Dolf van Niekerk. Nag op ‘n kaal plein. Human & Rousseau, 2006. ISBN 0 7981 4713 X.
Loit Sôls. Die faraway klanke vanne hadeda. Kwela , 2006. ISBN 0 7957 0235 3.
Resensent: Joan Hambidge
Dolf van Niekerk het twee bundels
opgelewer wat my hartsnarte geruk het: Karoosange
(1975) en Dubbelster (1996), wat een
van my gunstelingbundels bly van hierdie digter.
Die jongste heet: Nag op ‘n kaal plein wat onder meer Van Wyk Louw se gedig nommer X
uit Tristia oproep: daardie eensame
persoon wat die meeue krummels voer op die verlate plein.
Die bundel sluit aan by die skrywer se
outobiografiese vertellings Die aarde
waarop ek loop (Lapa) en in die
jongste bundel word ‘n bestekopname van die lewe gemaak. Die bundeltjie beslaan
net 32 bladsye en is hardeband uitgegee.
Hierteenoor staan die praatverse van
Loit Sôls in die bundel Die faraway
klanke vanne hadeda, uitgegee
deur Kwela. Die bundel beslaan 80 bladsye en die verse behoort tot die orale
tradisie. Hierom die klankeffekte, herhalings van woorde en refreine,
dramatiese wendinge, spel met die gehoor en daarna die leser.
Dolf van Niekerk se poësie werk met die
wroeginge van die binnekamer. Die digter as esteet wat sig besig hou met ‘n
bestekopname en inskryf teen (en met) die voorskrifte en tradisie van Groot verseboek en die eise wat die kanon
stel. Suiwer Afrikaans word gebruik, terwyl Loit Sôls opsetlik skryf in Kaaps
en beskou word as ‘n “performance poet”. As ‘n mens die digter eenmaal gehoor
het, bly die gedigte saampraat in die geheue.
En daar is absoluut verruklike verse in
in hierdie Kaapse boek wat al die reëls van konvensionele poësie oënskynlik
ondermyn, maar tog met vernuftige strategieë werk, soos ‘n behendige slot of ‘n
gemaak-dom-aanslag wat dan al ondermynende die gek skeer met ‘n konvensie
(“hotel hollan”, p. 74) of my gunsteling waar ‘n kind se skoolboek, naamlik ‘n
les in sinsbou, die onderwerp van satire word – en wat van hierdie kind
uiteindelik gaan word binne sy gemeenskap van geweld en drugs.
Dwelms en skollies word aangetree, maar
die belangrikste verkwiklike aspek van hierdie bundel is dat die digter vir ons
die praat-taal van sy mense gee.
Die wrangheid van apartheid slaan deur –
hier is dikwels armoede en armoede en armoede en ellende – maar, die humor en
die vinnige swenkopmerking maak van hierdie bundel ‘n louter plesier om te
lees.
Daar is ‘n skerp blik, maar daar is nooit nawelstaardery
of selfbejammering nie. Die digter kyk, teken op, gee ‘n “local clour” daaraan
en maak gedigte wat jou in die maag tref.
“Die gangster” is ‘n desperado, ‘n
“coward by nature” en die taalpuriste wat gedigte lees met verseboeke onder die
arm moet besef hier het ‘n nuwe diskoers ingetree in ons digkuns. En dis goed
so!
Daar is verse wat onmiddellik in
verseboeke opgeneem moet word soos “die bêgie” wat soveel lewenswysheid verraai
en ‘n digterlike vermoë om konkreet te dig.
In Goema-Afrikaans.
Niks kan verder verwyder wees as van
praatverse as Van Niekerk se bundel nie.
Dit is ‘n bundel waarin die jeugdorp
besoek word en die spreker beweeg tussen lewe en dood, werklikheid en fantasie.
Dit is ‘n bundel wat ten beste beskryf
word as die digkuns van die primordialiteit. Ou verliese, wonde, onafgehandelde
sake word deur die besoek aan die tuisdorp tot lewe gebring, met die wete dat
dit alles skuilhou in ons herinnering en psige. Net ons weet presies wat met
ons gebeur het, hoe ons dit beleef het en hoe dit ons psigies vermink of verryk
het. Die yke op die siel.
En dit is hier waar Dolf van Niekerk met
groot beheer in beweeg. Daniel Hugo noem tereg hierdie bundel ‘n kragtoer in
die publisiteitsstuk wat die bundel vergesel.
Dit is ‘n bundel waarin “die misterie
van die lewe / en die wonder van die dood” (p. 26) gekarteer word. In die
beskrywing van ‘n uil wat in ‘n kerk invlieg – Gedig nommer 23 – word ten
slotte so beskryf:
sprei sy vlerke in ‘n seëngebaar
en sweef minagtend oor die gemeente
wat leweloos in sy oë weerkaats (p. 27).
In gedig nommer 18 word die jong kind se
ervaring van siekte en geloof aangrypend verwoord, maar my allergunsteling-vers
is gedig nommer 17 waarin die kind se ervaring van die atoombom op Hirosjima en
Nagasaki beskryf word. Alles is vér en onwerklik en so eindig die digter sy
gedig:
Die radio raak stil; uit die kas se
onsigbare mond
kom die helder stem van Tito Schipa
en onverstaanbaar pleit hy oor una
furtima lagrima (p. 21).
Daar word in die wêreld van die
buitenissige inbeweeg (14, p. 18) en op ‘n vreeslose wyse word die
bo-natuurlike gekarteer, dit wat ons in drome, telepatiese ervarings ervaar,
oftewel die domein van die “unheimliche” soos Freud dit beskryf het.
Omdat die verse inbeweeg op oeroue
herinneringe, ervarings, drome en inbeweeg in die nie-kenbare, is die struktuur
van die verse vloeiend.
‘n Mens kry dikwels die gevoel dat die
gedigte as’t ware die digter besoek het en by ‘n eerste lees het dit my sterk
herinner aan Opperman se “Kroniek van Kristien”!
Ons werk dus hier met gedigte van
transformasie, van verse wat as numineus beskryf kan word.
Die openingsvers begin met “Kaal plein
onder die maan” wat die leser terugneem na die ruimte van die jeug, waar alles
“versteen staan” in die herinnering. Die “gestolde wêreld” van die jeug neem
ons uiteraard ook na Nuwe verse, en
die “vlerkklap van vlermuise” na die donker bestaan tussen lewe en dood.
Dit is bykans asof die skrywer soos ‘n
dooie die plek van sy jeug besoek en besig is met ‘n bestekopname: hierom die
ervaring dat iemand bykans soos hy lyk (p. 6). In gedig 4 is die trourok dalk
ook ‘n doodsgewaad en die leser huiwer voortdurend tussen twee dimensies, twee
vlakke wat die gedig aanbied.
‘n Vrou wat die geliefde, die byna-man
in die oorlog verloor het, hoor Marlene Dietrich se blommelied wat implikasie
een van die sterkste aspekte van hierdie bundel maak.
Die spel tussen die hy en sy word
vernuftig volgehou in hierdie bundel waarin die digter telkemale probeer om ‘n
oomblik vas te vang. Alles saamgevang in “patrone van genoegsaamheid” (p. 16).
Die herinnering bly voortduur in die
oomblik, die nou met die wete dat
en in die lewe en die dood
is elkeen uiteindelik alleen (p. 24).
Die bundel beskryf die misterie van die
lewe en sy verliese (‘n geliefde hier) . Daar word getob oor die wonder van die
dood en goddank vir die wonder van die digkuns van Dolf van Niekerk.
Dit gaan uitermate goed met ‘n digkuns
wat twee sulke dwingende en uiteenlopende stemme kan huisves.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Volksblad geplaas.]