Showing posts with label J.C. Kannemeyer. Show all posts
Showing posts with label J.C. Kannemeyer. Show all posts

Saturday, March 2, 2013

Uys Krige - Die naamlose muse (2002) | J.C. Kannemeyer (Red.).



J.C. Kannemeyer (Red.). Uys Krige: Die naamlose muse. Protea Boekehuis, 2002. ISBN 1919825 78 9.

Resensent: Joan Hambidge

Nou onlangs het ek die uitgebreide biografie oor Uys Krige met groot plesier gelees. Die goue seun is ‘n voortreflike biografie oor waarskynlik een van die mees onderskatte digters in Afrikaans. Veral Krige se uitmuntende vertalings het veral ‘n digter soos Pablo Neruda en ander Romaanse digters vir Afrikaanse lesers toeganklik gemaak.

Die biografie wys ook op Krige se laattydige bekroning as digter en in die gebundelde opstelle Die naamlose muse (uitgegee deur Protea Boekehuis) bring J.C. Kannemeyer die digter Krige se letterkundige opstelle bymekaar. Die titel verwys na die ‘afwesige muse’, die ‘naamlose’ een: omdat daar waarskynlik ‘n beskermer vir literêre kritiek bestaan.

Met sy titel, skryf Kannemeyer, wou Krige waarskynlik aandui dat daar wel sprake van ‘n kreatiewe kommentaar op die taal en literatuur kan wees. Kannemeyer wys op die gemaklike woorgebruik en elegante skryfstyl (p. 7). Krige bewys myns insiens wel dat daar ‘n muse bestaan met sy geesdriftige stukke.

Dit spreek vanself dat hierdie versameling tot ‘n beperkte lesersmark sal spreek. Tog is dit nie net tersaaklike leesstof vir die letterkundige kritikus nie, maar is die opstelle ook van historiese belang. Die bundel begin met “’n Brief van Uys Krige aan sy suster Mizzi” (terloops, die interessantste afdeling in die biografie behels die vriendskap met Roy Campbell) geskryf  te Chez Roy Campbell.

Hier gee hy raad vir die voornemende digter en beklemtoon dat ‘n digter soveel moontlik die gedigte van ander digters moet lees ten einde hul ‘metodes’ te begryp. (“Jy sal moet lees en skrywe en lees en skrywe. Daardie pad is maar swaar en steil en opdraend. Maar dis ‘n wonderlike pad, nieteenstaande”, p. 11).

Lanklaas was die skryf van ‘n resensie so ‘n plesierige taak as met die lees van die biografie en Krige-opstelle. Die skandalige onderwaardering van  Krige deur die Akademie is nou reeds immer bekend. Hoe ironies lees die opstel oor Ingrid Jonker nie? Dit is asof Krige ook hier ‘n oordeel oor sy eie digterskap uitspreek: “Kom ‘n digter te sterwe, tree hy sy noodlot tegemoet, stap hy deur die enkele feit van sy dood in sy lotsbestemming in, word hy sy eie noodlot. Anders gesê, van daardie oomblik word sy werk – nou ontdaan van al die bykomstighede wat tydens die digter se leeftyd die werk aangekleef het as gevolg van sekere aspekte van sy persoonlikheid of karakter, en ontdaan veral van die bloot tydelike oordeelvellinge van sy tydgenote – ja, vanaf sy dood word sy werk wat dit altyd voortbestem was om te wees: net sy werk, niks minder of niks meer nie”(p. 139).

By die lees van hierdie versameling sjarmante en insigryke opstelle kan ‘n mens sien hoekom Krige se uitsprake (letterkundig en polities) vir die meeste literatore soos ‘n visgraat in die keel gesteek het. Hy spreek man en perd aan wanneer hy dit het oor die dorre taalgebruik van literatore, hul oor- en onderskatting van skrywers. Hy troef bedenklik parogiale oordele met sy kennis van die wyer letterkunde en sy kennis van verskeie ander tale.

Hy is polemies in die oorspronklike sin van die woord en elke uitspraak word met soveel ekstase aan sy leser oorgedra. Hy raak nooit pedanties nie, maar hy dra onbekende inligting met sorg aan sy leser oor, of dit nou oor taalkwessies is (soos voëlname) of die lewe en werk van  ‘n buitelandse digter.  Hy is krities oor mede-digters, maar hy gee ook raad en lewer konstruktiewe kritiek. Hy gee ‘n goeie lesing van Ousus.

My gunsteling essay is die een oor Pablo Neruda, wat ‘n mens graag meer uitgebreid sou sien, juis omdat Krige se Spaans-Amerikaanse vertalings behoort tot die voortreflikste vertalings in Afrikaans. Sy vriendskap met Roy Campbell word nie ‘n belemmering nie, maar bied eerder interessante sleutels tot die begryp van hierdie digter van die “bloody horse”.

Boerneef en Van Melle kon hy presies inskat en opnuut is die leser bewus van sy enorme kennis van ander letterkundes wat nie blote vertoon is nie, maar insigryke perspektiewe bied op die werk van ‘n skrywer wat dikwels nie deur sy tyd na waarde geag word nie.

Mary Morison Webster se gedig (“Illi morituri”, p. 133) word behendig gelees (“They do not care, the dying, whether it be dawn or / Dusk or daylight full and clear”) en die beginsels van die vrye vers vir elke voornemende en praktiserende digter goed verduidelik.

Terloops: dit is Dickinson, nie Dickenson (p. 135) nie!

Protea Boekehuis bied ‘n mooi versorgde versameling met ‘n besondere mooi voorblad: “The Open Window” van sy broer François Krige. Letterkundige kritiek hoef nie swaartillend en onleesbaar te wees nie; nee, dit kan leersaam, opwindend en toeganklik aangebied word.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Monday, January 21, 2013

J.C. Kannemeyer - J.M. Coetzee: ‘n Geskryfde lewe (2012)




J.C. Kannemeyer. J.M. Coetzee: ‘n Geskryfde lewe. Jonathan Ball, 2012.

Resensent: Joan Hambidge

Vir my is daar twee uitmuntende biografieë waarna ek by herhaling terugkeer: Hermione Lee se studie oor Virginia Woolf (1997) en Edmund White se biografie van Jean Genet (1993). Sopas het J.C. Kannemeyer se uitgebreide en deeglike verslag van die enigmatiese J.M. Coetzee verskyn, in sowel Engels as Afrikaans. Die skryfdissipline en talent wat die outeur het om te midde van teenspoed en ellende steeds ‘n skryfdissipline te kon handhaaf, word oortuigend weergegee. Die onthulling van persoonlike leed – die dood van een kind, die siekte van ‘n ander, die troebel lewe van die vader – word nooit transgressief aangebied nie. Vir my gevoel is hierdie ellendes juis dit waarteen die skrywer hom verweer in sy tekste. Die bedrog van die vader (‘n “disgrace”) is waarteen hy hom obsessioneel verset en as jong student hom self onderhou.

Die verset teen die vaderfiguur en gesag is ‘n sterk tema in sy werk. (Klein anekdotes van ander oor gebeure, moet maar aan die leser se oordeel oorgelaat word.) Daar is eweneens ‘n meer gedistansieerde skryfstyl en die biografie mis genadiglik die persoonlike aanvalle wat die biografie oor Etienne Leroux ontsier het.

‘n Goeie biograaf is ‘n buikspreker en Leon Rousseau, die skrywer van die onoortroffe, Die groot verlange, het op ‘n keer verwys na die biograaf as ‘n advokaat wat “sy man” moet verdedig.

Boonop is ‘n biografie des te moeiliker wanneer die “onderwerp” nog lewe en in sy romans, soos onder andere in Boyhood, Youth, Summertime, sy eie lewe fiksionaliseer én verdraai. ‘n Lesing van ‘n Amerikaanse professor aan die UK wat Summertime gelyk gestel het aan Coetzee se lewe het skerp kritiek uit die gehoor ontlok. Daar bestaan vele mites oor Coetzee; dit weet ons ook uit Imraan Coovadia se Transformations. Die afwysende, kil, stugge, vegetariese, fietsryende, krieketspelende, sarkastiese, stil JMC het ook ‘n ander kant: vrygewig, humoristies, speels, liefdevol, rugby-entoesias, ‘n danser, diereregte-aktivis, volledig Afrikaans magtig.

(Dit is ook tersaaklik hoe sy opstand teen die Viëtnam-oorlog tot gevolg gehad het dat hy moes terugkeer na sy vaderland. Sy romans, sou ‘n mens kon argumenteer, moes juis hier te lande geskryf word.) Coetzee is ‘n verkleurmannetjie, wat vir my gevoel tot beide noemers kan behoort. Waarom moet ‘n skrywer net één persona hê? In sy briljante romans rondom die figuur Elizabeth Costello bewys Coetzee juis dat hy ontglippend wil wees. Die sneeuslaper van Marlene van Niekerk gebruik ook sekere van hierdie spelelemente.

Die biografie handhaaf ‘n fyn balans tussen letterkundige analise en ‘n beskrywing van die lewe. Onder andere is die debat oor die besoek van Salman Rushdie – en die openbare verskil met Nadine Gordimer – ‘n belangrike sleutel tot Coetzee se beginselvastheid en ook sy vermoë om agterna ‘n uitspraak of siening te verander. Hierin lê sy grootsheid as kritikus: om uitsprake te nuanseer. Sy kennis van die komparatisme maak van hom ‘n gedugte leser van tekste, nes sy vertalings van Nederlandse digters. Sy vertaling van Die Kremetartekspedisie van Wilma Stockenström is eweneens relevant vir hoe dit weer praat met sy eie skryfwerk. Die blywende indruk wat hierdie meesleurende biografie maak, is dat ons hier ten alle tye ‘n vakman het wat ‘n meester is. Hy gryp nie na maklike politieke vraagstukke nie; wanneer hy wél verdrukking, in al sy vorme, onder die loep neem, is dit ‘n “doubling of the point”. ‘n En/en-aanslag, eerder as of/of. In die analise van Foe wys die biograaf op die komplekse hantering van Robinson Crusoe en die herskrywing daarvan teen die agtergrond van taalopvattings en debatte oor die kolonialisme. Die meester-slaaf-verhouding is ambivalent en ‘n komplekse een.

Ten spyte van oorrompelende pynlike terugslae in sy lewe, kon hy deurgaans homself handhaaf as skrywer.

Die beginjare was moeilik, omdat sy werk “anders” was. Hoe hy nougeset ‘n manuskrip verander en verbeter, het hierdie leser imponeer. Kannemeyer wys tereg op die osmose tussen die teoretikus en romanskrywer en hoe dit sy tekste voed, veral met The Master of Petersburg waar sekere kritici in gebreke gebly het om die inspeling van sy eie lewe op die geskiedenis te verdiskonteer. Dit is opvallend dat die skrywer wat openbare optredes en ontboeseminge vermy tog hier op ‘n gefilterde wyse sy lewenslot aan die leser openbaar.

Die biografie lewer kommentaar op die rol van sensuur (iets wat vir vele jong skrywers onbekend mag wees) en die spanninge en verset wat Coetzee moes trotseer as skeppende persoon onder ‘n rigiede hoof. Die invloed van sy lewensmaat, Dorothy Driver, as eerste leser van sy tekste, word verduidelik. Driver, ‘n uitstaande teoretikus se insette word beskryf soos Coetzee se waardering vir Karel Schoeman en sy werk as wegbereider van Suid-Afrikaanse letterkunde binne ‘n opset wat indertyd meer gefokus was op die “Great Tradition”. Die skrander kind en die komplekse verhouding met die ouers (wat hy tot aan die einde van hul lewens ondersteun het), word behandel. Die verhouding met buitelandse geleerdes, resensies van sy werk en opmerkings oor mede-skrywers, werp verdere lig op die “groves of academe”. “Doubling the point” is immers die belangrikste kode vir die begryp van hierdie uitmuntende skrywer wat die taallandskappe (Afrikaans en Engels, soos In the heart of the country) ontgin én kan aanspraak op ‘n internasionale gesprek soos in Foe waar hy aansluit by die sogenaamde Robinsonade.

Hy is immers ‘n waardige wenner van vele letterkundige pryse en ‘n Nobelpryswenner wat ons as skrywer eer.

Die boek is in hardeband en mooi uitgegee, hoewel die register onvolledig is. Die boek is in Engels beskikbaar in vertaling deur Michiel Heyns en aktiveer die spanning van taal-identiteit. Op die flapteks word aanprysings deur David Attwell, Derek Attridge en Lars Engle afgedruk. 

[Hierdie resensie het voorheen verskyn in Rapport & word afgedruk met vriendelike vergunning die resensent.]