Sunday, April 10, 2022

Polemies | Stevie Wonder | 2022

Skaars het ons herstel van Will Smith se gedrag by die Oscar-aand en Steve Hofmeyr laat hom uit oor komplekse gendersake. 

Vir die rekord: Steve Hofmeyr se loopbaan as sanger en liriekskrywer val buite hierdie bespreking; nes my waardering vir hom as prosaskrywer. Sy Vier briewe aan Jan Ellis (Zebra Press, 2010) bly ‘n klein hoogtepunt in onderstelling en deernis met gewone mense.

 

Destyds het ek geskryf in Rapport

Die novelle is pakkend geskryf en besonder mooi uitgegee met afskrifte van ‘n resep, ‘n psalm, ‘n staatsdokument en ‘n LP, onder andere, wat die verhaal dan ‘n bepaalde historiese aanslag gee. 

 

Dit is ‘n teks wat besonder vernuftig omgaan met die leser se fantasie en kommentaar lewer op die politieke ongeregtighede van die verlede en hoe identiteit gekonstrueer word.

Daar was ook Kapabel (Zebra Press, 2012) en Die Onaantasbares (Zebra Press, 2017), boeiende spanningsverhale.

 

Wat is dit met Steve en sy mannewales (sic!)? Wat is dit met mans wat ander beledig en dan ‘n paar dae later hoed-in-die-hande terugkrabbel met ‘n ek-is-so-jammer?

 

Steve wat Die Stem sing by ‘n kultuurfees en borge ontstig en ander kunstenaars benadeel; Steve wat tee uitgooi oor ‘n joernalis; Steve wat ‘n joernalis oor ‘n tafel bliksem by Oudtshoorn, omdat hy nie van sy kritiek hou nie; Steve se rusie met MTN en Afrikaans is Groot (MTN to 'cut all ties' with Afrikaans is Groot over Steve Hofmeyr's involvement in the show | Channel24. Besoek 10 April 2022).

 

In 2014 het hy gemeen Swart mense was die argitekte van apartheid? 


Deur die jare het ek lowende resensies oor sy prosatekste geskryf en, soos altyd, die mens van die boek geskei.

 

Die jongste uitspraak – waarvoor hy alreeds verskoning gevra het – is binne die huidige tydsgewrig onaanvaarbaar. Om Charlize Theron te kritiseer, omdat haar seuntjie rokkies dra, kom uit die plek van machismo. Meerderwaardigheid en gewaande normaliteit.

 

Miskien weet hy nie van die onlangse debakel by DF Malan-hoërskool in Kaapstad en onsensitiwiteit oor gay-kinders nie. Miskien weet hy nie hoe ouers eerder kinders verplaas het na ‘n ander skool oorlewing ontwille nie. Miskien weet hy nie van groot Hollywood-akteurs (soos Warren Beattie en Annette Bening) wat hul kind in ‘n geslagsbevestigende operasie ondersteun het nie? Of van Cher se kind?

 

Toe ek ‘n kind was in die ou-Suid-Afrika was alles gelaai met eenvoudige opposisies: blou en pienk. Houtwerk/Metaalwerk en Huishoudkunde. Rugby en netbal. Inmiddels het hierdie kwessies verander. Daar is Kokkedore en Koekedore.

 

In standerd drie in die Laerskool Annlin in Pretoria moet ek ‘n babatruitjie brei. Ek kan nie. Ek kom nie verder as die derde ry nie, later bruin gevlek soos my sweterige handjies die wit wol vuilvat. Ek beleef intense spanning.

 

Ek smokkel die onklaar truitjie uit en neem dit huistoe in my bruin skooltassie. My moeder – sonder om iets te sê – brei dit klaar. ‘n Pronkstuk. Ek smokkel dit terug in die klas en plaas dit in die hokkie langs die breipenne. 

 

Die onderwyseres – goddank – dink dis snaaks. Sy weet my moeder het dit gedoen. Saved by the bell!

 

Maar net sowel: ek kon voor die hoof se kantoor gestaan het.

 

Die jongste uitspraak oor waarvoor die + sou staan by die afkorting LGBTQ+ van “andersoortiges” is benede alle peil en onherhaalbaar.

 

Sy verdediging dat hy nie sal toelaat dat Disney se kinderfilms sý kinders “groom” vir aweregse seksuele gedrag nie, is gewoon verspot. ‘n Mens wonder of hy enigsins weet dat gay-mense ook kinders het en liefdevolle, ondersteunende ouers is? Dat hy kinders wat wil uitkom, benadeel?

Steve Hofmeyr het op ‘n keer na homself verwys as ‘n lewensvraat. Reg so. Maar jou mense-van-jou-asem is nie die enigste mense wat asemhaal nie. 

 

Ek sal steeds jou tekste beoordeel. Miskien moet jy eerder skryf (en sing) as om hierdie potsierlike, kwetsende opmerkings openbaar te maak. LGBTQ+ sluit meer in as wat mense dink. Dis ook ‘n akroniem vir vernedering, vermindering en bespotting in jou jeugjare. “Othering” as jy wil.


Steve Hofmeyr, al sê jy jammer, you can’t unring the bell, honey.

 

Joan Hambidge is gay, hou van mans, maar verag machismo.

 

© Joan Hambidge