Eben Venter. Horrelpoot. Tafelberg Uitgewers, 2006. ISBN 0 624 044629.
Resensent: Joan Hambidge
Horrelpoot. Dit verwys na Martin Louw/
Marlouw. Eben Venter se jongste roman werk op ‘n komplekse wyse met Joseph
Conrad se Heart of darkness met
Marlow se soektog na Kurtz. MarLouw word gestuur, terug Suid-Afrika toe, om sy
susterskind, Koert te gaan haal. (Daar heers bekommernis oor hom weens sy
gebrek aan kontak.)
Dit is ‘n Suid-Afrika wat staan in die
teken van verloedering en agteruitgang. Die plase is oorgeneem deur die swart
werkers wat selfs die Afrikaanse name behou het. Mense sterf aan Vigs. Daar is
hongersnood. Morele verval. Koert, Marlouw se teenpool, het ironies genoeg
gangreen in sy voet!
En Marlouw word eweneens met die donker
kant van ‘n nuwe bestel gekonfronteer. Hy word o.a. valslik beskuldig daarvan
dat hy die bakkie waarmee hy sy tog onderneem het, gesteel het. Maar omkoopgeld
los alles op, uiteindelik. Terselfdertyd word hy aangetas deur die verval en
waansin van die bekende orde: hy het gesprekke met die vader uit die dode.
Kennelik ‘n soort gewete vir dit wat hy waarneem en weens ‘n skuldgevoel, omdat
hy deel geword het van die diaspora. Hy leef in Melbourne waar hy duur potte
verkwansel aan restaurante.
Dit is ‘n somber, donker boek wat vanselfsprekend
ook Francis Ford Coppola se Apocalypse
now in die herinnering roep, met die uitgesakte, waansinnige Marlon Brando
as Kurt. (Is daar ‘n groter slottoneel in ‘n rolprent? ) Mevrou Coppola se
dokumentêr oor die maak van die rolprent het die hele tyd saamgespeel in my
leesverbeelding: veral waar sy die gewone mense se meelewing van die verfilming
van die primordiale kragte vir ons vertolk. ‘n Bees word geslag in ‘n daad van
ekstatiese waansin.
Die Koert in Venter se roman skryf
vreemde e-posse aan sy moeder en in die konfrontasie-gesprek met Marlouw word
allerlei taalverwringings gebruik om sy waansin voor te stel.
Die gesprek met die vader op bladsy 213
– waar die vader die kind versoek om alles te verwoes sodat die ouers tot rus
kan kom – aktiveer die oer-horrelpoot, Oedipus. (En Hamlet word opgeroep wanneer vader en seun praat!) Venter vertaal
die mite anders: die kind maak nie die vader letterlik dood nie, maar hy het
wel deelgeneem aan die vader se vernietiging, omdat hy die plaas verlaat en die
weerlose ouers agtergelaat het.
Oor die Oedipus-mite het Freud uitgebreid
geskryf. Dit is die kind se opstand teen die vader wat tot ‘n simboliese
slagting aanleiding gee weens die behoefte om ‘n nuwe ruimte of identiteit te
skep. ‘n Mens sou hierdie roman ook as ‘n antwoord op die konvensionele
plaasroman kon lees. Dalk ‘n slagting van C.M. van den Heever se siening van
die roman waar die orde nog bestaan? Die seun as’t ware oorneem by die vader en
nie wegvlug nie? Dit tree eweneens in gesprek met Venter se Foxtrot van die vleiseters en Ek stamel ek sterwe.
Dis ‘n roman wat Venter op sy beste
vertoon. Spaarse skryfstyl, suggestie, vreemde waarnemings en briljante spel
met verhaal en mite. Dit is opvallend in welke mate Venter die verhaalgegewe en
rolspelers in die oorspronklike roman heraktiveer met nuwe name, maar hulle
dieselfde funksies laat vertolk. Fresleven en Helmsman (word Headman), onder
andere – ‘n opwindende studie vir ‘n jong navorser om die herinterpretasie van
die oorspronklike verhaal met die gebruik van dieselfde karakterfunksies te
ondersoek, soos al uitgewys in Vladimir Propp se Morphology of the folktale.
Eweneens fassinerend is die
transponering van die gegewe van die Belgiese Kongo na Suid-Afrika, in die
omgewing van die Noord-Kaap. Hierdie roman het ‘n pendant in Tom Dreyer se Ekwatoria.
Vir die liefhebber van psigoanalitiese
materiaal is hierdie roman ‘n volgehoue spel met belangrike tekste binne die
Freudiaanse diskoerse en die inbeweeg in die troebel areas van die onbewuste.
Hoe die slot afwyk en ooreenstem met die
oorspronklike, is eweneens tersaaklik.
In die eerste slottoneel, ‘n
konfrontasie tussen ‘n afgetakelde Marlo’tjie en Koert, gee Venter ‘n
interessante spin op die inisiasieverhaal. Hier word dit eweneens ‘n oomblik
van transfigurasie wat o.a. ‘n Jungiaanse lesing benodig. Wie is uiteindelik
die werklike horrelpoot?
Die gesprek tussen die Esmie en Marlouw
oor haar vermeende swangerskap, maak van Ouplaas (‘n ironiese naam) en die
stamboom iets mistroostigs. Die verhaal is in ‘n raam gebed: dit begin en
eindig in die buiteland wat die ekspat-pespektief na vore bring.
Die tweede slottoneel, die gesprek
tussen Marlouw en Heleen, is ‘n kragtoer. In ‘n duur restaurant word in
jukstaposisie met die verloopte Afrika geplaas. Die leuen ter wille van
oorlewing.
Die derde slot: ‘n grimmige blik.
Dit is absoluut my soort roman.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger & Fine Music Radio geplaas.]