Monday, June 29, 2015

Elisa Galgut - The Attribute of Poetry (2015)



Elisa Galgut - The Attribute of Poetry. Modjaji Books, 2015. ISBN 978 1 928215 02 8

Resensent: Joan Hambidge

I
Elisa Galgut is ‘n dosent in filosofie aan die UK. In die begeleidende nota vooraf verduidelik sy die filosoof Spinoza se siening oor die natuur en die tydruimtelike universum se wette. Aan die Natuur het Spinoza oneindige aspekte toegeken; aan die mens slegs twee, te wete ekstensie (die liggaamlike) en die attribuut van denke (ons gedagtes, ons “mind”).  Dalk beweeg die digkuns buite om hierdie beperkinge heen, meen die digter.  Dat dit dalk een van daardie oneindige attribute van die Natuur is wat ons die geleentheid bied om na te dink oor ons lewens.

En dit is dan presies wat hierdie lieflike debuut doen. Dit gaan verby die digotomie tussen die lyflike en die denkwêreld. Dit beweeg in die wêreld van die droom, die fantasie, die mitologiese, begeerte, pyn, liefdesverdriet, die dood.

Elke gedig aktiveer en daag die grense van betekenis uit. Hoe ons met filosofiese sekerhede iets kan weet of verstaan en hoe die gedig met sy epifaniese oomblik elke sekerheid kan uitwis. En nuwe insig kan bied. Verskeie teoretici wat al gskryf het oor digterlike inspirasie en die skryfproses (Julia Kristeva se die chora-gedagte of Jung se argetipes) is weliswaar eensgesind oor een kwessie: die digterlike proses wat sig in woorde manifesteer, kan dikwels nie finaal onder woorde gebring word nie.

II

In hierdie genoeglike debuut word filosofiese konsepte nooit ‘n belemmering vir die digproses nie. Die bundel sluit met ‘n toespeling op Wallace Stevens se digkuns, daardie groot modernis, versekeringsmakelaar en digter, wat in sy sterk verse die paradokse van menswees kon versoen. En altyd bewus was Wallace Stevens van die gewoonheid van ‘n aand in New Haven wat hy op ‘n uiters on-gewone manier kon beskryf.” Not ideas about the thing but the thing itself …” skryf hy immers in ‘n gedig. [1]

In Galgut se slotvers – wat die bundeltitel dra – is daar dus sleutels na haar spesifieke wyse van omgaan met die digterlike onderwerp.

“A chorister  whose C preceded the choir”, skryf Stevens. En dit is presies wat hierdie bundel op verskeie manier doen. Die onnoembare, die onverwoordbare word telkens op ‘n verrassende manier aan bod gebring. “Not a love Poem” (34) beskryf hoe die spreker gelos word.

But loss lies beyond any speaking of it
‘Fuck' will do nicely. (34)

Die gedig representeer die verlies. Die ikonisiteit van die eerste paar reëls stel die ontreddering voor. En dan die effek op die liggaamlike, die skryf van ‘n gedig oor hierdie proses en die lees daarvan in ander se gedigte … met die besef dat die proses buite woorde lê, en hierom sal die vloekwoord genoeg wees. En ironies genoeg het die inhoud van die woord iets anders behels tydens die verhouding.

III

Dit is 'n bundel wat sterk staan in die teken van verlies en herinneringe aan 'n jeug. Aangrypend is die besoek aan 'n hospitaal en meer spesifiek 'n kankersaal wat die purgatorium aktiveer. Die herinnering aan 'n afgestorwe moeder is so helder beskryf in twee treursange: die eerste gebeur in 'n droom, die ander is die besef dat die moeder vir altyd weg is en begrawe is tydens die spreker se afwesigheid. Hierdie twee in memoriam-verse is uitstaande (22, 23). Daar word op verskillende maniere gekyk na "the space that loss created" (15) of die "vocabularies of grief" (20). "The Tyranny of the Past" (20) is gewoon 'n gedig wat daardie pynlike verwerking van die dood van 'n geliefde of kennis akuut verwoord: "since the dead cannot forgive ..." en al die rituele van die verwerkingsproses uitstal.

Filosofiese besinning, die TRC, die holokaust word onder die loep geneem - telkens met 'n verrassende blik of wending. Eurydice praat nou terug ("Eurydice and the TRC", 13).

Maar nie alles is net pynlik of loodswaar nie. Die digter het ook die vermoë om speels met die muse te gesels:

My muse

Likes cupcakes and coffee,
Hates chamomile tea.
Is not crazy about fiction,
But adores poetry ... (32)

Die muse is "resigned and amused" en die skryfproses word al spelende aan die leser voorgestel.

In "The Accuracy of Letters" (35) word die binneskap/buiteskap van die gedig vergestalt aan die hand van Wallace Stevens se bekende artikel opgeneem in The Necessary Angel: Essays on Reality and Imagination en hoe die digter moet soek na die woord wat die realiteit presies kan opvang. Woorde wat deursigtig en duister is terselfdertyd. Hierdie bundel het my dan ook weer teruggeneem na Stevens se digkuns en sy filosofie van en oor die digkuns. Vir die virtuele stapper kan die roete wat Stevens gevolg het van sy huis tot sy kantoor gevolg word op die internet.

'n Skitterende beelddig is "Humphrey Bogart's Cigarette" (31) waar die rook van 'n sigaret gelaai word met vele subtekste: begeerte, identiteit, en, die sterk verbintenis tussen die twee akteurs: Lauren Bacall en Bogart. Hy het haar weliswaar 'n sterk persona gegee - en sy was selfs ná sy dood steeds aan hom verknog en deur hom gedefinieer.

'n Ander goeie beelddig handel oor "Helen Martins" (37) waar Martins se kunswerke as kinders gesien word. Weliswaar van klip en dus doof ...

Vir die speurende leser is daar verwysings na Wittgenstein, Moore, Oscar Wilde, en ander skrywers en filosowe. Derrida se absence/presence-beginsel is ook hier te vinde: die afwesigheid wat juis deur die skryfproses negeer word. Ek lees hierdie kontinentale filosofoof hier in, natuurlik.

IV
Met min woorde, maar met ryk suggestie en toespelings lewer hierdie debuut 'n belangrike bydrae tot die digkuns. Veral die fyn balans tussen filosofie en lewenservaring getuig van 'n sterk digterlike beheer. Inderdaad gee sy ons 'n nuwe blik op die werklikheid.

________________

Not Ideas About the Thing but the Thing Itself
Wallace Stevens

At the earliest ending of winter,
In March, a scrawny cry from outside
Seemed like a sound in his mind.

He knew that he heard it,
A bird’s cry at daylight or before,
In the early March wind

The sun was rising at six,
No longer a battered panache above snow . . .
It would have been outside.

It was not from the vast ventriloquism
Of sleep’s faded papier mâché . . .
The sun was coming from outside.

That scrawny cry—it was
A chorister whose C preceded the choir.
It was part of the colossal sun,

Surrounded by its choral rings,
Still far away. It was like
A new knowledge of reality.

Sunday, June 28, 2015

Alexander Strachan - Brandwaterkom (2015)



Alexander Strachan - Brandwaterkom. Tafelberg, 2015. ISBN 

Resensent: Joan Hambidge

Alexander Strachan is ’n fyn stilis en vernuftige skrywer. Hy kan tekste konstrueer en oortuigend opbou. Sy tekste soos ’n Wêreld sonder grense is sowel ’n reeks kortverhale as ’n roman wat sleutels gee vir latere werk soos Die jakkalsjagter. Hy kan ’n los draad uit ’n vorige roman optel en verder voer.

Min skrywers het al oorlogsgeweld so pakkend soos hy beskryf en sy jongste roman, Brandwaterkom, snoer twee moderne neigings saam: die Anglo-Boereoorlog (ABO) en die optekening van geskiedenis in ’n tyd waar “slow violence” ’n nuwe modewoord geword het. Die roman roep ook Christoffel Coetzee se Wat het geword van Generaal Mannetjies Mentz? op.

Die ABO en die Grensoorlog is die twee asse van die roman met ’n skrywende, fiksionaliserende vrou wat ’n storie skryf oor kommandant Vilonel se dubieuse rol tydens die oorlog. Haar navorsing word ’n stuk historiografie, fantasie en daar is selfs momente van magiese realisme tydens ’n besoek aan Dwaalpoort.

Die skrywer as historiograaf is tans ’n opvallende neiging: ’n mens dink aan die werk van Karel Schoeman en Dan Sleigh. En Marié Heese. Willem Anker se grensverskuiwende Buys .

Wie se storie is ons besig om te lees? Esther van Emmenes se optekening? Of die verhaal van Vilonel? Of die boodskapper? Die verskillende stories skuif ineen: soos twee snellers wat afgetrek word, aldus die buiteblad – dalk eerder ’n dubbelloopgeweer. Wie vertel? Of word die verteller uiteindelik die vertelling self? Daar is ook die verhaal van Bullet – ’n korrektief dalk? Elke vertelling of belydenis word deur ’n ander weergawe “bevestig”. Net soos die geskiedenis oor die ABO ook deur orale vertellinge verander word en die werk van Bill Nasson lewer op sy beurt ’n ander blik op die swart mense se deelname . . . En daar is swart mense, weliswaar randfigure, in Strachan se roman.

Die skrywende verteller moet onder andere ’n jeug en kinderdae skep om dit vir die leser geloofwaardig te maak. En geloofwaardigheid is die grootste eis vir die historiese roman. Wanneer ons byvoorbeeld ’n danstoneel beleef, is die leser binne daardie tyd – en hierom is hy nie ’n “onthoofde mens” nie. Strachan maak van sy karakters “mense”, “vol karakters” om E.M. Forster se term te gebruik.

Die skrywende verteller se werkswyse verraai ook iets van die implisiete outeur se retoriese strategieë, om met Wayne C. Booth saam te praat in sy belangrike The Rhetoric of Fiction (1961). En hoe ’n karakter byna ’n obsessionele teenwoordigheid is vir ’n skrywer word insigryk beskryf. Esther van Emmenes se donker verlede gee haar begrip vir die ingewikkelde lewe van Vilonel. Alexander Strachan se kennis van sowel die ABO as die grensoorlog bring ’n verrassende (binne-)perspektief.

Die Anglo-Boereoorlog-wêreld en die terrein van die verraaier/joiner word onder die loep geneem. Die spanning tussen Boer en Brit, grappe, volkslegendes, die uitstal en opnoem van ou Afrikaanse idiome en die Jood op die dorp, word alles netjies verweef in ’n ryk tapisserie. Louis Botha, pres. Steyn, Hertzog en vele ander, is karakters. Soms net in die verbygaan, ander kere sterk soos Buller en Cronjé.

Die impak van runderpes en die oorlog het gesiene boere van aansien en plase gestroop en bywoners van hulle gemaak. Ons weet hoe die plase geplunder is deur die Engelse en hiermee is die lewensaar van kos vir die vegtende Boere afgesny.

Die reuk van die oorlog word konkreet beskryf. Ons sien hoe ’n koeël uit ’n been verwyder word. Redvers Buller word raak geteken met sy drang tot oorwinning en ’n vorige lewe van kaartspel, biljart en perde. Die roman neem ons terug na Ingrid Winterbach se Buller se plan en Strachan se beskrywing van dié figuur maak van hom ’n immer onthoubare karakter.

Die oorlogspanning word nou verweef met ’n liefdesintrige (en ’n vloek wat uitgespreek word): Dit dryf die roman vorentoe met sy sterk en onheilspellende sub-teks. En die skrywer skryf op die man af sonder om banaal te raak. Dit maak Vilonel ook mensliker, omdat hy nie net prokureur of man van die wet is nie, maar ’n begeerte het tot liefde.

Daar is momente wat ’n mens net nie kan vergeet nie: Tibbie Steyn wat haar man se beswete hemp vashou wanneer hy vertrek; Hans Dons de Lange se teregstelling; ’n swanger vrou wat vermoed haar man is ontrou. Die beskrywing van Cronjé as ’n knorrige ou bliksem is in die kol.

Die roman bevat ’n uitgebreide bibliografie en erkennings. Dit getuig van enorme navorsing oor perde, die veld, klere, gewoontes, taalgebruik, drank. Die oorlog self. Oom Paul versus Milner. Die rol van ’n doomnis en prokureur in ’n dorp. Hoe mense se rolle hul lewenslot bepaal. En Catharina Venter wat die geskiedenis van ’n familie oordra, die ongeskryfde geskiedenis van skande wat oor ’n familie kom en die tragiese nadraai daarvan.

Die troebel gemoed van Vilonel wat die hewige geweerskote uit Senekal hoor, bly in hierdie leser se herinnering draal. Net soos die slot waar die verraaier toekyk . . .

Dit is in ’n gestroopte, toeganklike styl geskryf met ’n roman wat swaar dra aan toespelings en verwysings oor sowel die geskiedenis as die skryfproses. Rudyard Kipling is natuurlik ook hier met ’n verwysing na “The Jacket”.

Lees hierdie uitstekende roman.


Monday, June 22, 2015

Filmverse (Fopspeen Moving Pictures & ATKV)




Fopspeen Moving Pictures - Filmverse (DVD). ATKV, 2014

Resensent: Joan Hambidge.

Om ’n gedig te lees (en te verstaan) werk met besonder intieme assosiasies.

Nie twee persone sal ’n gedig dieselfde vertolk nie en die dieper assosiasies wat ’n gedig by ’n mens oproep, is uiteindelik uiters privaat en intiem.

Hierom is die “vertaling” van ’n gedig in beeldvorm waarskynlik nogal “gevaarlik”. Jy betree die heilige arena van iemand se private vertolking en begrip.

Tog is dit wonderlik om te luister hoe ’n digter sy of haar eie werk voordra. In dié produksie is daar stemme van digters – onder andere ­Ingrid Jonker, Adam Small en Breyten Breytenbach.

Hoe anders klink ’n gedig nie wanneer die digter dit self lees nie. Sylvia Plath se kil, emosielose stem laat jou haar verse opnuut ervaar as die werk van ’n diep gekwelde mens. Hoe mooi lees Antjie Krog tog nie. Daar is ook digters wat nie kan voordra nie en eerder van die po­dium moet afbly.

Wilma Stockenström is hier in haar bekende “Die skedel lag al huil die gesig” aanwesig. Hier was Crowther Lindeque die regisseur. (In my gemoed hoor ek Wilma self voordra.)

Ons vind ’n huwelik tussen kunstenaar (soos Michele Nigrini) wat Lina Spies se pragtige gedig “Finis” vertolk in beelde en Anna-Mart van der Merwe wat dit voordra in haar ryk, gemoduleerde dog nie-aansitterige stem. (Onthou tog hoe het ons almal gelag vir dramatiese vertolkings van Anna Neethling-Pohl. O die DANS van ons SUSTER . . .)

Dat die digkuns helaas ’n persoonlike weergawe is en bly, word goed gedemonstreer deur Diek Grobler wat agter ’n lessenaar inskuif (in ’n tronk) en Breytenbach “speel”. Sy beelde word dan verder vertolk deur Breytenbach se praat-singstem.

“Vroegherfs” (Louw), “Bitterbessie dagbreek” (Jonker), ­“Finis” (Spies), “What abou de lô” (Small) is van die bekendste en mees gekanoniseerde gedigte wat hier vertolk word. Jonger digters soos Danie Marais en ­Loftus Marais word ook opgeneem, met eersgenoemde se ­ontroerende “Jy vra my hoe my eerste soen was” en van laasgenoemde die snaakse, aweregse ars poetica “Belydenis van ’n ­studentedigter”.

Ronelda Kamfer se “ ’n Gewone blou Maandagoggend” word nog grimmiger met die tekeninge daaromheen: moord en doodslag, ’n skoolkind se miskraam, ellende en die dood wat om die draai loer, bewys watter sterk digter sy is. Die verwysing na ­Dylan Thomas se amper geykte gedig oor die dood word hier met nuwe krag gelaai. So iewers tussen haar gedig, die assosiasies met geweld op die Kaapse Vlakte en “do not go gentle into that good night”, sien ons ’n kunstenaar se vertolking, uitstekend gedoen deur Naomi van Niekerk en Arnaud van Vliet.

Omdat ek tans Gert Vlok Nel doseer, het ek geweldig aanklank gevind by ­“Timotei Shampoo” “gespeel” deur Janhendrik Burger en Berdene du Toit, gelees deur Erik Holm.

Jammer dat daar verwysings na Groot Verseboek gegee word eerder as na die oorspronklike bundels, soos by Louw.

Persoonlik het ek nie van hierdie weergawe van “Vroegherfs” gehou nie. Die gebedsaspek word hier nie na behore begryp nie en dit word eerder gelees as ’n vers oor transformasie.

Tog is daar weer iets soos ­“Visioen van ’n lessenaar” waar die kunstenaars verduidelik hoe hulle Bic-penne moes neem en buig vir hierdie produksie! Veertig penne is gesmelt en gevorm om ’n dansende pen te animeer. Ons wonder hoeveel keer het Krog op daai tikmasjien haar woede uitbasuin?

Sunieda Kelber en Fabian Wargau vang iets van hierdie tegelykertydsaspek van lyf en skryf op, terwyl die vertolking van “Bitterbessie dagbreek” deur Dewald en Roger van der Merwe deur die piekselisasie die stotterende aspek opvang en hiermee, volgens hul eie belydenis, die gevangeskap van die digter voorstel.

Hoe maak ’n mens met ’n animasiefliek waar jy net die gedig sien? Hoe verskil dit van die een waar jy die digter self hoor voorlees? Sou dit ’n verskil gemaak het as ons Krog gehoor het?

Animasie is inderdaad bewegende kuns oftewel visuele digkuns. Grobler, die ATKV (by name Nita Grové), en al die ander deelnemers en kunstenaars het iets wonderbaarliks en onthoubaars geskep.

Mense lees gedigte, en liefhebbers sal hierdie produksie geniet. En kyk mooi na daardie gedig wat stemloos oorgedra word . . .

Bestel die DVD by Hannelie van Schalkwyk, 011 919 9012, e-pos: hanneliev@atkv.org.za.


(Hierdie resensie word met vriendelike vergunnning van Rapport geplaas)

Monday, June 15, 2015

Jan van Staden – Boer kry ‘n vrou (2015)



Jan van Staden – Boer kry ‘n vrou. Tafelberg, 2015. ISBN 978 0 624 07369 7

Resensent: Joan Hambidge

Ons almal het al Boer soek vrou gevolg en verwonderd toegekyk hoe hubare vroue hulle skaamteloos aanbied vir die boer. Hierdie program smeek om ‘n genderanalise en ons wag op Amanda Gouws se feministiese perspektief oor agentskap en vrye keuses.

Daar flits reeds heerlike parodieë op die internet rond: Boer soek boer vanuit ‘n gayperspektief en natuurlik het Casper de Vries, daardie moedswillige ikonoklas, saam met Elsabe Zietsman ‘n skaterlag-teenaanbod gemaak: Boer soek ‘n vou. Gaan kyk gerus na Casper de Vries se 'Boer soek 'n vou, Deel 1

En daar is ook ‘n film wat heet Vrou soek boer.

Inderdaad word daar gevra: Wat is die liefde?  En selfs die Hemelse Vader word op ‘n keer bedank, omdat die meisie hom weer in die liefde laat glo ...

In Jan van Staden se Boer kry ‘n vrou (en ‘n mens kan al die ander titels hoor: Boer kry ‘n hoer) is uitgegee deur Tafelberg op die voorblad word gespog: “Nog nooit is daar so wild op papier gevry nie”.

Inderdaad. Vanuit ‘n manlike perspektief, en meer spesifiek, uit die posisie van die stud, word wilde seksuele fantasieë aan die leser opgedis. ‘n Soort manlike 50 Shades of Grey.

‘n Mens hoef maar net terug te keer na die porno-film en jy het al die merkers van hierdie soort jagse (sic!) verhaal waar ons hoofkarakter, ene Juan van Wyk (Lees Don Juan), die Bosveld groet. Sy plaas heet Fort le Clos (Sartre? Huis clos? Huis Klos?) en hy hou ‘n rooibokram dop. Dié is ‘n gelukkige wetter. Raai waarom?

Die res is voorspelbaar. En die Latynse bloed klop deur die vertelling in ‘n sub-genre Tril-letterkunde.

Die stud is enigsins diep verontreg wanneer daar stories oor sy sekskapades begin rondloop (hier is die interteks: Die hele dorp weet). Ofskoon hy ‘n vrou op elke dorp het (nie hawe nie!), soek hierdie Bosveldseun rigting. Hierom moet hy deelneem aan die tv-program.

Die storie loop flink en die verhaal het ‘n heerlike skoot onbedoelde humor en soos in die jags-genre is die suspension of disbelief die ware Jakop.  En op die internet is daar geweldig baie artikels oor die fantasie van sowel vroue as mans te vinde. 

Die outeur span al die verskillende name in vir die manlike en vroulike geslagsorgaan en telkemale is die man verstom oor die vrou se kapasiteit om by te hou. Die “pornografiese verbeelding” dus in navolging van Susan Sontag, waar die storie net die verskoning word vir die sekskapades. Elke hoofstuk het ‘n trofee-ikoon net soos in die werklike lewe waar dié soort man sy vrou as ‘n skild sien.

Hoekom het hierdie leser die boek enduit gelees? Om as genderteoretikus net weer daaraan herinner te word wáárom daar vroue is wat reageer teen hierdie brutale oorheersing. Uiteindelik maak hierdie manlike beheer in die werklikheid nooit hond haaraf nie. So ‘n welbedeelde seksuele atleet, wat elke vrou oorrompel, bestaan nét in die fantasie-wêreld van die porno-verhaal. Wag wag. Daar is immers ‘n program waar vroue hulself aanbied as slagoffers en bepaald enigiets sal doen om ‘n boer te kry. Dat daar in die jaar 2015 nog so iets moontlik is, post-post-feminismes en maskulineitsteorie, is wel wonderbaarlik.

In James Bond-films is daar ondermynende humor. En dis mos die vroulike M, vertolk deur Judi Dench, wat vir James Bond in Goldeneye toesnou dat hy ‘n misogonistiese dinosourus is, nie waar nie?

Gaan kyk of daar ‘n inskrywing uit Marble Hall is.

Love story, West Side Story se Maria en Mamma, ek wil ‘n man hê,  word gebruik om die teks verder te “verdiep” met kodes uit die liefdesverhaal en Western. “Die vuur se vlammerdans gooi sy skaduwees oor hulle en ver weg brul ‘n leeu” (173) verneem ons. En tog bly die liefde ons held ontwyk. En hy voel selfs misbruik, omdat ‘n meisie hom gekies het om haar van haar maagdelikheid te ontneem? (254)
Op ‘n keer huil ons held; waarskynlik weens uitputting. Ek gaan nie die geheim (van Nantes) weggee nie, maar Juan sien sy spreekwoordelike alie.
As liefhebber van satires, is hier ‘n goeie geleentheid (verleentheid?) verspeel om ‘n kritiese parodie te skryf.

O waar o waar is Koekie Ziervogel?

Maar verkoop gaan hierdie roman. Dis nou maar boerewors.


Tuesday, June 9, 2015

Joan Hambidge - Metafisiese indeks [Gedig]


O goedheid Gods hier nooit volprese,
my eerste mantra roepend 'n hert in dorre streke;
versies soos braille in 'n blou onderstreepte Bybel:
ek het jou by die naam geroep, jy's myne ...

In Jerusalem hoor ek: aanbid die Seun van God.

Verloor my geloof tog later.
Sartre en Camus, die Eksistensialisme,
"God is dood", "die hel is ander mense",
geleer as jong filosofie-student.

In Pamukkale weet ek wees eerder koud as lou.

Net soms, net soms laat Hy van hom hoor:
skryf met ‘n penstreep teen die lug oral oor,
stuur ‘n teleks per aardbewing (woedend en koud)
of praat woordeloos in ‘n magiese oerwoud.

In Manaus verkies ek God bo niks.

Van Wes na Oos alleen vertrek:
Die Bybel, Ateïsme, Boeddhisme verken.
Die krag van meditasie of stil gebed
nie meer langer deur my ontken.

In Nepal word ek eindelik één met God.

In Nepal, Manuas, Pamukkale, Jerusalem
verbind ek die Onsigbare,
daardie Iets, daardie Onverwoordbare krag,
genaamd die Metafisika.

Monday, June 1, 2015

Marlise Joubert - Bladspieël (2015)


Marlise Joubert - Bladspieël. Human & Rousseau, 2015. ISBN 978 0 7981 6954 7

Resensent: Joan Hambidge

 Dit is Marlise Joubert se agste bundel en haar mees uitstaande bundel bly vir hierdie leser Passies en passasies (2007), 'n teks waarin die liriese aard in 'n digterlike dansvorm uitgewerk word. In Bladspieël word daar oor verhoudinge besin: die verbintenis met die geliefde, die natuur, kinders en kleinkinders, die liggaam en veral die digkuns, soos die titel reeds aandui. Reisgedigte en politieke verse is eweneens hier te vinde. Die gedig dus as setspieël, as uitleg of voorstelling van die hewige emosies wat die gedigte uitdra. Toespelings op hierdie tema vind ons regdeur in die bundel, o.a. in "snags slaap ek onrustig op" (32). Die titel eis dus "close reading" op van die leser.

Daar is etlike selfkonfrontasies en selfgesprekke: in "(1970)" (65) praat sy met haar vorige bundels en die domus of huis kom telkemale in verskillende gedaantes na vore, te wete die erf, grond en ruimtes (binnelands en buitelands). Hierteenoor is "brief uit die boord" (53) vir die liewe Krismisvader, 'n iets sentimenteel. Bestekopnames is bekend aan die werk van die ouer wordende digter. Wanneer sy oor menslike verhoudinge skryf, steek dit alte dikwels vas in die anekdotiese of die gemeenplasige. Die "biografie van bloed" mis die sterk digterlike en grimmiger aanslag wat die ars poëtiese verse kenmerk.

Waar Joubert egter hier van haar sterkste verse lewer, is dit te siene in die verse wat oor die digkuns of digproses handel. In "Vlug", 'n reisgedig, word die elliptiese spel van die gedig op 'n metavlak uitgewerk. Die leser sien die besinning róndom die skryfproses (92). Hierom dan ook gesprekke met haar digtersman, Louis Esterhuizen, soos in "klein reistog" (91) en "'n dag in die lewe van 'n digter" (20), waar die Estlandse digter, Jaan Kaplinksi aangespreek word. "by die lees van" (16) aktiveer sy haar eggenoot se lang epiese vers. Sy vertaal en herdig Octavio Paz se "tussen gaan en bly" (110), 'n gedig wat al etlike herdigtings in Afrikaans beleef het en bepaald 'n interessante studie kan aanstig.

Daar is twee toonaarde te bespeur in hierdie bundel: melancholies (soms selfs sentimenteel) en 'n skerper, gedistansieerde blik op die self en die skryfproses. Hierdie leser verkies laasgenoemde aanslag; die tussenaard dus. Daar is dikwels 'n belewenis van 'n droom of 'n ervaring van wat die gedig of indruk voorafgaan, op soek na die verhale wat skuilhou in frummels papier (56). Die digterlike bestaan word bedreig deur werklike storms en politieke onrus. Die vrees vir doodgaan en die versugting om meer stents in die hart te hê, wys op die bedreiging van 'n bestaan. In die openingsgedig "herfs" (9) word die behoefte om langer te leef, uitgespreek in die dwingende, herhalende refrein wat sy telkens verander.

Daar is uitstekende beelde van die digter wat eens haar rugsak flenters kon droom teen ruite, maar nou in eko-insulasie haarself moet verweer teen die dood.

Moderne kommunikasie en hoe dit ook die digproses bedreig word knap verwoord in "om te dig" (25):


op 'n selfoon
is nie maklik nie.
dis boonop onromanties.

vingers poot 'n skilpad
letter vir letter voort (...)

Ons vind treursange en die pynlike besef dat 'n vroeër bestaan vir ewig verby is. Daarom het die bloed 'n "roesgeheue". Hierteenoor is die jong kinders 'n beeld van 'n nuwe lewe of toekoms.

Daar is "geslote" gesprekke met ander digters (Sappho, Sylvia Plath, om twee vroulike gespreksgenote uit te sonder) teenoor die "oper" gedigte vir kinders en kleinkinders, by die naam genoem. 'n Aangrypende vers oor die vader word róndom sy lessenaar gebou: "en ek vra dikwels nog of hierdie vlek / gekreukel soos 'n bloeisel op die eikehoutblad / die laaste ink was uit jou pen" ("agter die lessenaar", 81) wat weer al die gesprekke van vrouedigters oor hul vaders aktiveer.                                        

'n Kritiese vraag: waarom word Ocatavio Paz uit die Italiaans aangehaal, maar Salvatore Quasimodo in Engels? Wilhelm Knobel het dit immers puik vertaal in Afrikaans!

'n Handvol gedigte is besonders verwoord, nes die lykdig oor die vader ("agter die lessenaar").

Die bundel beslaan 110 bladsye en ons beleef tans in Afrikaans die opmars van die dikker bundel, veral opvallend die afgelope dekade.

agenda

die gestringde gedig
moet ʼn lang gedig wees
ʼn rankplant teen ʼn wit
ringmuur aan die een kant op
en aan die ander kant soos slingers, asb.
webbe om jou voete af
sodat jy nie kan beweeg nie, vasgevang
om die enkels van begeerde ontroering
so moet die gedig jou mettertyd tot
stilstand bring, tot absolute stilte laat basuin
sodat jy die woorde word, self die klank
en die ritme van ʼn verlore tyd, die afstand
van vrugwater na sloot
en later slegs ʼn hartklop
wat jou opraap ver verby

die stingelende dood

(Hierdie resensie word met vriendelike vergunnning van Rapport geplaas)