ’n vriendskap en word ’n opname van ’n private
gesprek so in die trant van Anne Sexton.
Hierteenoor (ironies genoeg neffens hierdie vers) Nasr se
meer gedistansieerde “gij die hier binnentreedt” (bl. 66):
elk huis is een droomhuis in deze stad
elke krater voortaan een ideale krater
in gaza trekt men’s nachts de wandelschoenen aan
Vir die Afrikaanse leser is die verskille en ooreenkomste
tussen “ons” en “hulle” interessant. En hoe hulle hierdie belangrike digter
sien.
Raj Mohan som dit dalk die beste op: dat die intieme
aanklank tussen twee digters ’n verbintenis aandui (“die tyd”, bl. 62).
Jan van der Haar tree in gesprek met haar vermoë om die
grens-oorskrydende en platvloerse woord poëties te maak in sy gedig “Lijfkreet”
(bl. 35).
Kaleidoskopies is hierdie 44 gedigte in hul inspeel op
verskillende fasette van Krog. Met Robert Dorsman in Afrikaans.
Skandelik is dit dat onse Antjie Krog nie hier te lande
so vereer word nie. Ons beminde Antarktika en Lady Anne.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]