Showing posts with label Lux Verbi. Show all posts
Showing posts with label Lux Verbi. Show all posts

Friday, September 1, 2017

Polemies | Van den Vos der Caskenades

I
 
Op Saterdagaand lees ek op Versindaba dat Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte (Lux Verbi) deur Cas Vos saamgestel is. Boonop word my van as Hambridge aangegee en die webpamflet weet te vertelle dat daar ook nuwe verse spesiaal vir die bloemlesing geskryf is.

Maar behalwe nou vir die rare naamvergissing (wat die uitgewer Lux Verbi wel regstel op die advertensiebiljet na 'n foonoproep), is die eintlike kwessie dat ek vir die eerste keer van die bloemlesing te hore kom op die Versindaba webruimte. In al die dertig jaar plus wat ek by NB publiseer, was daar nog altyd die hoflikheidsgebaar om toestemming van skrywers te vra. (Skrywerskontrakte bepaal dat die uitgewer tekste in ander publikasies mag oordruk sonder toestemming van die skrywers, en Lux Verbi is deel van NB.)

Vir Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte met Fanie Olivier as samesteller, het digters ‘n brief ontvang. Vir skoolboeke altyd ‘n e-pos. Wanneer kleiner uitgewers my nader, veral vir skoolboeke, gee ek graag toestemming. Sonder betaling.

Soos my vriend Werner altoos Robert Graves aanhaal: “There's no money in poetry, but there's no poetry in money, either.”

Lux Verbi se terugkrabbeling dat digters betaal sal word, is nie my hoofbeswaar nie.

'n Digter bestuur sy of haar werk. Jy het - volgens my - die reg om te weet dat jou gedigte "gebruik" gaan word. 'n Gedig binne bundelverband het 'n ander betekenis as wanneer dit opgeneem word in 'n Lux Verbi-bloemlesing.

Die titel was glo eers Die mooiste Afrikaanse geestelike gedigte wat waarskynlik minder problematies is as die huidige titel, Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte. En daar is, soos ons weet, 'n groot verskil tussen Christelik en geestelik.

Die nuwe titel maak opnames van M.M. Walters, Wilma Stockenström en Daniel Hugo problematies. Laasgenoemde bely op Versindaba dat hy ja gesê het vir opname onder die vroeër titel met ‘n geestelike inslag, maar nie Christelik nie. Hy skryf:
Ek het gedigte tot hierdie bloemlesing bygedra toe die werkstitel nog was: “Die mooiste Geestelike gedigte in Afrikaans”. By publikasie blyk dit nou dat die “Geestelik” in “Christelik” verander is. Ek voel mislei deur die samesteller en uitgewer, aangesien ek myself beslis nie as ‘n Christelike digter beskou nie. (Nuwe publikasie/ Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte Bloemlesing. Besoek 24 Augustus 2017). 
II
Wat sake verder kompliseer, is wanneer 'n mens Cas Vos se Voorwoord lees. (En nota bene, N.P. van Wyk Louw word in die register onder Van Wyk Louw geplaas en nie onder Louw nie. Maar dit net tersyde.) Vos verwys na Orhan Pamuk se bekende “My father’s suitcase” (2007), sy Nobellesing, om sy keuse te regverdig as "Landskap van die reis". Pamuk se uiters komplekse voordrag verloor hier resonansie. (Orhan Pamuk - Nobel Lecture/ My Father´s Suitcase. Besoek 24 Augustus 2017).

Vos se uitasem-voorwoord is so aanvegbaar dat 'n mens nie weet waar om te begin nie. Hoe enige kundige leser Wilma Stockenström se “Die ballade van die bitterarm dood” en “So ook maar maaksel” as Christelik kan lees, is verbysterend. M.M. Walters, I kid you not, staan ook hier!

D.J. Opperman se “Paddas” is eweneens opgeneem:  Ek haal Vos daaroor aan:
D.J. Opperman se voortreflike gedig 'Paddas' handel oor die plae in Egipte: meer spesifiek, oor die stortvloed reën wat die 'tortels van die modder' oral laat toeslaan, van sloot tot kombuis. Hulle staan in God se diens om sy volk te bevry. Daarom roep hulle 'op Hom die groot hosannas'.
Olga Kirsch se opname word verdedig, o.a., omdat die Ou Testament ook ‘n boek vir en van die Christen is (17). Hoe klop dit egter met die titel van die bloemlesing?

En skryf hy verder: al is al die gedigte nie streng gesproke Christelik nie, is dit weldeeglik versoenbaar met Christelike oortuigings.

Die feit dat Pasolini ‘n film oor Jesus gemaak het, maak nog lank nie van hom ’n Christen nie,

Ons Boeddhis Breytenbach staan ook in die inleiding (al is daar nie 'n gedig opgeneem nie), soos ook Ernst van Heerden se siektevers “Aan die verhuisingsmanne”.

Die finale gevoel wat hierdie bundel laat, is dat die samesteller enigiets in hierdie groot soetkys sal insmyt. Van 'n tandeborsel tot sunlight-seep. Ou klere tot nuwes. Lina Spies en Loftus Marais.

“Op ons reis is ons nie alleen nie. God is met ons op pad na die nuwe Jerusalem”, skryf hy.

Gaan plaas hierdie bloemlesing neffens C.J.M. Nienaber en M. Nienaber-Luitingh se Die braambos brand (1987) en F.I. J. van Rensburg se Jubilate! Loofgedigte in Afrikaans (1995) en dan wonder ‘n mens oor die doelstelling van hierdie antologie.

Is daar werklik kundig gelees en nagedink?

Bernard Odendaal en Marlies Taljard het van raad bedien. Het hulle die finale manuskrip gesien? En die nota van die uitgewer dat hulle probeer het om almal op te spoor, maar dit was nie moontlik nie? In die dae van e-pos, Facebook en telefone?

Ek is tans besig met 'n bloemlesing Vreemde liefde oor lesbiese verse en ek dink ek gaan een van Cas Vos se verse opneem. Uiteraard sonder toestemming. So laat ons nie jakkalsdraaie gooi of vosserig raak nie, 'n Christelike gedig is nie net sommer 'n gedig wat geloof aanspreek of dit kritiseer nie.

En om te kumbaya met komplimente soos "voortreflik" help gewis nie om 'n slordige, oorhaastige keuse te regverdig nie.


Marga Stoffer, NB se uitgewersbestuurder, reageer namens Lux Verbi:

N.a.v. die kwessie oor toestemming: Sommige digters is genader om toestemming te verleen, maar ons het nie vir almal toestemming gevra nie. Soos Joan noem, is dit nie ’n vereiste nie maar ’n hoflikheidsgebaar om dit te doen in die gevalle waar NB (waarvan Lux Verbi deel is) die regte bestuur.

Ek vra dus om verskoning dat ons nie vir almal toestemming gevra het nie. En ja, ten spyte van e-pos, Facebook en selfone was daar inderdaad enkele digters en/of digters se erfgename wat ons nie kon bereik nie of van wie ons geen reaksie ontvang het nie.

Ek is reeds in Rapport aangehaal oor die titelverandering en herhaal: Die werkstitel was aanvanklik Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte, ons het ’n ruk lank met die werkstitel Die mooiste geestelike gedigte in Afrikaans gewerk, en toe het ons teruggegaan na die oorspronklike titel.

Lux Verbi (met sy lang en trotse tradisie as Christelike uitgewer) het beslis nooit beplan om enigiemand met ’n slapriem te vang om teen hulle sin in ’n Christelike werk opgeneem te word nie.

Dit is, dink ek, relevant om op rekord te stel dat twee letterkundiges die finale samestelling noukeurig beoordeel het. Hulle het ook verdere gedigte voorgestel en dié gedigte is toe inderdaad ook in die bloemlesing opgeneem. 

© Joan Hambidge


 (Hierdie rubriek word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)


Saturday, October 18, 2014

Anton van Niekerk - Geloof sonder sekerhede (2014)



Anton van Niekerk - Geloof sonder sekerhede. Lux Verbi, 2014. ISBN 978 0 7963 1899 2
Resensent: Joan Hambidge

Hierdie is ‘n tweede uitgawe van Anton van Niekerk se boek Geloof sonder sekerhede. Hoe kan ek nog glo? Die skrywer, ‘n bekende filosoof wat heel dikwels oor etiese kwessies onderhoudend en helder skryf, stel dit duidelik dat hy op kritiek gereageer het. Hy reageer onder andere op ‘n persepsie dat hy probleme sou hê met alle teologie. Waarteen hy wel polemiseer, is teologie wat ten alle koste ‘n “soeke na ortodoksie” is, die sogenaamde teologie wat ‘n konsensus of akkoord is wat ons oral en altyd behoort te glo …

Hierom bely die outeur, verkies hy Erasmus bo Luther. En hoe besonders dat hy kritiek en kritiese vrae verwerk om ‘n belangrike boek te skep wat vir sowel die teoloog as die gewone leser van waarde is.

Dit is 'n besonder ryk geskakeerde teks wat belangrike vrae stel oor geloof. Hoe kan daar 'n God wees wat onder meer die holokaust, Vigs, 'n tsoenami of watookal toegelaat het? Van Niekerk se onderbou is die Christendom, en meer spesifiek, Christelike filosowe en teoloë. My posisie is een van 'n vervloë Protestant, kortstondige agnostikus, wat via die Boeddhisme weer my geloof herwin het. Ek staan buite die kerk, maar geloofsake soos vergestalt vanaf Dante tot vandag interesseer my. Vir my sluit geloof nie wetenskap uit nie. En dit is die belangrikste bydrae van Van Niekerk se boek: hoe spreek ons geloofskwessies aan in 'n moderne, tegnologies-gedrewe wêreld? Hoe moet ons Die Bybel lees? Letterlik of allegories? Oor Job het Jung onder andere 'n uitgebreide studie geskryf.

Waarskynlik is hoofstuk 7 'n kernhoofstuk waarin die gespanne verhouding tussen geloof en wetenskap belig word. Dit sou 'n fout wees om aan Die Bybel vrae te stel wat dit nie kan beantwoord nie en wanneer hy in polemiek tree met Daniel Dennett en Richard Dawkins, o.a. die skrywer van The god delusion, is die skrywer op sy beste: geloofskennis en wetenskaplike kennis is ewe geldig (182). Valse debatte en valse probleme word aan die orde gestel en sober bekyk.

Bekende skrywers word eweneens aan bod gebring: CS Lewis se geloofskrisis (wat baie goed uitgebeeld word in die rolprent Shadowlands in 1993), Simone de Beauvoir, 'n ateïs, wat in haar laat ouderdom Die Bybel herlees en pittige opmerkings maak oor die rol van Jahwe, die "hoofkarakter" in die Ou-Testament se wreedheid. Hy verduidelik die betekenis van die teodisee, die argument wat God probeer regverdig in die lig van kwaad en lyding. Hy bespreek die rol van Luther, Erasmus en Calvyn in die geskiedenis van die kerk en die betekenis van kairos of daardie oomblik van God se selfonthulling of -prysgawe aan die mensheid. Erasmus se Tot lof van die sotheid as ontwapening teenoor Luther se konfronterende styl ...

Oor aborsie en kloning skryf hy onderhoudend. Hy plaas al sy kaarte op die tafel en laat die leser nadink oor die impak van wetenskaplike ontwikkeling en vra vir 'n verantwoordelikheid vir die toekoms van die mens. Eugenics kom ook aan bod - en hier kan 'n mens weer dink aan 'n roman van Margaret Atwood wat die probleem kreatief ondersoek in Oryx and Crake (2003). Die wetenskap, beweer Van Niekerk, hoef nie te "onttower" nie.

Die volledige politieke spektrum - van Verwoerd tot Zuma - word onder die loep geneem.

Die voormalige pous se raadgewer was onder andere Julia Kristeva, 'n ateïs, maar formidabele intellek wat weer eens beklemtoon dat die spanning tussen geloof en ongeloof nie met een swiepslag weggedink kan word nie. En een van die grootste rolprente oor die Jesus-figuur is immers van Pier Pasolini, eweneens 'n persoon buite die kerk gestaan het en dit heet The Gospel according to St Matthew wat in 1964 verskyn het.

En veral oor die dood gee Van Niekerk ‘n waardevolle en meelewende blik: hy skryf op ‘n nuwe wyse oor die dood. Ons leef eenmalig: die dood is die raamwerk waarbinne ons die suksesse en mislukkings van ‘n lewe kan peil. En hy skryf:”Die dood as misterie is ons voortdurende en onvermydelike herinnering aan ons eie feilbaarheid en onvoltooidheid. Die dodo bring ons letterlik en figuurlik, ‘terug aarde toe’ – so radikaal terug, dat ons weer stof word (‘come to dust’), 299.

Daar is baie boeke, oor sowel die godsdiens as die wetenskap, wat die leser sal prikkel.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Beeld)