Sunday, November 30, 2014

Octavio Paz - Tussen gaan en bly

Octavio Paz © Alberto Garcia

Tussen gaan en bly

Tussen gaan en bly weifel die dag,
verlief op sy eie deursigtigheid.

Die sirkulerende namiddag is nou ‘n hawe
waar die wêreld in stilte beweeg.

Alles is kenbaar en ontwykend,
alles is naby en onaanraakbaar.

Papier, boek, potlood, glas,
rus in die skadu van hul name.

Tyd wat in my slape klop, herhaal
dieselfde onveranderbare sillabe van bloed.

Die lig verander die ongeërgde muur
in ‘n spookagtige teater van afskynsel.

Ek bevind myself in die middel van ‘n oog,
kykend na myself deur ‘n ondeursigtige staar.

Die oomblik breek. Bewegingloos,
bly ek en ek gaan: ek is ‘n ruspose.

Octavio Paz
(Vertaling Joan Hambidge)

Brief: Paul Fouché oor 'Ester' van Kerneels Breytenbach



Taffie Kikillus

Brief: Die Burger 24/11/2014

Op 22 deser skryf Paul Fouché oor Kerneels Breytenbach se roman Ester: "Taffie Kikillus was nie op die trein nie". Hy wys dan daarop dat "ware feite" sou die nagedagtenis van dié ou meester tot eer kon strek. Hy het dit verder oor die "werklikheidsillusie" wat ooglopend 'n steunpilaar van die roman blyk te wees.

Hy vind dit eweneens jammer dat Breytenbach blykbaar net vir Ollie Viljoen as enigste bron vertrou het.

Indien meneer Fouché die opskrif van die onderhoud met Elmari Rautenbach gelees het ("Spioenasie-intrige deels ware verhaal") sou hy alreeds kon besef het dat die roman met feite toor. In die roman word die hoofkarakter se identiteit eweneens vervals sodat 'n leser wat hierdie roman met 'n geskiedenishandboek oor D.F. Malan sou lees, die oorgang tussen feit en fiksie sou miskyk.

Daar is ander romans soos D.M. Thomas se Flying into Love (1992) oor die Kennedy's en The Public Burning (1977) van Robert Coover wat eweneens hierdie spel tussen fiksie en feit volhou. In Afrikaans het Stephanus Muller se Nagmusiek sopas verskyn: 'n biografiese roman oor Arnold van Wyk, wat eweneens die leser laat nadink oor wat waar en wat wolhaar is?

Ek ontken nié die briefskrywer se enorme historiese kennis nie; ek dink net romans werk met ánder beginsels, selfs al is daar sprake van sogenaamde "werklikheidsillusies" of "vraisemblance". Met ander woorde, jy moet die geskiedenis ken om dit nuut aan te pak: die waarheid gelieg.

Joan Hambidge

Sunday, November 23, 2014

Stephanus Muller - Nagmusiek (2014)



Stephanus Muller - Nagmusiek. Fourthwall Books, 2014. ISBN: 9780992226343

Resensent: Joan Hambidge 

I
Hierdie roman is ‘n gebeurtenis in Afrikaans. Dit vertel ‘n verhaal en die leser ontvang dit in ‘n boks met drie volumes. Volume I beslaan 228 bladsye, Volume II 148 bladsye, Volume III 548 bladsye.

Hoe moet ons hierdie drieledige teks, dus trits, karakteriseer?  Biografiese roman? Of roman in biografie-vorm? Hierdie genreverskuiwing open alreeds vrae oor die teks, begin as ‘n kreatiewe skryfwerk-projek aan die Universiteit van Stellenbosch en word geskryf deur ‘n musikoloog, Stephanus Muller, verbonde aan die Konservatorium aldaar. Dit handel oor die figuur Arnold van Wyk, ‘n ikoniese komponis, gebore in 1916 en oorlede in 1983.

Die boek is sowel akademies as fiktief of meditatief in aanbod. Dit is 'n baanbrekerswerk wat soveel verskillende diskoerse saamsnoer én bevraagteken. Dit verklap veel van die Subjek en die Optekenaar. Hermione Lee se kluif van 'n biografie oor Virginia Woolf (Methuen, 1977) is 'n voorbeeld van 'n akademies-gedistansieerde biografie, terwyl die werk van Janet Malcolm oor Plath The silent woman: Sylvia Plath & Ted Hughes (Penguin, 1994) deur die veelvuldige aanbod en perspektiefverskuiwings die idee van 'n biografie as 'n objektiewe studie ondermyn en dekonstrueer. Reeds deur die verpakking in 'n sogenaamde slipcase, oftewel foedraal, word die leser van Nagmusiek attent gemaak op verskillende bokse-binne-in-bokse ...

My kennis van Van Wyk is die liedere wat Mimi Coertse vertolk met ‘n hoogtepunt “In die stilte van my tuin”, ‘n elegiese gedig van I.D. du Plessis. Op Litnet skryf Suzanne Strauss oor die kanonisering van hierdie begaafde komponis: ‘Ek kan eintlik net hartseer musiek skryf …’ – Die selektiewe kanonisering van Arnold van Wyk (1916–1983) se werke (Besoek 20 November 2014)

II
Nagmusiek is 'n aweregse, individualistiese studie of navorsingsprojek, maar dit is ook 'n roman wat biografie wil wees. Dit verklap die obsessionele navorsing van die werklike outeur wat in verskillende gedaantes of stemme die teks vertel wat polifonies of veelstemmig in aanbod is. Daar is briewe, referate, besinnings, dagboeke, foto's, inventarisse, skinderstories, 'n plakboek met rugbyspelers, werklike besoeke aan werklike mense, meditasies oor die stand van musiek, of dan eerder: die betekenis van élitistiese musiek binne 'n (post)koloniale wêreld. Die stories oor die figuur Arnold (Nols) en sy ervaring van die kunswêreld en die onsekerhede wat so 'n kreatiewe figuur moes verwerk, word in die derde afdeling ondersoek. Muller/ Ansbach / ek word telkemale geplaas teenoor Arnold van Wyk. Die leerlinglisensie met die foto van Wyk aktiveer vraisemblance.

Daar is 'n soeke na die "werklike" Arnold van Wyk en die speurtog lewer onder andere 'n skulp op waarin daar sigarette doodgedruk is. Die Subjek is egter nie "heel" nie. Daar is verwysings na molle in die tuin (die onbewuste) en ook 'n verhouding met die moeder wat uiteindelik sterf, en 'n transgressiewe verhouding met 'n vroulike student. Die verwysing na Alzheimer se siekte word 'n slim set vir 'n teks wat juis wil onthou.

Die verteller, of eerder dan, die aanbieder is 'n hoogs sensitiewe, bykans obsessionele figuur, wat ook iets van homself verklap in hierdie boek, of eerder dan, boeke.

Dit is 'n teks wat jy letterlik op enige plek kan oopslaan en dit waaier uit na die ander twee tekste wat rugsteun, ondersteun én ondermyn. Biografiste, soos wat Leon Rousseau op 'n keer onthul het ná die voltooiing van Die groot verlange, raak inderdaad obsessief oor hul "man", net soos advokate wat 'n persoon in 'n hofsaak moet verdedig, alles moet weet, as't ware in die persoon se spore moet stap, ten einde die "waarheid" te vind. In hierdie teks word die transgressiewe soeke na het-dit-werklik-gebeur telkens op sy kop gekeer en ironiese kommentaar gelewer op mense se ewige soeke na wie was daar? En het dit regtig gebeur?

III
Linda Hutcheon se Irony's edge verwys na die politiek en die teorie van ironie. Hierdie studie het in 1994 verskyn, maar bly  'n relevante teks vir die ontleding van die polifoniese teks. Veral musikoloë sou meer kon werk op die simfoniese struktuur van hierdie teks. Vir Hutcheon is ironie meer as anti-frase, oftewel, die siening dat ironie die teenoorgestelde bedoel van wat jy sê. Dit is meer kompleks: dit gaan oor sowel die gesêde, as die on-gesêde en hoe dit inspeel op mekaar.

Daar is molle in hierdie teks wat doodgemaak moet word. Daar is vrese wat besweer moet word. Die twee hande stem ooreen (Escher se skilderende hande?), maar die skrywer hérken soveel van homself in die figuur, Arnold van Wyk, 'n man wat mense poetse gebak het. Hennie Aucamp het op 'n keer vertel hoe Nols vriende laat skrik het toe hy in die bad gelê het en "dood gespeel" het. Daar is die insident - 'n heerlike grap - toe hy maak asof hy in besit is van 'n kosbare stuk bladmusiek wat hy in die oond opwarm sodat dit verouder lyk. Daar is relasies met jong mans wat by hom loseer met wie hy stoei, fisiese aanraking ontwille. Die verwerking van die liefde-van-sy-lewe se selfdood. Daar is uitsprake oor Van Wyk se posisie aan die US en dat hy nooit na regte waardeer is en met bevordering oorgesien is. (Hierom dalk die ironiese bedankingswoord aan professor So-en-So in die erkennings?)

Elke vinjet word herhaal en van toepassing gemaak op die Optekenaar. Dit is 'n kladboek oor "unrequited love", oor begeerte en die konstruksie van 'n gay-identiteit binne 'n verdrukkende samelewing. Daar word vrae gestel en beantwoord oor die rol van kunsmusiek binne die apartheidsjare. Daar is baie toespelings en herkennings (is dit Kannemeyer?, o.a.) wat ons hier sien? Is dit Stefans Grové wat fluitgeluide maak? Ook hier trap ek in die strik gestel vir my!

Is Werner Ansbach gelyk aan Stephanus Muller? Of probeer die werklike outeur ook hiermee 'n verdere spel inbou dat die teks tog nie biografie kan of wil wees nie? Die keurverslag aan die einde - waarskynlik geskryf deur 'n akademikus en ons herken die styl van 'n kenner oor metafiksionele fiksie en al die probleme wat die hibridiese teks oproep - beskou die teks as nog vis nog vlees. Hierdie leser is van mening dat jy ál die vooropgestelde idees moet laat vaar en die teks kaleidoskopies moet benader. Soms is dit roman; soms eerder biografie. Ek het die derde "skelet" van agter na voor gelees, en toe weer chronologies benader - juis dan kry 'n mens 'n beter greep op die teks wat finale betekenis of interpretasie ontglip.

IV
 Dit is 'n komplekse, unieke teks in Afrikaans. Dit dwing bewondering en respek af. Dit handel oor meer as die melancholiese Arnold van Wyk. The Anatomy of Melancholy word ook raakgelees in die studie oor die plaasseun uit Calvinia wat in Engeland studeer het en o.a. vir E.M. Forster geken het. Sy storie vertel deur 'n jonger man wat eweneens buite die grense van die land gestaan het en terugkyk op die komplekse einde van apartheid, 'n ruimte waarin Van Wyk sowel gedy as verminder is.

Die besinning oor skryf word helder verbeeld in 'n konfrontasie met die Ander: "Jy is 'n niks, 'n onbenullige, onbewese parvenu" (439). Dit is die lot van alle skrywers wat die grensoorskrydende ver-teks. Koos Prinsloo is deur Ralph Rabie aangerand. Vir vele lesers is hierdie werkswyse nie kuns nie, omdat die herkenbare 'n ontoelaatbare praktyk is. En al is 'n figuur gefiksionaliseer, kan die skywer nie beheer uitoefen oor wát die leser gaan inlees nie.

Vir 'n onderhoud deur Wayne Muller lees: Onderhoud met Stephanus Muller (Besoek 23 November 2014)

Die partituur van Nagmusiek is ook aanwesig. Al het die komponis vertrek.

Sleutels is ook slotte. En die brief aan Van Wyk Louw en sy siening oor die sensuur is 'n verdere kode. In ons post-post-moderne wêreld is daar geen hekke meer nie, geen sleutels wat kan toesluit nie. Daar word verwys na kerkhofsleutels (233).

Hierdie drieledige teks sou 'n mens waarskynlik verder kan oopmaak met die gebruik van insigte uit Janet Malcolm se The Purloined Clinic (1992), 'n psigoanalis en teoretikus wat met haar unieke siening van die Freud argiewe en 'n slopende hofsaak vele raakvlakke met die probleme wat hierdie teks stel, eweneens aan die orde stel.

Die astroanalise (147) is ook 'n kode: die teks as gesplete persoonlikheid.

Die meisie se naam is Cecile: Sinte Cecilia ... beskermheilige van die musiek.

En idees word in die onderbewussyn gevorm, artikuleer Arnold van Wyk dit self in 'n brief gedateer 14/8/1978. En sy bewondering vir Britten en Sjostakowitsj moet eweneens nagespeur word.

Wednesday, November 19, 2014

Rubriek: Die stand van sake


Die funksie van keurverslae en resensies is om ‘n kritiese en gedistansieerde reaksie op ‘n boek te kry. ‘n Resensent skryf ‘n eerste, kritiese reaksie op ‘n teks, wat ingelig en eerlik behoort te wees.

Binne ‘n klein letterkunde is alliansies en vriendskappe uiteraard daar. My vriendskap met Johann de Lange is bekend, maar wanneer hy ‘n boek aan my opdra, resenseer ek dit nie. Ek is besig met ‘n studie oor sy werk – krities en gedistansieerd – maar ons vriendskap vorm nie deel van hierdie projek nie. Trouens, ons verskil oor etlike letterkundige kwessies. 

Nou onlangs vra ‘n webmeester van ‘n digkuns-webblad vir my om ‘n bundel te resenseer. Ek wys dit van die hand, omdat ek die eksaminator was van die MA in kreatiewe skryfwerk aan ‘n ander universiteit. Ek was onder die indruk van die bundel, maar het tog gevoel dat ‘n resensie ‘n duplisering van my mening oor die bundel gaan wees. En dat ek deel was van die totstandkoming van die bundel met aanwysings en kanttekeninge. So gesien, dus deel van die proses.

Net so min as wat ek my studente resenseer wat binne die kreatiewe kursus aan die UK onder my werk en publiseer, vind ek dit nie in orde nie wanneer iemand in die kursus (wat dus nog nie gepubliseer het nie), ‘n pas gedebuteerde resenseer en allerlei wyshede die wêreld instuur. Ek resenseer ‘n klasmaat, of voormalige klasmaat; hoe “objektief”, “gedistansieerd” kan dit wees?

Vanoggend maak ‘n kollega in die Engelse departement my daarop attent dat daar sopas ‘n resensie van In a burning sea verskyn het, en, voeg hy fronsend by, ek meen die kritiek in die Cape Times is deur Brink se vrou geskryf? Het Brink dan nie die voorwoord geskryf en gehelp met die keuse van die gedigte nie? Dit het 14 November verskyn.

‘n Nederlandse klassikus het sopas Fragmente uit die Ilias van Cas Vos aangekoop en die resensie op die Versindaba gelees. Die resensent, ene Gerhard Swart, dosent in Antieke Tale aan die Universiteit van Pretoria, word bedank in die voorwoord vir die wenke wat hy aangebied hy by die vertaling. So wie resenseer Swart? Cas Vos of homself? Hierdie grys area maak my dadelik waaksaam vir die geldigheid van die resensie ten spyte van die goeie insigte en die waarde van die uitgebreide inleiding.

Teen die einde van die resensie skryf Swart: “’n Kunstenaar wat sy kunsvorm goed beoefen, verdien applous; ontvang applous; erken applous.”

Koos Kombuis skryf  ‘n lesersindruk op Litnet oor Herman Lategan se Binnekring van spookasems, met ander woorde, hy vertel die storie agter die storie en hoe dit gekom het dat hy die “shout” vir die boek geskryf het. Dis ‘n lieflike, skreeusnaakse verslag, maar die leserreaksies onderaan laat blyk dat dit tóg as ‘n resensie ervaar word al is dit ‘n rubriek, en ons word dan ook verwys na die werklike (?) resensie deur Martie Meiring-Retief. 

Nou onlangs word ek gevra om In a burning sea te resenseer. Ek verklaar onmiddellik dat ek hierin opgeneem is en sou miskien oor die vertalings iets kon uitwys. Beide die boekeredakteur en ekself besluit wyslik oor ‘n koppie koffie dat dit nie korrek sou wees nie. Nie heeltemal verkeerd nie, maar soos om ‘n bed te deel met die keurder/inleier van ‘n bundel wat jy resenseer in die openbare domein. Boonop staan daar: “André Brink’s introduction gives a short historical overview of Afrikaans poetry and its various trends, placing the selection in context.”

Miskien het die kultuur rondom sosiale media soos Facebook tot gevolg gehad dat grense vervaag. Dat alles gemoedeliker geraak het. Dat ons sommer gou-gou iets skryf en “post” en nie nadink oor die langtermyn-implikasies in 'n vinnig veranderende wêreld nie.

Maar dink daaroor na. Die resensie mag positief en gloeiend wees, maar die ingeligte leser is skepties, en op die lange duur is dit nadelig vir die boek en die hele bedryf waartoe sowel skrywer as leser behoort. En die proses van kanonisering kan nie ligtelik opgeneem word nie.

Daar was ‘n tyd toe D.J. Opperman, ‘n gesiene kanoniseerder, sowel keurder was vir Tafelberg as Human & Rousseau uitgewers. Nodeloos om te sê: dit het gelei (gely?) tot konflik en ongelukkigheid wanneer ‘n digter tweekeer afgekeur word deur dieselfde keurder!

Hierom skryf ek keurverslae onder my eie naam en versoek ek altyd dat daar by ‘n tesisverslag my naam geplaas moet word. 

Want dis belangrik. Wie het wat en wie het wat waar geskryf.

Joan Hambidge
Kaapstad, 18 November 2014

Sunday, November 16, 2014

Antjie Krog - mede-wete (2014)



Antjie Krog - Mede-wete. Human & Rousseau, 2014. ISBN 978-0-7981-6787-1

Resensent: Joan Hambidge

I

Dit is Krog se eerste bundel in agt jaar. Hierdie langverwagte bundel open met ‘n aangrypende vers oor die dood van haar vader. Die bundel handel oor familieskap in al sy vorme: die verhouding met die ouers, kinders, kleinkinders, maar ook die familieskap met taal en die land van herkoms.

mirakel

ek behoort aan hierdie land
dit het my gemaak

ek het geen ander land
as dié land nie (30)

Hierdie bundel het onder andere tot stand gekom, terwyl die digter met 'n DAAD-beurs in Berlyn kon navorsing doen. Hierom die afstand oor die (Suid)-Afrikaanse wêreld en die beskrywing van die beklemmende politieke werklikheid waarin alles op ‘n daaglikse basis afgetakel en omgekeer word. Die politieke werklikheid is ‘n ontstellende een, ónafhanklik van die plek waar jy staan, links of regs, wit of swart. Die bundel heet Mede-wete. Ons hoor medepligtig, met wete, met insig. Ook die leser word mede-speler, mede-skrywer.

II

Krog debuteer in 1970 met Dogter van Jefta. Hierna verskyn vele bundels en etlike keurbundels soos Digter wordende (2009), kinderpoësie, prosa, nie-fiksie – soos die belangrike Country of my skull (1998), ‘n Ander tongval (2003), Begging to be black (2010), onder andere. 

Daar is ‘n monografie oor haar geskryf deur Louise Viljoen waarin die belangrikste kodes en temas uitgewys word. Nou onlangs het ek soos volg  ‘n versameling opstelle van haar werk geresenseer in Rapport. [1]

In die jongste bundel vind ons die woedende Krog, maar woede word telkens afgewissel met teerheid. Verset teen taal en gesag - soos die skutblad verduidelik - is die onderstroming van hierdie bundel met toespelings op Paul Celan se digkuns, verwysings na C.G. Jung, Drucilla Cornell, J.M. Coetzee, Lacan, Spivak (radikale alteriteit of die herkenning van die Ander, wat jou omskryf of inbeperk), e.a. Celan se eksperimentering met taal vind uiting in hierdie bundel met gedrongenheid en taaleksperimente. So gelees word hy 'n "boksmaat, skermmaat".

Die eerste afdeling "die werf" situeer die plaaslewe met motto's van ouer digters. Werf in die sin van begrensing word hier geaktiveer in gesprek met die familie. By die begrafnis van die vader dring die moeder daarop aan dat daar voorgelees moet word uit die Ou Vertaling. Dus, op bevel van die moeder, die matriarg, en skrywer in eie reg, Dot Serfontein, met die dogter as teenpool en waarnemer en optekenaar. Telkens word die jonger, politiek-bewuste Antjie Krog, geplaas teenoor die stoere wêreld van die Vrystaat. 

Daar is ook 'n "vlammestriem van verlange" (18) te bespeur in hierdie gedigte met hul sterk melancholiese en eerlike aanslag. In "die boesman" (19) is die kind getuie van geweld teen die Ander, iets wat later in die gedig "hou jou oor teen die skeur van my land" (28 - 29) aangespreek word deur die ouer waarnemer, wat indertyd by die WVK getuie was van pynlike belydenisse en mense se onmag om die "interverbondenheid" tussen wit en swart te aanvaar. In "dis hy!" (22) word 'n swart man haar vader; sou hy haar vader kon word / wees in 'n versoenende, aangrypende vers wat afspeel in die verbeelding.

III

Die sterk politieke gewete word in 'n tweespraak, wat “bediendepraatjies” (60) heet,  uitgewerk waar sowel die swart vrou as die wit een, aan die woord gestel word. Tweegesprek dus - met erkenning aan die vertaler Balisa Finca. Dit is weliswaar minder gedronge, en hierom minder oortuigend as die ander sterk, gelade verse; altans vir hierdie leser.

Die gedig oor Mandela is 'n sterk politieke vers, die enigste een, behalwe Johann se Lange s'n, wat my indertyd oortuig het as volwaardige gedígte by sy afsterwe en nie opportunistiese rympies nie.

Die stemlose word stemhebbend gemaak in Krog se digkuns en haar genderpolitiek is 'n ongebreidelde opstand teen die falliese en fallokratiese orde. Bemagtiging, selfsug, selfvoldaanheid kom telkens in haar visier. Wanneer ‘n jong seun beskryf word (“junior”, 36), vra sy haarself af waarom moet daar iets word van ‘n seuntjie? Hierdie vers word geplaas teenoor ‘n gedig oor ‘n dogtertjie: om in ‘n dogtertjie se kamer te slaap” (37) waarin die rol van vrouwees gedekonstrueer word. Die vrou sal moet gelukkig wees met “besdoen”, met jou lewenslot aanvaar. Hierdie gedig tree implisiet in gesprek met Elisabeth Eybers se “Twee kleuters in die Vondelpark” waarin genderrolle ook uitgewerk word, maar by Krog is daar onteenseglik woede en opstand aanwesig by “die Tannie”!

Die genderpolitiek word geplaas teenoor die politieke onreg. Daar vind in hierdie bundel telkens ‘n dubbelgesprek plaas: landspolitiek téénoor persoonlike politiek of genderverskille. 'n Mens word nie 'n vrou gebore nie; jy word een gemaak, hoor ons De Beauvoir in die agtergrond praat.

IV

Die sterk beeldende vermoë is daar, die eiesoortige ideolek ("antjiekaans"), die gebruik van die plat of skokkende woord, Bybelse verwysings, die gebed wat ook ars poetica word ("moniaal", 41), die sterk narratiewe draad wat verskillende wêrelde saamsnoer (ook ontrafel) en die sillabeversteurings as belangrike kodes vir oopmaak van hierdie bundel. Krog is die meester van klank in 'n gedig; hierom leen haar verse sig tot uitstekende voordragte. Krog het reeds haar eie idiotikon opgestel; frases en uitdrukkings waaraan jy haar kan herken.

Die digter voorsien ons ook van 'n bronnelys waarin sy bely dat sy soms en soms sonder erkenning iets oorneem. Bachmann, Fanon, Cornell, Hamburger, Versfeld, Spivak (die subaltern), o.a. word leidrade vir die speurende leser wat die filosofiese onderbou kan uitsnuffel.  Daar is etlike morele vraagstukke wat sy uitwerk rondom kos en eet, verruklik verwoord in "sondagmiddagete" (26). Daar is humor, soos 'n rusie oor 'n familie-legende van die skoonpa wat 'n vyfsentstuk vir die Ontvanger teruggeneem het (88).  Daar is 'n skerp blik - ongeromantiseerd - op die ellendes van die nuwe-Suid-Afrika wanneer die spreker 'n dokterseun bel op Volksrust met slegte ontvangs. 'n Babatjie sterf in Ongevalle weens die "standaard-equipment" wat nooit nagegaan is nie.

V

Vir my is die aangrypendste gedigte die verse oor die kinders en kleinkinders. Nou onlangs het ek weer Rika Cilliers en Johann Johl se antologie Bloeityd (1993) gelees en die wye skakering van kind(er)gedigte in Afrikaans beskou. Krog romantiseer nie die verhouding tussen (groot)moeder en kind nie. Sy skryf eerlik hieroor, opreg - en sy wys op die komplekse simbiotiese bestaan tussen moeder en kind: dat die geboorte van die kind die einde van selfkoestering is en 'n leeflange vervolging aandui ... Jy voed as't ware die mond wat byt (84). Paradoksale toestand van geluk én weerloosheid.

"convivium" (82) - geskryf in samewerking met die Berlynse astronoom Hans Zinnecker - tree in gesprek met De Lange en TT Cloete se gedigte oor die universum.

Siekte ("vervalle sillabes in bloei", 96) en die vrees dat 'n geliefde verloor kan word, ruk aan die hart. 'n Huweliksrusie het nie sy gelyke in Afrikaans nie ("toe die jongste kind", 101) waarin die lewensgetroue vloekwoorde en skunnighede vergestalt word.  Hierom steur die persoonlik-anekdotiese "ter herinnering" (105) waarin 'n besondere vriendskap beskryf word, maar die kragdadige aanslag van vintage-Krog mis.

Uiteraard is daar besinning oor die eie dood ("as ek doodgaan", 102) waarin sy die versugting oordra om panteïsties deel te word van die aarde. Gelees teen die agtergrond van "connected in Berlyn" (55) waar moderne tegnologie 'n antwoord word op metafisika. Of die pragvers "12 weke 4 dae sonar" (40) wat terugspeel op gedigte in Mannin en Beminde Antarktika (1975) waar die belewenis van 'n swangerskap ook 'n ars poëtica word.

Die slot-afdeling "vier pogings in linguistiese sinaps-opsporing" - opgedra aan Jakes Gerwel - is Krog op volle vaart in haar tweegesprek met Celan.

tong gevolmag
die son sniert
die nagberg nierts

Celan (1920 - 1970) was sowel digter as vertaler, nes Krog ook beweeg tussen verskillende tale en diskoerse, ofskoon sy in Afrikaans op haar beste is. Die Duitse digter se naam is 'n opgemaakte naam, saamgestel uit die sillabes van sy regte naam, Paul Antschel. Krog is Anna Krog; sy is ook Anna Samuel. Sy is Antjie. Lady Anne. Celan moes die Joodse vervolging verduur en die dood van vriende verwerk. Krog was openbare optekenaar van sosiale ongeregtigheid hier te lande. Die Romeens gebore Celan moes die dood van sy ouers beleef  ...

Sy verhouding met Ingeborg Bachmann - sy toeverlaat - kon hom egter nie red van sy selfdood in Parys nie.

Sy gedronge gedigte - dikwels gewoon 'n verwringing van die Duitse idioom - het vele modernistiese digters geïnspireer. Ook sy verheerliking van die digkuns, te wete dat daar niks is waarvoor die digter sy digkuns sal opgee nie, is eweneens 'n refrein in Krog se werk.
Beide Celan en Krog moet gesien word as waarnemers van ongeregtigheid.

Met poësie as 'n uitweg.

Beide moes ongeregverdige aantygings oor onoorspronklikheid verduur. Beide is deur die literêre sisteem geglo en in ere herstel.

VI

Dit is 'n sterk bundel. Een vir nadink, herlees, herbesin. Dit wil opstand en teenspraak by die leser inskerp. Met 'n voorblad na 'n kunswerk van Otobang Nkanga.

Die buiteblad: twee koplose figure wat toutrek. Maar daar is 'n vlier. Die digkuns dus as verlossing. Maar ook as toutrekkery. Wegbeweeg  - as ons kyk na die hooftooisels - maar ook verbind, verbonde, verband(e). Nes Krog altyd verbonde bly aan haar plaasagtergrond en hierom praat sy Afrikaans met 'n Hebreeuse kleinkind in die vreemde.

Ons sal nooit die prys wat Krog moes betaal om al die ellendes van hierdie land aan te hoor, kan takseer nie:

die aarde het ek in my mond geneem. 'n verhewigde land
probeer begryp. daarvan herstel ek nie weer nie
(112)

'n Resensent met karige insig het onlangs geskryf dat 'n bundel voortaan dié bundel sal wees waaraan elke ander bundel gemeet sal word. By die lees van Antjie Krog se Mede-wete besef 'n mens hoe onsinnig sulke waardeoordele is. Daar is Breytenbach, daar is Cloete en ja, daar is Lady Anne.

Endnote:

1. Antjie Krog: An ethics of body and otherness
Redakteurs: Judith Lütge Coullie en Andries Visagie 
University of KwaZulu-Natal Press, 2014
341 bladsye Sagteband
ISBN 978 186914 253 7

Resensent: Joan Hambidge

Hierdie bundel bevat 'n handvol artikels oor die Antjie Krog, sowel digter as openbare figuur. Daar is 'n litograaf van Claudette Schreuders op die voorblad wat heel gepas heet "Public figure" (2008).

Krog se digkuns verwoord die volledige gestalte van vrouwees: jong kind, vrou, moeder, geskeide vrou, vrou met (politieke) agentskap. Sy is 'n veel bekroonde digter en openbare figuur en veral Country of my skull oor die WVK het haar gevestig as 'n internasionale figuur. Haar gedigte bestaan ook in vertaling, ofskoon die Engelse gedigte die chora of "underbelly" van die oorspronklike taal mis. Dit is "down to my own skin" en vir my gevoel te gestroop; soos vleis waarvan die vetjies afgesny is.

'n Paar kanttekeninge: as 'n leser van Krog is van die bydraes van buite insiggewend. Dit is immers altyd relevant om te verneem hoe die lesers van ander tale reageer op die Afrikaanse letterkunde. "Running with the jackals" van Anthea Garman bekyk die rol van Krog as joernalis. Krog se werk by Die Suid-Afrikaan en as verslaggewer by die SABC waar sy die verrigtinge rondom die TRC weergegee het, gee 'n opsomming van haar aanslag as 'n aweregse, dwars en belangrike kommentator. Trouens, hierdie artikel som die konflik tussen die estetika en politiek die beste op. Haar werk wys immers op die domein van vrouwees - in navolging van verskeie feminismes - as 'n gepolitiseerde ruimte. In Met woorde soos met kerse gee sy stem aan die stemloses en wys sy op die verskillende taalsisteme wat langs mekaar bestaan in buurskap sonder kennisname, sonder respek. Krog as orator en digter van die praatvers sluit dan ook aan by die swart orale tradisie, want vir haar is poësie in die eerste instansie, klánk.

Ons lees in hierdie boek hoé Krog se media-kapitaal werk en openbarend, soos veral Louise Viljoen uitwys, die moeder die jong kind beskerm het teen die ongenaakbare media-blootstelling en as ‘n soort buikspreker opgetree het. Die intrede van Opperman as mentor (en die jarelange inskryf en wegskryf van hom en ‘n MA-verhandeling oor sy werk), openbaar ook aan die leser dat Krog aan twee sisteme tegelykertyd behoort het: die politieke sisteem en die Afrikaanse digterlike sisteem. In beide gee sy ‘n stem aan die stilgemaaktes en as digter het sy op ‘n opwindende wyse – soos Johann de Lange – die skunnige en transgressiewe woord tot poëtiese woord verhef. Die rol van fiksionalisering in haar prosatekste (hoe sy konflik verplaas van haar dogter na haar eie verhouding met haar moeder, Dot Serfontein) en die impak van Country of my skull as skokkende teks, is eweneens tersaaklik.

Daar is twee stewige bydraes van Louise Viljoen in hierdie bundel opgeneem.

Krog is 'n figuur met geweldige simboliese kapitaal. Dit bly altyd opwindend om die gesprek tussen Krog, Opperman en Eybers na te speur. Kim Rostan wys ook op die rol van personas in  haar werk en in welke mate veral Country of my skull ‘n komplekse teks is van “waarheid” en fiksionalisering. Daar is eweneens uitsprake oor die rol van vertaling en haar siening van “antjiekaans” en die gebruik van Engelse woorde in Afrikaanse gedigte. Dan Wylie skryf regstellend in “Now strangers walk in that place” oor die gebruik van die Bleek/Lloyd-materiaal.

Hierdie bundel ondersoek haar invloed as literêre figuur, as vertaler, as politieke ikoon, as joernalis en as feminis.

Die indeks is onvolledig.

In ‘n tyd waar die publikasie van akademiese  tekste al hoe minder word, is hierdie boek van uiterste belang.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Fine Music Radio)

Saturday, November 15, 2014

Theunis Engelbrecht - Papegaaislaai (2014)


Theunis Engelbrecht - Papegaaislaai. Uitgewer: Umuzi, 2014. ISBN 9781415207147

Resensent: Joan Hambidge

Papegaaislaai is die skrywer en musikant Theunis Engelbrecht se langverwagte roman ná Om ’n laaitie te maak (1986), wat indertyd deur my positief geresenseer is, maar deur André P. Brink vernietig is.

Toe het die digter-skrywer as Randy Rambo belangrike grens­oorskrydende lirieke geskryf en lekker musiek gemaak met die Rough Riders. Hierdie skrywer het nog altyd ’n sintuig vir die absurde en die transgressiewe gehad en indertyd in Stet en die tydskrif De Nieuwe Poes as Koekie Ziervogel.

Daar is ’n tradisie van transgressiewe, satiriese romans in Afrikaans: RR Ryger se Beertjie en sy boytjies (2006), Jeanne Goosen se ’n Paw-paw vir my darling (2006) en Koos Kombuis se Raka – die roman (2006). In 1994 was daar ook Triomf van Marlene van Niekerk met sy grimmige blik op die werkersklasbestaan. Lambert is immers die Ampie van die nineties . . .

Die verheerliking van die werkersklasbestaan en ’n satiriese blik op die “gemoedelike lokale realisme” is die kentekens van hierdie romans, wat werk met oordrywing, vermaaklike jukstaposisies, absurde naamgewing en ’n voorliefde vir die abjekte.

Ryger, Goosen en Kombuis – om drie uit te sonder – se tekste verheerlik en banaliseer hierdie bestaan. Dit wil die leuens van die wit middelklaslewe aan die kaak stel en vir die leser wys dat dit ’n onheilige plek is van leuens, dwelms en ander verskrikkinge . . .

Beertjie en sy boytjies het ek destyds in die begin 1990’s vir die eerste keer gelees en my buite weste gelag.

Die Gottie Hansen-skool en ander smoelneukers het deel van my parlando geword; net soos daardie wonderlike uitspraak van die vinger wat so diep opgeskuif sal word dat selfs die Snydokter van Stalin­grad dit nie sal kan vind nie . . .

Ek het hierdie novella oor ’n foon voorgelees aan ’n vriend in Pretoria wat met my saamgestem het dat dit ’n oneerbiedige, briljante roman is.

Die voorblad – die sogenaamde parateks in Genette se terme – het ’n papegaai (na-aper, naprater?), met die aaptwakkies bo die lieflike bont voël. Tussen die titel en die lieflike papegaai – gebaseer op ’n foto – staan daar “ ’n rowwe roman”, met ’n duidelike waarskuwing dus dat jy hier die aweregse arena gaan betree.

In die kolofon word die ongekroonde gemeente van die aweregse en die transgressiewe vermeld: Uittreksels uit lirieke van Die Antwoord . . .

En Die Antwoord gaan natuurlik uit hul pad om die Afrikaner as “benede peil” voor te stel. Soveel so dat Amerikaanse joernaliste selfs by Afrikaanse kritici wil weet hoe lyk die moderne Afrikaner dan. Representeer Ninja en Yo-Landi “ons”? Hoeveel onse is daar in jou pond? Hoeveel Vi$$ers? Hoe lyk zef dan regtig?

Engelbrecht se verhaal handel oor ’n vermiste Afrikaanse sanger. Malletjie en Rocky is twee speurende helde. Boonop is die einde van die wêreld in sig. In hierdie dae waar Steve Hofmeyr se lewe bedreig word deur doodsdreigemente loop hierdie roman fiksie vooruit. En die oordrewe bemarking van die speurverhaal word ook gesatiriseer.

Dit is Engelbrecht-vintage.

Oubaas en Hilda heet die twee honde. Trouens, ’n taalkundestudent sal ’n hele dissertasie kan skryf oor die naamgewing in hierdie roman: Maggie Laubserstraat, Anton van Wouwstraat en so meer.

Daar is ’n gespot met new age-sieninge en op bladsy 158 word die mees absurde titels naas mekaar gestel. ’n Satiriese klap na moderne skrywers wat so ewe slim-slim vir hul lesers wenke in die teks gee na die sleutels om die boek “reg” te verstaan. Hier staan Potjiekos van Matie Brink nie om dowe neute nie. En dis presies wat hierdie roman doen. Die grappe is opgesluit in die vreemde mengsels.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Netwerk24)

Friday, November 14, 2014

Huldeblyk: Charles Fryer (1946 – 2014)


Charles Fryer (1946 - 2014)

Ek knip my naels so eksie-perfeksie
vir my indertydse uitgewer
vir die man met die groot-groot lag
vir hóm met die bont-bont das
in wie se netjiese hart
soveel onrustige digters kon pas.
Sonder horlosie op die arm
potlood in die hand
stip hy nougeset
in die kantlyn vrae aan
oor 'n rymdwang, slot
of onsoepele toespel.
Nou is die sirkel voltooi
en die o-klanke
van mý klein rooiwielwa
sou hom beslis nie ontgaan.
Heengaan, weggaan, trustaan?
Gaandeweg verlaat ons tog dié spel.
In die omtes van jou groot-groot hart,
vergeef tog dié ongebreidelde smart:
"van julle sal ek niks meer vra,
ek gaan saam met die rooiwielwa."
Dit prik, dit vlym, dit skryn
hierdie afskeid aan die Hantam-man.

© Joan Hambidge

*

Ek het intiem met Charles Fryer saam gewerk met my bundels Geslote baan (1988) en Lykdigte (2000).

Ook het hy die satire Die swart sluier (1998)  versorg met die gekke buiteblad deur Piet Grobler. Die satire het hy gate uit geniet. Dit was ook my eerste kennismaking met Susan Bloemhof, wat later sou sorg vir etlike ontwerpe vir my waarvan die hoogtepunt Lykdigte bly.

In 1988, so om ag die aand lui my foon. Dis Charles. Geslote baan gaan moreoggend drukkers toe en hy wil net weet of ek gelukkig is met ‘n woord wat ek in ‘n gedig gebruik het.

Stipleser. Nougeset. Met proewe waarop sy ronde handskrif staan.  Oor hierdie bundel het hy vir my geskryf: ”Die gedigte is subtiel. Maar onder alles kan ‘n mens die pyn voel prik.” Hierna het ek hom beter leer ken en ‘n hele paar keer met hom en Petra Grütter tee gedrink en Danie van Niekerk, toe die hoof van Tafelberg, leer ken.

Hierna het ons paaie (tydelik) geskei en toe ek met Interne verhuising in 1995 na hom toe is, was hy nie gelukkig met die bundel nie. Ek het dit later uitgegee by Kagiso, wat my roman Die Judaskus gepubliseer het.

My grootste waardering vir Charles het egter in 2000 gekom met die bundel Lykdigte.

Ons gaan vir oulaas die bundel deur. Charles se horlosie is afgehaal en hy sit met ‘n potlood en werk aan die bundel.
“Hierdie gedig is nie klaar nie, Joan,” gee hy raad op sy sagte manier. Ons het ook altyd ‘n speelse, grappige manier van gesels gehad.

Die gedig lui aanvanklik so:

14  Vraag

Wie het die een oog van Nefertiti uitgekrap?
Sodat sy blind moes uitkom aan die anderkant?

Dit handel oor die dood van my kollega, Maggie Mezzabotta, dosent in Klassieke Tale aan die UK en iemand met wie ek gereeld kon gesels oor klassieke verwysings. Sy is een Sondagoggend oorlede toe sy in Fresnaye afgery het en ‘n man oor ‘n rooi robot gejaag het. Haar eggenoot, ‘n bekende veearts, het ‘n ruk later op die ongeluk afgekom.

Charles stuur my na die aangrensende kantoor waar ek die gedig in een sitting klaarskryf. Na Maggie se dood, het ek en haar man en twee ander vriende na ‘n wynplaas gegaan. Haar man stukkend oor haar dood, verduidelik vir ons dat ‘n bottel wyn aan “bottelskok” ly indien dit te gou oopgemaak word.

Vraag
Vir Margaret Rosabel Mezzabotta

Ontydig, voortydig jou vertrek
na ‘n ander onbekende oord.
Die siel, onthou ek vanoggend,
is soos ‘n wyn wat stadig moet verouder.
Iets glo soos bottelskok
as dit te gou ontkurk of geskink word.
Jy sou my dadelik kon reghelp:
dit staan in die Egiptiese Boek van die Dood.
Om jou dood te begryp
is ‘n hiëroglief onontsyferbaar
in ‘n donker gang onbegaanbaar.
Die dood keer woordordes om,
dit laat ons terugkyk, onthou, selfs gryp
na klein momente van die toeval –
soos hoe ek eenmaal jou bril skoongemaak
het, oor duister simbole met jou praat.
Vir hierdie lykwaak, groot gelykmaak,
is ek as digter onvoorbereid,
nee, eerder onbereid.
Die sogenaamde consolatio of vertroosting
van ‘n medium (Kyk, sy stuur ‘n roos)
of die flikker van ‘n kers
maak niks ongedaan nie. Wat beteken ontval.?
Dat jy te vinnig – na my sin –
paradyswaarts
moes gaan. Dat jou siel
oënskynlik sonder voorbereiding
weggeruk is. Dat rose verwelk,
kerse ophou flakker…
Ek wou nog vra:
“Wie het die een oog van Nefertiti uitgekrap
sodat sy blind moes uitkom aan die ander kant?”
 
Charles Fryer was in eie reg ‘n uitmuntende digter.

Weens ‘n siekte moes hy voortydig sy werk verlaat – ‘n slag vir die uitgewersbedryf as sodanig, want Charles Fryer kon ‘n boek agter die manuskrip gaan haal en regruk.

In 1978 verskyn Rooiwielwa – sy helder debuut. Dit is jammer dat hy ons ontval het sonder dat sy digkuns volle wasdom kon bereik het, jammer dat daar nie nog verse uit hierdie wonderlike mens gespruit het nie. Dalk was dit omdat hy al sy energie in ander se skryfwerk geplaas het

Ek sal hom altyd eer vir hierdie treffende gedig:

Oulaas

Dis oulaas stap, Pa:
jy in die middel en ons,
stram in kispakke,
maar regop, jóú seuns,
elk aan ’n handvatsel.

Dis half swaar, Pa.

Ons is gewoond saamstap
en die suidewind
is bitterbos en reën.

Voor die kampie op die bult
wag die volk
om vir Pa te sing,
hul gesigte dobberend in die middagson.

Pa het dié tyd
altyd
’n bietjie gaan skuinslê.

Calvinia, 1970

© Charles Fryer