Thursday, January 31, 2013

Tom Gouws - Ligloop (2010)



Tom Gouws. Ligloop. Human & Rousseau, 2010. ISBN 978 780798 15239 6.

Resensent: Joan Hambidge

Die titel Ligloop aktiveer om in die lig te loop, dus spiritueel te wees en om versigtig om te gaan met die gegewe in hierdie bundel. Reeds in die programgedig word die leser gemaan “trap ligvoets ligvoets as jy oor my woorde loop” (“he wishes for the clothes of heaven”, 11). Die motto uit Bakhtin (“We are the voices that inhabit us”) aktiveer die gesprek met T.T. Cloete en Antjie Krog. Daar is ‘n gesprek met Achmatowa en Sergei Esenin wat ‘n gesprek met die Russiese letterkunde oopmaak. 

Yeats word herskryf – met sukses, en ‘n gedig oor Johannes Kerkorrel tree in gesprek met De Lange se vers en die liedere van die sanger. Die Bybel, veral Elia, verskaf ‘n ander ryk voedingsbron waarop die digter teer. Die spel met die Afrikaanse digkuns en die WVK word in ‘n wrang distigon van Watermeyer beskryf: “elia en die ou boereplaas” (73).  (Trouens, dit sou ‘n fassinerende ondersoek wees om al die motto’s en verwysings te aktualiseer.) 

Cloete se klassieke vers “Die vroue van Vermeer” word deur Gouws “vermeerder in vers”. Krog se Jerusalemgangers word herbesoek via J.P. Claasens se studie oor hierdie trekkers. Breytenbach se “allerliefste” word nou in die kuberruim aangespreek en in ‘n distigon, “elia en die ou boereplaas” (73) word die profeet Elia ‘n masker vir Gouws se blik op die Afrikaanse letterkunde en die siening van die plaas. In ‘n wrang “aftelrympie” word die bloedige verloop van die land se geskiedenis weergegee met die onthutsende slot via Peter Blum: allesverloren.

Daar is vele motto’s by gedigte en Van Wyk Louw open die religieuse dimensie in hierdie bundel wat in sterk kontras staan met die verwysings na die politieke en aktuele wat soos ‘n fyndraad (of lig?) deur die bundel skyn.

En ook Eybers is hier in sowel ‘n vers wat aan haar opgedra word en in daardie bekende spanning tussen die man en vrou. Die webbe roer hier en die leser word telkemale bewus van die gedig wat uit die self spruit. Gouws is bewus van die self as ‘n konstruksie en die spel met die “wisseling van lywe” word behendig volgehou: soms in die skoene van Vermeer, dan as diensmeisie, dan as Elia, soms net as digter of méns. In ‘n “wyding”, ‘n liefdesvers, word die geliefde ‘n vers gegee waaruit sy eendag moet put:

eendag as jy oud is en saggies met jouself praat, en bewe,
en die tou te kort word vir die skep uit putte van herinnering,
vat dié vers, geliefde, lees dit weer as onvoldoende wyding
van ‘n digter wat na woorde soek vir die diepgang van ‘n lewe.

Soms is die self ‘n kleitablet, ander kere ‘n sakrament.

Titels van bundels en gedigtitels is in kleinletters en die verse getuig van ‘n streng tegniese beheer. Die beelddig is veral in Afrikaans deur Johan van Wyk met Heldedade kom nie dikwels voor nie (1978), verrassend ontgin. Cloete se Marilyn Monroe-verse bly eweneens bakens hier. Dit is ‘n ryk geskakeerde bundel bedoel vir die ernstige poësieleser.
Woordspel, flink ryme, eksperimentering met vorme maak van hierdie bundel ‘n genoeglike leeservaring. Veral die verse oor Vermeer is aangrypend. Die bundel nooi eweneens ‘n psigoanalitiese lesing uit via Lacan veral met die verwysings na spieëls, die camera obscura, meniskus, en studies oor die betekenis van simbole (soos die leeu) in die skilder se werk. In ‘n gedig “advent” (44) word die self genadeloos bekyk. Die twee hooftemas in die bundel word goed teen mekaar afgespeel in ‘n gedig oor Moeder Theresa se nalatenskap en Vermeer se bankrotskap. Die speelse vind ons hier in ‘n klein juweel:”resep vir sinlike soesji”(53).

In 1990 het Gouws gedebuteer met diaspora, hierna volg troglodiet in 1995 en syspoor in 2002.

Ligloop is ‘n bundel oor die “verskeie teksture van die landskap van die self”, soos die digter skryf in “die geograaf” (29). Die invloed van D.J. Opperman en die maskers van die digter word aanskoulik geïllustreer in die slot gedig wat ons as ‘n visioen kan lees.
Die verwysings is goed verwerk en vorm en inhoud word één in hierdie ontroerende bundel.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]

Fritz Gaum - Praat verby grense (2010)



Fritz Gaum. Praat verby grense: Uit die e-pos van Laurie Gaum & Frits Gaum. Umuzi, 2010.

Resensent: Joan Hambidge

Pa, maak vir my ‘n vlieër pa!

Umuzi het hierdie boek, Praat verby grense, nou onlangs gepubliseer en die titel aktiveer Derrida se différance. Want met die Gaums is daar altyd geen buite-teks. Maar kom ons fokus op die boek en nie die woord en wederwoord tussen my en dr. Gaum agter die skerms nie.

Dié boek is ingegee deur ‘n traumatiese ervaring toe Gaum jnr. se lewensmaat hom aan aan die kaak gestel het en foto’s (kaalboud in die see en met sigaar in die mond in ‘n toga of kamerjas) na die geelpers versend het. Daarna het die geliefde selfmoord gepleeg en Gaum jnr. se lewe in ‘n hellevaart verander. Hy is geskors uit sy amp, het geappelleer en is terug in sy pos. Amper iets soos taraboemdery, opgeklim en weer gery.

Gaum snr. was indertyd by Die Kerkbode waar hy met bliksemstrale hom teen gays uitgespreek het en die uwe, Johann de Lange en wyle Koos Prinsloo uitgekryt en gemeen het die kerk moet teen ons optree. Ná Gaum jnr. se penarie, het vader tot inkeer gekom, my om verskoning in die pers gevra. Dit het ek aanvaar, maar wel gemeen dat ek nie nodig het om hom in die openbaar te groet nie. My boonop vererg toe hy een aand, hier het ek ‘n getuie, so ewe snood onskuldig, my heel vaderlik en familiêr, kom groet het in Bacini’s bo in Kloofstraat. En hierna selfs opgemerk dat hy meen dat as ‘n mens jammer gevra het, moet jy mos daarna so al die veld is vrolik wees met mekaar? Op Litnet is daar vele debatte hieroor opgeteken, o.a. deur Jaco Barnard-Naudé wat regsfilosofies na die kwessie kyk en wys op verskillende vorme van versoening en vergifnis. En dat dit nooit voorwaardelik kan wees nie.

Dit is die hoek waaruit ek my verweer teen hierdie teks waarin ek ook aangespreek word. (Terloops, sonder toestemming Umuzi, maar dit maak nie saak nie!)  Die boek word aan Henda opgedra en ook aan die kerk.

Die teks is rondom e-posse gekonstrueer, met ander woorde, dit is ‘n moderne belydenisteks wat van die struktuur van die brief of dagboek gebruik maak. Ons vind ‘n tabel voorin die boek wat die leser dan lei na die belangrikste onderwerpe wat aangespreek gaan word.

Die belydenisteks is intiem in aanbod. ‘n Mens dink hier aan Laclos se beroemde Dangerous liaisons of aan Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan.

Die vraag is dus onmiddellik: wat moet uitgelaat word in hierdie korrespondensie of is dit alles alreeds in die openbare domein?

Oor die gewraakte besluit van die kerk oor homoseksualiteit in 1986 erken Gaum snr. dat hy artikels daaroor geskryf het, maar hy het hom egter van die amptelike standpunte gedistansieer, want dit was nie “my probleem” nie.

Dit het wel later, soos ons weet, “sy probleem” geword. En ja, ‘n mens skryf kwetsende artikels en dan staan jy terug. Hier kry ‘n mens ‘n blik op die kerk se manier-van-doen: jy oordeel, jy kwets, en dan speel jy Pontius Pilatus. Totdat dit met jóú gebeur. Alles in hierdie boek is so “après le déluge”, so noudat ons meer uit die kospotte van Egipte eet nie…

 En hoe die werklike gebeure verdraai kan word om in die Gaum-patroontjie in te pas, lees ons op bladsy 30. Ja, Gaum het my kom groet in ‘n restaurant, maar my beswaar was dat hy handtastelik geraak het. En dan skryf hy dat hy vir my die letsel verteenwoordig. Nee, hy verteenwoordig vir my dikvelligheid. Vir iemand wat aanhou opdring. En dan skryf Gaum jnr. dat dalk hou ek nie van trompop konfrontasie? Nee, ek hou daarvan: net nie met julle nie.

Daar word sonder skroom opgemerk dat Gaum jnr. se foto vandag in dieselfde koerant as Willem de Klerk se foto verskyn. Vaderland. So asof dit op ‘n gelyke vlak is.

Daar is ‘n gesprek, natuurlik – hoe dan anders?, oor die Broederbond. Die irrelevansie van hierdie boek draai om al hierdie ou deurgetrapte kwessies. Onder potsierlike hofies soos “Daar staan dinge in die Bybel wat mense seermaak” en opmerkings soos dat lees subjektief is en dat dit afhang van met watter bril jy lees, beklemtoon die fletsheid van hierdie publikasie.

Ons het beslis nie Wentzel van Huyssteen of John de Gruchy hier aan die woord nie.
Waar ‘n mens volledig onder die indruk van Gaum snr. se hubris kom, is by die afdeling “As ek God was” en by Gaum snr. se gebrek aan intellektualisme. “’n Lewegewende God wat lag” (77).

En die uwe en Jaco Barnard-Naudé is onbewus van Gaum snr. se beywering vir gay-regte. Is dit jy daar Frits in die pienk-rok by die Bronx? En boonop vertel Gaum jnr. vir ons in geen onduidelike terme vir wie God ‘n sagte plek het! As ‘n mens dink aan al die komplekse teologie oor die posisie van die mens teenoor God in ‘n postmoderne wêreld, raak hierdie getjommel op die duur erg embarasserend. Maar nou ja. Dis e-posse.

Vir my is dit jammer dat begrippe soos “the blaming game”, “sensibility”, “sidestep” , “grapple”, “challenge” gebruik word. Maar dis hoe mense praat en hierdie tekste is nader aan praat as skryf.

Die boek is ‘n religieuse Wat elke seun moet weet. Dit lees vinnig en vlot en van werklike diepgang is hier nie sprake nie. En daar is ook iets wat lyk na gedigte.

Ja-nee die waarheid het baie kante, staan daar op bladsy 95. Op bladsy 107 is menslikheid verkeerd afgedruk. Is dit ‘n Freudiaans glips of nie?


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]

Henrietta Rose-Innes - Homing. Umuzi (2010)



Henrietta Rose-Innes. HomingUmuzi, 2010. ISBN 978 1 4152 0134 3.

Resensent: Joan Hambidge

Henrietta Rose-Innes het al die Caine Prize vir skryfwerk in Afrika en PEN-toekenning ontvang. Sy het ‘n spesiale plek ingeneem binne die Suid-Afrikaanse letterkunde en haar romans Shark’s Egg en The rock alphabet het ‘n goeie ontvangs geniet. Op die voorblad van Homing is daar ‘n stad en voëls wat vlieg. ‘n Toespeling dalk op die eendjies teen die muur in ‘n burgerlike huis wat in hierdie verhale op sy kop gekeer word. Rose-Innes wys dikwels op die bars in die muur. Haar vertellers of fokalisators fokus dan op dit wat agter die fasade skuilhou. Oor die undertow (103) of waters waarin ‘n karakter swem en getransformeer word deur ‘n aanraking (62).

Rose-Innes is ‘n gevoelige waarnemer en haar verhale gee dikwels ‘n nuwe perspektief op ‘n alledaagse werklikheid. ‘n Jong skrywer versoek dat ‘n gevestigde skrywer na haar manuskrip kyk, maar sy word ontnugter met sy lewe agter die skerms. Die leser word reeds van die begin af op haar tone gehou wanneer die verteller aankondig dat wanneer ‘n verhaal begin met ‘n hoë gebou, gaan dit val. Hier is die val dan nie ‘n letterlike een nie, maar eerder die ontnugtering (of vernugtering) wat sy deurmaak wanneer sy op vlug slaan met haar manuskrip onder die arm. Sy het helaas ‘n blik gekry op die geweld in sy lewe. Sub-teks is eweneens ‘n tegniek wat sy behendig hanteer in die vertelling “Tremble”: ‘n jeugervaring in ‘n swembad word later tydens ‘n naweek weg geaktiveer. Gebeur die aanraking werklik of beweeg die vrou terug in die jeugervaring? Die leser word telkens gedwing om terug te gaan en klein aanwysings weer te volg.

In ‘n verhaal soos “Forensic” kry ‘n mens die volle impak van die skryfster se talent om binne die kort omvang van die verhaal die wending in iemand se gemoed te beskryf. Met ‘n slot waarin die verandering die karakter se gemoed konkreet voorgestel word. 

Kortverhale, ten beste, werk dikwels soos gedigte waarin die dénouement met ‘n beeld weergegee moet word. Hier is dit die losmaak van ‘n lint om die nek wat die onstemmende ervaring, wat sowel deur die karakter as die leser meegemaak is, ‘n vergestalting van die verandering in die gemoedslewe. In “Burning buildings” word die onderliggende geweld en kompetisie tussen twee kunstenaars uitgespeel deur ‘n miniatuur-kasteel te verbrand. Een wat boonop met vuurhoutjies gebou is! Die resente sokkerwaansin word in ‘n verhaal “Star” ondersoek. Dit word uiteindelik veel meer as ‘n verhaal oor sokker en ‘n ou vrou, ene Mevrou Engelbrecht, se naïewe reaksie daarop. Dit word ‘n verhaal oor al die vreemdelinge wat ons tans in hierdie stad huisves en ‘n boeiende ondersoek na swendelary. In ‘n verhaal soos “The good daughter” illustreer die skryfster hoe goed sy met die donker dieptes van ‘n karakter kan identifiseer en ‘n geloofwaardige verhaal kan skep wat met elke lees aan implikasie wen.

Wat ‘n kopieskrywer dink in “Promenade”, kan op hierdie tekste van toepassing gemaak word: I notice things in great detail” (156). En of dit nou ‘n vrou is wat tydelik in ‘n hotel skuilhou of ‘n winkeldief, telkens klim die outeur onder die vel van die karakter in. Jy beleef alles vanuit daardie perspektief en met oortuigende beskrywings van die emosionele landskap van die fokalisator. Die waarheidsgetrouheid waarmee die stad en sy mense beskryf word, maak die verhale hoogs leesbaar. Met elke herlees wen die verhale aan dieper betekenisse. Dikwels is dit karakters vasgevang in ‘n oorgangsproses of transformasie; in liminaliteit soos die gonswoord dit in die literatuurteorie dit beskryf. Net een kritiese vraag: Is die stereotipiese opmerking oor die Afrikaner-familie in die verhaal “Poison” dan relevant?, wonder ‘n mens. Of is dit met opset gedoen? Juis by ‘n skrywer soos Rose-Innes wat wegskram van die maklike invalshoek, het hierdie leser so ‘n beskrywing steurend gevind.

Die erkenningslys agterin gee vir die leser ‘n aanduiding hoe wyd sy al gepubliseer het en die styl van die verhale word tereg op die agterblad as “sparse, sparkling” beskryf. Die meeste van die verhale is so sterk dat ‘n mens nie dadelik kan oorbeweeg na ‘n nuwe verhaal nie. Jy moet eers asemskep én nadink. Henrietta Rose-Innes het haar kleim afgesteek op Kaapstad en sy skryf helder en beeldend oor hierdie stad soos Ivan Vladislavic oor Johannesburg doen.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Jonathan Locke Hart - Dreamwork (2010)



Jonathan Locke Hart. Dreamwork. Athabasca University Press, 2010. ISBN 1917 9405.

Resensent: Joan Hambidge

Jonathan Locke Hart is ‘n bekende Kanadese teoretikus en ‘n digter van format. Dreamwork is op die internet beskikbaar en vir die begeesterde leser is hierdie ‘n bundel ‘n staning op die boekrak werd. Dis uiters delikate gedigte wat soos die Japannese tanka en haikoe met min woorde werk. Maar onder die subtiele, min woorde – Opperman sou praat van spaars – word die leser uitgelok om die leë plekke in te vul. Die gedig is die droom; en die droom word ‘n gedig.

Die titel aktiveer Freud se beroemde Interpretasie van drome (1900) en al die psigoanalitiese interpretasies róndom drome. Die bo- en onderbou van die droom. Dieselfde geld die gedigte wat die leser laat nadink oor die betekenis wat in die gedig skuilhou; bykans soos wanneer ‘n mens tob oor die droomwêreld wat jy sopas verlaat het en die implikasies wat dit mag inhou. ‘n Waarskuwing?

‘n Boodskap?  Tog is die droom ook niks nie:

Dreams are unacknowledged

And, being nothing
Legislate nothing (5).

Digters is egter, soos Shelley geskryf het, “the unacknowledged legislators of the world”.

Die digter aktiveer al die moontlikhede van die droom. Die gedigte is genommer en gedig 23 begin so:

The distance from New Haven to Princeton
Is more than a metaphor. The scar
In Manhattan is hard to imagine
The people remarkably calm.

En dan vertel hy van die drome wat al deur New York beweeg het en die leser dink aan Delmore Schwartz se In dreams begin responsibilities” en skielik staan jy voor 9/11. Skielik draai hy die gegewe óm in die gedig. Nou beweeg ons van Princeton na New Haven, daar waar Wallace Stevens se groot gedig skuilhou en die gedig sluit:

The ghosts can do nothing to heal
The unsleeping horror of terror and violence.

In my eksemplaar het ek vele potloodmerke gemaak by gedigte waar die metaforiese lading tref. Tonnels, die “underground”, reise, die dood word behendig saamgebind:

92.

Another burial, never the last,
Takes away. The dun earth

Receives its guest: as the moon

Wanes, the dew melts.

Words come and are undone
But stay for now, this sturdy dream.

Die dood is ‘n ruimte waar mense veilig is: ‘n plek van geen bomme (93). Ook Vigs word in die verse aangespreek (“the place of poetry in a plague time”, 49), maar die digter probeer telkens wegbeweeg van die grusame werklikheid na die brose ruimte van die droom. Na die versugting van ‘n tyd voor metafore en treine, soos hy opmerk in gedig nommer 30.

Die onmag van die gedig om die werklikheid te verander, word verwoord in gedig 33:

Stanzas

Cannot hold the world, contain the day.

Die tegelykertydaspek van die gedigte is meesleurend. So dig hy in 52:

Something futile: crafting
A poem translating a dream

Into words. The possible world
Takes hold …

‘n Verdere juweel staan op bladsy 58:

The prose of love
Will not live

Will stutter, words
Loose and absurd.

Daar was ‘n tyd voor treine en metafore, waarsku die digter. Boonop sukkel ons om by die werklikheid uit te kom. Daar is vele intertekste, verhuld, veral na die Ooskus-Amerikaanse digters. Dit is ‘n digkuns waarin die digter bewus is van die kortstondigheid van die lewe: daar is helaas te veel geskiedenis en te min tyd!

Wat ‘n lieflike bundel is dit nie! Cleanth Brooks se “the well wrought urn” is die beste beeld wat ‘n mens kan vind om hierdie pragbundel mee op te som wat die ware digter uitsonder van die babbelbek. Suggestie, min woorde, metaforiek, subtiliteit.
En, less is more.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]