Showing posts with label Bernard Odendaal. Show all posts
Showing posts with label Bernard Odendaal. Show all posts

Monday, May 10, 2021

Resensie | Bernard Odendaal – Nootvat.Kwashaal.Stapel | Tafelberg, 2021

Bernard Odendaal – Nootvat.Kwashaal.Stapel. Tafelberg, 2021. ISBN 978 0624 092278

 

Resensent: Joan Hambidge

 

Om Nootvat.Kwashaal.Stapel. kort en kragtig op te som: slim én ontroerend. Bernard Odendaal se tweede bundel verskyn 14 jaar ná sy debuut Onbedoelde land.

 

Emosionaliteit word in ons samelewing veral gekoppel aan vrou(like) en vrouedigters. Die liriese uitstulpings word dus so gekodeer, maar gaan kyk maar na hoeveel manlike digters - in navolging van Opperman se tipologie - eg emosioneel dig: C.M. van den Heever, W.E. G. Louw, onder andere.

 

Odendaal boor 'n sterk emosionele aar raak in sy nostalgiese herinneringe aan 'n Vrystaatse jeug waarin daar vele ontnugterings en afleggings in die hede opgesluit lê. In die pynlike lykdig word 'n skoolmaat se lewe opgesom tot die onafwendbare einde van die mens wat sowel polities as emosioneel 'n buitestaander was. Dit heet ironies "Reünie" met die naam van die oorlede onderaan die titel: Daniël Craven Krause (09/01/1954 – 12/01/2017). So word die persoonlike aard van hierdie treurvers beklemtoon met die digter wat dit koppel aan 'n bepaalde mens. Die vers word terselfdertyd 'n stuk geskiedenis van die digter se lewensloop.

 

In "Apostroof" – met 'n kopknik aan Fanie Olivier – word die gestorwe ouers aangespreek:

 

Ou stylgreep, Pa, Ma:

dié aanspreek van afwesiges,

spookgesprek met dooies.

 

Die lykdig vir die bekende taalkundige Christo van Rensburg eindig met 'n treffende slot:

 

En hier sit ek nou.

Remme aangeslaan met die nuus oor jou.

Pletterreste, soos van insekte, teen die voorruit.

 

Want hierdie man se taalkennis laat die digter sy vers so begin:

 

Saam met jou was reis ook woordkoersvat.

Jóú pad het gerinkel van name en komvandane:

 

Die vers oor Olga Kirsch word méér as literatuurgeskiedenis. Die digter vereenselwig hom met haar lot as buitestaander verlangend na die vaderland. Dit is opvallend hoe hierdie digter telkens deur vele digters tans vereer word; waarskynlik omdat sy iets simboliseer van onbegrip, van verydeling en verlange na 'n vervloë wêreld in hierdie dae van onsekerheid.

 

Die emosionele aspek word met 'n intellektuele aanslag gesinkopeer. Die digter is aanbieder van kreatiewe skryfwerk, en vele gedigte analiseer die komplekse prosesse van hoé die digter sy jong leerders van raad moet bedien. In hierdie opsig sluit sy digkuns aan by J.C. Steyn se Die grammatika van liefhê, daardie briljante digbundel uit 1975, waarin grammatika en taalkonstruksies die onderwerp van die digkuns word.

 

Daar is vertalings en ómdigtings van bekende verse. Eweneens vind ons swermgedigte en gedigte geskryf vir installasies by 'n kunstefees. Daar is selfs blokverse, met ander woorde, gedigte in blokke geplaas. Daar is pragtige sms-haikoes, met daardie skettertaal so bekend aan ons:

 

stormwatrpypvonds:

jweelstukke & vrminkte

jnkvroulyk

*

“lyk” na j gvind

duikrs in ’n puttoilet

brokkis been v kind

*

boer mt ystr doodgslaan,

2de mt ’n graaf

toe vee werkr stoep

 

Telkens word die grense tussen gedigte geproblematiseer en die vers self word 'n reisiger in 'n diasporiese wêreld pynlik geïllustreer in die her-besoek van "Chicago", daardie ikoniese vers van Carl Sandburg, seun van Sweedse immigrante, eerste VSA-digter vir wie Engels ’n tweede taal was, lui die onderskrif.

 

Taal word nuut besoek: die probleme rondom die dubbele nie in Afrikaans (met erkenning aan Hester Waher, die taalkundige onlangs oorlede)  en ons vind selfs 'n gedig wat heet "kleitrap met die verlede tyd". Hierom is sowel Steyn as Wallace Stevens (die groot Amerikaanse modernis) rigtingwysers vir die speurende leser. Van Wyk Louw word herbesoek en gehuldig in "Valsbaai". Geliefde en ontslape digtervriende soos TT Cloete en IL de Villiers word aangespreek en daar is gesprekke met digters uit die Lae Lande.

 

"Let's get real" is 'n aweregse ars poetica waar die begeleier van die digkuns homself aanpraat oor waar 'n geslaagde gedig nou eintlik vandaan kom. Die langer prosaverse word soos die praatverse met konkrete beelde verbind. Die grafika van verse word goed benut soos die digter ons waarsku in die motto's en illustreer in "Swemgala-toeskouer" waar 'n  Wallace Stevens-bundel amper uit die digter se hande val.

 

Jacques Brel word ingeweef en die spel met die rondeau-vorm bewys die digter se liriese aard. Andersyds debunk hierdie bundel die idee dat 'n gedig net spontaan gebeur:

 

Alle poësie en melodie

was mooitjies mááksel  ("5. Uit die bloute")

 

Die digter skep 'n multiversum en die gedigte word 'n palimpses van tekste wat verwys na ander tekste.

 

Die Sehnsucht en nostalgie loop soos 'n swart draad deur hierdie bundel oor alles wat weggefletter het en word puik verwoord in "Die wanhopiges" na Jacques Brel se “Les désespérés”.

 

Hierdie bundel werk soos Terence Malick se film Tree of life (2011) met Sean Penn en Brad Pitt waar 'n pynlike familiegeskiedenis saamgesnoer word in herinnering en fantasie. Harold Bloom se studie oor die Kabbalisme is eweneens hier tersaaklik, Kabbalah and Criticism (1975), waarin die mistieke dimensie in ouer tekste behandel word. Die sogenaamde ‘revisionary ratios’ beteken immers 'n terugkeer na die bekende, ouer tekste. 

 

Bernard Odendaal het met sy tweede bundel die noot hoog ingesit, maar nêrens word 'n vals klank geuiter nie. Dit is kwashale (konkrete beelde) wat hier van stapel gestuur word. En in die lang bronlys verduidelik hy die begrip stapel soos volg: die intertekste wat naas eie skeppings in die gedig gestapel sit. Stapel soos in opstapel: verskillende gedigte uit verskeie publikasies en mediums is nou in een boek te vinde.

 

Hierdie bundel kan as metamodernisties tipeer word, 'n samesnoering van die modernisme en postmodernisme. Dalk uiter hierdie bundel 'n soeke terug vóór die ooglopende spel met tekste? Hierom dalk die verlange terug na oorspronklikheid met die wete dat die finale vers uit soveel ander tekste "gevorm" is? Teensange en palinodes kenmerk die aanslag.

 

Die intellektuele leser word gedwing om weer na te dink en vir die liefhebber van die digkuns is hier gewoon hartgrypend-mooi gedigte.

 

Dit is 'n pragboek.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

 

Sunday, July 3, 2016

Bernard Odendaal - Woorde hul storie sien ken: Essays en rubrieke (2016)


Bernard Odendaal - Woorde hul storie sien ken: Essays en rubrieke. Naledi, 2016. ISBN 978 0 928316 36 0

Resensent: Joan Hambidge

Bernard Odendaal is digter en digkunsresensent, tans skryfskooldirekteur op Potchefstroom. Hy doen verder uitstekende werk vir Vers en klank (RSG). Sopas het daar ‘n bundel rubrieke verskyn onder die titel: Woorde hul storie sien ken. Van hierdie rubrieke het verskyn in Bloemnuus en in Die Volksblad.

Rubrieke is ‘n veeleisende taak en elke rubriekskrywer weet hoe meedoënloos dit is om vir ‘n koerant te skryf: daar is ‘n woordbeperking, daar is ‘n tydlyn, daar is lesergroepe (negatief en positief); en boonop kan elke mens net soveel keer oor iets skryf sonder om te verveel of jouself te herhaal.

In Afrikaans is daar uitstekende rubriekskrywers. Een van my gunstelinge is (en bly) Marnus Hattingh wat ingelig (en ook humoristies) oor motors skryf vir Die Burger. 

Uiteraard moet die rubriekskrywer 'n kenner wees van sy/haar onderwerp. En rubriekskrywers het personas. Sommige lees jy gewoon nie, omdat die “stem” jou afskrik of nie geval nie. Ander lees jy weer, al is dit net om te weet wat jy nie wil weet nie (soos Max du Preez). Sommige is selfkoesterend en vry openlik met celebs en bekende skrywers, en plaas selfs sielige foto’s op Facebook van hulself en die beroemdes; ander is kantig in hul van eie kante.

Odendaal kan skryf. Hy begryp die aard van die rubriek. Dit is impressionisties; dit dra ‘n bepaalde lewenswaarheid oor; dit is humoristies of pynlik; en ja, veral leesbaar. Hy skep teenstemme - hier Buurman en Vroulief met wie hy in gesprek tree of lewer kommentaar op 'n boekbekendstelling waar 'n ou man opdaag om sy oorlede vrou as't ware op te soek, omdat dit háár ruimte was.

'n Handvol bydraes kan ons tipeer as essays. Hy haal byvoorbeeld Elize Botha aan, daardie kenner van die essay in Afrikaans en Audrey Blignault. Die essay wat 'n lewenswaarheid oordra wat jou bybly - soos ons dit ken uit Montaigne. Meer durend as die rubriek.

Ook skryf hy insigryk oor ons boekbedryf en hoe die digkuns getransformeer het. En oor Afrikaans se vele sprekers. Hy is niemand se "ander" nie. Daar is verwysings na Pieter W. Grobbelaar en Boerneef; Breytenbach en ons ouer digters word netjies ingevleg. Ook Ina Rousseau, George Weideman en Daniel Hugo.

In “Laatwinterrit” vra die jong student of hy ‘n memo het wanneer hy sy studente in die skryfkursus se gedigte nasien? (16) In hierdie naïewe opmerking is daar egter baie opgesluit. Hoe dikwels dink mense nie dat jy gedigte “objektief” of “neutraal” kan benader nie?

“Opruimers van die onverskilligheid” is eweneens ‘n juweel. Die blootgestelde reisiger wat in die diep nag gekonfronteer word met uitskot op ‘n pad. Ook iemand wat die skrywer ontmoet wat doodgeryde diere optel en hulle ordentlik begrawe. Dan is daar ook die storie van die verkragte meisie en haar lot en die rubriekskrywer wat na woorde soek om sy ónmag en pyn weer te gee. Hoe vind 'n mens die regte woorde hiervoor?

Die rubriekskrywer is immer ‘n “naked I”, te wete iemand wat nie sy (voor)oordele of lewensiening kan wegsteek nie. Dit is ‘n persoon met skerp waarnemings en gevoelens wat namens ander mense buikspreek. Oor veldflieke wat nie meer bestaan nie of hoe meedoënloos die moderne lewe geword het.

Die belangrikste aspek van hierdie bundel is dat elke stuk iets aktiveer oor heimwee (en Fernweh) en oor nostalgie. Boeke, mense, ontmoetings, 'n Duitse dosent wat 'n bepalende invloed had op die rubriekskrywer, word eerlik belig. 'n Opstelwedstryd in sy jeug wen hy met "oorgehewelde brokke" uit Chris Barnard, die goeroe van rubriekskrywers. Maar die gewete word byna gesus met die wete dat hy fyner as die beoordelaars gelees het!

Rubriekskrywers - soos ons weet uit Roland Barthes se Mythologies (1957) en Umberto Eco se Faith in Fakes (1986) - gebruik die rubriek as 'n oefenlopie vir 'n groter projek. Mag ons 'n volgende digbundel sien!

Die grein van die stem, soos Barthes dit noem. Dit is wat 'n mens bybly lank na die lees van die bundel wat soms ontstellende inligting oordra (oor kuns en ideologie met verwysing na Sjostakowitsj se Sewende simfonie in Leningrad), maar soms speels oor die gebruik van die oom-woord.

" 'n Mens se kop sypel vol vertes en verledes" (91), van dit wat jou die mens gemaak het wat jy uiteindelik geword het.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Thursday, February 14, 2013

Bernard Odendaal - Onbedoelde land (2007)



Bernard Odendaal. Onbedoelde land. Tafelberg Uitgewers, 2007. ISBN 13 978 0 624 04580 9.

Resensent: Joan Hambidge

Enersyds / Andersyds.
In two minds.
Ja/nee.
Perhaps perhaps perhaps…

Hierdie resensent haat dubbespraak, ‘n ja-maar-aanslag. En dit is presies hoe die uwe voel oor Onbedoelde land. Die eerste drie afdelings ontlok die volgende reaksie:

Hierdie is Bernard Odendaal se solo-debuut na ‘n handvol verse in Nuwe Stemme. Die digter is bekend as resensent en het onlangs die integriteit-debat op Litnet afgevuur na aanleiding van ‘n uitspraak oor die digkuns en menswees van George Weideman.

Onbedoelde land se voorblad is na ‘n skildery van Riaan Calitz. Ons vind ‘n foto van die gesin wat Barthes se vraisemblance / werklikheidsdimensie wil aktiveer: hier sit my gesin – soos Roland Barthes uitgebreid skryf oor sy moeder in Camera lucida.

Die lywige bundel val in vyf afdelings uit met ‘n begin oor Harmonie, distrik Bloemfontein.

Ingegee deur die nostalgie, word die jeug opgeroep met die ervaring van die natuur (‘Bokant poustert sterre’) uit die blikhoek van die jong kind wat nou deur die ouer, wyser persoon verdig en gedekonstrueer word in ‘n praterig-belyende vers. ‘Pa se groente’ wy dan die gevare uit van hierdie soort vers wat onbeheersd uitflap. Die langer prosavers vra immers ander tug?

Die spreekwoordelike tennis sonder die net, aldus Robert Frost.

Knap gedigte is daar soos ‘Pa’, ‘Koekie trou’ – met sy onderduimse gesprek met Peter Blum - , ‘Casual Victim of the struggle’, ‘Een lenteaand op die grasperk’, Ouddepartmentshoofde-funksie: Afrikaans en Nederlands, U.O.V. S., 1 Augustus 1993’ (met die sterk vormbeheer), ‘Hoeka so iets van daardie aard’ oor ‘n plaasmoord wat terugspeel op George Weideman en I.L. de Villiers se verse oor hierdie onderwerp.  (Die digter het vers lieflik vertolk by die Versindaba.)

In die geheel word te veel verse oorwoeker deur ‘n woordoordaad, ‘n weggee van sleutels, ‘n oorloop verby die noodwendige slot en ‘n praterige aanslag. (Is dit ‘n nuwe tendens in ons digkuns, hierdie geselserige vers?) Gaan kyk wat maak Gilbert Gibson met (bykans) dieselfde jeugherinneringe en politieke kwessies in Kaplyn. ‘n Metafories-gelade, paradigmatiese eerder as sintagmatiese aanslag. En onder draai daar duiwels rond…

Somtyds sien ‘n mens ‘n digter huiwer-huiwer om by iets uit te kom, maar het dalk verhoogvrees om dit uit te sê?

Daar is ‘n handvol sterk verse, maar as geheel kom die bundel nog nie uit die verf nie. En tog as hy dit voorlees, dan voel jy iets roer…

En dis die hele punt: gooi die voorskrifte weg en begin dig oor die ‘real issues’.

Hierdie leser mis in die eerste drie afdelings sweepslae poësie.

En nou is ons by die tweede mening:

Wanneer hy dig oor die gesin en sy ervaring van pa-wees en beweeg na die binnespraak van die gedig, skryf hy ontroerend-mooi. Dus van die macho, politieke (in die wydste sin van die woord, met die duidelike klap na Krog) tot binne-in die intieme Hans Andreus-agtige verse, beweeg hierdie verse. En dan wanneer hy oor die ‘onbedoelde’ skryf, raak hy my.

By wyse van spreke, wanneer dit ‘poste restante’ is en hy wegbeweeg van sy patriargale en geromantiseerde jeug en lewe tot by die lieflike ‘‘n Kersdag se ware verhaal’ dan lees ek weer. En word ingetrek in die intieme Ottone M. Riccio-aard van die digkuns waaraan die spreker lees en peusel… (Riccio is die skrywer van The intimate art of writing poetry, ‘n handleiding vir digters.)

Dan sien ek die ‘juwelekissie’ van die gedig en die gespek met Pierneef:

oor kuns die wildernis so klein moet kry

Soms moet ‘n digter eerder agter sy hart as sy kop / gewete / integriteit aanskryf. Of wat praat ek nou alles?

En buite die bakens van die (ou) Suid-Afrika met sy opgedoekte vrese beweeg van manwees en eerder jou eie weerloosheid / sterflikheid verken. Die verse is dikwels te lank en mis sterk kohesie. En die gesprek, “Die kind is steeds nie dood nie”, met Ingrid Jonker se “Die kind” steek sleg af by die oorspronklike. Wat by Jonker vloei, ooglopend natuurlik lyk, word hier bedink en uitgewerk. Net soos die gedig “goeie kwelgees” nie naastenby by T.T. Cloete se verstegniese beheer uitkom nie. Cloete se sintaksis o.a. kan nie nagedoen word nie.

(‘n Mens kan en mag terloops oor die ou-Suid-Afrika dig, maar dan moet dit pakkender wees.) Politieke verse raak op die duur vervelig – ook struggle-gedigte.

Vir my gevoel is daar – soos in die geval Sarina Dönges se In die tyd van uile – waarskynlik te lank gewag met die debuut.  Publikasie help ‘n digter om te groei en verby haakpunte te kom. (Hulde aan al die kritici!)

‘n Digter se ouderdom word bereken op die tyd van die debuut en as die digter reeds vérrerig in die jare staan en die debuut kom dan, lees die leser kritieser.

Nou ja, almal kan nie ‘n T.T. Cloete wees nie wat met ‘n debuut as gevestigde literator ‘n waterskeidende debuut lewer nie.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Litnet geplaas.]