Showing posts with label William Kowalski. Show all posts
Showing posts with label William Kowalski. Show all posts

Monday, March 25, 2013

William Kowalski - Somewhere south of here (2001)



William Kowalski. Somewhere south of here. Transworld Publishers Ltd., 2001. ISBN 9780385602433.

Resensent: Joan Hambidge

Kort op die hakke van Eddie's bastard verskyn Kowalski se tweede roman: Somewhere South of Here en hoewel die kritiese vraagtekens waarskynlik gemaak sal word oor die blitsige opvolg, is die tweede roman net so 'n leesbaar.

Miskien het die roman 'n bietjie aan digtheid en tekstuur ingeboet, maar die styl en karaktertekening is goed dat die leser eenvoudig nie die roman kan neersit nie. Billy - wat indertyd op sy oupa se voorstoep geland het as 'n weggooi-kind - is in hierdie vertelling op soek na sy moeder. Hy vertrek op 'n motorfiets en Robert Pirsig se klassieke roman Zen and the art of motorcycle maintenance is kennelik 'n kortpad vir vele van die filosofiese opmerkings wat die karakter maak.

Ook word Sante Fe in Nieu Mexiko goed beskryf en deurgaans aandag gegee aan die kos- en milieu (wat die meeste van ons net via die Spur ken). Hy ontmoet vir Eliza en haar eksentrieke dogter, Consuelo, 'n sangeres.

Natuurlik is Eliza sy verlore moeder, en ja, hy raak verlief op Consuelo. Al die krisisse word opgelos, maar nie sonder 'n skeut pyn en teleurstelling nie. Van die puikste tonele is ook die beskrywings van karakters in die sirkus waarmee die verteller vir ons Billy se outsiderskap wil beklemtoon.

Soos in die tipiese “quest”-roman is die karakter uiteindelik wyser (met alles wat dit behels) en hierom is die slot enigsins navrant:

“That night, I dreamed.
I was riding my bike along a desert highway, the wind blowing my hair out behind me - it had never been cut at all. The sun loomed before me on the horizon, as huge as though it was only a few miles away, but its heat didn't burn. As I sped along the road I felt the wheels gently lift from the cement of the highway, and the ground slowly dropped away; the I was free of the bike...”

Dan sien hy ook homself wat transformeer. Hy word 'n “bird creature, an eagle man” waarmee die skrywer dan die volledige proses van heelwording voltrek in sy karakter. In die tarot staan daar 'n arend voor die Heerser om sy gesag te beklemtoon. Die reis, werklik en spiritueel, is vir Billy voltrek. “...and I knew that I was home again, that I had come to rest while moving, that motion was rest, and that most of all it was good”(p. 291).

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]

Friday, March 15, 2013

William Kowalski - Eddie's bastard (2001) (Exclusive Boeke Prys 2001)



William Kowalski. Eddie's bastard. Black Swan, 2001. ISBN 0 552 99859 1.

Resensent: Joan Hambidge
(Exclusive Boeke Prys 2001)

Eddie's bastard ondersoek die betekenis en funksie van die familie en hoe die dood van 'n erfgenaam 'n familie kan beïnvloed. Billy word gelaat op die stoep van Thomas Mann se huis. Thomas Mann se seun is dood in die Vietnamoorlog, presies drie maande tevore, en nou het hy 'n kleinkind en erfgenaam.

Die roman begin met 'n herinnering uit die jong kind se perspektief. Hier is ook sprake van 'n soort magiese realisme en die tradisie van die suidelike roman word hier geaktiveer: spoke wat in huise ronddwaal, die oupa wat aan die kind die familiegeskiedenis oor en oor vertel, insinuasies van bloedskande en 'n gestorwe vader wat 'n ogie hou oor die aangenome kind.

Wanneer die jong kind ontdek dat hy kan skryf, maak alles om hom sin. So kan hy die bloedskendige verhouding van 'n vriendin verwerk en die gemeenskap se vooroordele. Ook sy verhouding met sy oupa word deurgaans beskryf as die belangrikste relasie van sy lewe.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]

Tuesday, March 12, 2013

William Kowalski - Eddie's bastard (1999)



William Kowalski. Eddie's bastard. Black Swan, 1999. ISBN 0 552 99859 1.

Resensent: Joan Hambidge

Dit is die debuutroman van William Kowalski. Eddie's bastard ondersoek die betekenis en funksie van die familie en hoe die dood van 'n erfgenaam 'n familie kan beïnvloed. Billy word gelaat op die stoep van Thomas Mann se huis. Thomas Mann se seun is dood in die Vietnamoorlog, presies drie maande tevore, en nou het hy 'n kleinkind en erfgenaam.

Die roman is baie vlot geskryf. Dit begin met 'n herinnering uit die jong kind se perspektief. Hier is ook sprake van 'n soort magiese realisme en die tradisie van die suidelike roman word hier geaktiveer: spoke wat in huise ronddwaal, die oupa wat aan die kind die familiegeskiedenis oor en oor vertel, insinuasies van bloedskande en 'n gestorwe vader wat 'n ogie hou oor die aangenome kind.

Elke roman word ook aangekondig - soos in die negentiende eeuse ouktoriale roman - met 'n opsomming van die gebeure in die bepaalde hoofstuk. Die tegniek impliseer dan dat daar 'n instansie is wat die narratief orden.

Die effek van hierdie soort tegniek is natuurlik ook dat die leser deurentyd bewus bly van die feit dat daar 'n fiksionele vertelling voor jou afspeel. Hierom is dit dan makliker om onmoontlike situasies of die bonatuurlike te laat inspeel. Alles is immers toelaatbaar binne die grense van die romanvertelling.

Die kind kan sy afgestorwe vader sien en spoke uit die verlede bewoon die huis. Soos sy Grandpa voor hom, sal die seun ook die nuwe geslag deur die huis neem. "My life has been made of stories from beginning to end, and just when it seems one is ending, a new one begins. The world itself is woven of stories, each man and woman and child of us threading our own brightly colored tale into the bigger story that was already being told as we were born, and that will continue to be woven by others long after our threads have run out"(p. 479).

Wanneer die jong kind ontdek dat hy kan skryf, maak alles om hom sin. So kan hy die bloedskendige verhouding van 'n vriendin verwerk en die gemeenskap se vooroordele. Ook sy verhouding met sy oupa word deurgaans beskryf as die belangrikste relasie van sy lewe.

Daar is uitmuntende passasies in hierdie boek: soos die geboorte van 'n baba wat die jong kind sien; die beskrywing van 'n meisie se ambivalente gevoelens jeens die vader wat haar seksueel molesteer; die weergawe van die geskiedenis van 'n familie. Ook die beskrywings van Montreal is pakkend en die invloed wat 'n vreemde stad op 'n mens het.

Ook die werklike ouerskap wat teenoor die kind se fantasie staan, word onthul op 'n manier kenmerkend aan die belydenisroman: die brief van die ontslape digter los uiteindelik die geheim op. Op die koop toe word 'n ander familieskelet uitgehaal wat verduidelik wat die norse verhouding met die Simpsons verklaar.

Hierom die oupa se vrees dat hy sou verlief raak op Annie.

Die roman sluit ook aan by die Ierse romantradisie, omdat die Iers-Amerikaanse geskiedenis betrek word. Die Ierse musikante aan die einde van die verhaal is miskien 'n bietjie opgeplak.

Die roman moes ek lees ten tyde van 'n besige program, maar telkemale het ek teruggekeer na die vertelling. Dis 'n roman wat vir bietjies lees waarskynlik die beste werk. Juis omdat die gegewe so ryk is en daar is vinjette wat lank na die lees bly draai in die gemoed.

Dis Billie se verhaal. 'n Belydenisteks en die einde dui weer op 'n nuwe begin of sirkel wat voltooi moet word.

Dit is 'n lekkerlees roman en een wat nogmaals bevestig dat onder draai die duiwels rond in die ou streng gemeenskappe! 

En vir 'n debuutroman moet 'n mens die hoed afhaal vir die skrywer. Dit vergelyk goed met William Styron se Sophie's choice wat die insig in die menslike psige betref.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]