Thursday, February 14, 2013

Justin Fox (Red.) - Cape Town Calling (2007)



Justin Fox (Red.). Cape Town Calling. Tafelberg Uitgewers, 2007. ISBN 0 624 04 297 9.

Resensent: Joan Hambidge

Justin Fox is familie van die reisdigter Uys Krige. (Bepaald sit die soort ding in ‘n mens se gene) en ‘n gereelde reisskrywer en –fotograaf vir Getaway tydskrif. (Wie sal ooit sy onvergeetlike foto van ‘n woonstelgebou in Maputo vergeet?)

Hy skryf belangrike reisverslae – in hierdie verband moet With both hands waving (2002) vermeld word. Op sy jongste boek se voorblad gebruik hy as lokaas die name van Mandela en die groot reisverhaalskrywer, Paul Theroux, wie se The great railway bazaar vir my die komplekse emosies róndom reis opsom en verpak. Die agonie en ekstase daarvan.

Daar word ‘n hele santekraam van skrywers en non-skrywers (lees persoonlikhede) hier aan ons voorgehou wat die Moederstad beskryf.

Die versameling bevat tekste wat dikwels elders verskyn het. Nou is die uittreksel eweneens ‘n relevante teks wanneer dit in ‘n versameling staan.

Tekste word met nuwe betekenisse gelaai en ‘n mens sien hoe verskillende skrywers kommentaar lewer op ‘n stad, soos Fox tereg aantoon wat duisel onder teenstrydighede soos welvaart en uiterse armoede, politieke aktivisme versus mooi / ryk mense.

Ons vind verskillende noemers soos The City Bowl, Suburbia, The Flats, Seaboards, Prison en The Foreign View.

Edwin Cameron vertel van ‘n bergklim-ervaring met die wete dat hy HIV+ is; so gesien, word die uitklim van die berg ‘n simboliese oorwinning. Njabulo S. Ndebele bely sy ervaring van die eerste demokratiese verkiesing en die invloed van berge op sy lewe. 

Hierteenoor is daar die jonge J.M. Coetzee wat uit ‘n ryk skool gehou word as kind uit Worcester; ‘n subtiele analise van Kaapstad se klasse-bewussyn en snobisme.

Daar is dagboek-inskrywings van Stephen Watson en bydraes van Johnny Steinberg, Breyten Breytenbach, Shaun Johnson, Mike Nicol, Gabeba Baderoon, Rian Malan. Dan praat Mandela en Ahmed Kathrada oor Robben-Eiland.

Darrel Bristow-Bovey lewer ‘n flets satiriese blik; Tom Eaton se oomblik van joernalistieke analise van “The Volvo Ocean Race” word binnegedring deur die aanwesigheid van Dr. Wouter Basson. Selfs in oomblikke van sport en ontvlugting, word ons herinner aan die harde politieke werklikhede. Ten minste as jy ingelig is, want vir die meeste ryk restaurantgangers is hy ‘n niemand…

Breytenbach se tronkbeskrywings bly priem en die leser sal nooit die assosiasie met blaffende honde of ‘n donkie se gebalk kan vergeet nie. Of Ahmed Kathrada se ervaring van Mandela se invloed op sy lewe in die tronk nie.

Dit sou natuurlik Paul Theroux wees wat vir ons uitwys hoé ‘n mens nie die skoonheid van Kaapstad kan vereenselwig met die moord, roof en doodslag in haar “underbelly” nie. Sy analise van die waansin rondom die geval Amy Biehl wys hoe ver ons heen is: hoe ons vergifnis tot absurde hoogtes kan voer. En hoe ‘n alledaagse uitstappie per trein gelaai is met gevaar sodat die kaartjieverkoper jou moet waarsku oor wat kan gebeur. Dan lees jy “Acid Alex” en jy kry ‘n ander prentjie. Dwelms en misdaad.    

Die boek is ‘n santekraam van verskillende en uiteenlopende essays, skryfsels en lopertjies. En omdat tekste uit ander boeke gelig is en hier byeengebring word, skep dit dikwels ‘n komplekse en selfs gefragmenteerde weergawe van die stad, Kaapstad.

En dit is natuurlik die hele punt. Hierdie stad kan nooit volledig besê word nie.

Wees gewaarsku: die voorblad verraai dalk ‘n populistiese “handleiding” tot die stad. Dis veel meer kompleks, juis vanweê die oorwegend gepolitiseerde bydraes. Waarom is sekere mindere skrywers meer as een bydrae toegelaat? En waarom is sekere Kaapse historici onder andere nie gevra nie? Waar is Antjie Krog? Hoekom is daar so min vroue?  Dis alles kantekeninge, vrae, opmerkings aan die self. Die inleiding van Fox verklap veel van wat die leser gaan aantref en in hierdie verband het Rian Malan, vanaf Johannesburg en die buiteland deur die oë van ‘n metgesel, skerp opmerkings te make. Die “accidental tourist” kan dikwels die hiate en paradokse die beste raaksien.

Malan se stuk is outentiek en aan die lyf gevoel.

Hy roep dit “The wrong side of the Cape”.

Hier word die paradoks van behoort tot Afrika en vreemdelingskap besonder goed raakgevat.

Dis Kaapstad by implikasie, sekondêr dikwels, as sub-teks. Tafelberg beloer uit ‘n tronkvenster.

‘n Maklik-toeganklike boek is dit nie. Daarvoor is die meeste essays te donker en onrustig of ingewikkeld in aanbod. Boonop word dit gelaai met implikasies en innuendo’s uit ander bydraes. En soos dit hoort, is die beste bydrae oor nostalgie en hoe die demografie verander het, ‘n essay oor Clifton. Indertyd ‘n plek met bungalows; nou die speelplek van die rykes. Dit is uit Intricacy van Michael Cope en die Afrikaanse leser sal die verwysings en verswygings ken. En ons is terug by Uys Krige hier!

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]