Showing posts with label Tilda Swinton. Show all posts
Showing posts with label Tilda Swinton. Show all posts

Friday, February 3, 2017

Burn after Reading (2008)



I
Die idee van skering en inslag kom sterk na vore wanneer ‘n mens die films van die Coen-broers beskou. Die opwaartse draad en die draad wat hierteen gaan.

Ek bekyk tans die films van hierdie uitsonderlike duo. Burn after reading met George Clooney, Tilda Swinton, John Malkovich, Frances McDormand, Richard Jenkins en Brad Pitt.

Dit analiseer twee obsessies van die Amerikaanse kultuur, te wete die fiksheids- en liggaamsbewustheidskultuur en die doen en late van die CIA. Die bo-laag van skoonheid; die onderlaag van paranoia, komplotte en samesweringsteorieë.

Malkovich (Osbourne Cox) word gedemoveer as agent weens ‘n drankprobleem en hy besluit om te bedank. Sy vrou, vertolk deur die onblusbare Tilda Swinton (Katie Cox), het ‘n verhouding met Clooney (Harry Pfarrer). Hy begin sy memoirs skryf en dit beland per ongeluk in die gym. Dan word Malkovich afgepers deur McDormand (Linda Litzke) en Pitt (Chad Feldheimer). Haar mediese fonds wil nie betaal vir plastiese sjirurgie en sy sien dit as ‘n manier waarop sy dit kan doen. (Ten slotte word dit wel betaal. In ‘n ironiese wending.)

Met elke optrede is daar ‘n teen-aksie. Clooney verneuk sy vrou, ‘n skrywer wat op ‘n bemarkingstoer gaan. Maar sy is ook ontrou aan hóm; soos ons sien in ‘n klein vinjet.

Swinton, die pediater, wil van haar man skei en sy moet finansiële inligting aan haar prokureur deurstuur. En so belang die memoirs dus op die verkeerde skyf … en sy vergeet dit in die gym (Hardbodies). McDormand en Pitt besoek selfs die Russiese Ambassade met die hierdie geklassifiseerde inligting!

Clooney trek by Swinton in (haar man is nou uit die prentjie) en Pitt word per ongeluk in die kas doodgeskiet. Boonop is Clooney – soos McDormand – ywerige internetsekssoekers en hulle paaie kruis ook. (Skering en inslag!)

Boonop is Sandy, die skrywer, besig om Clooney, haar man,  dop te hou want sy wil van hom skei. Hy op sy beurt raak heeltemal paranoïes en glo dat McDormand ‘n spioen is wanneer hulle in ‘n park ontmoet. Sy is gewoon net te skaam om te erken dat die man ‘n vorige internetfiksasie is. Clooney hardloop weg, in ‘n toestand, en hy word later gedeporteer na Venezuela.

Cox skiet die hoof van Hardbodies, Ted (Richard Jenkins) dood, omdat hy dink dit is sy vrou se minnaar. Hy, op sy beurt, word deur die CIA raakgeskiet en beland in ‘n koma.

 II
Die dialoog en spel is briljant. In ‘n onderhoud het Tilda Swinton op ‘n keer bely hoe sy en Clooney gelag het oor die karakters wat hulle vertolk het. In die prettige onderhoude met die akteurs kan ‘n mens hierdie knipoog-aksie sien.

Die dialoog is briljant: Iemand se boude is so groot dat jy ‘n bus daarmee kan trek.
“Wie sal tog nou geïnteresseerd wees in jou memoirs?” teef Cox se vrou hom.
En McDormand – in ‘n ironiese oomblik – bely as karakter dat sy met haar gesig en lyf uit Hollywood gelag sou word; terwyl sy ‘n groot sukses is.
Die film eindig met die volgende wysheid van die CIA: “I guess we learned not to do it again”.

Ook die naamgewing is skitterend. Harry is ‘n Deputy-US Marshall; dus nog nie gearriveer nie. Sy minnares, vertolk deur die ysterkoningin, Tilda Swinton, kom uit ‘n ryk familie. Die spottery met die Princeton boys club is spot on. Malkovich se spel wanneer hy ontdek sy vrou het sy rekening leeggetap, is eweneens skitterend.

Is die obsessie met seks meer briljant voorgestel as met die masjien wat Clooney bou met die dildo?

Bradd Pitt as die dom fiksheidsinstrukteur wys sy akteurspiere.

III
Skering en inslag. Met elke optrede van hierdie kwirkie-akteurs, word daar ‘n dubbelspel gemaak.

In ‘n onderhoud met Anne Carson haal sy Lacan aan wat geskryf het dat “The reason we go to poetry is not for wisdom, but for the dismantling of wisdom.”

Dieselfde geld hierdie film: waarhede of geykte sieninge word telkens op die kop gekeer (Paris Review - Anne Carson, The Art of Poetry No. 88. Besoek 2 Februarie 2017).

Volgens die Nederlandse woordeboek aanlyn, beteken skering en inslag dit gebeur gereeld en dit is ‘n slegte ding (Dat is schering en inslag | Dutch Word of the Day. Besoek 2 Februarie 2017).

Anton Prinsloo in sy wonderbaarlike boek, Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom, het my op hierdie soektog geplaas.

In Prinsloo se woorde:

Skering is die draad wat in die lengte van ‘n weefsel loop en inslag die dwarsdraad wat deur die skering loop.
Omdat dié proses by wewery nooit wissel nie, word dit aanvaar as die onveranderlike optrede van die wewer; die gewoonte dus (Pharos, 318).

Die Coen-broers (uitgespreek Cohen, nie Koen nie) het die gewoonte om op ‘n dwarse wyse die weefsel van hul samelewing uit mekaar te torring.

Net soos Lacan ook ons aannames oor die digkuns en lewe uitmekaar uittorring.


© Joan Hambidge

Friday, December 16, 2016

Joan Hambidge - Tilda Swinton & A Bigger Splash (2015)

I
Die uitmuntende aktrise Tilda Swinton vertolk in A Bigger Splash die rol van ‘n rocker.

Toevallig lyk Swinton ook soos David Bowie, die rocklegende, en skynbaar was hulle in die werklike lewe goed bevriend.

Die film A Bigger Splash is ‘n fassinerende analise van hoe bedrewe hierdie aktrise is as vertolker. In hierdie film is sy stemloos, vir die meeste van die tyd; die karakter het ‘n operasie ondergaan. Dit is wel so dat Swinton glo in daardie stadium nie wou praat in die film nie, weens persoonlike redes.

Die titel verwys natuurlik na David Hockney se beroemde skildery: A Bigger Splash. Dit is geskilder in 1967, in LA, toe Hockney kuns doseer het aan Berkley. Die skildery is glo ook ‘n representasie van die einde van ‘n verhouding. (A Bigger Splash - Wikipedia. Besoek 15 Desember 2016)

Die titel van die film is dus ‘n belangrike kode: ‘n opbreek, ‘n einde. Vier karakters: twee vroue, twee mans se interaksie met mekaar op ‘n eiland, word ondersoek. Die twee geliefdes se respyt op die eiland word onderbreek deur die aankoms van die eks en sy dogter. (Die eks was betrokke by die sangeres se loopbaan en is ‘n musiekvervaardiger. Ons sien ook terugflitse.)  Die verhouding tussen vader en dogter is broeiend – die kyker kan inderdaad ‘n insestueuse verhouding tussen vader en dogter aanvoel. Boonop is daar migrante – wat ‘n sterk politieke boodskap oordra.

Die twee ekse raak weer betrokke. Onderneem uitstappies, het seks. Die huidige lover en die jong dogter (dit blyk later sy is 17 jaar oud) onderneem ‘n gevaarlike ekspedisie en het waarskynlik seks met mekaar.

Ralph Fiennes en Matthias Schoenaerts

Met die terugkeer is daar ‘n konfrontasie. Die twee mans raak in ‘n geveg betrokke. Die eks word oorrompel deur die huidige lover in die swembad. Agterna lyk dit na verdrinking.
Hy word sitgemaak in die swembad met ‘n vinielplaat voor hom.

Die kyker verwag dat die migrante die wending in die verhaal sou bring, maar dit is uiteindelik die jaloesie tussen die twee mans wat die oorhand kry.

Daar is ‘n polisieondersoek. En die polisiekaptein jaag hulle in, vra vir die rockster se handtekening – en so weet die siniese kyker word die verdere ondersoek opgehef. ‘n Siniese kommentaar dat roem tog deure oopmaak?

Of is dit dalk die gebrek aan bewysstukke en Tilda Swinton (Marianne) se stomme medepligtigheid wat alles laat eindig? (A Bigger Splash (film) - Wikipedia. Besoek 15 Desember 2016)

II

Hierdie film van die Italiaanse regisseur Luca Guadagnino werk met subtekste.

Hy het al verskeie kere met Swinton gewerk in  The Protagonists (1999), I Am Love (2010), A Bigger Splash (2015) en in Suspiria (2017).

Hierna het ek ook I am love gekyk en ‘n mens word bewus van hoe hy telkens Swinton plaas in rolle waar sy getransformeer word fisies en psigies. Ook vertolk sy die rol van iemand wat in ‘n emosionele oorgang is. Sy raak verlief op haar seun se vriend, die sjef en die dood van haar seun bring 'n wending in die ryk familie se lewe. Hoe sy ten slotte fisies lyk, is emosioneel skokkend.

In A Bigger Splash is haar mede-spelers Ralph Fiennes (as die eks, Harry) – en hiermee bring hy ook ‘n veelheid van sý rolle na hierdie teks. ‘n Mens dink onwillekeurig aan die naaktonele in The English Patient met Kristin Scott Thomas. Hierdie film van Anthony Minghella (van 1996) is gebaseer op Ondaatje se roman. Nes A Bigger Splash gebaseer is op die film La Piscine.

Matthias Schoenaerts

Matthias Schoenaerts (in die film 'n dokumentêre filmmaker, Paul) en Dakota Johnson (Penelope) maak weer ander assosiasies wakker.

La Piscine is ‘n interteks. Hierdie film van Jacques Deray (1969) het Alain Delon, Romy Schneider, Maurice Ronet en Jane Birkin in die hoofrolle. (La Piscine (film) - Wikipedia. Besoek 15 Desember 2016)

Dat dit afspeel op ‘n eksotiese en afgeleë eiland (Pantelleria) is eweneens belangrik.

III

Luca Guadagnino is ‘n heerlike ontdekking vir my as filmkyker.

Hy is gebore in Palermo, sy vader was Siciliaans en sy moeder Algeryns. Hy het groot geword in Ethiopië en begryp dus die lot van tussen-mense soos migrante.

© Joan Hambidge